By fonteine langs. Nina Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nina Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316714
Скачать книгу
van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” – Matt 6:33

squig.jpg

      Daar is baie dinge wat ’n vrou se aandag en tyd in die huwelik verg. Hedendaagse mans word gedwing om al hoe langer ure te werk sodat hulle byna nooit meer tuis is nie. Baie vroue word weer gedwing om buitenshuis te werk omdat baie min gesinne vandag met net één salaris kan uitkom. Saans kom almal moeg tuis en dan moet daar nog na die kinders omgesien en kos gemaak word. Die vrou is boonop verantwoordelik vir die huiswerk en wasgoed. Baie huwelikspare het skaars tyd vir mekaar sodat tyd vir God in die meeste huwelike nie eintlik ’n hoë prioriteit is nie. Ek het al baie gewonder of dié feit nie dalk die hoofrede is waarom daar vandag so baie huwelike op die rotse beland nie.

      Indien God in jou huwelik eerste kom, sal alle ander dinge in plek val, en dit geld ook op alle ander terreine van die lewe: Wanneer God se koninkryk en wil vir ons werklik ’n prioriteit is, sal Hy ons alle ander dinge daarmee saam gee.

      As jy voel jul gesin skeep God af, hou ’n gesinsvergadering en besluit saam hoe julle van nou af ekstra tyd vir God gaan inruim. Ek kan jou die versekering gee dat jou huwelik hierna veel meer geseën sal wees – en dat God, wanneer julle sy koninkryk die regmatige plek gee, ook vir jou gesin alle ander dinge daarmee saam sal gee.

      Hemelse Vader, ek is jammer dat ons as gesin so min tyd vir U inruim. Help ons om van nou af U eerste te stel.

      Amen

      8 Februarie

      In tye van onvrede

      Lees Kolossense 3:12-17

      En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee […] Wees altyd dankbaar – Kol 3:15

squig.jpg

      Tye van onvrede duik in elke huwelik op. Gewoonlik is die rede waarom huweliksmaats ontevrede met mekaar is wanneer hulle te veel op hulself ingestel is. Paulus skryf ’n pragtige brief aan die gemeente in Kolosse waarin hy die gedrag van Christene teenoor mekaar uiteensit. Hierdie raad kan jy met groot sukses in jou eie huwelik toepas: “Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, ten alle koste te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar, is belangrik” (Kol 3:15, Die Boodskap).

      Voordat jy weer onredelike eise aan jou huweliksmaat stel, fokus op die vrede wat Jesus gee. As jou man jou kwaad maak, kies vrede! Wanneer Jesus sy dissipels vertel dat Hy vir hulle die Heilige Gees sal stuur, beloof Hy terselfdertyd: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie […]” (Joh 14:27). Jesus se “onwêreldse” vrede is steeds vir sy kinders tot beskikking. Vrá Hom om daardie vrede in jul huwelik in te sleutel.

      “Wees altyd dankbaar,” lui die laaste deel van Paulus se raad. Wanneer jy wéér jou eie vrede wil verloor, maak gerus ’n lysie van al die dinge in jou huwelik waarvoor jy dankbaar behoort te wees.

      Here Jesus, baie dankie vir die vrede wat U aan u kinders beloof. Ek wil dit nou vir my toe-eien. Help my asseblief om daardie vrede in my huwelik uit te leef en altyd dankbaar te bly.

      Amen

      9 Februarie

      Is jou naam Marta?

      Lees Lukas 10:39-42

      “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” – Luk 10:41-42

squig.jpg

      Huisvroue is tans besiger as ooit tevore. Min van ons het die voorreg om nét huisvrou te kan wees. Die meeste huisvroue is terselfdertyd ook beroepsvroue, en boonop is daar baie min vroue wat die luukse van ’n heeltydse huishulp kan bekostig. Daar is inderdaad baie dinge waaroor ’n hedendaagse huisvrou bekommerd is: Hoe sy al haar werk in die vier en twintig uur van één dag ingepas gaan kry en nog genoeg tyd gaan oorhê om aandag aan haar man en kinders te gee en tyd vir haar stiltetyd in te ruim …

      Ongelukkig gebeur dit soms dat hoe harder ons werk hoe minder kry ons gedoen en hoe meer gespanne en prikkelbaar raak ons. As jy op die oomblik onrustig en gespanne is, kan jy gerus ’n rukkie by vandag se storie stilstaan. Marta het heel waarskynlik gemeen dat Jesus haar gelyk sou gee toe sy by Hom kla dat haar suster haar al die werk alleen laat doen. Maar Jesus neem sowaar Maria se kant wat rustig aan sy voete sit en na sy woorde luister terwyl Marta ywerig rondskarrel. Maria het die beste deel gekies, sê Hy vir Marta.

      Jý kan ook! Moenie langer so bekommerd en gespanne wees oor jou baie huislike pligte nie. Leer om te delegeer sodat jy týd sal hê om soos Marta by Jesus se voete te sit. Dit sal vir jou ’n rustiger ingesteldheid en ’n gelukkiger huwelik verseker.

      Here Jesus, ek is jammer dat ek so besig is dat ek al hoe meer gespanne en bekommerd raak. Ek wil nou heeltemal afskakel en net eenkant alleen met U gaan sit en na u Woord luister.

      Amen

      10 Februarie

      Lag sáám met jou man

      Lees Spreuke 15:15; 17:22

      Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees. ’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput – Spr 15:15; 17:22

squig.jpg

      Iemand met ’n egte sin vir humor is ’n mens wat homself en sy eie dwaasheid in perspektief kan sien en daarvoor kan lag. “Olie op die skarniere van die huweliksverhouding, dít is die gawe van lekker lag,” skryf Alba Bouwer in Die Groot Boek van Christelike aanhalings.

      In my eie huwelik is dit beslis ons gesamentlike sin vir humor wat maak dat ons die geskille wat daar soms opduik sommer gou kan besleg. Ons maak ook ’n punt daarvan om kostelike spotprente en grappies met mekaar te deel. Lag is ’n stresontlaaier, en gelukkig het albei van ons ’n fyn humorsin. Wanneer ons begin koppe stamp, is dit nie lank voordat een van ons die humor in die situasie insien en begin lag nie.

      Dink ’n bietjie oor dié dinge in jou eie huwelik wat jou die meeste pla. Probeer dan om die humor in daardie situasies raak te sien. Om saam te lag as huweliksmaats is wonderlik. Wees egter versigtig dat julle nie vír mekaar lag nie. Indien jou man ooit agterkom dat jy vír hom lag, sal hy in sy eer gekrenk wees. Dit is veel beter om te leer om vir jousélf en die foute wat jy maak te lag, en dit sal baie vir jou huwelik beteken as jy dit kan regkry om jouself nie so ernstig op te neem nie.

      Here, dankie vir ’n sin vir humor wat van U kom. Ek bid dat U my en my man sal help om ons onderonsies met ’n lagsessie te ontlont en dat U ons daarvan sal weerhou om ooit vír mekaar te lag.

      Amen

      11 Februarie

      Leer om lief te hê

      Lees Hooglied 8:1-4

      “Dan het ek jou saamgevat en na my ma se huis toe gebring en het jy my daar die kuns van die liefde geleer. Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my!” – Hoogl 8:2, 3

squig.jpg

      Om ’n gelukkige huwelik te hê is genade, maar dit is ook ’n kuns. En om die kuns van ’n gelukkige huwelik te bemeester sal jy éérs die kuns van die liefde moet baasraak. Dit is nodig dat twee huweliksmaats op mekaar se seksuele verwagtings sal fokus. Mans en vroue verwag verskillende dinge van mekaar op seksuele gebied. Terwyl ’n vrou se seksuele drange gewoonlik nie van haar liefde vir haar man losgemaak kan word nie, is dit vir ’n man (selfs vir