Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу

      

      J.C. Steyn

      Tuiste in eie taal

      Die behoud en bestaan

      van Afrikaans

      Tafelberg

      AAN MY OUERS

      INLEIDING

      “As volk is die Afrikaner, vergeleke met die groot volke van die wêreld klein en onbeduidend … As die Afrikaner droom, durf hy alleen droom van dinge wat groot volke as vanselfsprekend aanvaar: die reg op ’n plek van sy eie, die reg om as volk te mag voortbestaan en om sy eie taal te durf praat.”

      “Klein en onbeduidend,” soos Beeld in ’n Geloftedag-hoofartikel skryf,[1] is Afrikaans ook in vergelyking met tale soos Chinees, Hindi, Russies, Spaans, Engels, Frans en Duits. Tog is daar letterlik honderde en honderde tale wat nóg kleiner is. Van Afrika se meer as duisend tale het net ongeveer 40 meer as ’n miljoen sprekers. Die helfte hiervan is kleiner as Afrikaans. Die 700 tale van Nieu-Guinee en omstreke het altesaam sowat 2,4 miljoen sprekers en die 250 Austronesiese tale in Melanesië word deur gemeenskappe van ’n paar honderd tot ’n paar duisend gepraat. Australië het 260 inheemse tale met naastenby 47 000 sprekers.

      Partykeer is dit ’n paar families op ’n afgeleë dorpie, dalk net ’n huisgesin of twee, soms twee of drie persone wat die taal gebruik. Dat sulke tale feitlik oornag kan uitsterf, is verstaanbaar. “The stark fact is that languages, like animal species, are now dying at an alarming rate. Even as I am speaking, one or another rare or so-called ‘primitive’ tongue is vanishing from the face of the earth,” het George Steiner in 1977 in ’n radiopraatjie gesê.[2]

      Ons sê gewoonlik dat ’n taal “groot” is as dit baie sprekers het, dat hy “kwyn” as al hoe minder mense hom gebruik en “sterf” as niemand dit meer praat nie. Nie alle klein tale is noodwendig kwynende of sterwende tale nie. Eskimo, wat sowat 40 000 sprekers in Groenland het, is springlewendig en het ’n amptelike taal van die eiland geword. Sommige van die Indiane-tale in Midde- en Suid-Amerika word as bloeiend beskou al het hulle net ’n paar honderdduisend sprekers en al het hulle ’n internasionale taal soos Spaans as mededinger.

      Afrikaans ís dus ’n klein taal, maar beslis nie een van die kleinstes nie, selfs nie eens die kleinste Germaanse taal nie. Volgens die 1974-uitgawe van die Encyclopaedia Britannica is Fries, Faroees, Yslands en selfs Noors kleiner. Daar is buitendien baie tale oor die hele wêreld met ongeveer net soveel gebruikers as Afrikaans.

      Tog het baie mense al getwyfel of Afrikaans sal oorleef. Van die skryfster Olive Schreiner is daar ’n bekende uitspraak van 1896: “In fifty years’ fight and struggle against it as we wish, there will be no Boer in South Africa speaking the Taal, save as a curiosity, only the great English-speaking South African People.”[3] Baie Afrikaners het destyds net so gedink. Op 24 Oktober 1890 het studente van die Victoria-Kollege, die latere Universiteit van Stellenbosch, ’n debat oor aktuele taalsake gehou. Een van die vrae was: “Is daar hoop dat ’n beskaafde Afrikaanse Hollands op die duur in beskaafde kringe in Suid-Afrika naas Engels sal voortbestaan?” Vyftien van die studente het gemeen “ja”, maar twintig “nee”.[4] Dié wat getwyfel het, sou seker baie deugdelike en oortuigende argumente kon aanvoer vir hul geloof dat Afrikaans aan die sterwe was. Onder die twyfelaars was daar sommige van die beste geeste van die Afrikanervolk.

      Heelwat publikasies handel deesdae oor “oorlewing” en “minimum-bestaansvoorwaardes”. Dis glad nie verbasend dat mense ook oor die oorlewing van Afrikaans praat nie. Party sprekers van veel sterker tale is tereg of ten onregte bekommerd oor hul taal. ’n Rubriekskrywer het in ’n tydskrif oor Nederlands gesê: “We moeten ons volstrekt niet voorstellen dat onze taal een onbedreigde taal is …” Dit was na aanleiding van die verdringing van Nederlands in die Wes-Duitse gebied Neder-Rynland en Frans-Vlaandere in Frankryk, asook die verfransing van die Belgiese hoofstad Brussel.[5]

      Verskeie Franse leiers raak weer onrustig oor die vordering van Engels en die verswakking van die internasionale posisie van Frans. Oud-pres. Georges Pompidou van Frankryk het oor die bedreiging van Engels vir die Europese Ekonomiese Gemeenskap gesê: “As ons toegee oor taal, sal ons platgeloop word. Dis ons taal wat maak dat ons nie ’n bloot gesigslose land tussen ander is nie.”[6]

      Tale soos Engels, Chinees, Russies en Spaans is werklik in ’n benydenswaardige posisie. Maar ’n mens het nie ’n danige verbeelding nodig nie om te besef dat ook húlle oorlewing nie doodseker is in ons tyd met sy atoommissiele, neutronbomme, bakteriologiese en chemiese oorlogvoering en manipulasie van die weer nie.

      Dis onmoontlik om sinvol oor die toekoms van enige taal te praat as ’n mens nie weet hoe en waarom tale groei en kwyn en wat die sprekers van kwynende tale gedoen het en vandag nog doen om die agteruitgang van hul tale te stuit nie. Die prosesse waarvolgens tale groei en kwyn en die faktore wat die prosesse aan die gang sit, is die onderwerp van die eerste twee hoofstukke in Afdeling A, en taalbeplanning teen dreigende ondergang dié van die derde.

      Die moderne samelewing het baie dinge geriefliker en gemakliker gemaak, maar vir klein tale lewer modernisering van die gemeenskap allerhande probleme. Daarop word ook in hoofstuk 3 ingegaan.

      Ná hierdie algemene hoofstukke word in Afdeling B die geskiedenis van Afrikaans tot in ons tyd behandel. Hoe en waarom het Afrikaans gegroei en waarom het dit nie groter vordering gemaak nie? Die antwoorde op hierdie vrae bly ter sake vir die toekoms, want hulle help ’n mens bewus maak van foute van die verlede wat ons moet vermy, maar ook van groeimoontlikhede wat ’n mens kan probeer benut.

      Die voorwaardes vir die voortbestaan van Afrikaans is die onderwerp van die verskillende hoofstukke van die laaste afdeling. Wat staan in die weg van ’n volgehoue groei? Dit kan skyn asof so ’n benadering negatief is: die klem val miskien meer op knelpunte en probleme as op groeimoontlikhede. Maar dis inderdaad skyn. Die oplossing van probleme, of pogings om van die nood sover moontlik ’n deug te maak, is reeds ’n vorm van groei.

      Die studie van taalgroei, taalagteruitgang en taalhandhawing behoort tot die taalsosiologie. Dié boek is gegrond op taalsosiologiese en taal- en politiek-historiese studies oor Afrikaans en ander tale. Tog sal die leser plek-plek iets teëkom wat die taalsosioloog miskien nie tot sy studieveld sal reken nie: die mislukking en sukses van terroristestryde, “dekadensie”, “permissiwiteit” en sensuur, en die belangrikheid van die landbou. Maar soos in die loop van die boek duidelik sal word, is al hierdie sake in mindere of meerdere mate van belang vir ’n gesprek oor die toekoms van Afrikaans.

      Hierdie boek is wel gegrond op taalsosiologiese en historiese werke, maar soos die taalsosioloog L. Pietersen skryf, is die verklaring en voorspelling van taalhandhawing en taalverlies een van die onbevredigendste hoofstukke van dié vak. Taalsosioloë kon nog nie ’n model opstel wat die bloei of agteruitgang van tale afdoende verklaar nie.[7]

      Gelukkig hoef ons ook nie te probeer voorspel nie. Die voorspellings van natuurwetenskaplikes en historici oor toekomstige ontwikkelinge is meestal onjuis. Die Britse historikus A.J.P. Taylor sê dat ontdekkings wat veronderstel was om die voordeligste te wees, dikwels die rampspoedigste was, terwyl die ergste gebeurtenisse partykeer die heilsaamste gevolge het. “It is still a safe guess that things will never be as bad or as good as we expect them to be. And the only wise course is still to follow Voltaire’s advice: cultivate your garden – if you have one.”[8]

      Junie 1980

      AFDELING A

      Die groei en agteruitgang van tale

      HOOFSTUK1

      Hoe groei en kwyn tale?

      “When a Russian pilot seeks to land at an airfield in Athens, Cairo or New Delhi, he talks to the control tower in English.”Hierdie stelling van ’n Keniase joernalis haal ’n professor van Oeganda aan in ’n opstel waarin hy nogal geesdriftig skrywe oor die opkoms van die “Afro-Saxons”, swart Afrikane waarvan die moedertaal Engels is. Die professor, Ali Mazrui, meen dat daar teen die einde van die eeu waarskynlik meer Afro-Saxons as Britte sal wees.[1] Die opkoms van die Afro-Saxons is maar een verskynsel wat toon hoe ’n belangrike wêreldtaal Engels geword het, ’n skrale vier eeue nadat geleerdes van Engeland