“So ’n maer ou dingetjie,” praat Marija met haarself toe sy die sinkbad gaan haal. Nes die vorige tweetjies. Johanna het nie melk nie. Ondervoeding, het Olga Sieber destyds al gesê. Die mense eet te veel soutvis en kry nie vars groente in nie.
Marija klik haar tong. “Wat hulle waarvandaan moet kry, vra ek jou?”
Een tyd van die jaar loop dit af op aartappels en uie en pampoen. Patat in die seisoen. ’n Vrou soos miss Kittie maak ’n plan: snipper groenboontjies en droog dit in die son om later ’n bredie van te kook. Vars beetblare by die vleis, die jong toppe van duwweltjies.
Nie baie lekker vir die kinders nie; hulle sal eerder van konfyt en brood wil lewe. Hulle hou ook nie van die spierwit botter wat sy karring as die bok in die melk is nie. Lekkerbekkig. Liewer vir die braaivleisvet wat van Sondag se boud afgegooi word.
Vir Johanna het hulle met die vorige baba al bitterbier van die hotel af laat kom. Milk stout, wat glo die melk aanbring. Sy het ’n gesig getrek. “Perdepis!” Die mansmense het nie so gedink nie.
Dis toe dat hulle die raad van donkiemelk gekry het. Die jongetjieskinders is Panne toe gestuur om ’n donkiemerrie wat in die melk was te gaan haal. Die donkievulletjie in die takkraal agter die Stokerhuis was ’n hele aardigheid vir die kinders. Hulle wou opsluit proe en laat Anneries ’n straal in hul mond melk. “Sies,” gril hulle, “dit smaak na . . . borrie!”
Die babatjie het nie geleef nie.
Toe die skoolklok vir pouse lui, lê die witgoed op die bleik en was Marija die bontgoed deur. Die jongetjiesmense se klere is smerig. Dit lyk die seuns dol soos otjies in die grond. God weet hoe Johanna dit hou. Vir Stoker moet hulle ’n plank voor hang. Maar wie is sy om te praat, sy met haar tros basters?
Marija skiet die spoelwater in die sand uit en los vir Kokkie Dorn by Johanna en die papsawwe babatjie. By die huis lê haar eie wasgoed ingeseep. Sulke lekker vars water. Die bad onder die geut is vol geloop en nog ’n emmer ook.
Toe dit laas nag so reën, het sy bang geword. Op ’n platdak klink alles mos erger, elke druppel ’n spyker in jou harspan. Sy’s net bly die wind het nie die dakplate geskep en gaan neersit waar hy wil nie. Sulke slae is ’n mansmens darem ’n troos, al kan jy net op hom skree.
Maar haar ou pondok het gehou. Dis ’n dak oor die kop, al is hy so warm soos die hel in die somer, so sonder plafon. Sy het al vir Dolf blink gelek om bokse by Kerneels te loop bedel om vas te kap aan die rafters. Maar dan kyk hy haar net aan met daardie oë soos blousellappe onder die bos swart krulle en sê: “Een van die dae bou ek vir Mame ’n paleis.”
Soos die een waarin sy grootgeword het, die spitsdak op Kookwater aan die boloop van die Jakkalsrivier, waar die fontein uit die grond borrel; die kweekplate, vye, kwepers en granate, uiwe en tamaties. Gesaaides en vee.
Winters het hulle met hul wa en donkies Toring toe gekom om snoek te vang. Waar die bakkiestoor vandag staan, was daar ’n opslaghuis van sink waarin die snoekvangers gebly het. Hulle eie matjieshuis ’n ent weg daarvandaan, lekker koel in die somer, en as die matjiesgoed klam trek en swel, lek dit nie ’n druppel nie.
Wanneer die mans bedags see toe is, het sy die strand vir haarself gehad. O, dit was mooi, al die skerp gepunte torinkies waaroor die see skuimspatseltjies spoeg en die Toringklip soos ’n kasteel daar in die bek van die baai. Dan is sy ’n meermin wat in daardie toring bly en bedags uitkom om te swem en haar hare in die son droog te maak. Dié was lank en wit gebleik. Mooi-Nôi, het hulle haar genoem.
“Ek het maar eers Marija geword toe Toring loop mens vat,” het sy vir Kittie vertel toe hulle mekaar al heelwat beter geken het. “Want hoe sal dit gelyk het as die wit missiese vir my Nôi moet sê?”
Een jaar toe hulle met die wapad oor die rug kom, lyk die baai anders: daar lê ’n kotter buite die Toringklip. Die passasie was toe nog nie daar nie. En op die strand is tente opgeslaan, en ’n smal spoorlyntjie oor die sand gelê. Vragte goed word met ’n vlot wal toe gebring, op trollies gelaai en met die spoor gevat tot waar die fabriek gebou moet word.
Kerneels met sy agteroor kuif kom een môre na haar pa toe waar hulle in die takskerm pap maak. “Oom, ek soek vrywilligers om met die bouwerk te help.”
Hulle het toe twee oostewindjare ná mekaar gehad en kontantgeld was skaars. Haar broers is toe alleen see toe gestuur en sy en haar ma sout die snoekmootjies. Toe die balie vol is en hulle genoeg snoek gedroog het, vat haar ma en haar broers die wa terug. Sy bly by haar pa agter.
Sy het gesien hoe die fabriek staangemaak word. Ook die ou menasie waar die jongkêrels geloseer het, vir wie Kokkie Dorn gekook en gewas het. Sy het die huise sien opgaan: dié van Stoker en die bestuurder en toe die winkel en die skool.
Sy sien dit nog so duidelik: die kookskerm van doringbostakke voor die menasie en Kokkie by die kospotte. Sy met haar lang wit hare wat die mansklere oopsprei oor die lae heining. Toe Kokkie vra sy moet aanbly toe haar pa die volgende jaar saam met die wa teruggaan, wil haar ma nie. “Ek het jou nodig by die huis.”
Dit was nie die ware rede nie. As haar ma maar reguit met haar gepraat het.
“Maar miss Kittie weet hoe was die grootmense daai tyd. Hulle kom nie met ’n ding vorendag nie. Dis nie soos vandag wat Meggie kan sien hoe dit nié moet wees nie. Wat weet ek? Ek wil nie teruggaan om donkies aan te keer en vee op te pas, en uintjies te dol in die vlei nie. Dit gaan lekker hier op Toring, al die gewoel. En ’n trop mansmense in die menasie – mister Smittie en Ockert uitgesluit; jy kan van die begin af gesien het hulle is pedigree. Ou Dorn, met die lang wit baard soos Eli van ouds, gaan vroeg kooi toe. Maar Kokkie sit, met ’n kind op die skoot by die vuur, en netnou dans sy die riel. Kyk, sy kom mos daar uit die . . . hoe roep hulle dit? Duskant die Grootrivier het Dorn haar opgetel. ’n Cloet was sy, brei velletjies en so aan. Nou leer Kokkie my: sy leer my kook, al die viskosse. En die mans leer my klawerjas speel. En ounag staan ek alleen met die berg skottelgoed.
“Daar kry oupape Towejas my toe jammer. Hy was ’n Masbieker wat vir ou Dorn met die timmerwerk gehelp het, so ’n hanshoender wat in ’n kamertjie vlak by die agterdeur geslaap het. Eet by die vuur in die skerm en as hy sy bord inbring, help hy my potte skuur en vloer was. En miss Kittie weet hoe dit gaan: dit gee ’n geselsery af en ’n gespelery en naderhand ’n vattery. En toe ek my kom kry, sit ek op die paal . . . En dit bly nie by een nie. Eers Meggie en toe Dolf. Mooi kinders. Ek het nie een lelike kind nie. Die mans was almal mooi, van ou Towejas af met die klam bruin oë, tot by Petriek uit. Nou maar toe sê Kokkie: Nee, so kan dit nie aangaan nie – twee kinders onder die kombuistafel. Ons moet ’n plan maak.”
Watse plan? Terug Kookwater toe kan sy nie, met Meggie wat soos ’n Masbieker lyk, en Dolf met die kop krulhare. Die Bobaaiers meng nie, en sy sal nooit met haar kinders in die Gaat gaan bly nie – tot vandag toe nie.
Toe laat maak Sieber vir haar die huisie hier eenkant staan, goed genoeg vir iemand soos sy. ’n Uitgeworpene uit die gemeenskap, wat haar lewe verdien met wasgoed. Oor wie mense soos Kittie Steyn en Pollie Koch hulle ontferm, en Kokkie Dorn, die ou trens. Daar is ook altyd een wat vis aandra of ’n paar snoekkoppe – die aanlopers wat oor die onderdeur kom hang. Petriek is een van dié wat gebly het, vir wie sy partykeer moet sorg as die see sleg is, en vir sy kinders.
’n Mens kom reg as dit moet. Maar nou? Dis asof sy aan die einde van ’n pad gekom het, by ’n toe hek met ’n slot voor. Die fabriek is in sy maai. Die skuide is weg. Daar is nie ’n verdienste nie. En in haar voorskootsak lê ’n kale sjieling.
5
Die Steyns se voorhuis lyk saans soos ’n lykwaak. Met die uitbreek van die oorlog het Smittie ’n radio gekoop en nou kom al wat leef en beef ná agt saans na die nuus op Radio Zeesen luister.
Kokkie Dorn sit plat op die vloer, ingekruip onder die draadloos om beter te hoor. Swart doek om