Lojale verset. N.P. Van Wyk Louw. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: N.P. Van Wyk Louw
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780624078258
Скачать книгу
voorbeeld genoem, omdat dit die naaste aan my staan; maar op elke gebied gaan dit so: ons kultuurwêreld is soos ’n staatskantoor op die beginsel van langer dienstyd opgebou … en juis die kultuur erken geen voorrang buiten die bekwaamheid nie.

      As die nood hoog is, is ’n mens nie bang om naïef te probeer opwek nie. Die jeug moet by ons op alle gebiede aan die woord kom, nie omdat hy die wysheid sou besit nie (die wêreld kry dit nogal reg om sonder die wysheid te beweeg), maar om die lewe vir hom self te kry.

      Dit is geen jeugverheerliking nie, geen Messias-verwagting uit die jeug soos die kommunistiese heilsverwagting uit die proletariaat en die Nazi se heilsverwagting uit die boerestand nie. Dit is geen singery van enige Giovinezza-lied nie. Ek weet maar alte goed dat ’n groot deel van ons Afrikaanse jeug onder die heersende invloede oud gebore is, dat hy sonder ’n enkele fanatisme of oordrywing leef, en direk van die kindsheid na die middeljarigheid oorgaan. Maar ’n sterker lewe is nog by hom moontlik en nie by die oueres nie.

      En in die literatuur wil ek ook nie hê dat ons dadelik dieselfde sonde met die jongeres soos met die oueres begaan nie – om “klein klassieke” van hulle te maak nie. Gelukkig is die volk wat literatuur het, maar geen “klassieke” en geen literatuurgeskiedenis – die geklassifiseerde mottekas van die poësie en die lewe – nie. Hoe sou ’n liriese digter ook onbevange kon voel en skep, as hy altyd gedagtig aan sy “plek in die Afrikaanse literatuur” en “die rigting van ons poësie” moes rondloop. Die literatuur en die geestelike lewe as geheel is stryd, woeling en die opskuim van onberekenbare dinge.

      Die pad moet nie vir die jeug gelyk gemaak word nie, maar hy moet ten minste die geleentheid kry om te kan veg. Sy stryd uit te veg, en nie dié van ’n vorige geslag nie. (Tot kort gelede was dit selfs onmoontlik om iets teen een van die aanvaarde kultuurleiers onveranderd gepubliseer te kry.) ’n Skoon kans voor – dis al wat hy nodig het. Die jeug moet die kans kry om meer lewe onder ons te bring – die jeug met al sy verwarring, sy soek en sy onsekerheid. Hy kan dit doen, want sy lewensvorm is dié van die lewe self.

      Desember 1938

      Kultuurleiers sonder kultuur

      Vir iemand wat die geestelike strominge in Suid-Afrika noukeurig nagaan, sal die merkwaardigste verskynsel in ons eie tyd op hierdie gebied seker die groei van die Afrikaanse kultuurverenigings wees, vanaf die kleinste plaaslike verenigings tot die F.A.K., die kultuurrade en die Akademie – hul groei in getal, in die omvang van hul werk en in hul steeds hegter samesnoering en organisasie. Die toekomstige skrywer van ons beskawingsgeskiedenis sal moontlik die kwarteeu ná ongeveer 1925 “Die Tydperk van die Kultuurorganisasies” noem. Ek twyfel daaraan of die kultuur in enige ander land ter wêreld soseer ’n saak vir organisasies is. In die ou en sterk kultuurlande leef en groei dit so vanself dat “kultuur” en “organisasie” eerder as twee teenoorgesteldes beskou word.

      En tog is hierdie eienaardige ontwikkeling by ons noodsaaklik. Die Afrikaner is in ’n totaal ander omgewing geplaas as die kultuurvolke waaruit hy ontstaan het. Hy kom uit digbevolkte lande – Holland, Duitsland, Frankryk en Engeland – waar die opeenhoping van die bevolking in pragtige ryk stede vanself die opbloei van die kultuur bevorder, en hy kom woon yl-versprei oor ’n wye land wat hom in die plek daarvan ’n vreemde eensaamheid gee; hy kom uit lande waar die kultuur uit ’n sterk homogene bevolking spruit, met een oorheersende taal, wat dit tot ’n kragtige eenheid bind – en hy bevind hom hier in ’n land waarin sy mense tussen blanke anderstaliges met ’n ander kultuur woon en waar die hele blanke bevolking nog weer in die geweldige massa swartes – anders van bloed, kultuur en taal – ingeknie is. Die rede waarom hy vandag nie in hierdie menggroep ondergaan nie, is alleen omdat hy vir hom die nuwe orgaan van sy kultuurorganisasies gekweek het, iets wat hom saamsnoer tot ’n eenheid wat hy territoriaal nie besit nie. Dit is sy manier om hom aan te pas by die nuwe omstandighede in die nuwe land, net soos die wit pels van die poolvos of die vetblare van die Karooplant aanpassingsorgane is. Die organisasies sorg vir die noodsaaklike “bloedsomloop” van die kultuurgoedere, wat so maklik plaasvind in die ouer, digbevolkte lande waar – om net één ding te noem – die boekhandel soveel makliker tot hoë ontwikkeling kom.

      En juis omdat hierdie vorm van organisasie so noodsaaklik vir ons voortbestaan as volk is, sal dit ook nog baie verder ontwikkel, sowel wat omvang as integrasie betref. Ons staan nog maar eintlik aan die begin van hierdie groot ontwikkeling. Die dag sal kom dat daar ’n net van Afrikaanse kultuurorganisasies oor ons land uitgestrek lê waarin elke Afrikaner, van die geringste tot die hoogste, betrokke sal wees; wat waarskynlik sterk sentraal saamgesnoer sal wees en soos ’n piramide sal oploop tot sy spits, en waarin alle belange van die Afrikaner as aparte groep verteenwoordig sal wees. Dit is ’n toekomstige ontwikkeling wat los staan van alle politieke oorwegings en wat alleen deur die volk se wil om te bestaan, bepaal sal word. Maar omdat hierdie nuwe ontwikkeling so groot en vir ons volk so van die uiterste belang is, moet ons dit noukeurig en skerp-krities volg en enige gevaar wat daarin steek betyds erken. Om ons kultuurorganisasies se ontwikkeling gedurig krities te toets, is net soseer ’n volksaak as om hulle aan te moedig.

      En dadelik, nog sonder verwysing na wat by ons gebeur, staan daar voor wie die saak oorweeg, een vraagstuk helder op: organisasie is iets uiterliks, ’n werking met konkrete, byna tasbare dinge, iets luidrugtigs, iets wat verwant is aan die mark en die raadsvergadering, ’n mag tussen die magte van die wêreld; kultuur is van die gees, van die mens se innerlike, ontasbaar en stil en skugter; ook magtig, maar met die mag van die martelaar eerder as van die beul. Die organisasie soek en skep vastigheid, ’n staalstellasie vir die bouwerk van die gees; die kultuur is die rustelose en vloeibare, die gedurige hervorming en herskepping van die geestelike waardes in elke mens. Sal die kultuur, wat so geaard is, nou nie sy wese self verloën of verloor wanneer hy die bondgenootskap met die organisasie aangaan nie? Hoe kan die begrippe kultuur en organisasie versoen word? Sal die poging om ’n kultuur deur intensiewe organisasie te bestendig, nie tot die ondergang van die kultuur as lewende krag lei nie?

      Twee gevare kan voor die dag tree: ’n volk (of sy leiers) kan die kultuur beskou as iets wat klaar gemaak is, ’n vaste grootheid – ’n hoeveelheid vaste gewoontes, waarhede en “erkende” kunswerke – iets wat net so op ander oorgedra kan word. Dit is ’n fout wat maklik begaan word, want dit is juis die klaar-kultuur wat organiseerbaar is. So kan ons besluit om die Afrikaanse kleredrag van 1840, of die Afrikaanse kunsproduksie van 1905–1939, of die Afrikaanse sedes of politieke ideë van ’n willekeurige gekose tydperk in ons geskiedenis te kanoniseer as enige norm, as die enigste Afrikaanse kultuur vas te lê. En sodanige kultuur kan ons dan deur organisasies verbrei. Maar dit sal soos water uit ons vingers loop, dit moet ons weet, en ons sal nie met kultuur nie, maar met niks bly sit. Want die ewig-skeppende gees van die mense sal tot ander gestaltes voortskry – tot nuwe kuns en ander sedes en dieper waarheid; en die jong kunstenaar, die jong denker en die jong mens van die daad sal teen ons opstaan met die krag van hul eie skeppende oortuiging, en opstaan in die naam van die kultuur – die ewig-skeppende – wat ons wou red maar wat hulle sal besit.

      Laat ek dít sê vir Afrikaners wat graag ’n “Voortrekker”- of ’n “Boere”-kultuur by ons wil bestendig – as “Voortrekker” of “Boere” nie net dieselfde as “Afrikaner”-kultuur beteken nie –: dat ons kultuur nooit dié van honderd jaar gelede, nie eens dié van veertig of van tien jaar gelede kan wees nie – 1925 en sy vraagstukke lyk al vir ons vandag soos ou geskiedenis – en elke geslag Afrikaners is net so “unmittelbar zu Gott”, het net soveel die plig om uit eie krag kultuur te skep as enige voorafgaande geslag. Dit is ’n voorreg waaraan ons nie kan ontvlug nie. Die kern en die bronaar van die kultuur is die vryheid, die vryheid om nuwe waarheid en skoonheid te skep en na nuwe self-gewonne insig te handel; en as die kloppende lewe van daardie vryheid deur enige organisasie (ook deur ’n staat) geknel word, sal die kultuur self sterwe, of hy sal die bande verbreek (al is dit dan maar ná jare) soos die Middeleeue eenmaal verbreek is.

      Die groot, byna onmoontlike taak van ’n kultuurorganisasie is dus om naby die groeipunte van die kultuur te bly; om sy eie starre vorm gedeeltelik te verloën en self iets van die vloeibare van die kultuur aan te neem. Ek noem die taak “byna onmoontlik”, want dit is meer as ’n saak van “op die hoogte bly”, van lees wat plaasvind, ens. – dit sou kultuurleiers