Sonja het die back-up harmonies op twee van die liedjies op Boy van die suburbs gedoen. Sy was die hoe-wa, hoe-wa, hoe in “Boy van die Suburbs” en jy hoor haar ook in “Antjie Somers” en “Blommetjie gedenk aan my”. EMI wou nie hê dat ons haar in die albumnotas erkenning gee nie, hulle het gedink ons wil haar naam net gebruik om ons album te verkoop.
Dan Hill van RPM het die saksofoonsolo aan die einde van “Antjie Somers” op Boy gedoen. Hy was een van Suid-Afrika se beste jazz-musikante en kon musiek vir arrangements sit en neerskryf terwyl ander musiek speel en gesels. Toe Chris vir Dan vra om die solo op die play-out van “Antjie Somers” te doen, was hy eers nie baie seker of hy dit wil doen nie, want hy het gesê die boeremusiekmense noem dit slangmusiek. Die saxofoonspeler Bez Martin het vertel as hy sy saxofoon op klein dorpies uithaal, was daar altyd iemand wat sê: Gaan julle vanaand weer die hele tyd slangmusiek speel?
Ons het vir hom gesê moenie worry nie, en Dan se slangmusieksolo op “Antjie Somers” klink toe allesbehalwe soos slangmusiek.
In die studio sou Dan dikwels agter my sit en as daar ’n vals noot is, spring hy op en sê: “If that note is in tune my cock is a kipper.”
In 1998 was ek die regisseur vir Sonja se come back album, ’n Ritsel in die rietbos. Ek het Dan gevra om ’n klarinetsolo daarvoor op ’n song te doen. Nee, sê hy, hy kan nie dié dag nie. Hoekom nie? “Because I’ve just had my hair done.” Nou wat het jou hare met ’n session op ’n klarinet te doen? Hy het vanaand ’n jazz-gig met sy klarinet, antwoord hy, en die oorfone sal sy hare deurmekaarkrap. Ons het die klarinet dus Vrydag opgeneem.
Met die opnames van Laurika se debuutalbum het sy ná die tyd vir almal presente gekoop. Ek het nou nog die Myths and Legends of South Africa wat sy my gegee het. Dan Hill het volgens Chris Kritzinger ’n hang-up oor sy lengte gehad, dus het hy platformskoene gedra vir sy ekstra stukkie lengte. Onbewus daarvan het Laurika ’n boek oor tuindwergies vir hom gegee.
Op 30 September 1979 het ek twee Saries gewen: vir Liedjie van die Jaar en Beste Sanger. Die rocksanger Ramsay Mackay, wie se “Silent Water” ook benoem was, se vrou het vir my kom sê: “You got the award my husband should’ve won.” Ek was stomgeslaan.
Ek het die Liedjieboer-bênd laat in 1979 by ’n Unisa-konsert bekend gestel. Met Musiek-en-Liriek op ’n hoogtepunt, het die gehoor ghitaar en stem, ’n hooibaal om op te sit en ’n Groot Verseboek op die skoot in gedagte gehad, nie drum-solo’s en ghitaarsolo’s en basghitaarsolo’s nie. Anton doen mos folk, hy doen mos luisterliedjies, hy doen nié ’n band nie.
Ek het dit toe nog nie geweet nie, maar my identiteit as sanger het hier óók by ’n waterskeiding gekom. “Blommetjie” is rock, en “Byeboer” en “Harlekyn” kan ook so gedoen word. Toe begin ek om die show af te sluit met ’n rock medley, bogenoemde drie songs saam in een, en dis wat ek nou nog doen.
Met die drum-solo in die Unisa-saal het ongeveer 300 van die 1 200 mense in die gehoor besluit hulle gaan nou maar huis toe.
Dit laat my nogal dink aan die keer toe Bob Dylan sy elektriese ghitaar by die Newport folk festival ingeplug en rock ’n roll na die folkies gebring het met die hulp van ’n full-on rock-band, die Paul Butterfield Blues Band. Pete Seeger het erg tekere gegaan oor hierdie “verraad” en hy het die klankkabel by die muurprop gaan afsit sodat alles weer akoesties kan wees. Die urban legend oor hierdie gebeurtenis gaan nog verder, daar word gesê dat hy die kragtoevoer met ’n byl wou afkap, maar al wat hy by hom gehad het, was sy akoestiese Martin-ghitaar.
Ná Neil Young se sukses met “Heart of Gold” was hy ’n ruk lank in die middel van die pad, “but it didn’t take long and I was back in the ditch again”, het hy gesê. Dis hoe outsiders werk, jy bly nie op dieselfde plek nie, jy verander, jy groei, en nie altyd net vorentoe of agtertoe nie. Soms gaan jy kante toe. Nie almal hou daarvan of verstaan nie. Dis wat met my gebeur het.
6
Musiek-en-Liriek
Fanus Rautenbach was een van die 80 teatergangers op 24 Maart 1979 in die Laager van die Markteaterkompleks toe die nuwe Musiek-en-Liriek-beweging begin het. Hy skryf in Die Transvaler só daaroor:
“Daar word geskiedenis gemaak, en net 80 mense weet daarvan. Dit is hoeveel daar Saterdag was toe sewe Afrikaanse sangers 21 Afrikaanse liedjies gesing het. Maar as ek sê Afrikaanse liedjies bedoel ek Afrikaanse liedjies. Dit is musiek en liriek wat jou weer trots maak dat jy ’n Afrikaner is. Dit gee jou ’n warm gevoel, ’n warm hoendervleis!”
Skielik was daar groot belangstelling en die Laager-optrede is opgevolg met een in Pretoria en weer optredes ’n week lank in die Laager. Toe is ons na groter teaters soos die Arena in Rosebank en die Wena Naudé by Unisa in Pretoria. Dis gevolg deur Truk-toere deur die ou Transvaal (deesdae se Gauteng en Limpopo), Sukovs-toere deur die Vrystaat en ’n speelvak van twee weke in die destydse SFW-amfiteater in Stellenbosch.
Rosa Keet, wat die konserte georganiseer het, het in Die Vaderland geskryf dat Musiek-en-Liriek ’n versamelnaam geword het vir “iets wat ’n mens nie anders as ’n beweging kan noem nie, daar is ’n onteenseglike oplewing in die produksie sowel as die uitvoering van eietydse ligte Afrikaanse liedjies wat heeltemal ongeëwenaar is”.
Saam met my was Laurika Rauch, Jannie du Toit, Louis van Rensburg en Clarabelle van Niekerk. Merwede-hulle het Sonja uitgesluit, maar 16 van my liedjies, die meeste deur Sonja gesing, is wel gebruik.
Daar was destyds baie kritiek teen Sonja oor wat die media “die stemmetjie” genoem het. Sommige het haar nie gelaaik nie. Dit was ’n eensydige besluit deur Merwede en haar clan om eerder Mynie Grové, Sias Reynecke, Des Lindberg en Laurika te gebruik, wat volgens hulle goeie stemme gehad het wat reg kon laat geskied aan die songs. Niks anders as vooroordeel nie. Snobisme en elitisme.
David Kramer, Amanda Strydom, Coenie de Villiers en nog baie ander het later bygekom by die konserte in Stellenbosch en elders. So ook Koos du Plessis, van wie baie songs reeds in die TV-reeks gebruik is, en Anneli van Rooyen. Wat uit die beweging gevloei het, geld vandag nog. Die streep is in die sand getrek.
Gedurende die amfiteaterreeks in Stellenbosch het David Kramer en ek ontmoet – ’n vriendskap wat tot vandag toe hou. Koos du Plessis en ek het ook seriously ge-connect. Ons het van mekaar se songs gehou. Hy het “Josie Josie” uitgesonder. Een aand het hy en ek lank in sy hotelkamer gekuier en hy het vir my ’n song (hy het daarna verwys as ’n deun) of twee gespeel. Iemand in die kamer langsaan het teen die muur geslaan – Koos het soos ’n oester toegeklap en nie verder gespeel nie.
Ek het saans voordat hy op die verhoog gaan sy ghitaar vir hom gestem. Hy het gaan sit en sy songs in so ’n rare posisie gesing, met die een been oor die ander. Ná die tyd het hy die bussie wat ons terug hotel toe vervoer het ontbied en, soos hy dit gestel het, die plek ontruim.
Voor Musiek-en-Liriek het Stephan Bouwer die programreeks Fyn net van die woord gemaak. Die mense het op hooibale gesit en gedigte wat hulle getoonset het gesing. Stephan het dit die stukrag vir die Renaissance van die Afrikaanse lied genoem.
Daar’s mense wat sê die Musiek-en-Liriek-beweging het Afrikaanse musiek van ondergang gered. Wat dit wel gedoen het, was om dit ’n nuwe rigting te gee. En wie moet ons daarvoor bedank? Die Broederbond met sy propagandamasjien, die SAUK. Toe die Broederbond op sy magtigste was, en die SAUK se sensuurkomitee op sy fluksste, het die owerstes besluit Afrikaanse televisie het ’n hupstoot nodig, Merwede het die groen lig gekry vir ’n verskeidenheidsreeks, en hoera, hier kom Musiek-en-Liriek! Dit was ’n reeks van vier programme.