Daarom het Smittie Steyn sy eie gereedskap gekoop. Made in Sheffield. Hy werk nie met prulle nie. Hou sy goed by die huis, waarvandaan hy dit laat haal as hy iets nodig het. As dit ’n oponthoud veroorsaak soos nou weer, moet hulle maar wag.
Toe die laaste skuit weg is – ’n vloot seevoëls wat voor die noordewind uit dobber – staan die rook uit die onbewerkte kreef. Afgegaan. Maar dit kan nie weggegooi word nie. Eers vinnig deur die stoompotte, dan na die vroue wat skoonmaak, sterte afbreek, oopsny, dermpie uithaal. Na die baddens waar al die bederf afgewas word totdat die vleis spierwit is, waarna dit geblik word en deur die inmaakproses gaan.
Ockert beweeg tussen die pakkers en die stoompotte. Sy stem klim bo die stoomwalms uit; die spoeg spat.
Voor donker bring die kinders Ockert en Smittie se aandkos: brood toegedraai in kardoespapier en iets warms in ’n skotteltjie, ’n bottel tee wat vinnig afkoel. Gewoonlik kan hulle nog ’n bietjie vertoef, maar vanaand mag hulle nie. Dis onweer en die see is aan die kwaai word.
Daar word dwarsdeur gewerk, die hele nag tot die volgende middag, voor die laaste kreef weg is.
Smittie se voete is nat. Hy dra nie stewels nie, maar velskoene met dun sole wat hy van Ebersohn af bestel. Al wat hom red, is die wolkouse wat Kittie, sy vrou, vir hom brei.
Almal is kapot toe die laaste blikkie deur die stoompotte is en stoor toe gevat word om af te koel. Die masjiene het tot stilstand gekom. Dis net die Tandy wat loop om ys te maak sodat die aas koud kan bly. Die stoomketels is afgesluit; die mure en tafels en vloer van die kreefhuis word skoon gespuit.
Ockert en Smittie wag buite op die jettie dat die skoonmakers klaarmaak. Die weer bou op. Op die horison lê ’n massa blouswart wolke wat inmekaar krul. Die wind is sterker.
“Hier kom ’n man aan, ou Smittie.”
Ockert trek sy kop tussen sy skouers in. Die donkerblou seemanstrui wat hy oor sy ketelpak dra, sit knap. In die was gekrimp. Die dungeslyte moue is ingestop, ’n sweer saamgetrek op elke elmboog.
Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy mond. “Jee-zus,” blaas hy soos ’n walvis, “wat ’n weer!”
Die see is skuimbek met ontblote haaitande wanneer die branders oor die rotse breek en in die skietgat onder die Toringklip opspat met ’n knal. Dit laat Ockert verlang na die kalm waters van die lagune waarop hy en sy broers in ’n seilbootjie uitgevaar en weer ingedryf het tot by die ankerplek vlak voor hulle huis.
Toe die see in die nanag so geraas het, het hy dit oorweeg om die half bedorwe kreef te laat wegry saam met die borsies doppiesveld toe, waar dit tot kreefmeel verwerk word. Maar dan sukkel hulle weer met produksiesyfers en soek hoofkantoor ’n verslag.
Smittie taks die swel in die baai: sewe voet, dalk meer. Agter die riwwe, uit die diepsee, kom daar berge aan, maak bymekaar, slaan om en storm met ’n skuimende gedonder strand toe. “En die water groei nog altyd.”
Ockert sug. “Goddank die skuite is weg. Anders het ’n paar van hulle môreoggend stukkend geslaan op hierdie klip gelê.”
Smittie se gesig is smal onder sy swart petjie. Hy suig aan sy half dooie pyp soos ’n kind aan ’n leë bottel – paf net. Die rook is nie goed vir sy longe nie. Somer en winter dra hy sy kakiehemp toegeknoop tot onder sy kuiltjie, en in weer soos vandag trek hy ’n ou spoorwegjas aan. ’n Oorblyfsel uit die dae toe hy in die Kaapse dokke gewerk het.
Daar’s nie sprake van vroeg uitval nie, van voete in ’n warm mosterdbad en droë klere nie. Die dag het ’n nuwe vaart gekry. As die weer vererger, kan die bakkies wat omgekeer op die strand lê, wegspoel.
“Ons moet hulle opdra uit die pad van die water uit,” beduie Ockert.
Hulle maak ’n paar man bymekaar en dwarsboom só hul planne om met leë bottels in ’n suikersak af te sit hotel toe, te voet of met ’n baisiekel.
’n Drinkery word nie aangemoedig nie. Seewater en drank is nie maats nie, en op Toring is daar tot dusver nie ’n drankwinkel toegelaat nie. Maar toe maak Frank die hotel duskant die Panne staan: ’n wit olifant op die kaal vlak. ’n Versoeking en ergernis vir al wat leef. Dit gebeur dat die manne met die terugkomslag bly lê waar hulle neergeslaan het, sodat die waterlorrie gestuur moet word om hulle bymekaar te maak voor hulle verkluim of sonstraal kry.
Met die bakkies uit die pad is die gevaar nie verby nie. Die huise is veilig daar bo op die knop, en ’n duin beskerm die Gaat. Maar die fabriek. Flus het die jettie onder die aanslag van die branders gesidder.
Ockert en Smittie was deel van die span wat die ou konstruksie omtrent vyftien jaar gelede in die Voorbaai afgebreek en met ’n vragskuit na Toring gekarwei en hier kom herbou het. Hulle was by toe die fondamente gegooi, die masjinerie gemonteer en die timmerasie aanmekaargekap is. Hulle ken die swakhede van die gebou, sy weerstand teen die aanslag van die seewater, die krag van die wind en seestrome.
Elke springgety is daar maar skade, moet daar gekalfater word, maar hierdie is nie die gewone kwaaisee nie, dis boonop volmaanspring. Hulle moet wal gooi en keer. Alle toerusting wat nie op die jettie vasgebout is nie, word ingestoot fabriek toe: kreefkiste en -mandjies, emmers, kettings en toue en ou motorbande en koekepanne, totdat net die smal trolliespore bly lê, en die hyskraan en takelblok voor op die punt.
Al die tyd kom die branders soos oorlogsperde aangejaag voor die wind, wat nou op noordwes gedraai het. Hul maanhare skuim. In die fabriek klouter mans soos ape teen lere uit om los panele en sinkplate vas te kap. Goed wat kan meegee, word met draad vasgedraai. Ockert laat kap plank voor die vensters en bring ’n ekstra versterking voor die dubbeldeur tussen die kreefhuis en die jettie aan.
Steeds onrustig, dring Sieber daarop aan dat toue oor die dak gespan word: ’n web van manillatou oor die rooi sink.
Menslik gesproke is daar min wat hulle nog kan doen. Behalwe as Sieber nou sy arms lig, jasmoue opskuif, hande saamvou, en soos met ’n wyksbiduur of die opening van die basaar ’n gebed doen.
Smittie, wat nie van so ’n vertoon hou nie, staan effens opsy. Die storm, merk hy, bou na sy hoogtepunt op.
Teen sononder is die lug op die horison bleekgeel soos die lig van ’n lamp wat aan ’t doodgaan is. Die wind neem toe in krag en die see klim teen die rotsplaat agter die fabriek op. Stroom skuimend teen die skuinste af; slaan op teen die mure van sink en plank.
Dan is dit donker. ’n Duister sak eensklaps oor die baai toe. Alles is verlate; die meeste mense is huis toe. Selfs die seevoëls op Toringklip het ander skuiling gaan soek.
Ockert gaan nog een maal alles na voordat hy sluit. “Ons kon alles net so gelos het,” merk hy teenoor Smittie op. “Die water sal hom in alle geval nie laat keer nie.”
Smittie knik. Hy’t al gesien hoe ’n fratsgolf teen ’n duin uitklim, in die Agterbaai waar hy vandaan kom. Hoe dit die vroumense wat by die varswater langs die see gaan was het se bleikgoed soos worse oprol en intrek.
Toe ’n golf die jettie uit die dwarste tref, krimp hy ineen. Die volgende slag laat die raamwerk kraak. Die impak van die slag is soos donderweer, en die vloer vibreer asof ’n klein aardbewing die gebou skud. Voor dié onbeteuelde krag staan hulle magteloos.
“Ja, ou mieta,” beaam hy.
“As hy net vannag hou.”
Ockert skuif die deur by die ingang toe. Hulle word voortgestu deur die wind teen die hoogte uit, na die huise wat grys en bedremmeld in die reën staan. In die vensters skyn enkele kers- of lampligte.
Die winkel is toe. Daar is nie rondstaners in die koue of laatkommers wat hoop dat hulle nog weggehelp sal word nie.
Soms op pad huis toe is Ockert-hulle gelukkig om nog ’n warmmakertjie by Kerneels, die