Pa en oom Hennie, al twee uitgehonger vir volwasse geselskap, staan in die middel van die breë N1 anderkant Trompsburg, by ’n groot Volvo-vragmotor en ’n Cessna 172, en hulle kan nie ophou met praat nie.
Ek bring die pamflet. Hy gee dit vir oom Hennie aan asof hy trots is daarop. Oom Hennie lees hardop: “A New Beginning for Good People,” met ’n swaar Afrikaanse aksent.
“Ja, dis in Engels,” sê Pa. “Ons wil almal bereik.”
“We are starting a sanctuary, a community that will have Justice, Wisdom, Moderation, and Courage …”
“Dis Plato,” sê Pa. “Uit Die Republiek.”
“Ek sien,” sê oom Hennie met ’n stemtoon wat wys hy weet nie waarvan Pa praat nie, en hy skiet sy sigaretstompie oor die pad. Hy lees voort: “… in a very safe place with more than enough water, shelter, and soon, food and electricity …” Hy kyk agterdogtig op na Pa. “Elektrisiteit?”
Pa verduidelik van die hidrokrag. “Ons kort nog net iemand om dit na die dorp toe aan te lê. As jy ’n ingenieur iewers raakloop …”
Oom Hennie knik, en lees verder: “If you want to be a part of this orderly, open, democratic and free new society, come to Vanderkloof (on the R48 between Colesberg and Kimberley). GPS coordinates are -29.99952512 Latitude and 24.72381949 Longitude.”
Hy kyk op na Pa. “Dis maar ’n risiko ook. Hoe weet jy daar kom nie ’n klomp skarminkels aan nie?”
“Wat is ’n skarminkel, Pa?”
“Lieplapper,” sê oom Hennie. En as hy sien ek verstaan nog steeds nie: “’n Maaifoedie, ’n skurk. ’n Gemors.”
“Ons sal moet risiko’s loop as ons iets wil herbou,” sê Pa. “As die meerderheid goeie mense is, behoort dit nie ’n probleem te wees nie.”
Oom Hennie lees die laaste reëls van die pamflet: “Send these, the homeless, tempest-tost to me, I lift my lamp beside the golden door!”
“Dis Emma Lazarus,” sê Pa.
“Is dit sy daai?” vra oom Hennie en wys na tannie Melinda Swanevelder bo in die Volvo.
Pa sê nee, Emma Lazarus was ’n Amerikaanse digter, sy het die gedig geskryf wat op die Vryheidstandbeeld aangebring is. Die vrou in die kajuit is Melinda Swanevelder, wat ons in Vanderkloof gekry het.
Oom Hennie hoor skaars. Hy staan en staar na tannie Melinda. “Mooi vrou,” sê hy en lig sy hand om haar te groet. “Sjoe, baie mooi vrou.”
Sy groet terug, met ’n klein beweging van ’n huiwerige hand.
“Waarheen is jy op pad?” vra Pa.
“Wel, dit klink my ek moet maar Vanderkloof toe,” en oom Hennie kyk teësinnig weer na Pa.
“Jy’s nie lus om ’n draai te vlieg soontoe nie? Ons gaan seker nog ’n week of twee op die pad wees.”
“Ek kan …”
“Jy sê as jy oor die dorpe vlieg, kom die mense uit?”
“As daar mense is. Die meeste van die dorpe is heeltemal godverlate.”
“Ja, ek skat die bevolkingsdigtheid is nou minder as een-en-’n-half per vierkante kilometer … Jy sien nie dalk kans om van ons pamflette uit te gooi waar daar mense is nie?”
16
Die Koors
Só het ek dit uit wat ek ervaar het, uit Pa se vertellinge, uit Nero Dlamini se nugtere oordeel, en uit elkeen van die oorlewendes se stories wat Pa opgeneem of neergeskryf het as deel van die Amanzi-geskiedenisprojek:
Die Koors was ’n virus-tsoenami. Té vinnig, té dodelik.
Ondanks die protokolle en stelsels en entstof, ondanks die frenetiese geskarrel van viroloë en epidemioloë, sentrums vir siektebeheer, en regerings en militêre ingryping – en soms danksy sekere van dié pogings – het Die Koors vyf-en-negentig persent van die wêreldbevolking uitgewis. Binne net ’n paar maande.
Vyf persent van die wêreldbevolking, min of meer, het die genetiese gelukskoot van natuurlike weerstand teen die virus gehad. Maar nie ’n volle vyf persent het die afloop van Die Koors oorleef nie. Die katastrofe het stelsels in duie laat stort, wat ander ellendes losgelaat het: nywerheidsontploffings, brande, chemiese besoedeling, radioaktiewe bestraling, hepatitis en cholera. En die menslike element. In Domingo se woorde: “Where the corona-virus stopped, da’ het Darwin begin.” Gierigheid en vrees, misdadigheid en misverstand, onkunde en stommiteit. Chaos. Sommige van die oorlewendes was net te klein om alleen die mas op te kom, vyf jaar en jonger. Ander was oorweldig deur die stres en trauma van verskriklike verlies en die post-Koors-wandade. Duisende het hul eie lewe geneem. Veral in die groot stede.
Daar tussen die Cessna en die Volvo vra Hennie Flaai vir my pa: “Nou hoe weet jy daar is nou minder as een-en-’n-half mense per vierkante kilometer?”
Pa verduidelik. In wat Suid-Afrika was, sê hy, het daar omtrent drie-en-vyftig-miljoen mense voor Die Koors geleef.
Vyf-en-negentig persent, of vyftigmiljoen, is deur die virus en sy nasate uitgewis. En nog ’n miljoen – so min of meer – is in die afloop dood aan ander oorsake.
Hennie Flaai knik. Dit maak sin.
“Tweemiljoen oor. Dit klink na baie mense, maar as jy dit deel deur die grootte van die land, is dit minder as een-en-’n-half per vierkante kilometer.”
“Okay,” sê Hennie Flaai.
“Kom ek probeer dit vir jou in perspektief stel,” sê Pa. “Suid-Afrika is een punt twee miljoen vierkante kilometer groot. Voor Die Koors was die bevolkingsdigtheid vyf-en-veertig mense per vierkante kilometer. Dis nie vreeslik erg nie. Monaco het byvoorbeeld destyds vyftienduisend mense per vierkante kilometer gehad. Bangladesj meer as ’n duisend, en Duitsland tweehonderd-twee-en-dertig.”
17
Hennie Flaai
Soos opgeteken deur Willem Storm. Amanzi-geskiedenisprojek.
My naam is Hennie Laas. Almal noem my Hennie Flaai.
Ja, kyk, toe Die Koors kom, was ek ’n plaasbestuurder by die Nel-boerdery anderkant Heidelberg.
Ek was geskei, my eksvrou is toe weer getroud met ’n Badenhorst van Centurion. Ons het twee kinders gehad, twee meisiekinders, hulle het by haar en dié Badenhorst gebly. Hulle is almal dood in Die Koors. Ek het gaan kyk, ek is na die huis toe in Centurion. Daar was niemand nie. Ek meen, waar gaan soek ’n mens, as hulle nie by die huis is nie? Jy weet hoe dit was, daardie tyd … Ek loop nou dinge vooruit, seker?
Nietemin, ek kom maar van Heidelberg af, ek is daar gebore. My pa het uit armoede gekom, maar hy het homself ryk gewerk. Hy het daardie jare aan die goudmyne voorsien, hy het sy geld gemaak uit stutte wat hulle ondergronds gebruik het. Bloekomstutte. Hy’t altyd Jaguars gery, hy was baie lief vir Jaguar-karre. Ek dink, as jou pa ryk is, dan is jy maar ’n slapgat, want jy dink alles gaan joune word. So ek is universiteit toe vir BCom, maar dit het nie gehou nie. Ek het te veel gekuier. Toe skop ek op voor die eerste jaar verby is, en ek smeek by my pa om my te laat vlieg, ek het gevrek oor vlieg. Toe kry ek my vlieglisensie, en ek gaan werk vir Lowveld Air, hulle het so mense aangevlieg Wildtuin toe, ek was ’n co-pilot in die Beechcraft King Airs, hel, dit was genuine koninklike vliegtuie daai. En ek dra ’n pilot-uniform en die girls like dit, en ek gee toe vir myself die bynaam “Hennie Flaai”, ek sê vir almal nee, mense noem my maar só. Gelieg. Groot kop gehad, al het die kaptein my nie aan ’n stuurstok laat vat nie. Toe ontmoet ek vir Doreen, en sy raak swanger met die derde date, en ons trou. Maar toe speel Lowveld Air bankrot. Toe kry ek nie werk nie, en my pa sê ek moet maar by hom kom werk. Toe fire hy my na ’n jaar. Slapgat. Te veel gekuier. Toe