Die goudbaronne. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия: Mannheim-sage
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174862
Скачать книгу
van die Habsburgers se morele kodes. Ons gaan kerk toe en slaan met opgeslaande oë die kruis oor die bors, maar elke man, ryk of arm, het sy maîtresse. Sommige rykes het selfs meer as een handperdjie wat hulle aanhou! En hul dierbare vroutjies kyk maar anderpad, net soos hulle mans ook die oë sal sluit vir vroulief se nuutste affaire – solank sy dit net diskreet hou.” Hy sug. “Ek sê jou, my vriend, die geliefde Weense ‘Ring’ het in ’n rioolgat van seks en politieke intriges verander!”

      Na dié relaas swyg Freud. Hy drink ’n diep teug van die rooiwyn en verskuif sy metaalraambril waardeur hy nou stip na Karl kyk. “Dit is nie die rede waarom jy hier is nie, om my geklets oor die Wiener Gesellschaft aan te hoor nie.”

      Karl knik. Hy glimlag flouerig, maar voel hoe die bloed benoud in sy slape begin klop. Sy gedagtes stol. Hoe om te begin!

      Freud merk Karl se spanning. Die lang, bleek hand wat voortdurend deur sy blonde kuif hark. Nes hy, behoort Karl al teen dié tyd minstens skimmelgrys te wees, maar die blonde hare het nog nie verbleik nie. Hy besef skielik dat Karl waarskynlik sy hare kleur. Dit amuseer hom tot ’n mate, maar maak hom ook treurig. Die man heg soveel waarde aan skoonheid, die volmaakte, dat hy homself nooit sal kan aanvaar nie. Karl se komplekse persoonlikheid boei hom nog altyd. Hy maak homself gemakliker in die stoel, dan begin hy om Karl versigtig uit te lok.

      “Vandat jy gisteraand hier aangekom het, is ek bewus van jou ongemak. Meer as dit. ’n Soort angs?”

      “My talent as akteur laat my duidelik in die steek.” Karl lag vreugdeloos. Hy kyk weg, dan na bo, na die koepelvormige glasplafon, waar Art Nouveau-lelies in die gebrandskilderde glas bleek blom in die wegsterwende daglig. Sint Josefslelies, sy geliefde blom. Deborah haat die blomme, hulle herinner haar aan die dood, sê sy. Vandag is hulle ’n gepaste simbool vir Karl Mannheim se uittog. Hoe geyk. Selfs sy digterlike talent het nou versink in die moeras van gemiddeldheid, dink hy wrang. Maar dit gee hom minstens die moed om so saaklik moontlik weg te val.

      “Ek was my hele lewe lank ’n miserabele Katoliek. Die beoefening van geloof en die nastrewing van die hiernamaals laat my koud. Die afgelope ruk het ek gewens dat dit anders was. Dat ek kon glo. Dat ek byvoorbeeld verligting kon vind in die sakrament van belydenis, want dan sou ek jou waarskynlik nie daarmee kom belas het nie.”

      “Dan is ek dankbaar daarvoor, anders was jy nie hier nie! Dit is altyd goed om jou te sien, Karl.”

      “Werklik?”

      Karl se sinisme is te oordrewe om Freud te fop. Hy lees die rou onsekerheid in die gesig van die man oorkant hom. Dit herinner hom aan ’n kind wat om begrip pleit. Hy sê egter niks nie.

      Uit die verte klink die klokkespel van die Maria am Gestade Kirche op, wat die aandmis aankondig. Karl luister totdat die laaste klokslag weggesterf het.

      “Destyds, tydens ons eerste ontmoeting, het jy my uitgevra oor die Anglo-Boereoorlog.” Hy verskuif die stomp van sy geamputeerde arm. “Toe het ek dit as rede aangevoer vir my mislukte selfmoordpogings. Dat ek nie kon vrede maak met my geskende liggaam nie … Dit was net deels waar.”

      Freud knik, hy het dit al lank vermoed, maar Karl het oor die jare altyd van die saak af weggeskram.

      “Hulle het my in die hospitaal die laaste sakrament toegedien. Ek was diep bewusteloos. Waarskynlik sou ek ook die gees gegee het as dit nie vir een van die laaste besoekers was nie. ’n Mede-offisier, luitenant Jimmy Bean, het my ’n paar dae voor my selfmoordpoging die tyding gebring dat Deborah omgekom het. Dit was die sneller gewees, daardie tyding. Dit het my finaal laat besluit om ’n einde aan alles te maak. Maar ironies genoeg was dit toe ook luitenant Bean se stem wat, toe hy afskeid kom neem het, tot my benewelde brein deurgedring het om my mee te deel dat my vrou leef en op pad is na Lydenburg.

      “Kan jy dit glo, Sigmund? Daardie flenter berig het my laat besluit dat ek wíl lewe. ’n Week later het sy haar opwagting gemaak. En ek het begin glo, selfs begin hoop, dat sy my liefhet. Gek wat ek was! Hulle sê desperaatheid dryf mense tot moord …” Hy sug, leun vorentoe, druk op die armleuning en staan dan effe moeisaam op. By die kaggel haal hy ’n sigaret uit sy sigarethouer en steek dit aan voordat hy weer na Freud terugdraai.

      “En my vrou? Sy het ongeduldig gewag dat ek gesond genoeg moet word sodat sy my kon verlaat om in die arms van Kit Malloy te val. Hy was die man wat sy liefgehad het. Ek het hom daarvoor gehaat. Hy het my reddingstou bedreig. Daarom het ek besluit om te veg. Selfs deur vuil te speel. So het ek waarskynlik drie mense se lewens verongeluk.” Karl stryk weer senuagtig met sy vingers deur sy hare en hy lyk skielik moeg en verward.

      Freud kom orent. By die ronde tafel skink hy vir Karl ’n glas klaret. Stilswyend sit hy die glas langs Karl neer en bekyk die ongelukkige man ’n ruk lank.

      “Jy moes my lankal hiervan gesê het,” raas hy saggies. “Ek glo die jare het die hele aangeleentheid opgeblaas en dit groter gemaak in jou geheue.”

      Karl kyk hom uitdrukkingloos aan, dan gee hy Freud toonloos gelyk. “Ja, jy is reg. Ek het dit probeer toeskroei, maar dit het nie gewerk nie. Alles het net hewiger geword, die senuweepunte net rouer …” Hy lag gespanne. “Jy sien, Sigmund, ek het my gewete ontdek!”

      ’n Swaar stilte heers in die kamer. Die twee mans se roerlose, donker gestaltes word slegs verlig deur die gloed uit die porseleinstoof, want dit is nou nag buite die koepeldak se vensters, waarin die lelies verdof het.

      “Vertel my daarvan?” por Freud Karl sag aan.

      “Ek het jou destyds vertel dat my vrou tydens daardie noodlottige tog na Lydenburg in ’n konsentrasiekamp beland het en dat dit Malloy was wat haar daar gaan uithaal het.”

      “Ja, ek herinner my.”

      “Die ontbering en vernedering wat sy moes deurmaak, het haar nie ongedeerd gelaat nie. Jare lank het sy alles wat Brits is gehaat, en ek het dit uitgebuit om haar teen Malloy op te maak. Ek het hom ’n teiken gemaak wat sy kon verafsku. Hulle noem dit karaktermoord, nie waar nie?”

      “Ek vrees ek verstaan nie, “ gooi Freud wal. “Was hy nie die man wat sy liefgehad het nie? Sy het hom bo jou verkies, het sy nie? Dit was selfverdediging, al het die man haar uit die kamp bevry.”

      Karl lag saggies. “Jy bied my ’n uitweg, vriend. Nee, dis te genadig vir ’n biegvader.” Hy skud sy kop. “Jy sien, Deborah was kwesbaar ná wat sy deurgemaak het. Dit was maklik om daardie eerste duiwelsaad te saai, haar agterdogtig te maak. Malloy het ’n permit gehad wat persoonlik deur lord Kitchener onderteken is. Kitchener, daardie ongenaakbare militaris, sou geen gewone man die kans gegee het om so na aan hom te kom tensy daar ’n verband was nie, of tensy hy in die skuld was by Malloy.”

      “En sy het dit geglo?” roep Freud verwonderd uit.

      Karl huiwer voor hy antwoord. “Aanvanklik nie, haar dankbaarheid teenoor Malloy het alles oorskadu.” Hy grinnik wrang. “Maar ek het ’n paar troefkaarte gehad. Een aand in Kaapstad, pas ná my aankoms in Suid-Afrika as soldaat, het ek my by ’n ete gereël deur die heer van Khartoem bevind. Malloy is ook uitgenooi. Kitchener moet van hom gehou het, want hy het hom openlik uitgesonder, hom na sy studeerkamer begelei, en my nuuskierigheid het die oorhand gekry. Ek het gaan afluister. Ek kon nie alles hoor wat daar gesê is nie, maar wel dat Kitchener diep beïndruk was met Malloy. Hy het hom probeer oorreed om in sy diens te tree, as ’n soort konsultant, ’n middelman tussen hom en die Boere. Ek het Deborah daarvan vertel, en toe sy Malloy later daaroor troef, moes hy erken dat hy wel soms as Kitchener se tussenganger opgetree het. Dit het haar geruk, die erkenning direk uit sy mond uit. Die res … Die res was makliker.” Hy skuif ongemaklik in die leunstoel.

      “Sy het geleidelik al my verdigsels begin sluk. Jy sien, ek het haar vertel dat die gesprek daardie aand by Kitchener se ete gewentel het om die beëindiging van die oorlog. Ek het haar ook gesê dat dit Malloy was wat Kitchener aangemoedig het om Roberts se konsentrasiekampe – soortgelyk aan wat die Spanjaarde in die Kubaanse opstand gebruik het – te versterk. Daarby het Kitchener die lewe van die vroue en kinders byna onleefbaar gemaak, en die mans het dit geweet.” Karl vestig sy blik in die vlamme, sku om Freud direk in die oë te kyk. “Ek het op ’n meesterlike manier