Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174558
Скачать книгу

      Heinrich het haar grootgemaak om die grond lief te hê. Sy meisiekind met die vlasblonde hare en donker Von Albein-oë het hom nie teleurgestel nie. Haar liefde vir Sorgenfrei word net deur sy eie geëwenaar.

      Deborah was ’n nuuskierige, leergierige kind. Dit het almal wat met haar onderrig belas was plesier verskaf. Haar goewernantes was dit almal roerend eens dat sy verstandelik ’n buitengewoon begaafde meisie is. Heinrich het hulle opdrag gegee om haar nie net Latyn, Frans en Duits te leer nie, maar ook algebra en meetkunde. Hy het haar self later leer boekhou, en was opnuut verras deur die kind se logika en vinnige begripsvermoë.

      Deborah het beslis ’n sakebrein. Met haar vernuf sal sy nie vir een van die boere in die kontrei hoef terug te staan wanneer hy die dag nie meer daar is nie.

      Heinrich het Alisha se teregwysings dat hy hulle dogter mannetjiesagtig opvoed, tog ter harte geneem. Daarom het hy sy vrou selfs gesteun in haar pogings om die soms onwillige Deborah te skool in etiketreëls en die sosiale verfyndhede wat so eie aan Alisha is.

      Alisha is ’n uitmuntende pianis en het Deborah ook klavierlesse gegee, maar tot haar spyt het die kind geen trek gehad vir elegante salonmusiek nie. Die kind se lenige, jong hande wou veel eerder die drif van ’n Beethoven, uiters onvroulik volgens Alisha, verklank. Sy moes later maar kopgee en aanvaar dat Deborah nie haar musieksmaak deel nie.

      Heinrich maak die hek oop vir sy dogter. Die wind en opwinding het ’n blos op haar gesig gelaat. Haar donker oë skitter van genot toe haar pa haar styf teen hom vasdruk. Sy lag.

      “Vanjaar trap ek en dié vosperd almal op die skou uit! Dis darem ’n vurige dier, Pa! April dink ons moet hom met Fleur laat paar.”

      “Jy’t voorwaar knap gedoen, my meisiekind!” Hy vee die weerbarstige hare weg uit haar gesig en glimlag tergend. “Ek weet nou nie of jy dit so beplan het nie, Deborah, maar jy’t my al weer omgerokkel …”

      “Wat meen Pa?”

      “Die hings is joune.”

      “Pa! Bedoel Pa dit?”

      Hy knik geamuseer. Haar berekende onskuld is tog so bekoorlik. Hy is oortuig dat sy met opset die perd voor hom ingebreek het omdat sy gewéét het haar vertoning sou die deurslag gee. Hy hou egter sy gedagtes vir homself en verlustig hom in sy dogter se reaksie.

      Deborah slaan haar arms om sy nek en gee hom ’n klapsoen. “Dankie, liefste Pappa! Ek gaan hom Vlam noem!”

      Heinrich haak by sy dogter in. Sy is al amper so lank soos hy.

      “As jy só aangaan, neem jy ál my pronkperde af!”

      Sy kind se helder lag laat sy hart warm klop.

      Hulle begin koers kry met die skaduryke akkerlaan langs na die opstal wat nou met sy gewels rosig gebaai in die laatmiddagson staan. Die reusagtige akkerbome ets fyn kantpatroontjies teen die afgewitte mure wat geslagte gelede deur Heinrich se voorvader gebou is toe hy hom as pionier op Sorgenfrei kom vestig het.

      Dis aan daardie versiende eerste Heinrich te danke dat Sorgenfrei, in teenstelling met so baie van die ander plase in die kontrei, selfs in die dorste tye groen bly. Hy het die bergfontein se water laat opdam in die natuurlike holte wat laer af links van die opstal lê. Daardie dam is nou, tagtig jaar later, omring deur reuse-treurwilgers, Deborah se geliefkoosde wegkruipplek.

      Op die voorstoep se trappe verskyn Ma-Fytjie, gewigtig, monumentaal. Met Ma-Fytjie se koms negentien jaar gelede, is daar onmiddellik nuwe reëls neergelê in die huis waar die seur straks te lank ’n vrygesel was. Van die eerste oomblik wat Fya Fortuin die leisels oorgeneem het, het al die plaaswerkers – van die oudste tot die jongste – haar met ontsag behandel. Die heilige respek het stellig ook iets te doen gehad met die dik voorarm, wat sy soms saam met haar bytende tong ingespan het.

      Pa en dogter merk dat Ma-Fytjie haar hande uiters ontevrede op haar massiewe heupe sit toe sy hulle sien aankom. Deborah grinnik ondeund vir haar pa. “Vanaand gaan ek dit weer hotagter kry omdat ek nie my kappie ophet nie.”

      Die ligroos moeselien-middagtabberd met sy hoë hals en kantversierde beffie wat Ma-Fytjie reeds uitgehang het, geval Deborah bitter min. Sy vind die pofmou, volgens haar ma nou uiters modieus, warm en ongemaklik en die boeseltjie agter verspot en hinderlik. Maar vanaand laat sy nie haar afkeer blyk nie. Sy weet sy moet fyn trap wanneer Ma-Fytjie op die oorlogspad is. Sy verduur dus ook maar die tonggeseling met ’n ongewone gelatenheid. Bedees giet sy die laventel-gegeurde waswater uit die porseleinlampetbeker in die waskom en begin was. Ma-Fytjie se breë gesig tril van verontwaardiging toe sy die handdoek gereed hou vir haar grootmaaknooientjie.

      “Soos ’n wille filistyn, dié het jy geword!”

      Sy begin die meisie afdroog voordat sy haar satyngladde vel besprinkel met ’n mengsel van vollersaarde en koeksoda – enige sweempie sweet se moses. Die ou vrou stoom voort en die poeier waas op voor haar kastydende asem. “Kerjakker nou mos van hoenderkraai op die perde rond!”

      “Was net vanmiddag …” probeer Deborah protesteer, maar Ma-Fytjie boender haar op die stoel neer sodat sy die kardoesbroek met sy oormaat valletjies vir Deborah kan aantrek.

      “Ek het amper my ou oë uit geskaam toe ons hier van die stoep vir jou sien …” Sy trek Deborah orent en begin die bostuk se reeds ingerygde toutjies vastrek. Wat die ou vrou nooit aan Deborah sal beken nie, is dat sy onbybels trots is op die slanke, grasieuse postuur van haar versie, soos sy Deborah soms noem. Die kind is nou maar eenmaal goed geskape, al is sy so hoog op die bene, dink sy selfvoldaan terwyl sy die lussies vastrek en die belynde kloklynonderrok waaraan die boeseltjie se kussinkie vasgeheg is, optel. Sy glip dit oor Deborah se middel en draai haar om om dit vas te maak.

      Deborah sien haar eie beeld in die spieël van die ornate Victoriaanse rooshouthangkas. Sy lyk vir haar soos ’n veerpoothoender in dié onderrok met die valletjies-kardoesbroek wat onder uitsteek. Sy glimlag en trek vlugtig vir haarself skewebek in die spieël. Ma-Fytjie lig die tabberd van die klereskouertjie af en sien dit gelukkig nie raak nie. Haar bekwame hande begin die rye lussies en knopies flink vasmaak. Hulle wedywer met Ma-Fytjie se mond wat nog nie ontslae is van al die opgekropte stoom nie.

      “Maar my hande wou ek saamslaan in skandigheid toe jy nou weer soos ’n regte poerakind wydsbeen op die perd sit – en dit voor die werkers! Geen gedagtetjie aan jou-se-mamma nie! Vir wat kan jy nie meer soos nooientjie Lishatjie wees nie?”

      Sy druk Deborah op die boudoir-stoeltjie voor die spieëlkas neer en begin haar hare met lang hale borsel. Dan swiep sy dit behendig op en heg dit met kammetjies vas. Sy borsel die haremassa wat los van die kroontjie af hang tot dit soos silwer sy glim in die lig van die koperlamp. Uiteindelik is sy tevrede met haar handewerk. Haar versie is getooi vir aandete.

      In die lig van die blink lamp skyn die meisie se oë soos twee donker sterre. Die sagte, vol mond lyk weerloos jonk. Ma-Fytjie vermurwe. Dis háár mooinooi! Weliswaar ’n wille vulletjie, dit kan g’n mens ontken nie, maar dis seker maar die Von Albein-bloed wat so deurslaan. Sy’s altevol net soos meester Heinrich. Maar laat dit wees soos dit wil, Deborah is en bly die vetkant van Fya Fortuin se hart.

      Alisha von Albein se slanke hande lê ’n oomblik ledig op haar borduurwerk. Sy kyk peinsend na haar man en dogter. Hulle koppe is na aan mekaar gebuig waar hulle konsentreer op hulle skaakspel.

      Alisha het van Ma-Fytjie verneem dat Heinrich Deborah weer toegelaat het om ’n hings in te breek. ’n Effense frons ontsier haar gladde voorkop. Lief soos sy haar kind het, is sy raadop met haar ontembare geesdrif. Daar sal ’n plan gemaak moet word om die kind te verfyn. Miskien ’n afrondingskool in Europa? Sy self was ’n jaar in Switserland saam met haar moeder, kort voor sy Heinrich agtien jaar gelede ontmoet het. Maar sy laat dié idee met ’n sug vaar. Heinrich sal sy lieflingskind nooit so lank van hom af laat weggaan nie. Miskien moet sy maar weer met Heinrich mooipraat.

      Heinrich kyk op. Sy gesig verteder. In die lig van die koperkandelare lyk Alisha in haar liggeel organdierok nie veel ouer as die dag toe hy haar hierheen gebring het nie.

      “Ons verwaarloos vir Mamma!”