Die goudbaronne. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия: Mannheim-sage
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174862
Скачать книгу

      Dit is eers heelwat later, toe die eetgerei verwyder is en die sigare en konjak bedien is, dat Karl die saak weer aanroer. “Nou toe, swaertjie, jou bedruktheid amuseer my. Die jeug dra sy kommer in alle naaktheid.” Karl klap sy vingers teatraal. “En hou op om my so verontrus aan te kyk!” Hy lag goedig vir die jong man. “Jy mag uitvra, selfs stellings maak soos: Wat de hel skort met jou, Karl? Of: Jy lyk ’n honderd-en-’n-half, en halfdood daarby!” Karl teug diep aan sy sigaar en blaas die rook stadig uit. “Dis wat jy dink, nie waar nie?” Hy vergruis skielik die sigaar in die asbak.

      Dit is die derde keer, dink Heinrich, dat hy Karl dit sien doen. Hy glimlag verleë, leun vorentoe en strengel sy vingers inmekaar. “Jy is maer … jy moes baie gewig verloor het. Skort daar iets?”

      Karl lag droog. “Op my ouderdom skort daar altyd iets! Tog, die kwakke beweer ek makeer niks nie, absoluut niks!” Hy lag weer. “O, glo my, Deborah het my al na elke dokter onder die son gestuur.” Hy suig sy wange in in ’n grappige nabootsing van ’n doodshoof. “Ek lyk dus dalk vir jou soos ’n wandelende kadawer, maar ek is as perdfris gediagnoseer.”

      Heinrich se ernstige blik rus onseker op hom. Karl lig sy glas. “Vergeet daarvan! C’est la vie, my jong vriend! Vertel my nou van jou. Waarom het jy ons planne verander? Ek het nogal uitgesien daarna om Parys aan jou te wys. Gedink ek kon vir oulaas nog maak of ek ook ’n jonker is en saam met jou pret hê.”

      Heinrich bloos onder die ouer man se takserende blik. Dan skud hy sy kop boetvaardig. “Ek is self jammer daaroor, maar dinge het verander …” Hy sit ’n oomblik in stilte, soekend na die regte woorde, dan bely hy stil: “Ek self het maar pas in Parys aangekom. Vandat ek weg is uit Johannesburg, was ek die laaste paar maande pal in Engeland, in Londen, waar ek deur ’n streng keuringsproses moes gaan. Verlede week het hulle gesê dat ek geslaag het. Ek is aanvaar.”

      “Londen? Aanvaar? Waarvoor?” vra Karl oorbluf. Heinrich was nog altyd ’n kranige student. Hy sou tog nie sy tyd mors om toegang te probeer verkry tot een van die Londense tersiêre instellings nie? Oxford, ja, dalk, of selfs Cambridge, maar in Londen self?

      “Ja,” onderbreek Heinrich sy gedagtegang. “Ek is amptelik in kennis gestel dat ek in die bisdom van Westminster aanvaar is.”

      Karl se mond gaap oop van skok. Hy staar lank na sy jong swaer, onseker oor hoe om te reageer. Senuweeagtig tas sy hand oudergewoonte na sy sigarethouer waaruit hy flink ’n sigaret neem en dit aansteek.

      “Verstaan ek jou reg? Dat jy beplan om … ’n … ’n priester te word? Wat het die skielike bevlieging geïnspireer?”

      “Dit is nie ’n skielike bevlieging nie. Ek het al op sestien besluit my grootste begeerte is om deel van die Kerk te word. Net vader John het dit geweet.”

      “En jou suster, Heinrich? Weet sy al hiervan? Sy sien jou al van jou geboorte af as die meester van Sorgenfrei.”

      “Ek weet! Daarom het ek my bes gedoen om van my hartewens te vergeet. Vyf jaar lank het ek my probeer instel daarop om haar droom te bewaarheid. Maar terwyl ek probeer boer het op Sorgenfrei, het die roeping net sterker geword. Glo my, Karl, dit maak my seer om Deborah so teleur te stel, maar hoe meer ek daarteen geveg het, hoe meer het ek geweet dat ek net een pad kan loop. Dit is waarom ek teruggaan Suid-Afrika toe. Die orde het my toestemming gegee om my sake by die huis eers agtermekaar te kry voordat ek volstoom met my studies begin.”

      Karl rook ’n rukkie in stilte, dan druk hy die sigaret dood. “Jy het nog nooit met jou suster swaarde gekruis nie, broertjie, jy gaan bars! Glo my, ek wéét waarvan ek praat. Menige dapper siel het Deborah Mannheim al probeer teëstaan en het sleg daarvan afgekom.”

      Heinrich trek sy skouers op. “Ek het nie ’n ander uitweg nie. Al waarop ek kan hoop, is dat sy my uiteindelik sal vergewe en dat sy sal probeer verstaan dat dit nie in my hande is nie.”

      Hulle sit ’n tyd lank in stilte voor Karl uiteindelik sy kop skud. “Ek reken jy gaan hulp nodig hê, ou maat. Dit beteken dat jy my planne gaan beduiwel, maar nou ja, wat daarvan.” Hy glimlag sinies. “Miskien doen ek tog een maal in my lewe iets goeds. Ons sal saam teruggaan. As ’n verenigde front jou suster se woede trotseer!” Hy sug. “Dit beteken dat ek dinge hier sal moet kortknip, ook my reis na Wene vervroeg. Ek het twee, miskien drie dae daar nodig. Teen Vrydag kan ek terug wees. Jy kan ons passaat terug bespreek.”

      “Karl, ek weet nie wat om te sê nie! Ek het dit geensins verwag nie, maar glo my, ek is dankbaar. Jy is die één persoon wat nie vir haar bang is nie, wat haar miskien sal kan omhaal om te verstaan.”

      “Ek?” Karl lag hard. “Jy misgis jou deeglik, broertjie. Sy volg haar eie kop. Maar jy is reg, ek vrees haar nie. Ek en sy ken mekaar te goed. Haat, ja … maar dit daar gelaat. Weet Kurt al van jou besluit? As daar een is wat my geliefde vrou se hart kan vermurwe, is dit haar goue seun.” Sy gesig trek skeef soos hy spot. “Die kroonprins van die Mannheims! Ja, jy moet Kurt vra om sy kant te bring, hy sal sy inspraak moet lewer, haar voorberei op ons koms.”

      Heinrich knik. “Ek het hom laat weet. Die brief waarin ek alles verduidelik het, het ek twee weke terug in Londen gepos. Teen dié tyd moet hy dit al ontvang het.”

      Karl sug en kom moeg orent. “Wel, kom ons hoop hy kan haar week maak. Nou moet jy my verskoon, Heinrich. As ek môre weer ’n keer in ’n trein moet skommel Wene toe, sal ek nou moet probeer rus. Dis maar die nadeel van die ouderdom. Ons sal baie tyd op die bootreis hê om ons strategie te beplan.”

      Hoofstuk 2

      Van die kruin van die Karlsberg-heuwel af het Karl ’n uitsig oor die wingerde en woude van Wene, wat nou kaal en triestig in die winter staan. Dis mooi, die landskap in sy winterse eenvoud. So sal hy dit waarskynlik nooit weer sien nie, dink hy, en sy oë soek hongerig na die bekende bakens. Die spirale van die Stephansdom se torings. Verder na regs, die koperbeslaande koepel van die Karlskirche. Die waterige son verskyn plotseling en baai die sagte plooie van die heuwels en valleie in ’n laaste goue lig. Die skoonheid daarvan ontroer hom, vul sy oë met trane. Of is dit die koue? Hy besef skielik dat hy klappertand van die ure wat hy hier in stilte gesit en kyk het. Iewers begin klokke te lui. Te vroeg vir ’n mis. Waarskynlik ’n troue, of ’n begrafnis.

      Hy kom stram orent. Hy sal stadigaan koers moet kry. Sy besoek aan Freud is om vieruur. Sigmund het tyd ingeruim, afsprake verskuif, toe hy so skielik sy opwagting in Wene gemaak het. Hy durf hom nie laat wag nie.

      Karl bereik die huis aan die buitewyke van die stad teen vieruur. Tipies van ’n Weense winterdag is dit reeds sterk skemer. Hy lig die klopper en Freud se huishoudster maak die deur oop. Sy deel hom beleef mee dat die Herr Doktor vertraag is.

      “Hy sal wel spoedig hier wees, Herr Mannheim!” belowe sy kloekend, terwyl sy Karl se jas neem en hom begelei na ’n stoel naas ’n ornamentele wit porseleinstoof waarin die vuur helder brand.

      Karl bedank haar vir die wyn en tuisgebakte weinbeisser wat sy op die tafeltjie neersit, tog is hy dankbaar toe die goedige maar praatsieke vrou hom uiteindelik alleen laat. Die selfondersoek voor die biegsessie, dink hy sinies, is altyd pynliker as die biegsessie self. Sal hy dit kan regkry in die beperkte tyd wat hom vergun is? Sy gewete was so lank toegesluit dat dit nie maklik gaan wees om daardie gesweiste grendels nou oop te breek nie.

      Die staanhorlosie klingel melodieus die halfuur uit en ruk hom uit sy gedagtes. Hy hoor die voordeur oopgaan, daarna die huishoudster se stem. Dan herken hy dié van Freud, wat enkele oomblikke later sy verskyning maak. Dit moet koud wees buite en reën daarby, dink Karl, want Freud se wange het ’n rooi frisheid en daar glinster waterdruppels aan sy baard.

      “Ek moes dringend kliniek toe,” maak hy verskoning terwyl hy sy hande eers verwarm by die porseleinstoof. “Maar ons tyd is nou ons eie. Die hele nag behoort aan jou, my vriend!” sê hy gul en neem oorkant Karl plaas. Hy skink vir homself ’n glas van die wyn.

      Hy merk Karl se diep ongemak en begin gerusstellend te gesels oor plaaslike skindernuus. Stories doen die ronde oor Alma Mahler en die skilder Gustav Klimt, en Cosima Wagner is ook betrokke. Ménage à trois, so word daar