Lojale verset. N.P. Van Wyk Louw. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: N.P. Van Wyk Louw
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780624078258
Скачать книгу
omdat hy die jeug en die intellektueles binne ons beweging die gedagte gee dat ons “kultuur” ’n saak van lawaai en leuses-uitskreeu is. Hierdie tweede is uiteindelik vir ons die gevaarlikste. Dit stoot, soos ek gesê het, ons bestes af en uit.

      Hoe moet kultuur en organisasie dan nader aan mekaar gebring word? Moet ons naderhand aan ons eie kultuurleiers begin arbei? Maar dit lyk onmoontlik: elke predikant weet dat die ou vaste roetine-kerkgangers moeiliker is om te bekeer as die verharde sondaar wat nooit in die gebou kom nie!

      Ons “kultuurmense” dra self die skuld. Daar staan nog te veel van hulle buite ons organisasie. Dit is ’n verstaanbare versuim. Die “kultuurmens” hou nie van die stryd en die luidrugtigheid van die vergadering, of van die uiterlike en die sleurwerk wat verbonde is aan die opbou van ’n organisasie nie. Hy is soms onhandig daarin; hy voel hom ontuis soos ’n vreemdeling. Die werk is soms te eenvoudig vir hom, soms te nederig. Maar hy sien die rigting helder waar ander net die pad sien.

      Met die pragtige beeld van die grotbewoners in die sewende boek van sy “Staat” het Plato vir ons die “kultuurmens” in sy verhouding tot die gemeenskap onvergelyklik mooi geteken: die “kultuurmens” is hy wat uit die grot ontsnap het, waar die ander net die skaduwees van die dinge teen die mure sien beweeg; hy het in die sonlig uitgekom en die werklike dinge gesien; al sy waardebepalings het verander; hy het afkerig geword van die stelsel van belonings vir die man wat die beste oog vir die skadudinge besit …

      En “as hierdie man nou weer sou afgaan en sy setel in die vorige plek inneem, sou sy oë nie vol donkerte wees omdat hy pas uit die sonlig gekom het nie … ?”

      En die “kultuurmens” is ook onwillig om in daardie gemeenskap af te gaan waar domheid en onkunde gevind word. “Sou hy nie,” vra Plato, “verkies om in die sonlig ’n slaaf of die huurling van ’n slaaf te wees liewer as om weer in die grot af te gaan nie?”

      So staan die “kultuurmens” teenoor die wêreld van die organisasies waar baie nederige werk ook verrig moet word. So bly baie van die beste onder ons Afrikaners buitekant die werkplek van ons volksaak. En met hierdie afkeer is die “kultuurmens” trou aan sy eie aard.

      Maar hier weer stel die besondere posisie van die Afrikaanse volk besondere eise aan die Afrikaanse “kultuurmens”. Ons het nog geen veilige besit nie. Kultureel is ons ’n beleërde stad wat nog na alle kante toe moet skiet. Geen amptelike erkenning van regte verander hierdie toestand wesenlik nie – dit skep vir ons alleen die moontlikheid van die stryd.

      Die strydbaarheid van ons kultuur is nie iets wat van buite af daaraan geheg is nie; dit is ook geen grensoorskryding, geen poging om die geestelike besit van ons volk op ander oor te dra nie, soos die kultuurpropaganda van die imperialistiese volke dit soms is nie. Die strydbaarheid is deel van ons lewe. Dit is as swaar taak aan ons opgedra deur die ligging van ons volk tussen die magtige Engelse kultuur en die swart massa van Afrika in. As ons nie daardie strydbaarheid gehad het nie, sou ons as volk en as kern van Afrikaanse kultuurwil verdwyn het, en dan sou die “kultuurmens” ook nie die moontlikheid van sy stille herskepping gehad het nie. Sy stilte om tot homself in te keer, lê alleen veilig tussen die skanse waaruit die skote knal.

      Daarom mag hy hom nie aan die stryd en aan die organisasie onttrek nie. Die tipe “kultuurmens” sal by ons anders wees as by ander volke; en ek glo dan ook aan geen abstrakte, algemeen menslike “kultuurlewe” wat in Londen of Amsterdam of Sjanghai of Kaapstad dieselfde sal wees nie; ons stryd sowel as ons sonlig sal in ons eie êrens moet deurbreek. Maar Plato se onsterflike woorde geld hier vir ons soos vir die “kultuurmens” van weinig ander volke:

      “Julle moet dus om die beurt afgaan om saam met die ander mense van die stad te woon, en julle moet gewoond raak daaraan om die donker voorwerpe te sien; want as julle daaraan gewoond is, sal julle duisend maal beter kan sien as dié wat daar woon; en julle sal weet wat elkeen van die beelde is en waarvan dit ’n beeld is, omdat julle die waarheid gesien het van wat skoon en reg en goed is. En dan sal die stad wat julle en ons s’n is ’n werklikheid van die nugter-wakker lewe word en nie ’n droom soos die meeste stede wat bestaan nie …”

      Februarie 1939

      Die aristokratiese ideaal

      As daar een ding is wat ons kultuur vandag nodig het, dan is dit die wedergeboorte van die aristokratiese ideaal. Die kenmerk van ons tyd is die opkoms van die massa en die massa-waardes. Alles dreig om gepeupel te word. Die moderne nywerheid verskaf kos en geriewe in hoeveelhede wat geen vroeër eeu gehad het nie, en die mediese wetenskap hou aan die lewe wat maar enigsins nog kan asemhaal. Hierdeur het die 19de eeu ’n ongekende toename in die bevolking in alle lande gesien. Geboortebeperking by die intelligentste deel van die mense het hierdie bevolkingstoename hoofsaaklik ten gunste van die vrugbare massa minder intelligentes laat plaasvind. Stoflik en in getalsterkte het die massa dus ’n voorsprong gekry soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie. Toe het die algemene skoolplig en die algemene stemreg van die 19de eeu hom nog die geestelike en politieke wapens in die hand gegee. Hy word koning, keiser, nog meer as keiser: die stem van die massa word werklik die stem van God. Die stemme van die leiers: van die profeet, van die boetprediker, van die groot enkelinge, die kultuurskeppers, klink klein en verlate in daardie gedurige dreuning op.

      Maar die massa word hom ook van sy krag bewus soos nog nooit tevore nie. Hy sien dat sy koerante en tydskrifte die sterkste is – dié koerante en tydskrifte wat ’n beroep op die massa-waardes en -intelligensie doen; sy partye beheers die beskaafde lande; sy leiers, dié wat hom die beste verstaan, die luidste vlei en die meeste belowe, mense wat “die vertroue van die publiek het”, word die groot staatsmanne. En met hierdie bewustheid van sy mag dring die massa hom in op plekke waar hy in vroeër eeue skroomvallig verby gesluip het: in die kuns en literatuur, die wetenskap, die wysbegeerte, die hoër lewe van die gees. Ook hier moet sy smaak, sy insig, sy begeertes die deurslag gee. Die kultuur word massa-kultuur, en die meerderheid van die mensdom, selfs baie van die bestes, word, in ’n nuwe sin van die woord, massa-mense.

      By ons in Suid-Afrika het hierdie proses hom niks stadiger as in Europa en Amerika voltrek nie. Wat die Industriële Revolusie daar meegebring het, het die instroming van ’n gemengde uitlandse bevolking wat gedeeltelik uit sy eie kultuur ontwortel geraak het, by ons verhaas. Die ou Afrikaanse boerestand en -lewe was binne hul grense aristokraties en sterk individueel. Maar vir die afstammelinge van daardie boerestand was die trek na die stad dikwels net so ’n ontworteling as vir die uitlander die immigrasie na Suid-Afrika: hulle was albei vreemdelinge in ’n nuwe omgewing en potensieel massa-mense. Want dit is nie alleen die blote bestaan van baie mense bymekaar wat ’n massa maak nie, maar ook die los-word uit oorgelewerde skroom en beskeidenheid – wat die maklikste in ’n nuwe omgewing met groot nuwe moontlikhede plaasvind. (Vergelyk al die “Babbitts” van die Verenigde State.)

      Die massa-mens het sy besondere geestesgesteldheid en waardes. Sy persoonlikheidsideaal is “die lekker kêrel”; die allemansvriend, die egte demokraat, die man wat nooit “anders” as die res is nie; bo alles vrees en haat hy die afsydigheid en die trots wat grense tussen mens en mens in stand hou. Sy enigste maatstaf van waarde is die populariteit: ’n boek wat baie uitgawes beleef, is “goed”; ’n gedig wat almal geniet, is “mooi”; ’n toneelstuk waarna almal gaan kyk, dié moet hy ook sien; ’n skildery waarvan afdrukke in elke huis hang, of musiek wat almal liefhet en fluit, is die “beste”. Daarom ook, as hy intelligent is, is sy vernaamste doel in die lewe: vooruitkom, deur baie goedgekeur en geprys word. En vir hom is die volkome maatskaplike orde dié waarin elkeen heeldag “lekker” spook om vooruit te kom – op die plaas, in die handel, op skool en aan die universiteit – en niemand ooit tyd het om “diep” of “alleen” te wees nie. “O, brave new world!”

      Ons Westerse mense, en ons in Suid-Afrika, het vandag feitlik geen aristokrasie meer nie. In die politiek neem ons dit as vanselfsprekend aan dat die wil van die massa moet seëvier; dat sy welvaart die hoogste goed is. In ons etiek eis ons saam met Kant dat die goeie handeling so moet wees dat dit tot algemene sedereël verhef kan word – die massa-reël. In die hoogste setels van ons kultuur sit gepeupel, massa-mense wat alleen massa-waardes ken.

      Die aristokratiese lewenshouding is geen blote trots en afsydigheid nie. Die