Lojale verset. N.P. Van Wyk Louw. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: N.P. Van Wyk Louw
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780624078258
Скачать книгу
opstel van ’n nuwe rangordening. Mens moet nou nie meen dat die bestaande sosiale klasse en ekonomiese verhoudings ’n ewige of natuurlike rangordening is nie. As mens dit glo, sal hierdie gedagte bloot ’n stuk aartskonserwatisme wees – terwyl dit in die werklikheid meer revolusionêr as die “rooi” of “ligrooi” omwentelingspraatjies van die salonbolsjewiste is. Ons bestaande klasse- en ekonomiese verhoudings is deurtrek van tydelike en toevallige ongelykheid, en hulle is ’n gedurige uitdaging aan die idealisme en die intelligensie van die mens. Maar die rigting van sy oplossing moet wees: geen 19de-eeuse poging om te probeer gelykmaak wat nooit gelyk kan wees nie, maar om ’n sosiale stelsel of stelsels te soek (want hulle sal in verskillende lande en by verskillende rasse anders wees) wat altyd nader aan die innerlike rangordening van die mensdom sal kom. Daar moet ’n altyd suiwerder en sterker bouwerk van die polêre verhoudings: leierskap en volgelingskap, aristokrasie en volk, ontstaan, met ’n erkenning van die organiese verwantskap van hierdie bloot-skynbare teenstellings. Om dit te verkry, sal die liberaal-demokratiese staat wat ons van die vorige eeu geërf het miskien stadig, maar tog ingrypend, verander moet word.

      Ook intellektueel is hierdie proses aan die gang. In die wetenskap en die wysbegeerte is dit ’n neiging om sku te wees vir die radikale vereenvoudigings van die wêreld wat die 19de eeu so liefgehad het; om die verskillende range van die werklikheid (stof, lewe, psige, gees) elkeen in sy eie reg te erken en te ondersoek en om nie dié een voorbarig tot die ander te probeer herlei nie (Husserl, Whitehead, Scheler en baie ander).

      Dit is nie alleen ’n strenger intellektuele ontwikkeling hierdie as die vroeëre uitwis van verskille nie, maar ook een wat nader aan die natuurlike en die estetiese instelling van die mens kom. Die gewone mens sien juis die wêreld as onoorsigtelik ryk en verskillend, en hy weier emosioneel, selfs wanneer hy intellektueel meen dat hy toestem, om die abstraksie wat die materialisme hom bied, te aanvaar as die wêreld wat hy ken en waarin hy leef; in sy onmiddellike, estetiese ervaring van daardie wêreld kom al die dinge wat weggeredeneer was, weer terug: klank en kleur, die skoonheid, selfs die pyn, en die hele pragtige rangordening van waardes en van mense.

      ’n Nasionale kultuur vertoon dieselfde piramidevorm soos die maatskappy: ’n breë basis van die massa se kultuurbesit, en daarbo ’n gedurige styging en vereniging tot by die skerp toppunt van die hoë skoonheid wat bo uit glans.

      As ’n mens net die literatuur as voorbeeld neem: eers die dagbladpers, nuttig en haastig; dan die tydskrifte vol ligte leesstof – die kinders se prentstories, die versmade en populêre moordverhale, ens. – daarna die knap, deeglike of vermaaklike romans; en dan die beste en blywendste wat in die volk geskrywe word. Van die volk se standpunt is dit ’n ryk verskeidenheid met baie oorgange, maar as geheel vir hom waardevol.

      Daar is al pogings aangewend om ook hier te nivelleer. Die 19de eeu het die massa-skrywer en die groot oplae meegebring; en meer as een eis van “volkskuns” vandag is niks anders as die verheffing van die massa se literêre maatstaf as die enigste geldige.

      Maar ook van die ander kant af is deur die suiwer estetici alle populêre geskrifte as waardeloos veroordeel.

      Die mens hou daarvan om ’n vraagstuk in die vorm van ’n botte óf-óf te stel. Het die piramide die toppunt of die basis meer nodig om piramide te wees? Doen Shakespeare of die “comic strips” meer vir die verspreiding van Engels? En moet ons Afrikaners net een van die twee, óf massa-lektuur óf aristokratiese kuns, vir ons eie kultuurontwikkeling kies?

      Ook hier moet grense bewaar word en die waarde van die verskeidenheid erken word. Ook ’n volkskultuur word in organiese rangordening opgebou. En mens verstaan die proses beter wanneer jy daardie rangordening begryp as die ware vorm van die menslike samelewing en van die natuur self.

      Januarie 1939

      ’n Toneelopvoering in Kaapstad

      Gisteraand was daar nou weer so ’n gehoor soos jy in die stad kry. Vrot stuk, goeie spel; maar so ’n mislike gehoor – al die welgesteldes, die vername staatsamptenare, die bestuurslede van kultuurverenigings, ja, al die kultuurolannas …

      Kan ’n gehoor by ons goeie dinge waardeer: mooi, innige, stil, of groot tragiese dinge, maar mooi, en eg … ’n stuk waarin ’n mens dit gewaag het om die verborge dinge van sy hart bloot te lê, nie net vermaak of ’n goeie verhaal nie? Of is die egte dinge net vir die weiniges, en wil die gehore sensasie, Grand Guignol, vermaak, “lekker lag-goed” hê? Ek onthou nog die aanmerkings van L.V.’s en ander lede van die intelligentsia by “Boumeester Solness”, wat vroeër hier mooi gespeel is.

      Dit is nie intelligensie alleen wat in die waardering van kuns beslis nie, soos ek al gemeen het (miskien weens die gebrek daaraan by ons); dit is ook ’n ontevredenheid, ’n bekendheid met pyn, ’n sekere skrynerigheid van die hart. Skoon botte verstand sal jy nogal hier meer volop as elders kry: dit is vir ons ’n uitgesoekte gehoor; maar uitgesoek volgens geld, stand of geleerdheid, nie volgens fynheid van aanvoeling nie.

      Almal wat smart ken, wat nog rusteloos is, leeg, honger; wat in geslagtelike en ander sake onbevredig is: jong meisies en seuns wat nog nie deur die “vrolikheid” in besit geneem is nie; baie vrouens, weduwees, oumense; almal wat iemand dierbaar verloor het en hul smart nog jonk in hulle voel, almal wat om iets onbereikbaars treur; almal wat die metafisiese smart, die eintlike skoonheidsverlange, ken … húlle kan die mooi dinge waardeer as hulle ook die vermoë om te verstaan, daarby besit.

      Dit is die vet en tevrede burgermense, soms rykes, soms verstandiges, die hooggeplaastes, die aansienlikes (in soverre as hulle nie ’n eie smart en ontevredenheid het wat bokant hul sukses en eerbejag uitgaan, en hulle óók van die rusteloses maak nie) – dis hulle wat die mislike toneelgehoor vorm. Dis hulle wat net vermaak wil wees deur dinge wat hulle nie diep roer nie. Hul grootste vrees is dat hul rus deur die smart sal aangetas word. Dis hulle wat op die verkeerde plekke lag … as hul beskawing nie die gelag tot ’n glimlag, ’n oulike knipoog of ’n stampie in die ribbes vir hul vrou of buurman demp nie; maar lag waar die natuurlike taal van die hart eenmaal deur die dood-gewone spel en die banale woorde van die stuk deurbreek, waar daar skielik ’n mens alleen of ’n mens met ’n mens soos in ’n kamer praat … En hulle moet lag omdat hulle alle mooiheid en lewendigheid dadelik deur hul eie banaliteit moet neutraliseer, anders word dit ’n rotsblok wat op hulle afrol en hul vredetjie te pletter loop. En as hulle ná ’n stuk wat jou plek-plek diep geroer het, huis toe gaan, tee toe, of glasie toe en daarna burgermansbed toe … in die gange en by die deure: kyk die begroetings van vriende, die gemoedelike laggies, die banale praatjies en vriendelike nag-sêery. Het hierdie mense nou-net iets moois gesien? Waar is hul verslaentheid of hul stilte?

      Hulle is die ondergang van alle kuns en alle geestelike lewe.

      Moet die “romantiese” dan heers in die lewe? Die naam is verkeerd hier. Ons moet liewers sê: die “digterlikheid” of die “skoonheidsliefde”, of die “onmiddellike eerlikheid teenoor die lewe” – dié moet heers. Die ontvanklikheid vir wat mooi is, die drang daarnatoe. Dit wat alleen by die ontevredenes, die verlangendes, die mense wat smart ken, te kry is.

      “Romantiek” in die alledaagse lewe is eerder die burgerlike navolging van daardie skoonheidsliefde.

      Selfs die botheid van die kleinburgery moet erken dat dié liefde hoër as hul eie lewe is, omdat dit die hoogste lewe is – objektief en algemeen, en herkenbaar deur die onmiddellike insig as die hoogste … Maar hulle vrees dit nog net so, want dit is die vernietiging van alles wat hulle het en is. Daarom maak hulle vir hulle ’n afgod, ’n namaaksel van daardie “Verskriklike”; hulle gee hom konkrete, ongevaarlike en vertroude attribute – maanlig, rose, sonsondergange, windmeulens, ens. – omdat hulle sy werklike attribute: vrees, drif, eensaamheid, verafsku. Dit is wat hulle “romantiek” noem.

      Dit is net ver genoeg van hul gewone lewes of om interessant te wees en soos ’n beeld van die vreeslike verlange te lyk. Maar dit is vir hulle veilig, en as hulle dan ooit in die gevaar kom om êrens van die steilte af skielik in die ware “vreeslike verlange” te stort, kan hulle hul altyd red met die “romantiese ironie”. Dit is die geheim van Heinrich Heine en sy namaak-romantiek.

      Daarom is ons jongeres nie