Die derde oog. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798178396
Скачать книгу
die Swyn van Dysselsdorp, die Slang van Muldersvlei, die Afperser van Arcadia, die Bokkie van Kam­maland, die Leeu van die Noorde, die Bul van Benoni, die Hoere van Hu­mansdorp …

      “Ek verwys natuurlik na koerantopskrifte,” voeg die Brigadier by.

      “Daar is nog baie ander,” sê Demosthenes de Goede langsaam-beskeie.

      “Jy het nogal ’n vol lewe as speurder gehad,” sê die Brigadier terwyl hy die lêer toeslaan.

      “Dis ’n stryd wat nooit ophou nie,” sê Demosthenes de Goede. “My le­we is vol ontberings en daar is geen rus nie.”

      “De Goede melancholikos …,” sê die Brigadier en lui ’n klokkie.

      Die verwyfde mannetjie verskyn met ’n skinkbord vol drank.

      Die glasies word telkens hervul en De Goede aarsel nie om voor die noulettende oë van die Brigadier sy brandewyn met geweldige teue weg te sluk nie.

      “Daar is geen rus nie,” herhaal Demosthenes de Goede. “Dis een taak ná die ander. Mens moet duur betaal. Mens raak dodelik vermoeid en jy sien selde jou vrou en kinders. En ek het nog nooit geldelike vergoeding gevra nie.” Hy beduie vir die Brigadier om minder water by te gooi. “Mens moet maar soveel van die lewe geniet as jy kan,” sê hy terwyl hy sy volgende glasie gereed hou. “Mens moet maar van dag tot dag lewe – dis al manier waarop jy jou moeitevolle take kan verdra.”

      Die D-diens het geen jurisdiksie oor die Speurdiens nie en Demosthenes de Goede voel hom vry om te praat voor hierdie brigadiertjie wat hy met één hou kan vermorsel. “Ek moet in elk geval een van die dae aftree,” sê hy. “Ek het nog heelwat verlof wat my toekom.”

      “Daar is nog één taak,” sê die Brigadier. “Die Speurdiens het jou daarvoor spesiaal na ons toe oorgeplaas. Dit sal jou laaste taak wees, want daarna sal jy, om verskeie redes, nie meer van diens kan wees nie.”

      “Ek is moeg,” sê Demosthenes de Goede. Hy oorweeg die woorde van die Brigadier ’n rukkie en vra meteens: “Sal ek geregtig wees op my pensioen al het ek nog nie aftree-ouderdom bereik nie?”

      “Jy sal sekerlik geregtig wees op jou pensioen,” sê die Brigadier saggies.

      Hulle drink ’n paar oomblikke in stilte.

      “Het jy al gehoor van Boris Gudenov?”

      Demosthenes de Goede dink diep. Hy gaan in sy gedagtes al sy half­vergete kennis uit die dae van die polisiekollege na en sê:

      “Die tiran in Moessorgski se opera.”

      Die Brigadier en die verwyfde mannetjie, wat die hele tyd as kelner diens gedoen het, lag luidrugtig saam.

      “Daardie Godoenof word met ’n ‘oe’ gespel; hierdie een is Gudenov en hy is ’n tycoon.”

      Hy glimlag nog steeds en dan word hy ernstig.

      “Dit sal jou volgende taak wees. Om Boris Gudenov op te spoor …” Hy dink meteens diep na. “Om hom tot die lig te bring.”

      Demosthenes de Goede plaas die glasie langs hom op die tafel. Hy vryf sy gebalde vuis in die holte van sy hand en dit lyk soos ’n groot knoets. Hy sit regop, vierkantig en solied en sy oë is op die Brigadier gerig. Dit lyk asof sy kop effens té klein is vir sy lyf, maar hy is nogtans ’n mooi man: ’n groot slotvoorspelertjie, die Suid-Afrikaanse heldetipe by uitnemendheid.

      “Miskien moet ek jou eers ietsie omtrent die D-diens vertel,” sê die Brigadier. Hy leun agteroor in die stoel en maak sy das effens losser. “Daar is ’n groot verskil tussen ons en die Speurdiens. Julle vang misdadigers op grond van spesifieke misdade wat gepleeg word; julle Bybel is Gardiner & Lansdowne se Criminal Law & Procedure. Hoe kan ek dit verduidelik: ons s’n is ongekodifiseer, dis vaer en onbepaalder. Dis eintlik misdade van die gees.”

      Die Brigadier bring sy hand na sy silwergrys slape en bedek sy oë terwyl hy konsentreer.

      “Ons moet die gemeenskap beskerm teen misdade van die gees, teen ’n verwording van die self, teen ’n subtiele aanslag op die orde, teen ver­vreemding van stabiele personifikasies, teen die gevaar van desintegrasie van die simboliese heelal en die gevolglike persoonlike desintegrasie wat hom openbaar in allerhande dade van sabotasie, in verwording en oorname deur demoniese en vernietigende magte. Is dit duidelik?”

      Hy maak sy oë oop en kyk skerp na Demosthenes de Goede, wat nog ’n drankie vir homself ingeskink het.

      “Ek is ’n eenvoudige man,” sê Demosthenes de Goede. “Ek weet net wat ek in die polisiekollege geleer het. Daar is ’n kaptein by ons wat hou van filosofie, maar ek is nie meer een vir allerhande ingewikkelde draadwerk nie.” Hy neem ’n slukkie. “Gee my daardie Boris Gudenov alleen. Nadat ek hom ’n halfuur lank gewurg het, sal daar nie meer ’n geheim wees nie.”

      Die Brigadier glimlag.

      “Dis heel moontlik die eenvoudige wat die meeste sukses het – hy met sy visioene, woede en ruimhartigheid. Dis hy wat in tye van eensydigheid in die bewuste lewe te voorskyn kom as die redder om sodoende die psigiese balans van die epog te herstel.”

      “Hy het met my vrou gelol,” sê Demosthenes de Goede ingedagte. “Die polisiekaptein een aand op die polisiebal, en ek het sy kakebeen vir hom ingeslaan.”

      Die Brigadier staan op en gaan voor die Guernica staan, met sy rug na die Kaptein.

      “Daar is sommige van ons wat bestem is om ons menslike verlange na geluk en sekuriteit op te offer. Dis helaas so. Sommige mense behoort aan die gemeenskap en hulle is afskryfbaar. Hulle is nie as enkelinge van belang nie; hulle dade is objektief en onpersoonlik; hulle is alle mense verenig in één mens.”

      “Ek is ’n eenvoudige mens,” sê Demosthenes de Goede, “en baie van hierdie begrippe gaan my verstand te bowe.”

      Die Brigadier draai om en gaan weer sit.

      “Hulle verbrand soms in die skeppende vlam.”

      “Dis ’n eensame lewe,” sê Demosthenes de Goede terwyl hy in sy glasie kyk.

      “Hulle moet die moeder van die dood tot die lig bring en haar van haar vernietigende magte beroof.”

      “Ek vervloek die dag dat ek gebore is,” sê Demosthenes de Goede terwyl die trane stadig oor sy wange begin rol.

      “Hulle moet die skaduwee tot die lig bring, dit besweer en die skeppende krag van die donkerte gebruik. Hulle moet die monster tem en sy helende krag inspan.”

      “My moeder het vir my as kind gesê dat ek baie sal verduur ter wille van my medemens,” sê Demosthenes de Goede terwyl die trane vryelik vloei. “Sy het gesê dat ek gebore is vir allerhande ontberings. Ek het my lewe gewy aan die Speurdiens.”

      Die Brigadier is onthuts oor die emosionaliteit van die sterk man en hy kyk gefassineerd na hom terwyl hy die gesprek verander. “Maar om terug te keer tot die D-diens. Al wat ons het om op te steun, is die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en sekere ander bepalings wat ewe vaag is. Wie en wat is ’n kommunis?”

      Hy soek tevergeefs ’n antwoord by Demosthenes de Goede, wat sy baad­jie uitgetrek het en in ’n wit hemp met opgerolde moue sy magtige arms blootstel.

      “Kom ons vra liewer: Wie is Boris Gudenov?”

      Demosthenes de Goede lyk nou baie meer geïnteresseerd.

      “Volgens beskikbare bronne is hy ’n tycoon van onsekere herkoms. ’n Immigrant uit Pole of Hongarye en beherende aandeelhouer in talle maatskappye. Hy is ’n soort Zaharoff, Gulbenkian en Gould in een. Hy vermy alle publisiteit, maar hy is verbonde aan meer liefdadigheidsinrigtings as enige enkele persoon in die land. Oita, sy shopping centre in die middestad, is nie alleen ’n argitektoniese droom nie, maar ’n toonbeeld van verbeeldingryke organisasie. ’n Mens kan daar gebore word, jou ten volle uitleef en sterf sonder om die komplekse gebou te verlaat.