Lojale verset. N.P. Van Wyk Louw. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: N.P. Van Wyk Louw
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780624078258
Скачать книгу
teenoor ’n mens self; dit is die geloof aan ewige geestelike goedere en die geloof dat hul waarde onafhanklik van die goed- of afkeuring van die mense is; dit is die stel van die swaarste taak aan ’n mens self: die lewe na die innerlike wet van jou eie wese; dis die weerbaarheid teen massa-waardes; dit is die erkenning van die eensame taak om die geestelike skatte hoog te hou en veilig deur die massa te dra.

      Die aristokratiese lewenshouding is altyd iets weerbaars en soldaatagtigs, ook met die swygsaamheid van die soldaat wat nie in elke vergadering hardop praat nie. Dit is nooit ’n jag op vooruitkom nie. “Streben” is ewig en altyd die kenmerk van die massa-mens; die aristokraat is reeds so ver vooruit as wat hy kan kom.

      In die kuns en die wetenskap, in die hele hoër geestelike lewe, is die aristokratiese lewenshouding dié wat hom die strengste tug oplê, wat alleen die wette van die skoonheid en die waarheid eerbiedig, wat hom van alle onmiddellike sukses by die massa, van alle voordeel en alle betrekkingsoekery afwend; wat nie rus voordat volmaaktheid binne die grense van die taak self bereik is nie. (Die massa is met baie minder as die volmaaktheid tevrede.) Hier is die lewenshouding nie vereiste of voorbereiding vir die geestelike lewe nie, maar die geestelike lewe self. Alle kultuur kom van enkeles wat hulle in daardie gees aan hul taak wy, en geen massa-maatstaf reik werklik daaraan toe nie.

      As mens na ons Afrikaanse aldagskrywery kyk, na ons “deeglike” romans, ons “gewaagde” gedigte, ons “wetenskaplike” proefskrifte, dan lyk hierdie terugtrek in ’n streng afsydigheid en opgaan in die werk self die enigste redding vir die enkeling en uiteindelik vir die volk se kultuur.

      Want die aristokratisme staan nie vreemd teenoor die volk nie. Dit is geen verwaandheid nie. Die verwaande is trots op sy werklike of vermeende prestasie – nie op sy taak nie. Hy aanvaar juis die massa-maatstaf van die sukses. Nog minder is dit individualisme wat van die gemeenskap afgekeer is. Dit is in sy wese die hoogste diens aan die gemeenskap. Dit is ’n lewe binne die gemeenskap, maar gedurig op ewige, geestelike waardes daarbuite gerig. Elke groep het ’n minimum aristokrasie in hom nodig, mense wat hulle streng aan die taak van die kultuuropbou wy en afsien van tydelike sukses. Wanneer die massa so groot en magtig word dat hy hierdie enkeles verdring en vernietig, verrot sy eie lomp liggaam soos ’n stuk vleis wat ongesout is.

      Die aristokratiese lewenshouding is die sintese en die versoening van gemeenskapslewe en individualisme. Niks het ons Afrikaanse kultuur vandag nodiger nie.

      April 1938

      Gelykmaak en rangordening

      Die 19de eeu in Wes-Europa en die Wes-Europese kultuurkring was die eeu van die gelykmaak. Dit het begin met die leuse van die Franse Revolusie: vryheid, gelykheid en broederskap. Die vryheid, só het gou geblyk, was vryheid vir die grootkapitalis om sy eie werksaamheid grensloos te ontplooi en vryheid vir die gewone mens om in daardie wêreld van onbeteuelde konkurrensie, geldmag en massa-propaganda rond te val of in te pas soos hy kon; die broederskap was maar alte dikwels dié van Kain jeens Abel, in ’n eeu wat die masjien- en snelvuurgeweer, gifgasse en duikbote uitgevind het en wat die kanonne van Europa op die verste uithoeke van die aarde laat bulder het – o.a. om Sjinese broers te dwing om die invoer van opium “vry” te stel. Maar uit die gelykheid, die enigste van die groot drietal wat wesenlik onwaar is, het daardie eeu ’n waansin laat ontstaan waarvan die wêreld baie stadig sal genees.

      Die mens en alle menslike sake ken alleen die ongelykheid. Daar is tydelike en daar is wesenlike ongelykheid. Mense kan toevallig of tydelik in ’n maatskappy ongelyk wees; weens ’n verouderde klasse-indeling; omdat ongelukke (bv. droogte, oorlog, armoede) van die bestes na ondertoe afgedruk het; of anders omdat ’n geluk (bv. die ontdekking van goud of petroleum op ’n swak boer se grond, die geboorte binne ’n vooraanstaande familie, ratsheid met geld, ens.) mense sonder verdienste na boontoe gestoot het. Maar daar is ook ’n wesenlike ongelykheid en ’n rangordening wat mens reeds in die stygende linie van die natuur deur grond, plant, dier en mens waarneem; en binne die menslike soort weer in die agterlike en skeppende rasse; en nog meer, individueel binne elke groep, in die eindelose verskeidenheid van menslike tipes tussen die idioot aan die een kant en die enkele groot manne wat soms soos die voorafskaduwing van iets hoërs as die mens self lyk. Mense is wesenlik ongelyk. En ingevleg in hierdie rangordening kry ons tallose verdere verskille: verskille van funksie (man en vrou); van rypheid (jeug en ouderdom); van temperament, van belangstelling, van kultuurmoontlikhede.

      Die “mens” is geen vaal, egalige abstraksie nie, maar ’n eindeloos kleurryke verskynsel waarvan wesenlike en toevallige ongelykheid skering en inslag is.

      Teenoor hierdie verskeidenheid het die 19de eeu met sy gelykheidsleuse te staan gekom en hy het alles begin afbreek om gelyk te maak: die liberaliste eis algemene stemreg (een stem per mens) afgesien van bekwaamheid om te oordeel, erns of verantwoordelikheid; die “filantrope” eis (bv. in Suid-Afrika) gelykheid tussen blanke en swart rasse, afgesien van hul ontwikkelingstrap; die kommuniste wil almal in ’n klaslose gemeenskap gelykmaak met die proletariaat; die voorvegters van die “regte van die vrou” wil die geslagte gelykmaak, afgesien van die verskil in funksie; Ellen Key en ander opvoedkundiges wil in ’n denkbeeldige “eeu van die kind” die kind gelykstel aan die ryper volwassene. Hulle is almal broers, die liberale demokrate, “filantrope”, kommuniste en pedagogiese gelykmakers, en almal kinders van een vader: die 19de-eeuse gelykheidsgedagte.

      In die ekonomie het daardie eeu net so verkeerd-vereenvoudigend gedink. Neem maar een voorbeeld: die tipiese fabriek of handelsmaatskappy. Die Marxistiese ekonomie stel hom hier ’n groot groep gelyke masjienwerkers voor onder een baas wat hulle uitbuit; al hoe meer van die tussenklas, die kleiner onafhanklike arbeiders, stort in die proletariaat af totdat dit byna die hele bevolking egalig omvat. Dan sal die revolusie die baas afsit (vandag sê hulle: likwideer) en die groot klomp gelyke werkers met gelyke lone, die klaslose gemeenskap, sal oorbly. Die moderne fabriek of handelsonderneming lyk veel meer op die natuurlike “piramide” van die menslike gemeenskap: ongeskoolde werkers, geskooldes, tegnici, bestuurders, met steeds ingewikkelder en verantwoordeliker funksies hoe hoër mens styg; en in plaas van een baas is daar groot getalle aandeelhouers (o.a. baie armes) deur wie die fabriek weer verder in die gemeenskap inrank. Die uitwis van “standverskille” binne die fabriek sou nie ’n uitbuiter nie, maar die werk self vernietig.

      Of die verskil in funksie die maatskappy egter ekonomiese verskille regverdig, is ’n vraag wat ek nie tot troos vir die kapitalis wil beantwoord nie. Ek weet nie watter verhouding daar dan tussen die beloning van ’n bankier, ’n hoofamptenaar, ’n Beethoven moet bestaan nie. Die bankier en die hoof sou dalk hier ’n bietjie naby aan die ongeskoolde werkers wees.

      In die wysbegeerte (waar die stryd egter baie ouer as die 19de eeu is en sedert die Grieke reeds as ’t ware skematies en suiwer voorgestel word) toon die eeu dieselfde neiging om te nivelleer. Hy wil die oneindig ingewikkelde en fyn-geskakeerde patroon van die werklikheid tot een “grondstof” herlei en kleurloos maak. Een groep, die materialiste van La Mettrie af tot by Moleschott en Haeckel, wil alles wat hoër as die materie is – die lewe, die psigiese en die geestelike – tot die laagste, of sê maar, die mins georganiseerde vorm herlei. Die heelal word hier as ’n ingewikkelde masjien verklaar. Klank, kleur, gevoel, skepping, skoonheid, sedelikheid, waarheid, die hele rykdom en verskeidenheid van die lewe verdwyn uit hierdie wêreldbeskouing … buiten waar dit waag om inkonsekwent en menslik te word.

      Maar sy teenvoeter bly nie uit nie: die eensydige “idealisme”. Die mens weier om die dinge wat waardevol is, deur die filosofie te laat wegredeneer; en soos die materialisme alles volgens die laagste kategorie wil verklaar, so verklaar Hegel en die absolute idealisme alles volgens die hoogste: die gees of die idee. Hier kry die hoogste rigsterre – skoonheid, sedelikheid en waarheid – hul regmatige plek in die wêreldbeskouing, maar die hele pragtige spel van die dinge wat laer as die gees is – instink en drif, wil, brute krag, toeval, die materie, miskien die hele mens as individu – word herlei tot ’n spookagtige dans van logiese kategorieë.

      Maar hoewel hierdie twee wysgerige rigtings so teenoorgesteld is, is hulle tog albei vorme van dieselfde neiging: die neiging om alle verskeidenheid in die wêreld te negeer en sy rykdom tot ’n enkele soort te probeer herlei. Dit is vorme van die neiging om gelyk te maak: gelykmaak