* * *
Ek sien dit so ’n bietjie van ’n afstand af, en eers jare later sal ek nadink daaroor, sal ek filosofeer oor die belangrikheid en veelseggendheid van dié toneel.
Daardie dag weet ek dit is ’n stukkie geskiedenis, soveel soos ’n opgewonde dertienjarige, uitgehonger vir ander se geselskap en vir maats van sy portuur, daarvan kan snap. Die werklike gewig van die oomblik en van die mense wat daarby betrokke is, sal eers veel later kom.
Die luukse bus staan al in die middel van die pad wanneer ek met die vierwiel stilhou. En twee mans klim uit en loop na Pa en Hennie Flaai en Domingo, Melinda Swanevelder en Beryl en al sestien kinders wat staan en wag in die middel van Proteastraat. Die eerste man uit die bus is bejaard, sy hare spierwit, hy’s in ’n wit toga met ’n goue oorhangsel en ’n vreemde hoed. Hy het ’n herderstaf in sy regterhand, van hout en silwer. Met sy linkerhand steun hy op die arm van die ander een – ’n jonger, indrukwekkende man met ’n breë bors, wat langer is as almal.
Dit is wat ek sien, wat ek vaslê om eendag oor te vertel, om vir ander te sê ek was by, ek was dáár, ek was deel daarvan.
Ek hardloop en gaan neem my plek in tussen Pa en Domingo.
“Die een met die rok, dis die biskop, nè, oom Hennie?” fluister ek vir Hennie Flaai.
“Dis ’n toga,” sê Pa met ’n lag in sy stem.
“Ja, Nico, dis die biskop,” sê Hennie Flaai ootmoedig. Hy het ons vertel van die Anglikaanse kerkman wat deel is van die groep, wat hulle leier geword het.
Die gryse biskop skuifel oor die pad na Pa toe. Hy sprei sy arms wyd, hy glimlag en hy sê in Engels met ’n vae Skotse aksent: “Jy moet die skrywer van die pamflet wees.”
“Ek is,” sê Pa. Hy loop nader en skud sy hand.
Die breëborsman langs hom roep uit: “Halleluja!”
“Amen,” sê die biskop. “Ek is vader James Rankin. Dit is my kollega, pastoor Nkosi Sebego.”
Pa skud die forse Sebego se hand. “Julle is almal welkom,” sê hy.
“Prys die Heer,” sê Sebego. Hy draai om en wys vir die ander mense in die bus om uit te klim. Daar is ’n goedgunstige glimlag op sy gesig en ’n intensiteit in sy oë. Maar dan kyk hy terug, en fokus op Domingo.
Met mense wat uit die busse en bakkies en motors klim, wat uitroep, gesels, aangestap kom, dink ek dit is dalk net ek wat sien hoe pastoor Nkosi Sebego se glimlag omkeer na ’n frons van meting, agterdog en eindelik, ’n onpeilbare afkeer.
Domingo se gesig is strak en onleesbaar agter die donkerbril.
22
Die 256
Tweehonderd-ses-en-vyftig mense kom daardie dag aan.
Syferkoppe in die gemeenskap sal later uitwys dat 256 ’n perfekte vierkantsgetal is – sestien tot die mag twee. Bygelowiges sal hierdie beginsel verleng tot ’n gelukkige getal, ’n goeie voorbode. Ek vermoed hulle sal oor ’n honderd jaar praat van die nasate van die 256, soos die afstammelinge van die Mayflower in wat destyds die VSA was. Dit sal dalk status dra.
Maar in die eerste week is dit ’n ongelukkige getal, omdat niemand vir hulle voorberei het nie.
’n Beter getal in hierdie tyd is dertien. Want as jy dertien jaar oud is, en jy is die seun van die Skrywer van die Pamflet, word jy oral toegelaat waar grootmense vergader, maar jy is terselfdertyd onsigbaar as jy doodstil sit en tjoepstil bly.
Die eerste noodvergadering is in die laatmiddag van Aankomsdag. Dit handel oor akkommodasie.
Die probleem is dat die 256 nie in netjiese gesinsgroepe aangeland het nie. Onder hulle almal is daar net drie mense wat verwant is – die bejaarde mevrou Nandi Mahlangu, haar dogter Qedani, en haar kleinseun Jacob. Drie geslagte van genetiese weerstand teen Die Koors, die enigste een aangeteken. (In die daaropvolgende maande en jare is daar broer-en-suster-kombinasies wat by ons aansluit, daar is ek en Pa, mettertyd nog vier ander gevalle van ouer en kind.)
Wanneer die opwinding van die aankoms wegsyfer en die 256 in die middag begin dink aan slaapplek en blyplek, word dit ’n skielike stormloop na die beste, grootste of naaste-aan-dié-wat-ek-ken-verblyf, sonder organisasie of nadenke. Sommige mense wil akkommodasie deel, daar is verskeie enkelinge wat stoksielalleen in groot huise intrek, daar is ’n rusie oor wie die twee luuksste oewerhuise met ’n uitsig oor die dam gaan opeis. En ses tieners wat saam in die ou munisipale bus gereis het, se nuwe vriendskapsbande dikteer dat hulle móét saambly, sonder toesig, in die verste, afgesonderdste huis bo teen die heuwel.
Die Komitee, soos hulle later bekend staan, vorm op ’n natuurlike manier wanneer dit alles besleg moet word: Die eerste drie lede is Pa, vader James en pastoor Nkosi.
Die biskop en pastoor roep al 256 mense bymekaar om die chaos van die verblyfreëlings te bespreek. Pa en die biskop staan op die bak van die Tata Super Ace voor die Midas-vulstasie om hulle toe te spreek, en om almal te kan sien en hoor. Pa doen ’n beroep op orde. Pillay kom vanuit die groep na vore. Hy is ’n tenger figuur, grys langs die slape, iewers tussen vyftig en sestig. Hy vra Pa of hy net ’n oomblik kan kry om iets te sê. Pa knik, en help Pillay om op die Tata se dak te klim.
Hy hou sy hand in die lug vir stilte. Sy stem is verrassend diep en gesaghebbend toe hy praat. Dit dra oor die groep, dit gebied aandag. Hy praat Engels met die kenmerkende aksent van die Suid-Afrikaanse Indiër. Hy sê vir die mense hy het vyftien jaar lank ’n restaurant op Bedfordview bedryf. Sy aanvanklike bemarkingsaanslag was om op Sondae ’n buffet te bied: Eet soveel as wat jy wil, teen ’n vaste prys. “Dit het gewerk. Die mense het gekom, hulle het vir ander gaan vertel van die lekker kos en die goeie diens. Ek het ’n stewige wins gemaak. Maar twee jaar later, toe hou ek op met die buffet. Baie kliënte was kwaad vir my. ‘Ravi, ons ondersteun jou dan. Ravi, die plek is propvol, hoekom vat jy ons geliefde buffet weg?’ Toe sê ek vir hulle ek kan nie meer die vermorsing verdra nie. Elke Sondag sien ek hoe mense hulle borde só skep, tot oorlopens toe vol. Maar hulle eet nie eens die helfte nie. Ryk mense. Swart en wit en Indiër, almal. Elke Sondag mors ons so baie kos, in ’n land waar baie armes broodtekort het. Dis nou maar hoe ons is, ons mense. As ons iets verniet kry, vat ons meer as wat ons nodig het. Meer as wat ons gaan gebruik. Kom, laat ons nou nie hier, by hierdie nuwe begin, ook só maak nie. Laat ons vat wat ons nodig het en wat sin maak en wat die beste is vir ons bestaan en ons toekoms en die goeie orde hier, ook wat die huise en die blyplek betref. Ons is maar die eerste aankomelinge, ons gaan nie die enigstes wees nie.”
Van daardie oomblik af was Ravi Pillay ook ’n lid van die Komitee. Later sou hy vir ons sê hy was eens burgemeester van Lenasia gewees.
* * *
Die tweede krisis is kos.
Die tweehonderd-ses-en-vyftig het nie proviand saamgebring nie. Van hulle beskik oor twee of selfs drie dae se voorraad, maar die meeste het aangeneem dit sal by Vanderkloof voorsien word.
Op die aand van Aankomsdag hou Pa, Pillay, vader James en pastoor Nkosi die tweede noodvergadering in die eetkamer van die Orphanage. Ek sit aan die tafel en luister, Domingo sit eenkant, besig om ’n pistool skoon te maak en te olie. Pastoor Nkosi kyk nou en dan na Domingo met ’n afkeer, of ’n ongemak, dit is moeilik om te sê wat hy regtig dink.
Beryl Fortuin bring vir hulle koffie terwyl hulle moontlikhede oorweeg van spanne en groepe en skofte – vir kos soek, en kos maak. Beryl sit die skinkbord hard neer en sy gaan sit, en sy sê: “A new beginning for good people, right?”
Sy het almal se aandag.
Sy is kwaai: “Dis wat Willem se pamflet gesê het. Dis hoekom dié mense al die pad gekom het. Sover ek weet, het dit nie gesê ‘A new beginning for good people ruled by middle-aged men’ nie.”
Ek sien hoe Pa om die tafel kyk en knik. Biskop James spring hom voor. “Jy’s heeltemal reg.