Demosthenes de Goede wag vir verdere openbarings, maar mev. Dreyer het blykbaar belangstelling in hom verloor. Hy het haar nog nooit so dierbaar verstrooid gesien nie, daar waar sy nou ’n ander koppie opgetel het en van een na die ander kyk. Hy verlaat die kamer saggies om haar nie in haar geheime meditasies te verstoor nie.
Hy vind die ryk, vername besoeker nog steeds in die wagkamer. “Sy het vir my gesê dat ek binne ’n kort tyd bestem is om óf te sterf óf die res van my lewe in rus en kalmte deur te bring,” sê die man.
“Mens is nie veronderstel om daaroor te praat nie,” sê Demosthenes de Goede.
“Ek volg nie.”
“Het sy ’n aanduiding gegee?” vra Demosthenes de Goede. “Mens kan gewoonlik in haar stem ’n aanduiding kry.”
“ Waarom mag mens nie daaroor praat nie?” vra die man.
“Dis tog duidelik,” sê Demosthenes de Goede.
Hulle het onwillekeurig saam uit die vertrekkie geloop.
“Ek kan nie presies onthou nie,” sê die man. “Die woord ‘sterf’ klink in elk geval harder as ‘kalmte’. Jou stem daal gewoonlik as jy sê ‘rus’.”
“Dis dieselfde as ’n wensbeentjie wat deur twee mense gebreek word. Jy sê nooit wat jou wens is nie, want dan kom dit nie uit nie.”
“Sy kon blykbaar self nie besluit nie. En dis só maklik om twee uiterstes te voorspel. Jy gaan môre dood, of jy lewe.”
Hulle het tot by die Rolls-Royce geloop en die chauffeur skeur hom los van die duiwe om die deur oop te maak.
“Haar woorde is gewoonlik duister, maar as jy hulle versigtig oorweeg, en daaroor nadink, dan besef jy later hoe waar haar voorspellings is,” sê Demosthenes de Goede.
“Al twee kan tog nie in my geval gebeur nie,” sê die man.
“Sy het vir my rus voorspel,” sê Demosthenes de Goede.
“Sy het vir my ook rus voorspel as ek nie sterf nie,” sê die man.
“Jy hoef jou nie onnodig te bekommer nie,” sê Demosthenes de Goede. “Sy bedoel heel moontlik dat jou probleme, wat dit ook al mag wees, tot ’n einde sal kom.”
“Miskien is die einde van alles die begin van die geluk,” sê die man.
“Die einde van alles kan ook die begin van die dood wees,” sê Demosthenes de Goede.
“Die geluk kan met die dood begin.”
“Rus kan beteken dat die stryd verby is en dat jy die res van jou dae in vrede op aarde kan lewe.”
“Dink jy dat al mens se probleme met verloop van jare eenvoudiger word?” vra die man geïnteresseerd.
“Sy kon die betekenis van die woorde omgekeer het en dood bedoel het as rus en rus as dood.”
“Maar dan bly mens presies waar jy was,” sê die man. “Al draai mens haar woorde óm en óm, bly dit nog steeds ’n enigma.”
“Dis die Taal van die Duiwe van Welgevonden,” sê Demosthenes de Goede.
“Verlossing kan in jóú geval ook dood beteken,” sê die man.
“En rus kan in jóú geval verlossing beteken,” sê Demosthenes de Goede.
Die Rolls-Royce wieg teen tagtig myl per uur verby die grense van Welgevonden.
“My vrou en kinders is nog steeds by haar moeder in Welgevonden,” sê Demosthenes de Goede terloops.
Die man beveel die chauffeur om om te draai.
Daar is groot opgewondenheid as die kinders die Rolls-Royce sien; hulle skryf hulle name op die deure; hulle pluk die chauffeur se pet af op pad na die stad en hulle druk die knoppies wat die ruite reguleer. Hope sit tussen die twee mans en hou haar oë beskeie op die pad gerig terwyl sy van die draaie gebruik maak om veral eenkant toe te leun.
Toe hulle by die skakelhuisie stilhou en deur die man tot by die deur vergesel word, skud sy haar hare in die sonlig en lag met pragtige wit tande.
“Watter aangename man,” sê Hope toe die Rolls-Royce noupassend deur die straatjie wegry en die bure hulle tuintjies vol staan. “Wie is hy?”
“Ek het vergeet om sy naam te vra,” sê Demosthenes de Goede.
“Ons kan gerus meer van hom sien,” sê Hope.
“Hy lyk vaagweg bekend,” sê Demosthenes de Goede. “Ek het êrens ’n foto van hom gesien.”
“Hy lyk na jou,” sê Hope.
“Klaarblyklik ’n man van goeie inbors,” sê Demosthenes de Goede.
Hy drink ’n halwe bottel whisky terwyl hy skeer, sy buikspiere oefen en in die bedompige badkamertjie aantrek. Hy verwens al die onaangename take wat hy moet verrig terwyl sy hart eintlik met liefde vir sy medemens vervul is.
Sy dik vingers ondervind in die slaapkamer heelwat moeite om die hakie van Hope se brassière in die derde gaatjie te haak. Die groot vent sug van pure plesier as hy sy vrou se aanloklike liggaam tergend gedeeltelik sien verdwyn in deursigtige nylon. Watter voorreg, dink hy toe die aandrok die vernaamste gedeeltes vir die buitewêreld bedek. En vir die eerste keer voel hy hom in staat om hierdie onbekende taak aan te durf. Hy drink die orige helfte van die whisky klaar en verlustig hom in isometriese oefeninge terwyl hy vir sy aanvallige vrou wag om haar soos ’n slet van Babilon klaar te verf.
V
Nadat hulle die kinders gevoed en teruggedwing het en die huis gegrendel is, wag hulle buite terwyl vier gesiggies woedend deur die ruite kyk en dan beurtelings vertrek van pyn namate hulle enigste antwoord op verveeldheid, alleenheid en frustrasie, die afknouing van mekaar, tot uiting kom. Voor hulle oë begin een van die dogtertjies se neusie bloei en een van die seuntjies verdwyn plotseling terwyl Hope se budjie spoedig daarna ’n onaardse keel opsit. “Dis omdat jy so min by die huis is,” sê Hope terwyl sy haarself in die ruit vlak voor ’n gespanne gesiggie spieël. Sy druk haar hare vas teen haar wange en draai haar kop sywaarts om die effek van die kant af voor twee kil groen ogies te sien. “’n Moeder kan nie alles alleen doen nie.”
Dit val haar by dat sy haar lipstiffie in die huis vergeet het en sy sluit die deur oop op dieselfde oomblik dat die taxi verskyn en toeter. Demosthenes vang betyds een van die dogtertjies wat in die donker uitgeglip het, en kom met haar oor sy skouer aangestap terwyl sy soos ’n wurm krul. Hope raps haar liggies net voordat Demosthenes de Goede die deur toemaak.
“Hemel! Die kinders maak mens gek!”
Toe hulle agter in die taxi tot rus kom, sê sy: “Besef kinders ooit die kruis van ouerskap?”
Die losie van die D-diens is ontwerp deur Cliffox, die avant-garde argitek van die stad, ’n tydgenoot van Carvajal. Dis silindries in die vorm van ’n projektiel – ’n fallus na die hemel, ’n staalsipres tussen die Lombardi, ’n vlekvrye smeekstreep in die hoogte. Wildsbokkies wei onder die maanlig en die sterre in die park.
Brigadier Ornassis E. verwelkom hulle eerste en omarm Hope met die vrypostigheid wat hom toegelaat word weens sy hoër rang en gevorderde leeftyd.
“A! Die aanvallige mevrou De Goede,” sê hy en onthou betyds om Demosthenes de Goede nie die hand te gee nie. Hy stel haar voor aan ’n groepie slank mans wat volgens die heel nuutste mode in deur Esquire geïnspireerde aandpakke geklee is. Hulle reageer elkeen met ’n sjarmante glimlag op die swaar geestigheid van hulle hoof terwyl hulle elegant vir Hope buig en effens neerhalend vir Demosthenes de Goede knik.
Hope het nog nooit soveel mooi mans bymekaar gesien nie – daar is staal in hulle lenigheid, daar is geen gebrek aan moed hier nie, daar is