Anton Goosen. Hanlie Retief. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Hanlie Retief
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Зарубежная деловая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624089742
Скачать книгу
in sy man bag ontdek het.

      En nou loop hulle daar op die rotse en Chris sê: “Maar die wiel gaan nog draai, sy sal terugkom, jy sal sien.” Dirk, wat so rats soos ’n dassie was, kyk na hom en sê: “Chris, dit het klaar gedraai, kyk hoe lyk jy.”

      Dirk het my gevra om die temalied vir Die Spaanse vlieg, een van sy movies, te skryf. Dit het ook op ’n seven single onder die skuilnaam “Die Straatsanger” verskyn. Daarna het ek die temaliedjie vir sy nuwe satiriese fliek, Pretoria, O Pretoria geskryf. Ek gebruik toe die temaliedjie vir Diamant en die dief, maar skryf ’n splinternuwe liriek:

      kom ek wys jou die tuine by die uniegebou.

      teen meintjeskophang lê die plek uitgegrou,

      ver duskant die strate lê die grys monument

      en die apiesrivier – tot bo uitsement.

      kruidjie-roer-my-nie,

      is die naam wat jou vrinne jou noem

      maar kruidjie-roer-my-nooit-meer-nie

      is hoe ek voel as ek jou soen

      hier’s geboue vol mense, die plek is berserk,

      met staatsamptenare wat maak of hul werk,

      agter oggendkoerante sit hul toe-oë en gaap,

      voet op die tafel – vas aan die slaap.

      die staat se masjien word stadig gehou.

      ek wonder of dit ook só gaan by die uniegebou.

      hier is kerkplein en volksies en bloubulplesier

      pretoria, o, pretoria, met jou eie kultuur!

      Dirk de Villiers se editor, Lats Lategan, het skeef opgekyk. Ek kon dit verstaan want toe ek dieselfde wysie, maar met ander woorde vir Jan Scholz se Diamant en die dief vir hulle gespeel het, was Lats Lategan ook die redigeerder. Hy het niks daaroor gesê nie.

      Dirk was mal daaroor en toe Chris Kritzinger dit hoor, sê hy dit hoort op ’n kortspeelplaat, dadelik. Drie dae nadat dit uitgereik is, bel ’n minister se vrou en kla oor ek die spot dryf met die staatsamptenare, hoe durf ek sê hulle sit met hul voete op hul lessenaars en maak of hulle werk, ons Nat-staatsamptenare is hardwerkende mense. (Dinge het blykbaar nie juis verander van 1979 tot nou nie. Veertig jaar later is al verskil dalk die toebroodjies wat nou KFC geword het.)

      Die SAUK se sensuurkomitee spring in aksie en ná drie dae op die lug kry die plaat ’n AVOID-plakker. Tinus Esterhuizen was hoof van daardie sensuurkomitee. Vroeër het hulle letterlik plate gekrap sodat jy hulle nie kon speel nie. Ek moes in aller haas binne ’n dag ’n nuwe liriek skryf, en met my tong diep in my kies kom ek toe uit met so ’n veilige donkiekarstorietjie.

      Op 13 Maart 1979 haal “Kruidjie-roer-my-nie” die Toptwintig. Ironies word dit toe my eerste kommersiële sukses as sanger/liedjieskrywer.

      Tien dae later steek Afrikaanse musiek sy Rubicon oor, in die Laager van die Markteaterkompleks in Johannesburg, met ons Musiek-en-Liriek-konserte. Dit was ná Merwede van der Merwe se verskeidenheidsprogramme op TV met dieselfde naam.

      Ek het Laurika Rauch by die eerste vergadering vir dié TV-reeks in die drama-doyenne madame Hermien Dommisse se huis ontmoet. Laurika het pas van die Kaap af noorde toe getrek en ons het albei aan die Musiek-en-Liriek-opvoerings deelgeneem. In daai stadium was ek tweedelaaste op die program, met Laurika ná my. Toe Kruidjie tiende slaan op die treffersparade, het Rosa Keet, die digter-dramaturg wat die konserte georganiseer het, en Merwede besluit om my en Laurika om te ruil – ek moes die program afsluit.

      Ek het vir Kerneels Breytenbach vertel hoe ek vroeg in 1979 die drumpels van platemaatskappye platgeloop het met ’n demokasset van Laurika om vir haar ’n recording deal te kry. Die antwoord was orals dieselfde: Nee dankie, dis iets anders, maar nie nou nie. Net daarna het sy Koos du Plessis se “Kinders van die wind” gesing. Dit was die temalied vir Katinka Heyns se TV-reeks Phoenix en kie, wat daardie jaar 52 keer uitgesaai is. Dit het Laurika en die lied oombliklik bekend gemaak. Ek het die oorspronklike demo gehoor en nie gedink dit gaan werk nie. Ek was so verkeerd.

      Kort hierna het ek haar en Chris Kritzinger bymekaargebring en sy het ’n kontrak by hom geteken. Chris en die verwerker Dan Hill het ’n baie goeie professionele opname daarvan gemaak, en die solussewe moes binne ’n week twee keer herdruk word. Daarna het Laurika se groot deurbraak, Debuut, gevolg. Ek en sy het in dié tyd nogal close geraak, dit was so ’n boetie-sussie-ding.

      David Marks wat by WEA (Warner Bothers, Elektra, Atlantic) sy Third Ear musiek-label gehad en Phoenix se klankbaan uitgegee het, was baie vies toe RPM Laurika se debuutplaat vervaardig. David het “Master Jack” geskryf en op Woodstock met die klank gehelp. Sy musiekhart was reg, maar hy het nie altyd geweet van goeie verhoudinge nie en soms die pers en radio in sy pers-uitreikings uitgevreet. Tog het hy baie gedoen vir plaaslike talent, soos Brian Finch, Kenny Henson en Paul Clingman.

      Later daardie maand, terwyl ek en Antjie op Zeerust petrol ingooi, het iemand my die heel eerste keer herken. Dit was net ná Kruidjie die eerste keer op TV was. Die ou het gesê: “Hallo, Anton.” Toe sê ek vir Antjie: “Besef jy ons gaan vir ’n baie lang ruk nooit weer alleen wees nie, nooit weer anoniem nie?”

      Dis ’n verskriklike gedagte, én die werklikheid wat daarna volg. Mense wat enige tyd van die dag of nag by die huis opdaag of bel. Daar was ’n wiskundeonderwyseres in Linden wie se naam ook Anton Goosen was. Ek het haar eenkeer gebel en ekskuus gesê vir die mense wat haar gebel en gepes het. So, hekke met slotte word opgerig. Antjie het in ’n stadium kennisgewings oor honger krokodille buite ons erf gehad. Sy het dit gehaat as mense sommer net daar opdaag. Dit was die begin van die einde van my en Antjie.

      Jy antwoord nie meer die foon nie, veral nie middernagtelike oproepe nie. Dit was nog in die tyd toe jou foonnommer in die telefoongids was. Dis die ander ding van ’n landlyn, hulle hou lekker partytjie en die drankies vloei en hei, kom ons bel ou Anton.

      Jeanne Goosen, wat toe nog ’n joernalis was, het my met ’n luide gelag vertel die mense bel haar by die koerant en vra: Is jy Anton Goosen se liewe vroutjie? Jeanne is niemand se liewe niks nie, sy is formidabel.

      Chris Kritzinger het die idee gekry dat ek die eerste singer-songwriter album in Afrikaans maak: “Iets soos Donovan in Afrikaans,” het hy gesê.

      Ek het gaan kyk hoeveel songs ek het, en daar was oorgenoeg, songs waarvan die temas soos altyd met ’n draai na my gekom het. Terwyl ek Boy van die suburbs geskryf het, het ek gesien hoe die buurdogter die sementduiwe op die prefab-muur se bekkies verf. Daar was varings in tyres op die stoep. My liewe gewese skoonsus-hulle het bikes as sitkamermeubels gebruik en in die winter die grasperk afgebrand.

      Die joernalis Ollie Olwagen van Huisgenoot het ’n artikel gedoen oor die misterieuse spookmeisie van Uniondale, wat die tema vir “Blommetjie gedenk aan my” geword het.

      “Blommetjie” word beskou as die eerste rock song in Afrikaans. Dit het toevallig gebeur. Die regisseur se opdrag aan die drummer was: Think “Baby Come Back” (’n rock song uit die laat sewentigs). En die drummer was nie bang nie.

      ’n Plaasboer-vriend van ons, Willem de Beer, het my vertel van ’n familie op Zeerust wat net ná die oom se begrafnis ’n groot partytjie vir hom gehou het. Ek skryf toe “Begrafnistyd in Zeerust”, en noem die hoofkarakter Willem.

      Willem het ’n vriend met ’n varkboerdery in Zeerust gehad. Daar daag Willem toe by een van my en Antjie se partytjies op met ’n speenvarkie kompleet met ’n appel en ’n mes en vurk klingel-klingel om die nek. Die varkie begin tussen die mense rondhol en skree, hy’s tussen Lance James se bene deur, verby Esmé Euvrard, met die aktrise Lerina Erasmus en die ander holderstebolder agterna.

      Só kom dit toe dat ’n vark genaamd Kruidjie in ons jaart in Fontainebleau begin bly. Ek en Sonja se man, FC, kry toe die blink plan om die vark vir publisiteit te gebruik. Ons versin ’n storie vir Beeld dat Kruidjie siek is, en Sonja word die vark se nursie. Sy gesondheid was lank ’n onderwerp op die voorblad totdat die redakteur uiteindelik laat weet het genoeg is genoeg.