Amraal. Marinda van Zyl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marinda van Zyl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624075622
Скачать книгу

      ’n Paar skrape met die staalring op die vuursteen gee vonke wat tussen die droë blare val, smeul en toe vlam.

      “Ek gaan ’n dassie met die slingervel klits, dan braai ons hom,” lag Aalwyn ingenome. Sy glimlag verstar toe die perd runnik en op sy agterbene steier.

      Die perdekopbos brand.

      Hulle skop en slaan om die vlamme dood te kry en versprei so al meer vonke. Die perd ruk die bos met wortel en tak uit en vlug die kloof in. Dan is dit vlamme oral.

      Skreeuend hardloop hulle huis toe. “Die kloof brand, die Bossiesmans het die kloof brandgesteek.”

      Nôi Elsie kom eerste op die stoep uit: “Wat lawaai julle so?”

      “Die kloof brand. Dis die Bossiesmans,” huil-praat Lammert.

      Nôi Elsie storm die trappe af, kry vir Aalwyn aan die skouers beet: “Waar’s jou pa?”

      “Die kloof,” toe bars hy in trane uit en wys na waar rook die lug in borrel.

      Nôi Elsie druk vir Aalwyn teen haar vas en kyk na die boom waar net die afgesnyde riem nou lê. “Ek het gedink as ek die kind laat gaan, sal alles verby wees.”

      Van die buurplase kom mense te perd aangejaag om te help vuurslaan. Lammert hardloop terug in die hoop dat sy pa-hulle veilig uitgekom het, maar daar is geen teken van hulle nie.

      “Al wat ons kan doen, is by die bek keer dat die vlamme versprei,” sê die veldwagmeester, “bring water uit die vlei, maak takke nat en slaan.”

      Lammert hardloop matjieshuis toe, bang dat iemand hom sal vra wat gebeur het.

      Ná twee dae kan die veldwagmeester en sy pandoere waag om die kloof in te gaan. Hulle kom uit met iets wat soos verkoolde stompe lyk. Watter een sy pa en watter een baas Hans is, kan niemand sê nie. Sy ma en nôi Elsie besluit saam: dié een word in die begraafplaas begrawe en daardie een toegerol in ’n beesvel in die veld.

      4

      Die brand het ’n einde aan Lammert en Aalwyn se kindwees gemaak. Met net Ben om al die manswerk te doen, moes hulle hul plek op die plaas vol staan. Sonder Voorslag sou hulle nie die wa oor die Olifantsrivierberg kry om koring of meel by die boere in die Swartland te gaan koop nie. “Ons moet nou self saai om vir ons mae te sorg,” het Elsie besluit. Lammert en Aalwyn het sonder teëstribbeling aan die werk gespring om ’n stuk heiveld oorkant die rivier vir ’n koringland skoon te maak.

      Hulle werk meestal in stilte. Lammert se trane lê nog te vlak om praatjies te maak. Ook saans om die vuur is dit stil. Sy ma en Ouma se stories is saam met sy pa begrawe. Dit het nie gehelp dat die vrouens die matjieshuise nader na die rivier geskuif het nie, want die stilte uit die swartgebrande kloof het hulle daarheen agtervolg.

      Lammert weet ook nou dat krom staan van sonop tot saans nie gedagtes hokslaan nie. Die reuk van kina-, harpuis- en tolletjiesbos wat voor sy graaf en pik swig, verdring nie die verstikkende reuk van onsigbare rook nie, en taai melkbossap voel soos bloed wat aan sy hande bly klou.

      Lammert kyk op toe Aalwyn praat.

      “Nou wat de joos?” Aalwyn beduie suidwaarts waar ’n man die rivier oorsteek deur van een klip na die ander te spring en dan agter ’n bos gaan skuil om die plaasopstal te bespied. “Kom,” sê hy en gryp die byl. “Die vroumense is alleen op die werf. Oompie Ben is mos by die skaap.”

      Lammert draf pik in die hand agterna. “Miskien moet ons net skree sodat nôi Elsie kan hoor daar’s fout en die geweer kry.”

      Die man hoor hulle en kom glimlaggend nader. “Ik ben Meester Goedemoed en jij bent zeker de jongeheer die een leermeester benodigd,” sê hy vir Aalwyn.

      “Gits, Oom, ek verstaan nie so mooi nie. My ma sal seker weet.” Dan beveel hy oor sy skouer: “Lammert, gaan jy solank aan met die werk.”

      Lammert vat die byl by Aalwyn, maar volg hulle. Aalwyn moenie maak asof hy skielik baas is nie. Hy vertrou die vreemde man glad nie. Hy is vuil en sy skoene flenters, met niks anders by hom as die bondeltjie wat hy aan ’n stok oor sy skouer dra nie. So ’n armoedige Duusman het hy nog nie gesien nie.

      Toe Aalwyn na sy ma roep, kom sy geweer in die hand met Aletta op haar hakke uit die boord. Sy hou die geweer op die vreemdeling se bors gerig.

      Meester Goedemoed verduidelik in sy vreemde Hollands dat hy ’n reisende onderwyser is wat graag die jongeheer en die juffrou wil onderrig. Nôi Elsie maak hom stil: “Wat ek nodig het, is ’n mansmens wat kan plaaswerk doen, nie nog ’n mond …”

      “Maar hier staan hy voor juffrou! Hierdie twee hande ken werk. Bedags kneg, sawens meester. Al wat ek vra, is ’n bord kos en ’n slaapplek,” kan die man skielik verstaanbare Hollands praat.

      “Dan’s jy mos ’n droster,” beskuldig nôi Elsie sonder om die geweer te laat sak.

      “Asseblief tog, Mamma. Laat hy die werk doen. Kyk hoe lyk my hande al,” soebat Aletta.

      “Goed, jy kan bly vir ’n maand. As ek daarna sê jy loop, dan loop jy, of ek skiet jou agterstewe vol lood. Verstaan ons mekaar?”

      As meester Goedemoed ’n maand later wou loop, sou nôi Elsie hom seker op haar knieë gesoebat het om te bly, want oor een ding het hy nie gelieg nie: sy hande staan vir niks verkeerd nie. Voor hanekraai soggens weergalm dit al oor die werf: “Aalwyn! Lambert! Roer julle litte!”

      Dit is vir Lammert lekker om saam met Meester te werk. Nooit ’n geskellery of ’n geslaan nie, al luister hy soms nie oor Meester sy naam so verkeerd sê. “Maar Lambert is hoe jou naam in die boek geskryf is,” stry Meester. “Dis jou ma en juffrou Elsie wat dit verkeerd uitspreek.”

      So tussen die werkery deur word Aalwyn in die kategese onderrig. Hy moet die Bybel van voor tot agter ken om in die gemeenskap van die Heiliges verwelkom te word, sê Meester. “Wat is dit?” wil Aalwyn agterdogtig weet.

      “Moenie vir jou dom hou nie,” raas Meester. “Jy weet goed om as lidmaat van die Kerk aangeneem te word, moet jy katkiseer. Eers dan mag jy trou en jou kinders laat doop.”

      Aalwyn se gesig lyk of sy ma hom pas ’n skeut bitterals ingejaag het. “Vrou vat! Ga sies, dit gaan ek tog nie doen nie!” Lammert beaam dit met woeste kopknikke.

      “En wat weet julle twee nogal van vroumense?”

      “Aletta,” antwoord Lammert en Aalwyn gelyktydig.

      “Ons praat weer,” knipoog Meester, “oor so vier, vyf jaar wanneer julle lywe begin roer. Dan sal julle net by die juffrouens wil lê en daarvan kom babas.” Toe Aalwyn nog wil teëpraat, raas hy: “Basta nou, Aalwyn! Jou moeder se woord is wet en sy het gesê jy sál elke vraag uit die Bybel reg antwoord as jy die dag in die Kaap gekatkiseer word. En jy sál die Bybel vlot kan lees én jou naam kan skryf.”

      So maak Lammert kennis met die Bybel. Hy wonder of al die stories wat Meester vertel rêrig uit die Bybel kom, maar sê liewer niks en hou hom in as Meester vrae vra, al ken hy die antwoorde. Dalk vervies Meester hom as hy antwoord, of sy twyfel uitspreek, en jaag hom eenkant toe waar hy nie kan hoor nie. Hy byt veral swaar aan die storie van Adam se vrou wat uit sy ribbebeen gemaak is.

      So ook Aalwyn. “Dit moet verduiwels seer gewees het. Dan bly ek sonder vrou,” val hy vir Meester in die rede.

      “Wag maar, Aalwyn, die dag as die regte vrou jou pad kruis, sal jy net aan jou hartklop weet dat jou ribbebeen vlees en bloed geword het. En as sy weg is, sit daar vir ewig ’n yslike gat.”

      “’n Slang wat praat?” tart Aalwyn toe Meester verder gaan met die storie. “Nooit gesien nie. Pofadder lê doodstil op ’n klip vir jou en wag en dan’s dit net ‘whoep’ soos hy pik. En die koperkapel staan bakkop …”

      “Ja, ja, ek ken regte slange. Hierdie was die duiwel in die gedaante van ’n slang,” laat Meester hom nie deur Aalwyn van stryk bring nie.

      Met die aanplant van nuwe lemoen- en nartjieboorde