Sy het in die staan haar postuur ’n hele paar maal regop getrek en haar asem hoorbaar uitgestoot, asof sy haar staal vir wat kom.
Mevrou Bandjies het vinnig kom groet, haar hande pas van die deeg gereinig. Dit kon ek sien aan haar nat vingers wat sy teen mekaar vryf.
Anna en ek het ’n ruk lank op ’n stemmige afstand van mekaar op die stoep gestaan. Daarna het ons in twee stoffeerstoele gaan sit en wag vir tannie Band om die tee uit te bring. Sy het my van Dirkie se kuiers vertel, hoe hy die bakkie altyd onder die wilgers aan die ander kant van die muurtjie by die tuinhek ingetrek het, hoe sy hom agter die gaas sou inwag, en hoe hy omtrent nooit ’n woord gesê het nie, maar met genoegdoening haar toegelaat het om hom te soen. Toe sy dit sê, fluister sy skielik, vinger op haar mond. “My ma, jy weet.”
Sy het hom later op die aand van daardie laaste kuier gaan afsien, soos die vorige kere, en sy arm was om haar lyf. Hoe pynlik om aan te hoor.
Vertel hoe sy met hom gepraat het net soos met ’n kind. “Want dis hoe mens moet praat met Dirkie. Mens herhaal dinge, mens moet ook nie te figuurlik praat nie, meneer Verdomp.”
“Want wat sal dan gebeur?”
“Dan sal hy in homself wegsink, in sy gedagtes wegraak, vervaag, actually. Dis net soos die mense sê. Soms het dit vir my gelyk of hy deurskynend raak. Dan kan mens die dinge ágter hom sien deurskyn. Dit was hels uncanny. Ek het eenmaal … Dirkie se hárt gesien.”
“Maar ek het dit dan nog nooit self gesien nie,” het ek opgemerk. “Dirkie is tog ’n mens soos enige ander?”
“Maar miskien weet jy nie hoe om te kyk nie,” het sy geantwoord. “En wie is hierdie ‘enige ander’ van wie jy praat? Waarvoor ék bang is … is … dat ons dalk almal bietjie deurskynend is, Hermanus. Alle mense. Ons sien mekaar net omdat ons gewoond is daaraan, en selfs dan nie eens die hele tyd nie.”
Dit het my hart verbly as sy my so op my voornaam noem. Ek het self sommer minder – wat was haar woord? – “deurskynend” gevoel. Ek sou glad nie omgegee het as sy regdeur mý wou kyk nie. Mý hart ook wou raaksien …
“As ek reg verstaan,” het ek skepties gevra, roekeloos amper, “was hy deurskynend … soos sellofaan? Hierop het sy nie gereageer nie en ek het besef ek moet sagter trap.
Haar ma het uitgekom om die skinkbord op ’n lae tafeltjie neer te sit en met die vooroor buk opgemerk: “Annatjie, jy moet net nie nou onbybels raak met hierdie gewarings van jou nie, my kind. Netnou hoor daardie korrupte polisieman jou en maak weer lelike foto’s, my kind. Asseblief.”
“Nee, is reg, Mammie,” het Anna gesê. “Maar volgende keer lê ek hom én sy vieslike kameratjie dood. Net daar in sy ellendige kantoor. Dít gebeur tog hier en daar in die Bybel, Mamma?” Anna had ’n onbedoelde geil kant aan haar. Ek het sommer gewens ek kon dan maar Kleinschmidt wees.
“Annatjie!” het haar ma geskok uitgeroep en my gevra om haar dogter asseblief te verskoon. “Dit was die koster se kamera, Anna.”
“Alles vergewe,” het ek met arms in die lug op gesê. Ek het onderlangs Anna se vergewensgesinde rondings beloer terwyl die laatson die geur van die seep op haar vel laat opstuif. Met ’n snuiwende blik gekyk ek, kan mens amper sê. Haar ma het weer huis-in geloop.
“Waar het dit gebeur?” Tyd vir die kloutjie by die oor bring. “Hierdie dit?”
Sy het opgestaan om my te gaan wys, maar ek kon sien sy wou die oomblik so lank moontlik uitstel. Ons het om die hoek van die stoep na die systoep geloop, verby die naaimasjien op sy houtblok. Die systoep was ook agter gaas, die ingehokte sonnetjie nou behoorlik aan ’t broei.
“Hier,” het Anna gewys. “Dit was hier.” Ons het voor twee gevlegte rottangstoele gaan staan. “Dis waar ons dié aand gesit het, ek en Dirkie. My ma-hulle was al bed toe.”
En net dáár, het sy vertel, het Dirkie van alle sig verdwyn. Dit was toe sy hom gesoen het. Hy was die een oomblik nog daar, daarna skoonveld. Sy kon hom in haar omhelsing voel, so stewig soos klip langs haar, maar kon hom glad nie meer sien nie. Hy was weg!
Sy was angstig, nou betraand, het sy vertel, en sy het Dirkie al hoe vuriger bevoel, oor sy arms, sy gesig, die grint van sy borselkophare, die gespierde maag onder sy hemp. Sy móés.
“Ek het al hoe harder gefluister Dirkie, Dirkie, moenie my alleen los nie!”
Sy het op Dirkie se skoot gaan sit en haar bene deur die kantopenings van die rottangstoel gesteek, gesê sy is jammer sy kan my nie nou wys hoe nie weens haar rok, sien, en sy gesig stewig vasgehou.
En toe het sy hom laat los, niks het gehelp nie, bewoë opgestaan, kopskuddend teruggestaan. Wat sy voor haar gesien het, was net hierdie twee leë rottangstoele. Soos nou, dieselfde twee stoele soos hier voor my en Anna.
“Het jy in die toilet gaan kyk of hy nie daar is nie?”
“Natuurlik het ek, Hermanus. Ek het ook buite gaan staan en na hom geroep. Hy het onsigbaar geword!” Sy was nou betigtend met my en het vertel hoe sy na haar ouers se slaapkamer gehardloop het om te kyk of haar huismense darem nog daar is. Want sy het gevoel soos die laaste mens op aarde. Miskien was dit die Wegraping hierdie, die Laaste Dae? Die ouers was gelukkig nog daar, in die vrede van hul slaap.
Toe het sy beangs teruggehardloop stoep toe, net om Dirkie aan te tref waar hy doodluiters in sy stoel sit, so afwesig soos sy manier altyd was. Hy het net strak voor hom gekyk en halfbewus geglimlag toe Anna hom opnuut om die hals val, oorstelp, en hom oor sy gesig soen.
“Ek het besef ek is smoorverlief op hom, meneer Verdomp. Hy was so … ’n goeie verdwynkunstenaar!” Sy het skoon uitasem geklink soos sy praat, asof dit so pas was dat sy van haar ouers se slaapkamer ingehardloop gekom het.
Maar wát Anna in die rottangstoel aangetref het, was ’n groot teleurstelling. Dit was die begin van haar besefte, dalk die begin van die latere Anna, die sinikus-Anna.
“Dirkie was eintlik gelyktydig op ’n ander plek, meneer Verdomp. Ek kon dit aanvoel. Hy het gelyk soos ’n nabeeld as jy teen die son in gekyk het. Hy was nie daar nie.
“In sy gedagtes was hy by iemand anders. Hy het begin brabbel oor ’n sekere … Maria. Ek het op daardie oomblik geweet: ek sal hom nooit hê nie. Maar dit het my nie gekeer om oor hom te droom nie …”
Sy was innerlik verskeurd hieroor, het sy vertel. Ek op my beurt was verheug. Ek het in myself gejubel. Dit was immers die begin van my eie lang pad na Anna se hart.
Ek het gou agtergekom haar vertwyfeling lê dieper as die seer oor Dirkie. Daar was ’n ekstra randjie aan, sy het reeds sylangs daarna verwys.
“Ek wonder nou, Hermanus,” het sy in haar helderklinkende, kinderlike stem gesê, haar oë wat soos die onskuld van glas blink, so anders as die latere Anna. “As dit met Dirkie kan gebeur …
“Is ons nie álmal op ’n ander plek nie? Is ons … nie dalk gelyktydig ander mense met ander name en liefdes, as in hierdie lewe nie, Hermanus?”
Anna kon in haar jong dae verskriklik huil. Sy het geluidloos aan die stroom gegaan. En toe het haar ma van die kombuis se kant ingekom en haar dogter met oorgawe getroos.
“My kind, dit was net jou verbeelding,” het haar ma gesê.
Haar huil het haar die krag gegee om die wêreld weer soos gewone mense te sien. “Ja, mamma. Miskien is jy reg. Ek sal daarvan probeer vergeet.”
* * *
Die naam “Maria” het ’n klokkie by my gelui, hard en aanhoudend. Ek het gewonder of daar ’n spesifieke rede voor was, want daar is tog dermiljoene Marias op die aardbol.
Daar wás ’n Maria met wie ek lank gelede te doen gehad het … Maar soms lê die wortel van ’n vermoede nog in die toekoms, en gaan haal mens dit nie net in die verlede nie. Dis selfs méér so as dit kom by wat ek, by gebrek aan woorde, sal noem die vervlegting van geleefde en sluimerende lewens.
Oftewel,