Onder die afdak van goiing in die hok langs die pakkamer staan die paar hoenders koulik opmekaargebondel, die henne kaalrug soos die haan hulle getrap het. Die paar eiers is amper nie die kos werd wat hulle opvreet nie. As hulle ooit kos gekry het.
Hy gooi ’n handvol mielies, skop sy stewels uit en klim uit sy oorpak, skiet dit by die pakkamer se deur in. Haak die omslaggie op. Sug. As die kind, Gwendolien, nie kyk nie, gaan hier heeltemal niks aan nie. En sy is maar . . . Hy moet eers terugreken. Hoe oud was hy toe hy en Miemie getroud is?
Vyf jaar gevry, dit weet hy alte sekuur. Die gesin Hofman van die Kaap het kom seebad hou in die Voorbaai, om te kyk of die water nie iets vir die ma se bene sou doen nie. Die ou mens het toe al swaar geloop. Miemie en die suster het haar tot in die vlakwatertjies gehelp en dan weer terug in die stoel, waar sy die res van die dag sou sit.
Toe was Miemie nog Miemie, ’n bok vir sports. Lekker gedans, en game om te gaan seil en roei. Hoe het sy nie aan hom geneul om haar te leer roei nie! Toe een aand, nadat hulle by ’n lekker paartie aan die oorkant was, het hy op die klein jettie sy balans verloor en plat op sy rug in die bootjie beland, nie gebore in staat om weer op te kom nie.
“Woman, you always wanted to row, now row!” het hy gebulder.
Onder groot gelag het hulle op een of ander manier die wal gehaal. Snaaks dat water toe ook nat was, maar nie so blessit koud soos nou nie. Dis ’n ewigheid gelede.
Ewewel, die kind is nou . . .? Sy’s nog op laerskool.
Kaalvoet en blouboud sluit Gwendolien vir hom die deur oop, gee hom ’n sopperige soen. Na wie sy lyk, kan hy nie sê nie. Miemie was tog ’n skaflike nooi, wel ’n bietjie bont, maar mooi bruin oë, en nie sulke triestige haartjies nie. So onvanpas soos die naam: Gwendolien.
Sy babbel sonder dat hy weet wat sy sê, totdat sy vra: “Pa, het Pa al gehoor of ant Johanna Stoker al haar bybietjie het?”
“Nee, my kind,” steun hy met sy nat trui halfpad oor sy kop. Vir sulke stories het hy tog nie nou lus nie.
“Pa, die ou tante is op die Panne gaan haal. Met die waterlorrie! Vemôre al. Sal dit lewe, hè, Pa?”
“Wat?” vra hy.
“Die bybie, Pa.”
Gwendolien se ribbetjies is sigbaar deur die flennie van haar naghemp. Amper ook nie gewees nie, dit was so hittete. Wil liewer nie daaraan dink nie. Miemie het dit byna nie gemaak nie, en was daarna nog nooit weer méns nie.
Hy maak die twee dun armpies van sy nek los. “Wag, ek is nat, jy sal koue vat. Waar’s Ma? Bok!” roep hy kamer se kant toe.
“Ma lê al.”
Met die koue lol die niere. Oostewind jaag weer die bloeddruk op.
Miemie lê met ’n warmsak op haar blaas en dit ruik na getrekte boegoe. Sy hou haar wang vir hom. “Jou kos is op die primus.”
Boeliebief met ’n lagie fyn aartappel bo-oor, ’n patroon met ’n vurk getrek om soos cottage pie te lyk. Warm gehou op ’n pot lou water. Daar is koffie in die kan wat hy kan opwarm.
“Kan ek vir jou ook bring, Bok?”
“Nee, dit gee my sooibrand.”
Vir hom ook.
Hy eet en was en gaan val in die kooi. Die ou springe is ook al deurgelê; hy is ’n swaar man.
By die Smitties is dit sopaand. Smittie ruik die sooltjie van die voervark wat elke winter geslag word – grootgemaak op vleiswatertjies en afval-broodkrummels, aartappelskille en groenteblare en semels. Kittie en ou Kokkie Dorn het om die helfte saam gemaak: wors en vet en kaiings en haksel. ’n Ham en soutribbetjie is kos in die huis.
Hy vee sy voete aan die dubbelgevoude streepsak voor die agterdeur af. Ita en Fia, sy dogters, sit soos twee graatjiemeerkatte voor die stoof, elkeen met wol en penne. Kittie laat hulle brei. Om hulle nie op die werf te laat verwilder nie, hou sy hulle immer besig met ’n handwerkie. Maar kry dit nie altyd reg nie. Die wêreld is wyd en sonder grense. Hulle vat die veld en die seestrand aan.
Van die growwe Argentynse wol, al wat in die oorlogtyd te kry is, brei hulle sokkies en pixie-keppe vir die klimmeide wanneer hulle oplet die rokslyfies begin voor lig. Ouderwets.
Hulle sit hul breiwerk eenkant neer en Ita lig die doekie van die vet en konfyt en gesnyde brood op tafel. Sy begin maak braaibrood op die voorste stoofplaat. Fia giet ’n skepbeker warm water in die wasbadjie, gee die koekie Lifebuoy aan.
Smittie was sy hande en gesig en proes in die handdoekie wat agter die deur hang. “Julle ma?” vra hy onnodig.
Hy weet by voorbaat: waar daar nood is, sal jy vir Kittie kry. In dié geval is dit die Stokers, waar daar weer ’n kleintjie aan die kom is.
“Ma het gesê ons moet maar eet en gaan slaap, sy weet nie hoe laat sy terugkom nie,” sê Ita.
Die vorige keer was dit so ’n gesloer. Stoker moes ook nou al sy les geleer en vroegtydig ’n dokter gekry het. Maar die mense glo die ou tante van die Panne is goed, al is daar nou al twee kindertjies dood. Die fout lê by die dogtertjies, want die seuns is yslike knewels.
Sulke tye is dit nie speletjies vir ’n vrou op hierdie plek nie. Destyds met Ita en Fia het dokter Van der Spuy uitgekom. En Kerneels-hulle is Volks toe in die Kaap met Jannes se geboorte. Miemie Ockert . . . Foei tog, die stomme mens.
Hoe ook al, Johanna sal hulp nodig hê, daar in die ou huis vlak langs die fabriek – die eerste wat aanmekaargeslaan is in die sand en steenkoolas. Sonder watertenk. Hulle moet water van die fabriek af aandra in viergellingblikke, nes die bruinmense. Die vloere is van sement.
Mens sal sê hulle moet darem nou al weet om nie elke jaar . . . Maar arme Stoker sê hy kan nie help nie, Johanna vat so maklik.
Smittie maak sy oë toe en hou hande met sy kinders. “Kom laat ons bid.”
Hy sê die Segen Vader op. Plaas dan ’n sny roosterbrood in sy bord en laat Ita die sop daaroor skep. Wit herebone uit die Sandveld, en kreefkoekies gemaak van kreefstertjies wat Ockert spesiaal vir eet gaar gestoom het.
Seker met die verwagting dat hulle ook sal kry. Wanneer die kind kosmaaktyd styf teen die stoof kom staan, met die oë soos ’n dikkopkuiken, kry Kittie haar jammer.
“Ek wens Mamma wil vir ons ook koekies bak, maar Mamma maak dit weer nie vandag nie,” vertel sy met ’n oumensstemmetjie. Die bloeddruk sal nog haar ma se einde wees in daardie bakoond van ’n kombuis. Arme kind met die potblou armpies onder driekwart-jersiemoutjies, asof die wol altyd te min is. Dan stuur Kittie maar ’n enemmelbakkie vol oor.
Hy weet sy sou vanmiddag al ’n mandjie vir die Stokers gepak het: dettol en soetolie en watte en haakspelde en ’n paar ou luiers vir die kleintjie wat verwag word, vir wie Johanna selde genoeg voorsiening maak. Ook van die kreefkoekies en ’n stukkie wors sou sy saamgevat het, al is dit nie naastenby genoeg vir die eters in daardie huis nie.
“Ma het gesê ons moet die wekker stel om betyds wakker te word vir skool,” sê Fia toe hulle die stoele terugstoot.
Hulle stapel die borde inmekaar en pak dit in ’n skottel. Kittie sal dit nooit toelaat nie, maar daar’s nie genoeg water vir opwas nie. Hulle bêre dit vir Meggie, wat soggens in die huis help as die fabriek nie werk nie. Sy is Marija, die wasgoedvrou, se dogter, en is meer ’n maat vir die twee meisiekinders as iets anders.
Smiddae as hulle vir Smittie koffie wegneem fabriek toe, mag hulle ’n tydjie vir Meggie in die kreefhuis gaan help. Hulle staan weerskante van haar en laain die blikkies met vierkantjies botterpapier waarin die kreefstertjies verpak en toegevou word voor dit deksels opkry. Hoe vinniger hulle laain, hoe meer pak Meggie en hoe meer verdien