’n Mens kan nie agterkom waar Smittie se lojaliteit regtig lê nie: by die Engelse of die Duitsers. Hy’s ’n soort vrydenker, het saam met Italianers en Noorweërs in die Kaap gewerk. Kittie se naaimasjien – ’n Vesta – is ingevoer uit Skandinawië. Made in Sweden staan daar op die primusstowe, kondensmelkblikkies en Argo-oliebottels, en hulle eet Sweedse sardiens.
Dit geld vir Ockert ook, wie se ma ’n baster Italianer is – ’n Sienie – wat ’n mengelmoes tale praat. Ockert het leer Engels praat op die walvisbote. Toe hy op Steemersbaai aankom, was daar ’n Jood met so ’n dubbele kop. Saans in die kantien sit die manne hom en die Jood aan mekaar dat hulle Engels praat. “Hulle praat later ’n baster Latyn,” onthou Smittie.
Vir Kerneels moet jy ook nie weggooi nie. Sy briewe aan Pollie was in Engels geskryf: My darling Polly . . .
Hy is pro-Hitler, en wil sien dat Duitsland die oorlog wen. Maar eintlik maak dit nie saak watter kant toe die oorlog swaai nie; eerder sal dit interessant wees om die uitdraai van sake te sien.
En al verskil die drie manne ook hoe, breek dit nie die vriendskap nie; hulle stem nog saam.
“Wat kan ons doen?” vra Fia verveeld in die kamer met al die mag-nie-aan-vat-nie-goed waarheen hulle versit het: Smittie se tekentafel met inkbotteltjies en penne en meetinstrumente, die gereedskapkas, Kittie se naaimasjien.
Aan Kittie se masjien mag hulle nie ráák nie. Naalde is skaars en as een breek, is daar nog ’n oorlog. Met haar skêr mag hulle ook nie knip nie. Sy kom dadelik agter as dit stomp is nadat iemand ’n stuk tjoep daarmee geknip het.
Jannes mik na die gereedskapkas. Hy het met ’n halwe plan gekom. “Ek soek ’n boortjie.”
“Om wat mee te maak?” vra Ita.
Uit sy broeksak haal hy ’n knokker wat hy in die veld opgetel het. “Ek wil ’n pyp maak.”
Die meisiekinders weet waar die blikkie met boorpunte is. Amper net so kosbaar soos die masjiennaalde.
Jannes vat die omslag en sit die boorpunt in. Knyp die knokker tussen sy knieë vas en boor versigtig ’n gaatjie. By hom het hy ’n groen lootjie van ’n muisbos wat hy die middag al afgesny het; met ’n dun draadjie het hy ’n gaatjie daarin gemaak. Nou pas hy die lootjie in die geboorde gat. Hy suig ’n slag om te voel of dit trek.
Hulle rook almal stilletjies agter die houthoop of in die veld: droë donkiemis toegerol in bruinpapier of koerant; ’n stuk rottang uit ’n seemandjie wat hul tonge soos vuur laat brand; stompies wat Jannes van sy pa skaai.
Smittie rook boertwak gemeng met Springbok om dit ekstra sterk te maak. Die roltabak bêre hy in die hoekkas bokant die kamerdeur, saam met teertou wat vir ’n slegte bors gepluis word, en potte Malt wat na tornynolie en toffie smaak. Waarvan Fia-hulle soms ’n lepeltjie eet as daar niks anders in die huis is nie.
Ita is voorbok en trek ’n stoel nader, hys haar aan haar arms op en hang soos ’n vlermuis. Gooi die tabak af dat dit klink soos ’n donderslag.
Hulle hou asem op. “Is hier vuurhoutjies?” fluister Jannes.
“In die geelkoperblaker.” Van ’n stuk afvalmetaal wat Smittie op die draaibank uitgedraai het.
Jannes sny ’n span tabak af, kerf en stop. Maak die vuurhoutjie brand. Suig die vlam in.
“Nou ek!” sê Ita.
Hulle trek en hoes en Jannes klap hulle op die rug.
“Sê nou hulle ruik?”
“Hulle rook self.” En Kokkie snuif.
Nogtans skuif hulle die raam op. Die koue lug stroom in.
Net toe skraap stoelpote oor die plankvloer – daar staan die grootmense nou op. Jannes gryp die pyp en steek dit in sy sak. Ita hang nog hoesend aan die kas toe Smittie die deurknop draai en oopstoot.
“O gits!” Hy gee ’n laggie. Dis nie seker wie die grootste geskrik het nie: Ita en Fia met traanogies en gekreukelde rokke, of hyself. Hy was self ’n ongemaklike jongetjieskind op sy dag.
“Jannes!” roep Kerneels, wat sy seun nie onderskat nie. “Wat maak julle?”
“Niks, Pa.” Hy staan met albei sy hande in sy broeksakke. Sy pa sal hom nooit voor ander mense uittrap nie, behalwe om te sê: Haal uit jou hande uit jou broeksakke, kêrel!
As die meisiekinders maar nie so skuldig wil lyk nie. Hulle val byna oor mekaar toe Smittie vra of daar dan nie ’n bietjie drinkgoed is nie.
“Ons kan maak, Pa.”
Maar Kerneels bedank. Hy loop staan buite en kyk na die sterre wat deur die een-een wolke skyn. “Die weer is oor.”
“Ja, die see raas nog, maar die wind is uit die suide. Môre swaai hy dalk oos,” sê Ockert.
Die knokkerbospyp lê lou teen Jannes se been toe hy langs sy pa aanstap. Hy voel amper lus om te fluit, en maak in die loop planne waar hy die pyp sal wegsteek. In die waaisand onder ’n muisbos?
Uit die bloute sê Kerneels: “Laat ek bietjie daardie briar van jou sien, Janneman. Gee hom hier dat ek hom vir jou bêre. Netnou steek jy jou klere aan die brand.”
Die Kochs en Ockert is skaars weg of Kittie stap in. Leë handmandjie oor die arm, haar wange rooi van die vinnige stap teen die skuinste op, oë violetblou in die kerslig. Sy trek haar warm baadjie uit en hang dit oor ’n stoelleuning.
“Is die kinders nog nie in die kooi nie?”
“Ons wag vir jou, vrou,” neem Smittie ’n onskuldige houding in. “Hoe gaan dit by die Stokers?”
“Nog maar dieselfde. Maar daar is iemand vir die nag, toe kom ek maar huis toe.”
Haar hare, wat sy in ’n los gedraaide bolla op haar kop dra, laat haar jonk en klein lyk, en breekbaar. Smittie skaam hom dat sy die huis in so ’n toestand aantref: die vuil asbakke, modderspore, stoele nie op hul plekke nie, die kinders ongewas, die water koud.
“Kom, laat ek die primus aansteek, dan maak ons ’n bietjie sop warm. Ita, bring julle die wasbadjie in. Sit jy hier, vrou.”
Hulle klop ’n kussing op om agter haar rug in te skuif.
Kinders behoort nie vir te lank aan hulleself oorgelaat te word nie, dink Kittie toe sy agteroor sak. Die Stokers se huis is ’n sprekende voorbeeld van verwaarlosing. Maar sy hoef nie verder as haar eie kombuis te gaan nie: vuil skottelgoed en ’n klipharde papkastrol, die vadoeke asynsuur.
Dis nie soos sy haar kinders grootgemaak het nie. Hulle het nie meer ’n roetine nie. Slaaptyd lees sy gewoonlik vir hulle uit die Kinderbybel met die gekleurde illustrasies. Sy het dit aangeskaf net nadat Ita gebore is.
Aan die einde van elke hoofstuk is daar vrae om te toets of hulle geluister het. Smittie is nie een vir bid en sing nie – hy kan net so min ’n wysie hou as Ita – maar hy hou van vraetyd, om die kinders uit te vang. Hy ken sy Bybel goed; sy eie Hooghollandse Bybeltjie is voos gelees.
Vanaand is daar ongelukkig nie tyd nie. Hulle is almal uitgeput ná alles wat gebeur het. En dan nog hierdie oorlog. Al wat sy begeer, is vrede. Dat haar huis weer hul eie kan wees, en nie ’n stasiewagkamer waar almal saambondel nie.
6
Die Kreefhuis staan nog hand in die sy, die jettiepale afgeknak, toe Sieber die volgende oggend sy mense bymekaarroep. Daar is niks nuuts wat hy kan toevoeg tot wat hulle reeds weet of vermoed nie.
“Colbert sal self uitkom, so gou as moontlik, en kundiges saambring om die skade te bepaal. Daarvolgens sal besluit word wat om te doen.”
Intussen begin ’n span strand skoonmaak, werk bamboes bymekaar.
Ockert wil die ingemaakte kreef so