Naby Oufontein het die rivier ’n nou loop gehad en daar is ’n pont gebou, dooi jare terug al. Dit het die Sandveld van die Kaap geskei, so het die mense gesê. Suid was die Kaap, noord die Sandveld.
Ouma Sannie en oupa Knud se huis is gebou van enige soort materiaal waarop hulle hul hand kon lê: klei, riete, patryspoorte en balke van skeepswrakke. Die vleiwater was somers meer sout as soet, maar in die winter was hulle verseker van vars vis, as ’t ware op hul voorstoep.
Toe, soos nou, het iedere een van die Oufonteinhuisies ’n vyeboom, ’n granaat- en ’n kweperboom gehad, wat die barheid ’n bietjie verlig het. En net soos op Velddrif se meent was daar ’n ou bloekom met ’n wit stam en vaalgroen blare wat die omgewing ’n weinigie versag het. Onder dié bloekom het die vissermanne gesit om hul skuite te verf, het hulle pyp gerook en praatjies gemaak en onderling gejil en gelag, terwyl hulle die ou nette heelmaak en die vrouens gebuk sit oor halfklaar nuwes, hul houtspoele blink gevat en afgeslyt.
Ouma Sannie en oupa Knud het sewe kinders gehad. Elna was die oudste, daarna Gertruida, dan drie seuns: Willem, Jan en Piet, en laaste die tweeling Wilhelmina en Kato. My ma, hoewel ouer, was naby aan haar broers en susters, veral aan Elna.
Al was die Pedersens arm, so arm soos al die Sandveldmense dourie tyd, was daar altyd veldkos, genoeg vars vis en bokkoms sodat niemand ooit honger gely het nie. Klere is van kind tot kind aangegee, oor en oor gelap en gestop, maar altyd skoon en netjies.
Knud Pedersen het eers ’n bestaan uit die rivier gemaak. Met sy skuit het hy graan en selfs lewende hawe by die plase opgelaai en Mond toe gevat, waar dit op bote gelaai is op pad Kaapstad toe. Maar rondom 1912 se kant het Oupa visserman geword.
Die Pedersens het ook ’n bietjie groente gekweek. Pampoen, ’n lappie aartappels en uie, en ’n paar rye boontjies agter die huis. Verder het hulle ’n klompie eende en ganse aangehou, nes al die ander mense op Oufontein.
Die ganse was lief om een-een op ’n ry oor te swem na die naaste eiland. Partykeer sou hulle in die middel van die rivier vertoef, waar hulle op en af gewieg het in die stroom se swellinkies. Elke dag teen latenstyd het Oupa op sy jettie gaan staan en roep: “Kom, kom, kom!” Dan het die ganse asof uit die niet verskyn en uit die water gewaggel teen die skuinstetjie op na die huis toe.
Oupa Knud het nooit oor sy eie mense gepraat nie. Maar by tye het hy stil geword en in die lug opgekyk, en daar was ’n mistigheid in sy oë. Wanneer Ouma hom dan roep, het hy net slegweg gelag en weer begin gesels.
“Ag, hy was ’n man met ’n hellere hart,” het my ma van hom gesê.
Ouma het oupa Knud altoos gehelp om die kleiner visse in te sout en hulle in bosse op te hang aan pale voor die huis, om daar in die son en wind te droog. So het elke huis sy bossies bokkoms gehad.
Partykeer moes ek vir Ouma help om die visse aanmekaar te ryg. Sy het die tou deur ’n dik, sterk naald geryg en my gehelp om dit deur die oogholtes van die visse te druk. Die vis was glibberig en dit was ’n moeilike taak. Daarna moes ek baie goed met boerseep was voor ek terug is na De Heuwel, ons plaas, want Vader was omtrent omgekrap as ek na vis geruik het of as daar skubbe aan my gekleef het.
“Toe, was jou, my kind,” het Ouma aangepor, “voor jou pa weer dreunlyf raak.”
Van bokkoms het my ouma alles geweet.
“Jy sien, Mara, daar’s g’n beter plek as dié vir bokkoms maak nie. Die suidewind wat so sterk opspring in die namiddae, veral in die somer, hou die blouvlieë weg. Dis hulle wat op annerlike plekke die bokkoms so laat vrot van die wurms. Hulle lê hulle eiers in die bokkoms, en as jy weer sien, krioel die vis van die arige goed.”
Sy het my ook gewys hoe om ’n bossie bokkoms te toets: haak ’n bossie af en knip een vis af.
“Jy buie hom so diékant toe en daai kant toe. Voel bietjie. Die bokkom is hard, maar nie te hard nie, net reg. Luister vir die krakerigheidjie as hy buie.”
Sy het die bokkom by my oor gehou en die sout het aan my oorskulp bly kleef. Baie gou het ek aan die kraakgeluid geweet hoe om een te kies wat net mooi bekwaam was vir eet.
Daar was aljimmers ’n paar ekstra visse aan die bossies wat ek geryg het – ’n bossie moes eintlik net tien gewees het. Dan het Ouma gelag en gesê dit laat haar dink aan haar dae in die Transvaal. Daar was ’n ou man wat ’n bakkery gehad het, en op Paasvrydag het hy sy klante dertien bolletjies gegee pleks van twaalf. Hy het dit ’n “baker’s dozen” genoem.
“Die mense gaan uitkyk vir die bossies wat jý geryg het!” het Ouma gelag. En sy het nooit die ekstra bokkoms afgehaal nie. So met die bossiesmaak het ek sommer leer tel ook.
As Ouma een van my bossies verkoop het, het sy die geld in ’n ou toffieblik gesit. Dit het ’n prentjie van ’n mooi meisie met krullerige goue hare op die deksel gehad. Toe dit vol was, het Ouma vir my ’n pragtige paar rooi skoene gekoop.
Daar was tien bokkommakers op Oufontein, elkeen met sy eie jettie en sy eie skuur waarin die pekelvate gestaan het, volgepak met vis. Tussen die huise en die jetties was pale ingeplant waaraan die bokkoms gehang is om te droog. Die mense het partykeer nette oor die pale gehang as die meeue die bokkoms probeer bykom het, en soms moes ek Ouma help om dié wat so knaend kom aas het weg te jaag.
Die Sandveldmense kon vir jou presies sê watter familie het watter bokkoms gemaak en wie s’n proe die lekkerste. Oupa Knud het vertel in sy land het hulle kaas altyd so getoets.
Almal was lief om by ouma Sannie en oupa Knud te kuier, want daar was iets wat heeltemal anders was as in al die ander huise: ’n klavier!
Nes my ma het die klavier ook uit die see gekom – in ’n yslike houtkrat uitgesmyt aan die verraderlike Weskus op ’n wilde wintersnag. Toe Oupa die nag uit vrees vir die hoogwater sy skuit hoër op teen die strand gaan trek, het my ma, wat die lantern vasgehou het, skielik geskree: “Kyk, daar’t ’n groot ding op die strand uitgespoel!”
Oupa het my ma gestuur om haar broers te gaan roep om te kom help. “Sê hulle moet die donkie saambring!”
Hulle het daar in die wind en storm ’n rowwe slee geprakseer en die krat uitgesleep tot by die huis. Gou het die hele Oufontein tot in Velddrif gegons oor die geheimsinnige gawe uit die see. Dit moet van ’n skip af gekom het wat iewers gestrand het.
Al die bure het die volgende dag kom kyk na die smal, hoë krat. Dis met groot omslommernis regop getrek en met koevoete oopgebreek. Oupa Knud en my ooms het die planke versigtig weggebreek . . . en toe die ongelooflike gesig: daar’s ’n klavier binne-in! Die klavier was aan twee dik balke vasgebout sodat dit nie kon rondskuif nie.
Die manne se rowwe vissershande het die verpakking eerbiedig losgewikkel, en daar staan hy toe in al sy glorie. Die enigste klavier in Oufontein, met amper g’n skade nie.
Die orrelis van die kerk op Velddrif het die klavier kom restoureer en weke lank gewerk om die okkerneut-veneer blink te poets en die klavier te stem. Die Oufonteiners het kringe om hom gestaan en gekyk hoe hy elke snaar sorgvuldig skoonvee en die vilt op elke hamertjie nagaan.
Ouma Sannie kon klavier speel; sy het as jong meisie in die Transvaal lesse geneem. Seker daarom gee die orrelis haar toe ’n stuk bladmusiek present. Dit was ’n Mendelssohn-wiegeliedjie, en ek dink dis dié innige lied wat my lief gemaak het vir sing.
Ek het baiekeer die vreemde taal op die verweerde blad bekyk as ek by Ouma langs die klavier gestaan het. Ek kan ná al die jare nog die eerste paar woorde voor my sien: “Schlumm’re sanft und milde . . .” Ons kon dit natuurlik nie verstaan nie, maar oupa Knud het verduidelik dit beteken “Slaap saggietjies . . .” So meen ek dat ek dit onthou.
Die klavier het die hart van die huis geword. Oupa Knud het ’n hartjie met sy vrou se voorletters SGP – Susanna Gertruida Pedersen – op die rug van die klavier uitgekerf. Die koperkershouers