Ek onthou die datums, want ek het hulle neergeskryf. Die joernaal dateer uit die eerste weke van Die Koors, toe ek en Pa in die grotte van die Vredefort-koepel gebly het. Of geskuil het. Ek is nie seker hoe om dit te omskryf nie. Pa het vir my die boek gegee, ’n geel Moleskine-joernaal, en ’n swart pen. Hy het vir my gesê al die grootste ontdekkers het reisjoernale gehou. “Net ’n paar woorde, elke dag, Nico, sodat jy dit later sal onthou.”
Die aand van 7 April het ek net een woord geskryf: Domingo. Dit is al wat ek sou nodig hê om te onthou.
* * *
Met ons terugkeer saam met Beryl en die kinders en die kamper, laatmiddag op 5 April, is daar niemand op Vanderkloof nie. Geen reaksie op die honderde pamflette nie.
Pa steek sy teleurstelling weg in frenetiese aktiwiteit. Hy laat ons by die eertydse Pride Rock-gastehuis intrek – dis eenvoudig makliker om almal só te beskerm, te versorg en te bestuur. Hy pomp vroeg die volgende oggend die groen, vuil water uit die halfleë swembad om dit veiliger te maak vir die kleintjies. Ek moet hom help om ’n petrol-kragopwekker te koppel, sodat die kinders almal ’n warm bad kan kry. Dit neem ’n paar uur om al sestien skoon en aangetrek te kry. Sommige het weke laas ordentlik gewas.
Ons dra bokse kos kombuis toe, boeke na die sitkamer toe, pak reg, maak skoon.
Ek en hy gaan soek deur die huise op die dorp vir kinderklere, vir nog vinnig beskikbare proviand. Ons kry ’n vierwiel-motorfiets onder ’n afdak en sleep dit aan die brand met die Volvo. Pa spandeer vyftien minute om my te leer hoe om met die ding te ry, en dan nog ’n uur om vir my te wys en te vertel hoe maklik dit is om die voertuig te laat omslaan. Hy laat my oor en oor oefen, op die pad en in die veld.
Die aand kook Melinda Swanevelder pasta met ’n sous van geblikte tamaties en frikkadelle. Dit is lekkerder as enigiets wat Pa nog kon optower. Ons skuif al die viersitplek-tafeltjies van die gastehuis se eetkamer teen mekaar. Ons eet saam, as ’n gemeenskap.
Die oggend van 6 April gaan sit Pa met my in die tuin, langs die leë swembad. Hy praat ernstig. Hy sê die Rolfontein-natuurreservaat is hier agter, hoog in die heuwels. Dit is twee derdes omring deur water, een derde kranse, uitstekend omhein, en bykans onbereikbaar deur enige ander pad as die een wat hier deur Vanderkloof loop. Daar is gemsbok en koedoe, springbok en rooibok. Dit gaan ons wildboerdery wees, maar binnekort ook ons veekamp. Want die honde is besig om skaap en bees uit te wis. Ons twee, ek en hy, sal binne die volgende week ’n bakkie of iets moet vat en gaan skape vang en aanry terwyl daar nog oor is. Beeste ook. Maar daarvoor gaan ons hulp nodig hê. Miskien kom Hennie Flaai. Dalk iemand anders …
Maar vir die afsienbare toekoms sal ons die reservaat moet gebruik as ’n bron van vars vleis vir die kinders en vroue. “Vat die vierwiel en gaan skiet vir ons. Vat een van die radio’s …”
Ek is gretig en opgewonde. Ek is dertien jaar oud en kan met ’n vierwielmotorfiets gaan jag. Ek spring op voor hy klaar gepraat het.
Pa roep my terug. “Ek kan sien jy wil graag met die ding gaan ry, Nico, maar wees versigtig. Dis ’n sterk voertuig, met daardie verhouding van krag teenoor gewig. Jy gaan baie lus raak om iets met daardie krag te doen. Maar dink twee keer. As jy daar bo in die berg lê en bloei onder ’n bos, en ek kry jou nie … Bly op die paadjies, sodat ek jou kan kom soek as iets gebeur. En onthou, daar is witrenosters ook, van die laaste oorlewendes. Moenie kanse vat nie.”
Hy praat my kop terug aarde toe. Hy sê ons het nou ’n klomp ander mense vir wie ons verantwoordelik gaan wees. Hy sal op my moet staatmaak. “Maar ek weet jy gaan dit met gemak hanteer.”
Pa weet daardie tyd nog hoe om met my te werk.
* * *
Op die oggend van 7 April is ek besig om ’n raamwerk te bou van stewige stokke, sodat ek die springbokvel daaroor kan span soos Pa verduidelik het. Dit is volgens hom deel van die jagter se verantwoordelikheid – die verwerking van die hele dier. In dié nuwe wêreld sal ons alles moet benut, die velle ook. Ek hou nie van dié deel van jag nie. Ek werk in die erf langs die gastehuis, want die vroue wil nie hê die kinders moet die bebloede vel sien nie.
Ek is seker klank trek verder in die oggend, hier voor tien. Die lug is skoon, en stiller.
Ek hoor die geluid. Dit is hoog en baie ver, maar intens, deurdringend. Ek los my handewerk en staan op, draai my kop om beter te hoor.
Dit is ’n mensgemaakte klank. Die toonhoogte is nie konstant nie. Dit styg en val, van ekstatiese crescendo na ’n laer, dierlike gegrom, op en af teen die toonlere. Dit galm oor die vlaktes heen, dertig, veertig kilometer weg. Dit verdwyn heeltemal vir ’n oomblik. En dan kom dit weer aan.
Dit is die geluid van ’n enjin. Dit is onvanpas, koddig, eienaardig op dié sonnige, rustige, perfekte windstil oggend – amper ’n jaar ná Die Koors – in die verlate heuwels op die randjie van die Groot Karoo. En omdat dit die enigste meganiese musiek in die lug is, kan ek dit nie uitken of plaas nie.
Dit klink op uit die suide, hierdie kant van die rivier. Petrusville se rigting.
Dit neem ’n hele paar minute voor ek besef die geluid kom nader. Ek voel ’n opgewondenheid. Iemand het ’n pamflet gelees. Iemand kom na ons toe.
Ek begin instinktief afstap in wat nog destyds bekend gestaan het as Madeliefiestraat, na Protea toe, want as hy Vanderkloof toe kom, sal hy in Proteastraat moet opry.
Ek hoor voetstappe agter my. Dit is Pa. Hy was besig om ’n Tata Super Ace aan die gang te probeer kry, want die Volvo-perd is te groot om hier op die dorp mee rond te ry. Ons loop saam tot op die hoek. Ons staan langs mekaar en luister hoe die volume van die klank groei en groei.
“Dis ’n motorfiets,” sê Pa.
Ek luister.
“Net een,” sê Pa.
“Jinne, dit moet ’n vinnige ding wees,” sê ek.
Ons wag daar op die straathoek sonder om verder te praat, ons luister net na die naderende ryer. Ons kan hoor hoe hy die ratte aftrap wanneer hy die verkeersirkel onder die berg, buite die dorp nader – so een-en-’n-half kilometer van ons af. Hoe die klank ’n oomblik lank wegraak. Dalk talm hy om ’n padwyser te lees? Dan klim die toere weer, hoër en hoër deur die ratte teen die bult uit. Dit sing ’n enkele noot deur die twee wye draaie soos die pad ’n U maak, sak vir die onsekerheid van die eerste vurk, en dan kom hy aan en ons sien hom, ’n swart gevaarte: swart motorfiets, swart valhelm, swart rugsak, swart leerpak, stewels en handskoene.
Hy sien ons twee laat. Hy rem en hou reg oorkant ons stil, aan die ander kant van die pad. Daar is dun, heldergroen kontoerstrepe deur die swart van die fiets. Op die tenk staan Kawasaki in silwer letters. Op die stert: Ninja. Op die ryer se regterheup is ’n groot pistool in ’n holster toegeknip.
Die valhelm se sigskerm is donker, die man is onsigbaar daaragter. Hy beweeg stadig, lakonies, gemaklik, strek sy hand om die sleutel af te draai. Die enjin is stil, net die tik-tik van die metaal wat begin afkoel. Hy skop die systaander van die motorfiets uit, swaai sy gestewelde voet af. Gaan staan langs die motorfiets. Ek sien hy het nog ’n pistool, op die linkerheup.
Hy trek die handskoene af, eers die linker, dan die regter. Plaas die handskoene op die tenk. Maak die valhelm se band onder sy ken los. Hy plaas al twee sy hande op die valhelm se flanke en lig dit van sy kop af, ’n vloeiende, geoefende beweging. Hy skud sy lang swart hare uit terwyl hy die valhelm op die tenk neersit en omstap, na ons toe. Sy tred is soos dié van ’n roofdier aan die bopunt van die voedselketting, argeloos en vol selfvertroue. Hy haal sy donkerbril af, sy oë is hipnoties, lig – ’n grys wat soos ’n verkleurmannetjie sy omgewing weerspieël, nou vaagweg groen, dan ’n vermoede van blou, in sterk kontras met sy donker gelaat. Hy loop tot by Pa. Hy steek sy hand uit.
“Domingo.” Sy stem is diep. “Tempest-tost,” sê hy en sy oë trek skrefies,