Borste wat die man snags met sy hande omkelk, dink Helena. Sy herleef weer die gevoel van die vorige nag toe Chris se hand op die gladde materiaal van haar rok getalm het, toe hy hom met moeite kon losmaak . . .
Tant Nelie stuur haar om te vra dat Fransiena tee maak.
“Ons begin maar nou eers weer uitgaan, noudat die outjie meer gereelde ure het,” sê Dawie Strauss toe Helena terugkom met die skinkbord. “Ons het haar vanoggend by Erna se suster gelaat. Elsie sal ’n rukkie by ons bly.”
Erna laat haar man meestal praat. Sy lyk ’n oomblik besorg. “My suster kry nog swaar ná haar man se skielike dood. Die kleintjie is vir haar ’n groot troos.” Sy oorhandig Dawie se tee, waarin sy melk en suiker gegooi het. Sy self skakel die soetigheid uit totdat sy haar figuur terug het.
Helena voel aan sy word deurgekyk, geweeg. Die jonge Chris se meisie, Helena Burger. Wat by Felix in ontvangs werk. Hulle kon haar daar gesien het, toe hulle die baba gaan weeg het.
Nee, in so ’n geval sou Felix hulle sommer direk van die huis af toegelaat het, die baba ondersoek en die kaart ingevul het sonder dat sy hulle ontmoet het. Sy onthou nou dat sy die rekening gepos het.
Sy maak haar klaar vir die inkwisisie wat moet volg, nadat almal gehelp is. Toe dit blyk dat sy nie van die Burgers van Hobhuis is nie, wil hulle weet waar sy vandaan kom.
“Uit die Kaap,” antwoord sy ewe inskiklik.
Terselfdertyd klim ’n wilde gedagte haar op. Wat sal hulle dink as sy blatant uitblaker: Ek kom van Volleminkbaai af, my pa is van die rooi Burres. As ek sy spoor moet vat, loop hy dood in die brakleegtes van die Bêrerivier. My ouma was ’n Deen; Nimb was haar van. My oupa Burger . . .
Sal sy dit oor haar hart kry om te sê dat haar pa se pa hulle kleintyd net so gelos en weggeraak het? Dat sy ma, haar Deense ouma, haarself aan ’n boer verhuur en op sy soutpanne gewerk het? Kaalvoet. Sodat sy later nie meer voete gehad het nie, eerder kloue . . . opgevreet deur die sout.
Jas gaan groet as hy in die Bobaai oplê, het Cora haar eenmaal uitgelaat. Betaal glo iemand om na sy ma te kyk. Hulle het toe al opgehou vra wanneer hulle weer ’n slag by Ouma kan gaan kuier. Op Spreeuwal, langs die rivier.
Haar pa praat mos nie, behalwe wanneer hy vloek: “Here got, Heuleuna, ek gjee jou sommer ’n bleddie klap. Wil jy tot op die laaste nog ’n siek ou mens se derms loop sit en uitrye? Skoert!”
Met ouma Lina se dood ’n paar jaar gelede het Jas ’n kar gehuur om hom begrafnis toe te vat.
Sy maak ’n skouergebaar. “My grootouers is al oorlede.”
“Helena,” roep Chris van die systoep af waar hy hom met die hond vermaak, “kom kyk hier!”
Sy maak haar los van die grootmensgeselskap. Hy sit op die groengeverfde wakis van sy oupa waarin daar nog ’n gevlegte sweep en ’n slypsteen en ’n kruithoring is. Wat eendag na sy seun, Harm de Wet, moet gaan. Die hond het hom omtrent in ’n syfer agt geknoop om sy eie stert te byt en Chris lag geamuseerd.
Die middag stap hulle in die rigting van die spruit, oor ’n oop stuk grond waar tef geplant was. Hy slaan sy arm om haar lyf en trek haar styf teen hom aan, sodat hul heupe en dye in ritme met mekaar kom. Sy kyk op na hom, hul oë hou mekaar vas.
Onder een van die groot wilgerbome langs die spruit gaan sit hulle. Toe hy oorbuk en haar soen dat haar hele binneste aan die lewe gaan van begeerte, klap die hond sy stert. Hulle spring op.
’n Skielike windvlaag werk rooi stof rondom hulle op; wolke pak saam. “Hier kom ’n weer aan,” waarsku hy. “Ek hoop nie jy’s bang nie.”
“Nie juis nie. Ek het dit darem teen hierdie tyd gewoond geraak. Buitendien kry ons ook af en toe donderweer. Hael ook. Maar dit smelt dadelik, nog voordat ’n mens daaraan kan raak.”
Wat nog te sê ’n handvol kan bymekaarmaak en in jou mond stop, of jou gesig daarmee was. Aangedryf deur die wind wat skielik met harde rukke kom, las die donker wolke aan. Hulle haal die huis net betyds. Dit rammel en die aarde skud. Kettings vuur volg mekaar op, slaan vlak by die huis neer.
Die storm tref die werf, waaroor ’n vaalswart kombers toevou. Dis dadelik donker en ysig koud. “Hael,” sê Stoffel Retief.
Terselfdertyd roep tant Nelie: “Die luike, Chris!”
Helena hardloop agterna. “Kan ek help?”
Maar oom Stoffel het reeds sy hande om sy mond gevou. Die groot indoena basuin bevele aan die werkers uit, wat van oraloor te voorskyn kom.
“Gaan binnetoe!” roep Chris toe ’n reeks donderslae en blitse mekaar vinnig opvolg, sodat sy wip soos sy skrik. En die natrillings steeds voel toe sy reeds weer veilig in die huis is.
Die wind het haar rok en hare geskep en die volgende vlaag du haar by die oop gangdeur in, tot in die voorhuis waar tant Nelie in ’n stoel neergesak het, haar palms teen haar slape gedruk. Die gekletter van hael op die sinkdak doof alle ander geluide uit. Instinktief steek Helena die lamp op die buffet aan en lui die koperklokkie, wat sekerlik nie ’n effek kan hê nie.
Nogtans kom Fransiena se voetstappe gangaf, haar oë en die wit van haar voorskoot twee ligpunte in die donker. Sy skink ’n glas water, maak gerusstellende klikgeluidjies. Gaan haal ’n waslappie waarmee sy tant Nelie se voorkop afvee.
Helena het haar katswink geskrik. As dit nie vir Fransiena was nie, weet sy nie. Sy het al gesien dat ant Tiek iemand in ’n kardoessak laat asemhaal. Hiperventileer, noem sy dit as ’n mens so ontsteld raak.
“Kan ek vir tannie ’n koppie tee maak?” Tee het nou al vir haar ’n reddingsgordel geword, die laaste strooi waarna sy gryp as sy raadop is.
Dit werk.
“Ja, asseblief. En ’n stukkie beskuit daarby. Daar sal kookwater op die Aga wees, laat Fransiena jou help. En dan kom sit jy hier by my.” Tant Nelie wys na die leunstoel langs haar.
Die haelbui is gou verby, maar die reën stort steeds neer.
“Ek hoop tog nie daar kom skade by die mielies nie,” klaag tant Nelie. “Dis altyd so ’n bekommernis, die hael en die oes op die land . . .”
Helena sit met gevoude hande. Dis natuurlik dat tant Nelie bekommerd sal wees. Sy is immers die administrateur van die boerdery, die een wat moet kophou, sorg dat daar reg gereken word.
Toe Helena die mans op die stoep hoor, gaan maak sy koffie. Sy dek ’n skinkbord met beskuit en die vrugtekoek waarvan daar nog ’n stuk oor is. Dalk vergete sedert sy dit saamgebring het . . . hoe lank gelede.
“Het Anneke dit gemaak?” vra tant Nelie toe sy nog ’n stukkie neem.
“My ma het dit voor Kersfees vir my gestuur, tannie.”
“En dis nie om sommerso op te eet nie. Sy het dit vir mý gebring.” Chris maak asof hy die bord wil inpalm.
“Chris!” roep sy ma verontwaardig, maar lag tog. “Jou ma is ’n goeie bakster, Helena. Sy maak seker jou rokkies ook?”
“Nie eintlik nie, tannie. Daar is ’n kleremaakster op Vollemink.” Cora slaan wel haar eie oggendrokke aanmekaar en die ou voorskote vir die growwe werk, maar bederf deur Vilna Frost het Helena vol fiemies geraak en laat werk hulle van ant Berta Nagel.
Die wolke, uitgereën en byna wit, word omlyn deur die gloed van die son wat nou in die weste afsak. Oral aan drade en takke is swaar, blink druppels ingeryg, en stroompies water loop teen die skuinste af om in holtes op te dam. Die grond ruik na vars klei en die mielies loop in grasgroen rye oor die bulte.
“Jou ma was angstig,” vertel Helena toe sy en Chris later in ’n smal wielspoorpad tussen die lande loop. “Almal bid vir reën op die regte tyd, en hou dan asem op vir hael.”
Haar ongeoefende oog merk nie regtig skade nie. “Alles is darem seker nie verlore nie.”
“Nee wat, die weer trek in stroke. En