Die bestuurder se deur gaan oop. ’n Vrou sit regop, sy moes platgelê het, sy klim uit. Sy het ’n haelgeweer in haar hande, ’n dubbelloop. Sy rig dit op Pa. “Laat ek die kind sien,” sê sy.
Ek wurm langs Pa in en hang by sy venster uit. “Hallo, tannie, ons is goeie mense.”
Die vrou is bruin en lank, haar hare baie kort. Haar ken is sterk en prominent, soos iemand wat ’n baie sterk wil het. Sy is nie oortuig nie. “En die vrou?”
Pa kyk na agter. Melinda Swanevelder lê steeds met haar kop onder die kombers. “Dit gaan nie so maklik wees nie.”
Die gordyne by die kamper-venster trek nog verder weg. Ons kan nog kinders daar binne sien. ’n Paar is effens ouer, so ses of sewe.
“Hoeveel kinders het jy daar agterin?” vra Pa.
“Laat ek eers die vrou sien.”
Pa sê Melinda se naam. Sy kom stadig onder die kombers uit. Ek maak plek sodat sy haar gesig kan wys.
“Is hulle goeie mense?” vra die vrou vir haar.
Ek dink, nou moet tannie Melinda asseblief tog praat.
“Baie goeie mense,” sê sy amper onhoorbaar sag.
Die vrou staan nog vir ’n rukkie só met die haelgeweer op Pa gemik, en dan laat sy dit sak en sy sê: “My naam is Beryl Fortuin. Het julle regtig kos?”
Die kinders begin uitklim agter haar, ’n proses wat verstommend lank aanhou: swart en bruin en wit, tot ’n groot groep van hulle in die pad staan.
“Hoeveel is daar?” vra Pa.
“Hier is sestien kinders,” sê Beryl.
* * *
Ons staan agter die Volvo se sleepwa, die deure oop, blikkieskos en blikkies vrugtesap, beskuit en biltong op ’n kampeertafeltjie. Ons sit ons eie lepels by al dié wat in die kamper is, en steeds is daar te min. Die sestien kinders moet beurte maak daarmee. Hulle is almal veel jonger as ek. Elf dogtertjies, die oudste een is ses; vyf seuntjies, tussen drie en vier. Sommige is luidrugtig en besig, ander klou verskrik aan Beryl se bene. ’n Seuntjie van drie loop skaam-skaam tot by Melinda Swanevelder en kyk vol hoop op na haar.
“As jy hom optel, gaan nog twee dieselfde wil hê,” sê Beryl Fortuin. Ek sien sy het gespierde arms vir ’n vrou.
Melinda knik en tel die seuntjie op. Hy omhels haar, druk haar styf. Sy maak haar oë toe.
Beryl Fortuin sê dit is onmoontlik om hulle stil te hou, om hulle gehoorsaam te hou, sy het vir ons sien kom in die groot vragmotor, toe stop sy en sy gaan lê agter die kamper se bestuursitplek. Toe sê sy hulle moet doodstil wees, hulle mag nie beweeg nie. Toe loer die twee deur die venster. Hoe maak mens? En dit nadat hulle beroof is by die brug oor die Sondagsrivier. Vyf mans, of ses, sy kan nie en sy wil nie regtig onthou nie. Mans wat drie kinders, daardie drie – en sy wys hulle uit, twee swart kinders en ’n wit blondekoppie – as lokaas gebruik het, wat hulle langs die pad laat staan en huil het.
En toe hou sy stil, en die mans kom uit die bosse uit, en hulle vat die kos en die water wat sy gehad het. Kos en water vir die kinders. Hulle sou ander dinge ook met haar gedoen het, as dit nie vir die kinders en die olifante was nie. Die kinders, wat begin huil en skree het toe van die mans vir Beryl aan die hare gegryp het …
Dit is toe dat Melinda Swanevelder weer begin huil. Vir die tweede keer.
Sy staan met die seuntjie teen haar bors, sy armpies om haar nek, die een oomblik nog met haar oë toe, maar dan vertel Beryl van die mans wat haar aan haar hare gryp, en Melinda druk haar gesig teen die kind en sak op haar knieë en huil.
Die seuntjie en van die ander kinders kom troos haar met bekommerde gesigte. Sommige huil saam.
Beryl kyk vraend na Pa terwyl sy kinders probeer paai.
Pa sê net: “Laat haar huil. Sy het nodig om baie slegte goed uit haar uit te kry.” Hy gaan staan by Melinda en hy tik-tik haar skouer paaiend en ongemaklik met die palm van sy hand.
* * *
Eers heelwat later, toe almal bedaar het, sê Beryl, ja, die kinders en die olifante het haar gered. Die kinders se skril geskree, en die olifante wat op daardie oomblik uit die bosse oorkant die rivier kom en luid deur die water plas, op pad na hulle toe. Asof die kinders se vrees-gille die olifante geroep het. Toe klim die mans, die vyf of ses van hulle, in hulle bakkies en hulle ry, Port Elizabeth se kant toe. Die olifante moes uit die Addo-park gekom het. Daar was baie reën daar, die drade moes weggespoel het. Toe los hulle die laaste drie kinders ook by haar. Dalk is dit wat die gode vir haar bestem het, dat sy die kinders moet beskerm. Sy, wat op rekord is dat sy nie tyd vir kinders gaan hê in die lewe wat sy beplan het nie.
“Waarheen is julle op pad?” vra Pa.
Sy trek haar skouers op. “Na die volgende dorp toe. Iewers waar dit veilig is, waar ek die kinders kan kosgee. Waar ek hulp kan kry.” Sy staan nader, sy praat sodat die kinders nie moet hoor nie. “Niemand wil hulle hê nie. Almal is te besig om te oorleef.” En dan, nog sagter, met ’n stem wat swaar dra aan die skuld: “Hulle is te veel vir my.”
“Kom saam met ons Vanderkloof toe,” sê Pa.
19
Ek en Pa ry eers voor. Dit is twee uur voor sononder, ons soek ’n veilige plek vir almal om te slaap. Melinda Swanevelder ry nou in die kamper saam met die kinders, voor in die passasiersitplek.
Op pad Jansenville toe sien ons die advertensiebord van die Koedoeskop Game Ranch. Ons draai af, ry in. Blouwildebeeste maak ’n stofwolk soos hulle weghardloop. Verder aan lig springbokke hulle koppe, draf lui-lui teen ’n koppie uit, asof hulle minstens die skadelose teenwoordigheid van toeriste onthou. Twee vlakvarke staan op die oord se stoep, baie traag om die vergroeide tuin af te staan.
Pa sê: “Bring die Tikka.” Hy vat sy .300 CZ. Ons spring uit. Hy draf na die vroue in die ander voertuig. “Wag net ’n rukkie, ons kyk net gou die plek deur,” sê hy.
Ons loop langs mekaar. Ons is die manne, wat manne se werk moet gaan doen: alles beveilig. Ek hou daarvan. Ek na-aap vir Pa, hou my geweer voor my, oorgehaal, vinger op die sneller. Ek dink nie daaraan dat ék sal moet skiet as daar mense-gevaar is nie.
Die geboue was ’n mooi ou plaasopstal wat in ’n gastehuis omskep is. Ons maak die deur oop. Duiwe fladder skielik op in die ontvangsarea en ons skrik. Hulle vlieg uit by ’n gebreekte dakvenster. Binne sien ons dit was ’n luukse wildplaas. “Seker vir internasionale toeriste,” sê Pa. Daar is die jagtrofee-koppe van koedoes en buffels en blouwildebeeste teen die mure, nou bemors met duiwemis.
Alles is stil, alles is veilig.
Ons sien buite die agterdeur, na die lapa se kant toe, lê ’n mens se skedel en ’n paar ribbes verstrooi oor die werf. Die Koors het iemand hier oorval. Die diere het die karkas gestroop en die beendere versprei. Ons tel dit op en gaan gooi dit in die lang gras.
* * *
Ons dra kosbokse aan na die kombuis toe. Pa gaan staan en kyk na die veld. Hy sit sy boks neer en sê: “Kom, Nico. Hier is baie monde om kos te gee. Ons kyk of ons ’n springbokkie kan plattrek, dan braai ons vanaand.”
Dit is ’n eerste vir ons twee.
Ons kry die gewere en loop in stilte in die rigting waarheen die bokke weggedraf het. Die son sit laag, die lig is sag en die kleur van heuning. Die veld is ruig en mooi en groen in die laatsomer, die veld se geluide dik aan voëlgesang en insekte.
Pa gaan staan. Hy kyk na die ry koppies, die wolke, die skakerings en teksture. “Hel, Nico, dis mooi.”
Ek sien daar is iets anders aan Pa. Asof die mense, Beryl en die kinders, vir hom ’n doelwit gegee het, en ’n genoegdoening. Ek verstaan dit nie.
Pa hou sy kop skeef soos hy luister, en hy sê: “Ek