“Ek … niksj,” wurg ek uit.
“Dis normaal dat jy tydelik amnesie of geheueverlies sal hê ná ’n TBB.”
“Tee … be … e …”
“Traumatiese breinbesering. Dit beteken dat jou ernstige kopbeserings jou mediale temporale lob, daardie deel van jou brein wat jou geheue beheer, aangetas het. Ons noem dit retrograde amnesie. Die goeie nuus is dat dit meestal tydelik van aard is en dat jy kort-kort iets gaan onthou. Jy moet net geduldig wees.” Hy glimlag en vee oor my voorkop.
“Dis baie soos ’n legkaart, los stukkies wat saamgevoeg moet word voor dit ’n geheelbeeld vorm. Omdat jou brein so geswel was, moes ons jou in ’n geïnduseerde koma plaas en jy het nou vir ’n paar maande rustig geslaap terwyl jou brein herstel het. Ek gaan jou help. Ek sal elke dag hier wees. Ons gaan baie gesels en kort voor lank gaan jy weet wie jy is en hoe jy hier beland het. Al wat ek vra, is dat jy my moet vertrou.”
Hy praat rustig voort en al begryp ek min van sy woorde, word die angs in my stil en luister ek met toe oë.
“Ek gaan binnekort met toetse begin om die aard en omvang van jou geheueverlies te ondersoek sodat ons planne kan maak om jou onthou terug te kry. ’n Fisioterapeut sal vir jou oefeninge kom gee sodat jy weer kan leer loop. ’n Spraakterapeut en arbeidsterapeut gaan jou kom help om jou spraak en korttermyngeheue te verskerp.” Hy glimlag. “Amper soos skool.”
Suster Combrink bring vir my ’n skinkbord met ontbytkos. Sy help my om regop te sit. Die kos proe soos saagsels en die knop in my keel is te groot om te sluk. Ek wil heeltyd naar word, maar sy sny die blokkies roosterbrood nog kleiner en praat my moed in om weer te probeer.
Ek word vir x-strale gestuur en terwyl ’n verpleegster my soontoe stoot, hou ek my oë heelpad styf toe. Die lawaai, die mense, hulle voetstappe en stemme, die geklap van deure en die geluid van my bed se wieletjies maak my so angstig dat ek skaars asem kry. Ek is seker mense kyk na my, praat oor my.
Toe ek weer in my kamer lê, stel ek my voor hoe die gesprekke oor my rankers maak en al hoe verder versprei. Stories wat stertjies bykry, wat verdraai, versier, opgetooi word.
Is ek nou net deel van hulle storie noudat ek nie meer my eie storie het nie?
Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Is ek regtig niemand? Trane loop ongehinderd oor my wange, ek vee dit nie af nie.
Die dag ná die x-strale kom twee meisies in donkerblou sweetpakke in.
“Goeiemôre,” groet die een, “ons is fisioterapeute en ons gaan jou weer sterk maak. Volgens die x-strale het jou bekken mooi aangegroei met al die rus, en ons gaan jou help om weer op die been te kom. Jy gaan nie van ons hou nie, maar glo my, jy het ons nodig.”
Hulle trek my op sodat ek regop sit en beweeg my tot op die rand van die bed. Sweet tap my af, ek bewe onophoudelik, my asem raas soos dié van ’n moeë hond.
“Oukei,” sê die een met die lang blonde vlegsel, “dis genoeg vir vandag. Môre probeer ons om jou tot by die stoel te kry.”
Ek huil weer. Trane van swakheid, van uitputting, van pyn. Maar meestal van verskrikking. Hoe kan ek niks onthou nie?
Dit raas later buite my kamer, ek hoor stemme, voetstappe, trollies. Ek wil Monja daaroor vra toe sy vir my tee bring, maar my tong wil nie die woorde vorm nie. Ek beduie met my hand en my oë.
“O, die geraas? Dis nou besoektyd en dis die pasiënte en hulle mense wat so gesels.”
Ek druk my hand teen my bors, vra met my gesig of hier iemand vir my was.
“Niemand, klein Pixie, dis asof jy uit die lug geval het.” Haar oë word ook vol trane. Sy druk my hand, vee my gesig af met ’n waslap en sit by my tot ek weer slaap.
Dokter Stewart is langs my bed toe ek wakker word. Hy hou ’n handspieël voor my gesig.
“Wat sien jy, Pixie?”
’n Vreemdeling met kort rooi krulle, gesonke groenblou oë, net vel en been, staar na my. Ek weet nie hoe ek voorheen gelyk het nie, maar ek weet dis nie hoe ek behóórt te lyk nie. In die spieël word my oë al groter en ek stamp dit weg.
Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Hoekom het ek voor ’n kar beland? Hoekom soek niemand na my nie? Het ek dan nie mense in my lewe nie?
“Kyk hierso. Hierdie silwer ketting was om jou nek toe jy ingebring is. Die letters E R en 1 en 8 is op die plaatjie gegraveer. Het jy dit gekry toe jy agtien geword het? Verjaar jy dalk op 1 Augustus? Is jy dalk nommer een van agt kinders? Of dalk is daar agtien ander E R’s?” Hy glimlag, maar ek kan nie. Ek dink nie ek wéét hoe om te glimlag nie.
Ek kan nie slaap nie, wil nie eet nie. Die verpleegsters was my, voed my, stel my druppe en neem my bloeddruk. Hulle bring vir my nagklere en toiletware, borsel my hare en smeer room aan my hande en voete.
Ek moet leer woorde vorm, klanke maak. Eers is my stem hees, en sleep my tong. Die s’e, p’s en b’s is moeilik, my brein weet wat ek wil sê, maar my tong wil nie saamwerk nie. Die spraakterapeut bly rustig, maar klap sommer hande toe ek uiteindelik ná ’n halfuur se gesukkel, “Ek nou moeg” uitkry.
Die fisio’s kry my met ’n gesukkel en gehuil van my kant af op die been en hou my vas terwyl ek versigtige treë tussen twee balke probeer gee. Ek is hulpeloos, afhanklik. My voet wil nie trap nie, my hak het ingedraai en as gevolg van die lang tyd wat ek gelê het, het die gebreekte bene skynbaar skeef aangegroei. Daar is geen gevoel in my voet nie. Ek kan nie die grond onder my voetsool voel nie.
Ek huil te veel. Dokter Stewart kom elke dag, partykeer sommer ’n paar keer. Toe ek soort van kan praat, lees hy vir my lyste woorde, vra my om dit te herhaal, gee vir my eenvoudige syfers om op te tel, wys my kaarte met kleure tot my oë toegaan en ek nie meer kan nie.
“Jy het goed gevaar, Pixie. Ons noem hierdie die Glasgow-maatstaf en dit toets jou oogkoördinasie, jou motoriese of bewegingsresponse en jou verbale vermoëns. Ons gee punte uit vyftien en jy het verbasend goed gedoen. Dis dikwels so dat pasiënte met jou tipe geheueverlies se verstandelike vermoëns onaangetas is. Ek dink jy is ’n baie slim jong vrou.”
Jong vrou? Hoe oud is ek?
Nou en dan verras hy my met ’n skuins vraag: “Wat was die kleur van jou skoolrok?” of “Is jou boetie ook so goed met wiskunde?”
Ek raak ’n paar keer opgewonde as iets wil-wil deurskemer. Maar dan sak die moedeloosheid weer oor my wanneer dit my ontwyk. “Gaan ek ooit onthou, dokter?”
“Dis baie moontlik, Pixie. Ek kan vir jou voorbeelde uit mediese tydskrifte wys. Dit sal gebeur, wees net geduldig. Jou herinneringe gaan stadig van die hippokampus af skuif na die stoorplek in die korteks en jy gaan heel moontlik eers dinge uit jou vroeë kinderjare onthou. Ek het vir jou ’n boek en ’n pen gebring. As jy voel jy kan, wil ek graag hê jy moet daarin skryf. Sommer net hoe jy voel, wat jy dink. Ook enigiets wat jy dalk onthou.”
“Ek sukkel om te skryf, die arbeidsterapeut sê ek moet eers net teken.”
“Teken vir my enigiets wat in jou kop kom. Ek loer weer later in, dan wil ek ’n glimlag sien!”
Ek sit met die boek styf teen my bors gedruk, sonder ’n idee wat om te skryf of te teken. Daar is net ’n groot leegte in my kop. Maar ek wil die dokter nie teleurstel nie. Is hy vir al sy pasiënte so goed? Soos ’n pa … nee, daarvoor is hy gans te jonk. Soos ’n ouer broer.
“Hoe oud is dokter?” glip die vraag uit.
“Amper twee-en-dertig,” antwoord hy en sy oë glinster, “dalk twee maal jou ouderdom.”
Hoe kan ek nie weet hoe oud ek is nie? wonder ek, maar sê niks nie.
Die dae kom en gaan, ek kan skaars onthou of dit Dinsdag of Donderdag is. Geleidelik word my lyf sterker. Ek kan beweeg, en al kan ek nie loop