Die kinders slaap, maar slaap ook nie. Die hele nag ruk die wind aan die vensters. Nie soos die oostewind wat soos ’n wolf om die hoeke blaas nie, maar met die gedruis van die see daaragter. En die gekletter van reën op die dak.
Hulle dink aan ant Johanna Stoker daar onder in die platdakhuis op die vuil steenkoolwerf; die see wat kort onderkant die pad kom draai. Ant Johanna met die ingesakte wange, hande op die maag onder ’n bont voorskoot.
“Hoei!” roep sy as hulle met hulle pa se koffie verbykom. “Sê vir julle ma as sy ’n kansie het, moet sy ’n draai kom maak.”
Dan maak Kittie tyd. Maar hulle twee moet by die huis bly, want hulle het niks daar nodig nie, so tussen die klomp seunskinders. Sonder dat iemand hoef te sê, weet hulle daar is een van die dae weer ’n babatjie.
Hulle ma gaan help, en hulle pa stem saam. “Dis ’n mens se Christelike plig.”
Net soos dit hul Christelike plig is om elke middag vir Marija ’n skotteltjie kos te stuur, al is dit ook net ’n lepel rys en een aartappel met die sous van skenkelvleis daaroor. “Ons kan die mense nie aan hul lot oorlaat nie.”
Die lot is honger en die dood, fluister die twee kinders onder die kombers in hul warm bed. Die lot is klam en vaal soos die koue, mistige weer wat om die baai toevou, met net die buitelyne van skuite en hul maste en die rotse wat daardeur sigbaar is. Dis daar, maar ’n mens kan nie daaraan vat nie.
Dis die geheimsinnige onbekende wat gereeld die mense in die Gaat bykom, en die Stokers, maar nie die Kamp nie. Behalwe klein Diekie wat aan die maagkoors dood is. Uit pure onverskilligheid, die ma wat die een lang sikkeret ná die ander rook. Sulke mense moenie huil nie.
“Steek brand die muisbos!” roep Marija as die misdou op ’n Maandagoggend verdomp om oop te trek en sy sukkel om die wasgoed droog te kry. Hulle bring ’n boksie mêtjies en trek die swalletjie, steek die fyngoed van muisneste tussen die boswortels aan die brand. En die son kom deur.
2
Daar brand ’n kers in die kombuis toe die kinders wakker word, maar die huis is stil. Kittie is nog nie terug nie, en Smittie is reeds weg. Sonder om koffie te drink of te eet.
Hulle maak altyd pap, en later kom haal Tommie, Smittie se handlanger, die agtuurkos: ’n eier tussen twee snye brood of gebakte vis of iets. “Julle pa moet goed eet, hy werk hard,” glo Kittie.
Hulle pa het sy jas gevat, want dit reën strykdeur. Dit klink asof die watertenk oorloop; daar is ’n gedruis van water.
“Die pad kom af!” Ita staan oorbluf toe sy die agterdeur oopmaak.
Die wapad is ’n kabbelende rivier wat nie sommer gaan opdroog soos die poele in die wielspoor waarin hulle altyd ná die reën speel nie. Hulle kan dit nie glo nie. Maar dan het hulle hulle nie verbeel dat daar in die nag aan die deur gehamer en na hulle pa geroep is nie. Dit het geklink asof dit Ockert was wat kom klop het . . . En dan is daar groot fout. Die water skuim en maak windjobbels in die pad.
Ita pluk haar rok aan en vou ’n streepsak-kappie oor haar kop, en hardloop. Sy hardloop verby die huise en die skool tot by die winkel. Daar steek sy vas. Die see is spierwit omgekarring, die baai onherkenbaar, die water só hoog dat daar niks van die rotse sigbaar is nie, net die helfte van die toring. Die passasie is toe gebreek en die branders spoel oor die jettie.
Alles is flenters geslaan. Die jettie is net voor die kreefhuis afgebreek, en die kreefhuis self hang skeef soos ’n deur aan een skarnier. Dit kraak en swaai heen en weer as die seë daarteen breek. Sinkplate en splinterhout en mandjies en goed dryf die hele baai vol. Die strand is uitgekalwe; die water krul teen die wal op en vat bamboes en sand en skulpe terug. Bondels skuim werk uit.
Met sy hande in sy broeksakke kom Jannes van Kerneels van onder af aangedraf. Hy maak of hy nie koud kry nie.
“Wat gaan aan?” skreeu Ita.
“Hoe lyk dit vir jou? Jy kan mos sien.”
“Enige bobbejaan kan sien, maar wanneer?” kry Ita hom terug. Hy is drie jaar ouer en altyd slimmer, omdat hy sy pa se bakkie kan bestuur en kos en brood vir die skuite aflewer.
“Vannag al. Ons het die slag gehoor. Soos ’n kanonskoot. Ma was in die kombuis en het my gestuur om te kom kyk, en ek het vir Pa gaan roep. Ons het koffie en toebroodjies vir die mense gevat. Mister Sieber was daar en hy’t ons gevra ons moet tog net in hemelsnaam sy vrou wegvat.”
Jannes is bra kordaat dat hy alles meegemaak het.
Klein tussen die wrakstukke skarrel die mans rond: Ockert en Smittie en Jakob Stoker en sy groot seuns en al wat mens is wat by die fabriek werk.
Ita wil by haar pa kom, maar ’n hand kry haar beet en ruk haar terug onder die veranda van die winkelstoep in waar ’n trop mense saamgebondel is.
Dis Meggie. Haar kop is nog nie vasgevleg nie.
“Wat maak jy hier? Kom staan uit die reën uit.”
“Waar’s Pa?”
“Jou pa is daar onder besig, jy kan nie nou sountoe nie. Ons moet maak dat ons by die huis kom, Fia is alleen.”
“En Ma?”
“Nog onder by die Stokers.”
“En die babatjie?”
Sonder rede wil Ita nou huil, sodat Meggie dadelik troos: “Die bobbejaantjie se stert is afgekap, skoongeskraap, tanne getrek. Dis ’n meisietjie.”
“Aag!” glimlag Ita darem weer. Hulle glo dit lankal nie meer nie.
Marija het die tyding gekry van die vroue wat gaan water haal het. As daar iets gebeur, weet hulle dit eerste omdat hulle naaste aan die lokasie bly.
Terug by die huis steek Meggie die primus op om papwater te kook. “Gaan was vir julle en trek aan. Skoon bloemers ook. En dan kom eet julletjies en maak dat julle by die skool kom, anders is julle laat.”
“Skool?” vra Ita verdwaas.
“Ja, die skool het mos nie weggespoel nie. Wat as die ienspekter skierlik hier aankom en julle hardloop soos hoenderkuikens op die strand rond? Of wil julle in die skande kom by mister Paulsen se kinders?”
Mister Paulsen se kinders is hulle met alles ver voor. Hulle oefen heel kwartaal om op te sê en te sing vir ’n konsert en die Krismisboom aan die einde van die jaar.
Hulle sluk die droë pap met ’n bietjie goewermentsuiker af. Die bok loop in die agterveld; dalk verkluim die lammertjies in die reën.
Hul oë skiet vol trane so styf het Meggie hul hare vasgebind.
3
Op die winkelstoep draal die mense nog, traag om die ramptoneel te verlaat, bang hulle mis iets.
Marija in ’n dun rok en kappie, ’n kind op haar rug, hou haar hand voor haar mond. “Die fambriek,” prewel sy, en daarmee is alles gesê.
Die aarde is aan die vergaan, die wêreld het ineengestort. Elkeen wat oë in sy kop het, kan sien dis klaarpraat met Toring. Die see is besig om alles weg te vat: die hope steenkool, die boilerkamer, die oliestoor met alles wat daarin is, dalk nog die bakkiestoor en die Gaat. Kyk waar loop draai die water.
’n Vrou begin huil, hoog soos ’n roubeklaer, en ’n kind val saam in, vee sy neus aan haar rok af.
“Bly stil, ek gjee jou sommer ’n klap!” blo iemand uit die bondel. “Om almal so te wil opwerk!”
“Wag, julle mense, moenie moles maak nie. Hier is mister Sieber met die mouterkar.”
Sieber se jaspante flap in die wind. Hy dra die wêreld se laste met hom saam. Tot sy snor hang. Dis nie speletjies om aan die kopkant van so ’n besigheid te staan nie, al die