Die derde oog. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798178396
Скачать книгу
’n sekere stadium kom hulle kinders by die deur ingebars en hard­loop skreeuend deur die kamer by die ander deur uit in die rigting van die grasperkie. Later begin haar vrae van voor af: sal sy die geleentheid hê om Boris Gudenov te ontmoet? Is hy werklik ’n misdadiger? Na wie lyk hy? Toe haar vrae selfs die trae suspisies van Demosthenes de Goede begin aanwakker, trek sy hom weer nader en stel opnuut sulke geweldige eise dat sy halfgevormde agterdog verdwyn in die volbringing van sy gereelde taak. Die kinders dreun ’n tweede keer deur die kamer en Demosthenes de Goede, die oorwinnende en lydende, die beskermer van sy huis, gewer van vrugbaarheid, kind van die stormwind, rus tydelik langs sy heerlike vrou terwyl sy slaap. Daar is slegs ’n vaal Sondagmiddagverposing voor die take wat elke oomblik van hom verwag word. Hy dink aan sy moeder wat gesê het dat sy vader hom verwek het as die man wat meer moeite moet verduur as alle ander mans – op dieselfde oomblik dat sy vrou liggies roer en langsaam haar dye begin beweeg terwyl die kinders, gekrap en gehawend, mekaar weer deur die kamer na die grasperk jaag. Hy dink aan Boris Gudenov toe sy weer rustig slaap en probeer vir homself die aard van sy taak vasstel. Hy onthou die woorde van brigadier Ornassis E. en veg in sy gedagtes teen die skimbeeld – en sien homself as Dawid teen Goliat, die verlosser in stryd met Satan, die kampvegter op pad na saligheid; en dodelik vermoeid neem hy sy Wiking-vrou in sy arms toe sy, half deur die slaap, beneweld nog steeds haar onophoudelike eise aan hom stel. Die kinders raas deur die kamer, terug die huis in, verwaarloosde opdrifsels, vertoiing in hulle bebloede jagtog op mekaar.

      Die laatmiddag verdwyn in die aandskemering en oor die berg styg die rosewolk op – ’n magtige rosekleur wat elke aand, presies op dieselfde tyd, deur ’n klein roetwolkie ingesluk sal word. Dis aand en die kinders strompel deur die kamer, honger en gehawend, na die leë eetkamertafel. Hulle Wiking-moeder word wakker. Sy is vars en volkome herstel van haar moegheid. Sy gryp dringend en gretig aan haar reuseman. Sy verdra sy moeë montering bewegingloos en beskuldigend.

      “Hemel,” sê sy. “Dis al laat en die kinders is honger. Hou op!” Sy wip uit die bed en trek haar vinnig aan. Sy is vol verlange na die romantiese, demoniese, onbegryplike Boris Gudenov.

      Sy is ’n toonbeeld van korrektheid as sy, geklee in haar mantelpak en bloese, styf en korrek, na die kombuis gaan om die bediendes te betig oor hulle laksheid.

      IV

      Die middag voor die funksie het Hope haar lot gaan bekla by Madam Ritchie, haar moeder, wat in die Stigting Welgevonden die laaste jare van haar lewe voor ’n transistorradio deurbring. Op so ’n gevorderde leeftyd is dit moeilik om ’n verwantskap tussen moeder en dogter te sien. Die ouvrou sit soos ’n mummie in ’n glaskamer sonder enige uitdrukking op haar verkalkte gesig en luister na die drie-honderd-en-vyftigste episode van haar vervolgverhaal terwyl die kinders oor haar klouter. Hulle skeur haar klere wat alreeds styfgetrek is om haar geswolle lyf, hulle skuif haar pruik en laat blou kolle op die spierwit vel wat met elke aanraking induik en traag herstel.

      “Hulle stuur hom kort-kort op ’n sending,” kla Hope. “Hulle maak mis­bruik van hom.” Sy luister ook met ’n halwe oor na die vervolgverhaal. “Hy moet alles verduur ter wille van ander mense.” Dis asof sy die patroon van die verhaal volg. “Sy halwe broer het die familieplaas geërf. Sy stiefmoeder het hom gedurig vervolg. Hy is ’n onegte kind. Die owerhede laat hom al die gevaarlike werk doen.” Sy rammel haar klagtes af terwyl sy roomkoekies eet en halfhartig na die kinders klap. “Hy moes nooit gebore gewees het nie. Hy moes nooit die son gesien het nie.”

      Haar werklike griewe hou sy vir haarself; sy kla slegs oor die aanvaarbare ongeregtighede voor hierdie ouvrou, haar kindse moeder, wat met haar ver­mufte verstand ook net één griefpatroon ken: die tirannie van owerhede, die onverstaanbaarheid van die Voorsienigheid, die wreedheid van verpleeg­sters, die beperking van regulasies.

      Die ouvrou se mond begin skielik beweeg en sy sukkel om ’n woord uit te kry, dan staak sy die poging. Haar mond bly nog oop, dan gaan dit stadig toe.

      Hope kruis haar bene; sy wys ’n dy deur die spleet van ’n sjantoengrok en ruik aan ’n botteltjie Mustacheparfuum langs haar op die tafel. Sy sit dit in haar tassie en trek aan haar onderlyfie wat té styf span. “Hy is baie naïef,” sê sy meteens. “Maar hy het die hart van ’n leeu.”

      ’n Uur gaan verby terwyl nog twee vervolgverhale afgehandel word. Dan probeer die ouvrou opstaan. Sy kry dit nie reg nie en sak in haar stoel terug. Sy lig haar arm met moeite en wys met ’n reguit hand na die klerekas terwyl ’n krom vinger, verstyf deur jig, onverbiddelik die grond aandui.

      Hope staan op, vroetel in die boonste laai van die klerekas, en haal ’n botteltjie te voorskyn.

      Dan praat die ouvrou vir die eerste keer. Haar tandelose mond en slap tong vind die woord maklik. Dis in haar mond gelê, dit kom glibberig te voorskyn uit die moeras van haar lippe, tong, tandvleis en verhemelte. Tus­sen die drag flikker haar ogies.

      “Yohimbin!”

      Hope doen ’n paar ekstatiese passies, gevolg deur haar kinders. En dan omhels sy die ouvrou terwyl haar oë dig gesluit is om die beeld van ouderdom uit te hou.

      Demosthenes de Goede stap deur die landgoed van die Stigting na die cottage van die legendariese mev. Dreyer, die waarsegster. Hy gaan by die plek verby waar hy sy stryd met die swaksinnige reus gehad het en hy dink met trots terug aan sy eerste triomf; hy word sentimenteel by die waterstroom waar hy Hope vir die eerste keer gesoen het. Hy sien die cottage waar hy in mev. Dreyer se beeldspraak soveel waarhede gevind het wat telkemale daarna bevestig is. Onder ’n eikeboom staan ’n silwergrys Rolls-Royce. Die chaffeur se oë is op die eiketakke gerig waaraan bronsflesse hang wat op maat van die wind teen mekaar tinkel. Duiwe koer met sagte, soet klankies tussen die blare.

      Demosthenes de Goede beskou die geliefde cottage en sien orals die tekens van mev. Dreyer se sukses: verguldsels versier haar vensters; sil­wertakkies omsoom die deur waaraan hy gewyd klop. Hy sien die duiwe in vlug terwyl hy wag: die swartes van Thebe wat die wêreld en die toekoms ingevaar het en in Ammon, Dodona en nou, ná soveel eeue, hier in die eike van Welgevonden geland het. Hy weet, dis waar – dit staan opgeteken in die Boek van die Lewe daar in haar sitkamer. Ál haar dissipels ken dit en is vertroud met die esoteriese gegewens van die Boek. Daar is ’n hele hoofstuk oor die Geskiedenis van die Duiwe.

      Die deur gaan oop en hy betree die geliefde kamertjie. Hy sit eers die vyftig sent op die tafeltjie (die fooi het deur die jare onveranderd gebly) en dan voeg hy twintig rand by – die heerlike voorreg van ou kliënte wat geseënd is met die volle waarheid uit haar mond. Hy gewaar ’n dik bondel note langs syne en glimlag trots: elke jaar sien hy hoe haar roem toeneem; elke jaar getuig die groeiende bedrae daarvan. Maar dit oortref alles wat hy nog gesien het …

      Later gaan die deur oop en ’n deftige man kom uit. ’n Bekende gesig, dink Demosthenes de Goede voordat hy by hom verbyskuur en vriendelik groet.

      Mev. Dreyer ontvang hom presies soos telkens in die verlede, asof sy hom nog nooit gesien het nie. Haar vet lyfie is blink gespan in ’n glinsterende satynrok, haar ooglede is van die suiwerste goud, haar grimering is van die duurste, haar houding is uit die hoogte.

      Sy bestudeer die blaartjies in ’n teekoppie van Bosch.

      “Is jy familie van die vorige besoeker?” vra sy meteens.

      Demosthenes de Goede skud sy kop.

      “Merkwaardig,” sê sy en kyk by die venster uit na een van die swart duiwe wat wiegend op ’n eiketakkie sit en meteens begin pik aan een van die bronsflessies voor die betowerde oë van die chauffeur.

      “Die einde van al jou ontberings sal spoedig kom,” sê sy. “Was jy vyftien maande in die vreemde?”

      Demosthenes de Goede skud weer sy kop.

      “Dis vreemd,” sê sy. “Dis uiters verwarrend.”

      Sy beskou die teeblare aandagtig.

      “Jy sal spoedig van jou swaar verlos wees.”

      Maar iets hinder haar; sy is klaarblyklik ongelukkig.