Die derde oog. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798178396
Скачать книгу
glimlag op haar mooiste sodat haar tande blink terwyl vals wimpers die lig in haar oë effens versluier en haar vol mond sag en ver­nietigbaar word.

      “Jy moet jou nie deur hulle voorkoms laat mislei nie,” sê brigadier Ornassis E. toe hulle die saal binnetree waar potplante, bamboesmatte en abstrakte tekeninge teen die mure die versiering vir die aand kenmerk.

      “Outré, nie waar nie?” sê hy terwyl hy met ’n minagtende armswaai die dekorasies verdoem. Hy lei hulle na die hooftafel waar Hope aan sy regterhand, Demosthenes de Goede links, sy verwyfde sekretaris, James, en die res van sy elegante ménage in rangorde plaasneem. ’n Jazz-ensemble is besig om volksliedjies te speel terwyl sangers af en toe volgens die sangstyl van Trini Lopez en Joan Baez sing.

      Sy oë vonkel as hy na Demosthenes de Goede kyk wat swaar en on­beholpe in die keurige geselskap lyk. Met ’n geringe beweging van sy hand ontbied hy ’n vrolike blonde meisie wie se liggaam sigbaar besig is om die stryd met haar nousluitende aandrok te wen.

      “Ons kies ons korps nie alleen op grond van verstandelike bekwaamheid nie,” sê hy, “maar ook volgens hulle voorkoms. Kan jy jou byvoorbeeld vandag iemand in ’n geheime diens voorstel wat soos Edward G. Robinson lyk?” Hy neem Hope se hand in syne en bring dit na sy lippe.

      Sy silwer hare pas hom goed; sy aandpak is outyds; sy superioriteit is gebaseer op persoonlikheid, ervaring en die feit dat hy die hoof is. Hy het die ouderdom bereik waar hy selfs sy tekortkominge as ’n bate gebruik. Die feit dat hy soms teatraal is, maak hom gevaarlik. Hy is ’n ewige raaisel vir sy volgelinge.

      Mooi meisies begin die wyn bedien; hulle dra hul hare soos byekorwe op hulle koppe, hul borsies beur tergend bokant hulle rokkies uit, hul boudjies roer onder styfpassende rokkies as hulle loop, hulle het vir elkeen ’n vriendelike glimlag en laat elke jongman belangrik voel.

      “Hulle is ook deel van die D-diens,” sê die Brigadier terwyl hy glasies met Demosthenes de Goede en Hope klink. “Ons werf hulle op Clifton. Geen besondere kwalifikasie behalwe die klaarblyklike is nodig nie, want hulle werk op die oppervlakte en spaar heelwat mannekrag ten opsigte van takies wat eintlik die tyd van ons ander personeel sou mors.”

      Hy is in ’n gemoedelike bui en kyk goedkeurend na die blonde meisie wat haar enigste talent ten opsigte van Demosthenes de Goede aanwend.

      Party van die jongmanne het alreeds begin dans nadat hulle ’n geringe buiginkie in die rigting van hulle hoof gemaak het. Hulle rittel lank en lenig met die jongmeisies terwyl hulle onder slap ooglede ’n kommunikasie vind met groot, leë oë wat roerloos onder groen verf op hulle gevestig is. Die nou rokkies word glad en kreukel beurtelings onder die suggestiewe dansbeweging wat byna onsigbaar plaasvind – die ingetoë beweging wat meer innerlik as die rinkhalsdans is, wat ’n dieper, sielvoller bevrediging gee, wat spreek van ’n ingehoue, intenser, grootser erotiek. “Ons kies ons lede nie alleen volgens verstandelike bekwaamheid nie,” herhaal brigadier Ornassis E., “maar ook volgens liggaamsbou en algemene voorkoms.” Hy beduie goedkeurend na sy dansende jongmanne. “Ons meisies toets hulle soos die Gnostiese vroue en maak hulle ook in die proses immuun teen elke versoeking van buite.”

      Hy steek vir Hope ’n sigaret aan terwyl sy pinkie haar wang saggies streel. “Daar is niks wat die Archons se wêreld bied wat hierdie meisies nie beter kan doen nie.” Hy steel ’n ligte, speelse soentjie van Hope. “Begryp jy?”

      Hope is in haar element. Sy boots onwillekeurig die meisies na, volkome oorgegee aan die bekoring van die Diens en geboei deur ’n nuwe gedagte: ’n voller lewe, seks as ’n soort religie, ’n betekenisvolle diensbaarheid.

      “Is dit dit waarna ek al die jare gesoek het?” fluister sy vir die Briga­dier.

      Brigadier Ornassis E. word meteens ’n wyse ou ghoeroe. Sy ogies is die ene geslepenheid. “Dink jy nog aan die poëtiese Kaptein? Dink jy hierdie jongmans is anders?” Hy begin haar dye liggies streel. “Is jy bevrees dat verstand altyd met verwyfdheid gepaard gaan? Vind jy die animus in jou onverstaanbaar? Word jy telkens mislei?”

      Demosthenes de Goede het intussen die blonde meisie op die dansvloer geneem waar hy rondomtalie swaai en haar op sy skouers lig terwyl sy dawerende gelag sigbaar die ander pare ontstig.

      Die Brigadier glimlag goedig. “Dit is een van die redes waarom ons hom gekies het,” sê hy. Sy mond is naby Hope se oor en hy byt tergend aan die belletjie. “Hy is so volkome mens, so na aan die natuur, so vreemd aan die tydsgees. En as ons hierdie aard onbegryplik vind, hoeveel te meer nie ons vyande nie?” Hy sit behaaglik agteroor. “Daar is ’n kompleksiteit in eenvoud vir almal wat in hulleself verstrik is. Ons groot kampvegters was nog altyd mense wat gekenmerk was deur die eenvoud van hulle geloof.”

      Hope luister nie. Sy is nou trou aan die rol van die meisies van die Diens wat sy haar toegeëien het. Sy is volkome geïntegreer in die beweging. Haar funksie is meteens vir haar duidelik; sy het ’n betekenis gevind; sy het die uitweg van selfopoffering ontdek – ’n teenbeeld van narcissisme. Die raaisel in die spieël waarin sy elke dag kyk, is opgelos.

      Brigadier Ornassis E. het sy hande na sy oë gebring – sy hande wat liggies ruik na parfuum.

      “Die dood is in die gebou,” sê hy.

      Hy bring haar hand weer eens na sy mond en soen dit saggies.

      “En ons kan dit nie met Camp en Twee beveg nie.”

      Hy maak ’n geringe beweging, en die orkes hou meteens op. Almal vergader weer om die tafel; die meisietjies dra die wyn aan, glimlag, laat elkeen gelukkig voel en bestudeer mekaar met kennersoë vir enige afwy­king van die groepspatroon. Hulle gaan telkens na die toiletkamer waar hulle ’n halsie laer trek, ’n ooglid groener maak, ’n rokkie hoër lig en ’n ritssluiter oper trek.

      Brigadier Ornassis E. sit sy vingerpunte teen mekaar en spreek die groep by die tafel toe.

      “Ek kan miskien vlugtig na ons organisasie verwys,” sê hy vir Demos­thenes de Goede, wat die nou gehawende blonde meisie op sy skoot het. “Ons het twee linies in ons organisasie: die personeelgroep en die ak­siefront.”

      Hy lig ’n vinger vir een van die aantreklike jongmans wat langsaam en duidelik, maar effens verveeld, voortgaan.

      “Die personeelgroep is die manne met idees; hulle handhaaf die beeld van die Diens; hulle formuleer die beginsel.”

      Brigadier Ornassis E. knik en ’n ander jongman, traag en lui, voltooi die verduideliking.

      “Ons,” sê hy. “Wel, ons voer die beleid uit.”

      Daar is waarderende gelag van sy groep.

      “En dit,” sê brigadier Ornassis E. vir Demosthenes de Goede, “is ook jóú taak.” Hy wys na die eerste jongman. “Die gespesialiseerde personeelgroep is beperk tot hulle funksie as manne met idees – al is hulle miskien hoër in rang. Dis die aksiefront wat die meeste geleentheid het ten spyte daarvan dat hulle funksie beperk is tot die uitvoering van ’n taak.”

      Hy wys na homself.

      “Ek is min of meer ’n besturende direkteur. Saam met die personeel­groep is ek verantwoordelik vir die uitbouing van die Diens. Miskien is ek die naaste aan ’n tycoon soos Boris Gudenov, alhoewel so iets natuurlik ondenkbaar in ons organisasie is. Ons is ’n onliggaamlike eenheid en ek is weer verantwoordelik teenoor die Staat, en die maatskappy, vir die re­sultate van die Diens.”

      Hy wys vir die blonde meisie om op te hou om haar teen te sit.

      “Ek voel my miskien meer aangetrokke tot die personeelgroep, maar ek ontken nie die waarde van die aksiefront nie. Trouens, ek is, helaas, ’n soort vaderfiguur.”

      Hy lag verpligtend en almal lag saam. Dan lig hy sy hand vir stilte en knik goedkeurend as daar onmiddellike reaksie is.

      “Miskien is dit goed dat ons die stryd in hierdie lig sien: Boris Gudenov is die tycoon, die onsigbare mag agter die skerms: Demosthenes de Goede is die een met óns, die Staat en die gemeenskap agter hom.”

      Die