Lojale verset. N.P. Van Wyk Louw. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: N.P. Van Wyk Louw
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780624078258
Скачать книгу
geledere. En dit is juis wat vir die organisasie so onmoontlik is; daarom ook sien ons dat die staat (selfs ’n goeie staat) of sy amptelike liggame gewoonlik so erg mistas met die beloon en aanmoedig van eietydse kuns. Wat sou die Franse “Kultuur”-minister van destyds sê as die Franse volk hom die £20 wat sy departement vir die sterwende Baudelaire afgeknyp het, kon terugsmyt? Of dink maar aan die Académie se verbasing dat daardie einste Baudelaire hom kon aanbied as kandidaat vir ’n liggaam wat vol Augiers en selfs Villemains gesit het! Of kyk na ons eie tyd: is Anacker, die wenner van die Duitse volksprys vir literatuur, die heersende vors onder die Duitse digters?

      Maar die kuns, dit moet ons onthou, is net een van die groeipunte in die kultuur; daar is nog ander, daar is ook nog die ontwikkeling van ’n volk tot nuwe waarheid en nuwe wêreldbeskouings, tot nuwe sedelike insigte – nog gevaarliker strydgebiede vir die organisasie om hom op te begewe.

      ’n Oplossing of versoening sal hier alleen ’n gedeeltelike kan wees. Die organisasie sal nooit heeltemal van sy starheid en vastheid loskom nie; en daarom sal hy gedurig in botsing met die groeiende kultuur lewe – hy sal waarskynlik vir sy ratser vriend en teenstander altyd ’n bietjie bespotlik lyk. Maar die botsing sal minder hewig wees wanneer die organisasie erken dat hy in die lewe van die gees die mindere is, dat hy middel is en die kultuur doel, en wanneer hy dus ’n fiere nederigheid aankweek wat op die erkenning van eie wese en grense berus. Of die organisasie in Suid-Afrika nederig is teenoor die kultuur, bespreek ek nie nou nie, maar ek betwyfel dit. Soms lyk dit asof hy hom tussen die volk en die kultuur inskuif, skoon asof hy self die waardevolle en die doel is.

      Maar die gedeeltelike versoening van kultuur en organisasie wat tog moontlik is, is moontlik alleen deur die persoonlikheid van die kultuurleier; en dit voer ons in die midde van die tweede gevaarplek in.

      Met die twee menslike waardes waaroor ek skrywe – organisasie en kultuur – slaan twee menslike tipes ooreen: die “organisasiemens” en die “kultuurmens”. Ek wil nie met hierdie eenvoudige indeling iets afdoen aan die oneindige ingewikkeldheid van elke mens se persoonlikheid nie, en ek wil ook geen sielkundige tipologie opstel nie. Maar van die standpunt van hierdie vraestelling gesien, bestaan daar onder mense wat in die kultuurorganisasie betrokke is dié twee tipes.

      Die “organisasiemens” is makliker om te teken, want hy leef meer na buite toe uit. Sy “hart” is gewoonlik “reg”, hy wil die goeie; maar aan die hele bedryf is dit tog die uiterlike dinge van die organisasie wat hom die meeste tref: hy woon graag vergaderings en bestuursvergaderings by; hy hou van possies en baantjies; mosies en amendemente is sy kos; hy hou vurig koukus en hy werf stemme; hy sal die hele aand by ’n deur sit om kaartjies te skeur en van al die “kultuur”-verrigtings daarbinne niks weet nie – en sal gelukkig wees daaronder; hy is gewoonlik so besig met hierdie dinge dat hy geen tyd kry om te lees, te dink of diep te voel nie; hy is in die kultuur alleen ’n aanvaarder. So iemand is ’n uiters nuttige en onmisbare lid van enige organisasie. Maar hy word ook ’n gevaar. Deur sy ywer en onmisbaarheid word hy ’n leier, ’n “kultuur”-leier; hy word voorsitter, afgevaardigde na volkskongresse en volksman!

      In hierdie hoër kringe word dié tipe “organisasiemens” nou weer in twee ondertipes verdeel. As hy min intelligensie het, word hy een van die mense wat vir die eenparige besluite van ons kultuurkongresse stem, ’n verharde luisteraar na toesprake en referate (iemand anders sit nou by die deur), ’n waardige kongresganger en ’n gewigtigdoende verslaggewer van die “verrigtings” wanneer hy in sy eie vereniging terugkeer.

      Maar as hy intelligenter is (of ’n hoë amp beklee), is dit ’n ernstiger saak. Hy word nou ’n voorman en ’n volksleier: hy luister nie, maar lewer referate; hy moet rigting gee aan daardie einste kultuur waarvoor hy weens drukke werksaamhede geen tyd kan kry nie. Hy word byna ’n kultuurminister, d.w.s. in naam ’n “dienaar”, in werklikheid ’n heer van die kultuur.

      Hierdie tweede soort “organisasiemens” in ons kultuur sien ons dikwels voor ons, meestal op verhoë. Hulle weet nie niks van die kultuur af nie – dan sou hulle darem nie daar gekom het waar hulle is nie – maar die kultuur het lankal ’n dooie ding, ’n werktuig vir hulle geword. Alles wat eenmaal lewe was, het versteen. Ons herken hulle aan die eenvormigheid van die gebare, aan die verstarde leuses, aan die roerende patos waarmee hulle die stryd van 1920 met die frases van 1921 uitstry – eenmaal was hulle wel op die hoogte – en hulle donder in ons ore ’n onwrikbare vertroue in die gemeenplase van ons eie jeug in. En as dit ’n goeie redenaar is, of as hy ’n mooi vertoning maak, klap ons in die massa-opwinding dalk saam die hande; maar as ons huis toe gaan, het die “kultuur” vir ons onbewus ’n ietsie minder in sy waarde geword.

      Die “kultuurmens” is moeiliker om te teken, want hy lewe veel meer na binne toe uit wat ’n mens nie sien nie. Hy versmaai die toneelgebaar en die groot geluid ’n bietjie; hy skat die possies en baantjies van die kultuur na hul waarde en soek hulle nie; hy het soveel tyd nodig vir die noodsaaklike dinge – dink, voel, geniet, soms skep – dat hy party van die nuttiges nalaat. Maar die werklike geesteslewe van die volk bestaan enkel en alleen in hom, in sy bewussyn, in sy gedurige herskep van die kultuur. Die dooie pakke papier en ink wat houtrakke vul, word lewende skoonheid en waarheid deur hom omdat hy die boeke lees; die swart stippels op wit velle wat die mensdom bymekaargemaak het, word musiek omdat hy dit hoor; doek en verf word beelde deur sy oog, en al die groot denkers van die wêreld herleef deur hom omdat hy hul gedagtes weer deurdink.

      “Organisasiemens” en “kultuurmens” het weinig met mekaar gemeen, al sit hulle saam aan dieselfde tafel. Dit gebeur wel dat een persoon albei kan wees, maar dit kom selde voor.

      En nou is die vraag vir ons: watter van die twee is die leier in die kultuurorganisasie en in ons eie kultuurorganisasie? As ons eerlik is, sal ons hier bitter waarheid ontdek. Maar die saak is vir ons uiteindelik van soveel belang dat ons nie oneerlik durf wees nie.

      Neem nou ’n keer die Afrikaanse kultuurvoormanne van enige deel van ons land, een vir een nugter en eintlik bang vir ons volksaak voor die oë, en vra by elkeen: “Is hy iemand wat lees, wat hom die tyd gun om te dink, wat dikwels oor werklik ernstige dinge praat, wat op die hoogte is van wat in ons land, in ons taal en in ons kuns geskied, of wat probeer om op die hoogte te bly; bestaan daar meer vir hom as sy amp, sy vermaak, en dan sy kultuurorganisasie?” (Dis maar swak en uiterlike kenmerke van die “kultuurmens” hierdie, maar dit kan tog as toets dien.) En as u so vra, sal daar maar min wees, vrees ek, van wie u u daardie versekering sal kan gee. By professore, onderwysers en ander manne van die vak moet u ook onthou dat hul vak – Afrikaanse literatuur, wysbegeerte of kuns – vir hulle ’n werktuig is soos die boer se ploeg vir hom is; en om billik te wees, moet u by sulkes dan vra: “Het hy ander gebiede van die geesteslewe buitekant sy vak om (bv. ander literature) waarin hy belang stel, leef hy dieper of wyer as wat sy broodwinning vereis, of het die amp en die toeval hom ‘kultuurmens’ gemaak?” Daar bestaan nie so ’n ding as ’n professionele “kultuurmens” nie.

      Bekyk verder ons hoogste kultuurliggame en -rade. Hoeveel sit daarin wat werklik “kultuurmense” is, en hoeveel is daar ampshalwe en so te sê per ongeluk? Ons wa se wiele het in die afgelope jare dik aangepak, en ons moet nie verbaas wees as ons swaar ry nie.

      In die organisasie van die kultuur het die “organisasiemens” ’n voorsprong en kry hy eerder die leiding in die hande. En dit voer uiteindelik daarheen dat die kultuur glip uit die nette van wie hom van buite af wou vang; dat die verrigtings en feeste van daardie organiseerders niks met die kultuur of die skoonheid te doen het nie; en dat die bestes van die volk hulle daarvan begin afwend of die verrigtings bywoon nog alleen omdat hulle dit as plig beskou om die “saak” te ondersteun. Maar hierdie sekondêre soort ondersteuning, uit plig, nie uit behoefte nie, sal uitsterf by ’n volgende geslag wat nie die Afrikaner se stryd om erkenning meegemaak het nie. Dit sterf nou al uit – en nie by die onverskilliges alleen nie! Maar as ons die dag sover gekom het, sal ons die “kultuurmense”, ’n volk se natuurlike aristokrasie, vir ons saak verloor, en dan sal geen hoeveelheid massapropaganda ons van ondergang red nie.

      Waar die blote “organisasiemens” die kultuur in die hande kry, is hy vir ons in twee opsigte gevaarlik: hy kom in aanraking met, hy word gehoor of gelees deur mense wat nog vir ons saak gewen moet word; en as hulle self beskaafde