Vooraf moes daar eers ’n rif weggeskiet word om toegang tot die baai te gee. Kundiges het die skietwerk kom doen onder aanvoering van ’n Noorweër wat ook ’n duiker was. Sodat die Toringklip darem nie in die slag gebly het soos daar gevrees is nie. ’n Engelsman het die jettie gebou: ’n primitiewe stellasie van pale en planke, oorkruis gespyker om dit te versterk. Die stoomketels, wat etlike tonne weeg, is met skuite aangesleep en ’n takelaar het dit geïnstalleer. Gys Losper, toe nog ’n jong boer, is met sy lorrie deur die veld gestuur na die naaste stasie om die swaar masjinerie en gereedskap te laai.
Van skuite had Kerneels kennis. Hy was by Stefan in diens op handelsvaartuie wat hoër op in die Bergrivier soutvis verruil het vir velle en koring. Op ’n keer het hy selfs winkel gehou op Oolfantsdrif, ’n soort halfwegstasie langs die Bergrivier. Saans as skinker in die hotelletjie gewerk, en musiek gemaak op ’n Saterdagaand wanneer die Velddriwwers en boere kom dans het. Paarties soos hy nog nooit weer belewe het nie.
Op Toring het hy by die aflaaiery tallie gehou, by die retorte in die fabriek gewerk, maar altyd sy eie planne gehad. Toe hy hoor masbanker gaan nege pennies een in die Kaap, het hy ’n skuit aangeskaf en sy neef uit die Bobaai as skipper aangestel. Om die vis te vervoer moes ’n ou lorrie feitlik herbou word: Smittie die enjin, Dorn die bakwerk.
Toe loop die skuit in digte mis op die wal – ’n yslike gat in die romp en die masjien beskadig. Die fabriek het hom ’n ander enjin aangebied en hy was onder die indruk dis ’n ruiltransaksie, totdat hy ’n helse rekening vir herstelkoste gekry het. Boonop dros die bemanning en laat ’n winkelskuld van tagtig pond agter vir kos. Op sy eerste trip Kaap toe haal die drywer die lorrie uit rat teen die Resseberg af en kry hom nie gestop nie; die ratkas strip en hy gaan hardloop hom in ’n krans vas.
Letterlik sonder heenkome, bied Sieber hom die werk in die winkel aan, met die slagtery daarby. ’n Permit om pos te ry word aan hom toegeken. Terselfdertyd pik hy smousgoedjies op die oewerplase langs die Rivier op om weer op Toring te verkwansel. Pollie se pa, ou Basjan Louw, het ’n veepos net drie myl buite Toring en verskaf vleis vir die slagtery.
Hulle word ook die kontrak aangebied om brood te voorsien vir die skuite. Een van Sieber se grootste probleme was om die kreefvangers Sondagaande op die see te kry. Hulle het nie kos nie, die vroue wil nie bak nie, hulle het nie oonde nie. Kerneels gryp die geleentheid en neem sommer aan Pollie sal bak – wat sy ook doen. Sy is immers ’n boeremeisie wat gewoond is daaraan om in groot maat vir die oesvolk kos te maak. Sieber laat bou ’n binne- en buitebakoond en die helfte van die een kombuismuur kry rakke.
Laas nag met die storm was hulle huis in beroering. Pollie het net die suurdeeg oorgeklop toe Jannes kom roep: “Pa, daar het ’n bom ontplof, die fabriek is opgeblaas!”
Jannes het oorlog in die kop, hy is op die ouderdom dat sy verbeelding met hom weghardloop. En wie kan hom kwalik neem met al die gerugte in omloop?
Die end van die storie was dat hulle koffie en iets te ete gevat het vir die mense wat verslae daar rondgestaan het in die gure weer. Olga Sieber inkluis, met ’n tjalie om die skouers. Wou omtrent die apiestuipe kry. “Pappie, maak ’n plan! Doen iets!”
Dis maar goed hy ry altyd die halfjekkie blits voor in die cubby. Hy kon elkeen ’n stywe dop injaag voor hy Jannes aangesê het om Olga huis toe te vat.
“Sinneloos,” brom hy nou tussen tabakgeel tande deur.
Dis soos die dood: jy vat hier en jy vat daar, maar jy vat niks raak nie. Laat die seewater hom uitwoed en die ou spul wegspoel, en laat die base verbykom. Die menere wat net in die syfers belangstel en die wakkerlê oorlaat aan arme drommels soos Sieber en Ockert.
Niks beter gewoond nie, dink hulle mos. “They live like animals,” het Colbert se vrou haar uitgelaat tydens haar eerste kennismaking met Toring. En die plek was toe al mak: die grond voor die agterdeure hard gemaak met klei en met beesmis gesmeer, manatokkas geplant vir windskerms, ’n rytjie leeubekkies onder Kittie Steyn se kamervenster.
Die vroue was omgekrap, in hul eer gekrenk. Meeste van hulle kom uit goeie huise. Laat sý onder sulke omstandighede probeer kinders grootmaak, God en sy gebod gehoorsaam, gesonde kos op tafel sit!
Toe Kerneels agtuur die winkel oopsluit, begin Wietels semels strooi en die vloer natspat om te vee. Op die stoep wag die mense, traag om pad te gee.
Kerneels sug en gaan staan agter die toonbank. Een-een kom die kopers in, tel kleingeld in hul hande af, koop penniegewys: boksie mêtjies, kers, witdulsies vir die skrik.
Marija skud die kind op haar rug reg, gee die abbadoek ’n ekstra knoop onder haar borste en staan nader. Sy moet ’n koekie blouseep hê. Ook dit word gerantsoeneer: die steentjies in blokkies gesny en in koerantpapier toegedraai.
“Ek kom Maandag betaal.” Nadat sy by Kittie Steyn gewas het. “Mister Koch,” voeg sy uit respek by, en om ’n voorbeeld te stel vir die Gaat se mense, wat oor die toonbank hang asof hulle nie bene het om op te staan nie.
Sy kyk skuins na die bossiekop-klimmeid van Antoon. Dié loop hoeka mank. Vuilsiek, sê hulle. Hoeveel kieme trap sy nie in nie, met daai kaal voorvoet waarop sy so hink-pink? Hulle sê die seer op haar been word nie gesond nie en die lap is smerig. Sy wat Marija is, het haar kinders verbie om Gaat toe te loop – vir Meggie, en ook vir Dolf, wat seker een van die dae sal begin stoot.
Met dié dat sy vir die meeste vroue in die Kamp was, bly sy soos ’n eend in die water. Dis net Miemie Ockert wat elke oggend haar eie en Gwendolien se ondergoedjies uitvrywe. Die gladde seleneesbroekies om te pas by die fensie naampie – asof dit sal help vir die gesiggie soos ’n rou seertjie, en die haartjies te min om ’n strik in te knoop.
Marija gooi haar vlegsel oor haar skouer. As sy darem dink hoe dik dit was, en nou ook maar ’n rotstertjie.
Ewewel, Donderdae loop sy hotel toe, vyf myl met die pad saam, kind op die rug en nog een aan die hand, tot hy begin moeg word en huil en sy hom op die heup tel. Sodat sy later self voel sy kan daar langs die pad bly sit. Agtermiddae is haar hande deurgewas op al daai kooigoed en tafeldoeke en servette. Maar sy kom met ’n klomp oorskietkos terug sodat almal kan eet, die kinders en sy en Petriek ook.
Hy is saam met die skuite op Bobaai toe en het haar Dolfie saamgevat . . . “Dolf het nie gewil nie, miss Kittie,” het sy voor Kittie Steyn se vuurstoepie gaan sit en kla toe die skuite by die baai se bek uitloop.
Petriek werk nie altyd reg met Dolf nie. “Hy dink hy’s baas oor my, Mame. Ek moet vir hom koffie skink en aandra. En as ek sê hy moet vir homself gooi, wil hy my slat. Tot die tiller hom die dag oorboord slaan. ‘Help, help!’ roep hy toe, en ek dink: Jy kan gerus versuip. Maar hy kom vanself op. Die oilskins het hom bo gehou. En hy kom op, hoed op die kop, pyp in die mond, mes in die hand.”
Marija is verplig en lag vir dié storie. “Die sône, miss Kittie. Ek sê die dooinis se tyd was nog nie om nie. Maar hulle moenie so van hom praat nie. Hy is darem die pa van een trek van my kinders. En ’n soort sorg, al is dit nie waarheen nie.”
Toe sy uitloop op die winkelstoep, loer sy onder die veranda uit. Sy het ’n boodskap van miss Kittie gekry dat sy later moet afkom na die Stokers toe. Maar eers moet sy die kind op haar rug gaan verhelp dat hy drink en drooggemaak kom. Haar rug is watersopnat. Eintlik is hy al te groot, maar sy gee hom maar pram, al vel hy nog net aan haar. Hierdie moet die laaste een wees.
Kittie het die hele nag by Johanna gesit, haar onderbuik liggies geknie om te keer dat die moer nie verslap en sy aan die bloei gaan nie. Sy is bly om Marija te sien.
“Sy het my groot laat skrik. Ek was net vir ’n heen-en-weertjie kombuis toe, en hier lê sy in ’n bad bloed toe ek weer by haar kom. Ek het ’n halwe slops bloed van die ou seillakentjie afgeskep. Die kooigoed het ek in soutwater geweek, dat jy dit op die bleik kan was.”