Amraal. Marinda van Zyl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marinda van Zyl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624075622
Скачать книгу
hare kan kry nie, spot hulle: “Rooikop, koekkop.” Vies gaan sit sy eenkant.

      “Maak jy solank die ander emmer vol,” vra Aalwyn mooi toe hy en Lammert die eerste emmer varkhok toe dra. “Ons is nou-nou t’rug.” Ná die emmer in die varktrog leeggemaak is, verander hy van plan. “Ek jeuk nou te erg van die vyemelk, eers swemgat toe.”

      Aletta moet hulle dopgehou het, want sy skree: “Wag vir my,” en kom aangehardloop.

      Lammert hurk gedwee, maar in plaas van opklim, spring sy op sy rug en hy val vooroor. Die nerfaf knie laat haar huilend huis toe hardloop, met Aalwyn en Lammert wat tartend agternaroep: “Tjankbalie, tjankbalie.”

      “Vervloekte klein Hotnot.” Baas Hans se stem laat Lammert omswaai. Die sweep klief die lug en die voorslag tref hom in die gesig. “Vandag moer ek die oorlamsheid uit jou uit.”

      Die tweede hou tref hom oor die blaaie toe hy wegkoes. “Eina, asseblief tog, Oubaas, eina, grootseblief tog, ek het niks gemaak nie,” soebat hy terwyl die houe op hom val.

      “Pappa, nee!” hoor hy vir Aalwyn pleit. “Aletta het geval. Dis haar eie skuld.”

      Die sweepslae hou op. Lammert hoor baas Hans bo hom asemhaal en knyp sy oë styf toe.

      “Vat jy nou ’n Hotnot se kant teen jou suster?”

      “Nee, Pappa, maar sy’t hóm onderstebo gespring.”

      “En toe koggel julle ’n klein dogtertjie wat seergekry het. Maak dat jy wegkom voor jy ook deurloop.”

      Lammert bly lê tot hy nie meer baas Hans se voetstappe hoor nie. Toe hardloop hy soos ’n kolhaas rivier toe om die pie af te was.

      Die aand hoor Lammert sy pa en ma praat. “Hoe kan hy die kind so in die gesig slaan? Ek is sommer lus en trek agter boetie-goed aan.”

      “Ons kan nie, nôi Elsie het voorlaaste jaar al ons name in ’n boek geskryf. Tot Adam s’n.”

      “Om te?”

      “Die veldwagmeester moet weet wie’s wie as hy na wegloopslawe soek. Ek het aan nôi Elsie se gesig gesien dis net ’n manier om ons vas te maak. Hoe kan ’n kind nou vir ’n wegloopslaaf aangesien word? Die veldwagmeester sal ons net hierheen terugbring vir baas Hans om te sê of ons slawe is en jy weet self wat hy dan met ons gaan doen.”

      “Lammert moet wegbly van die werf af. Saam met Bennie skape toe.”

      “Net nie snags nie,” stem sy ma in.

      Lammert glimlag tevrede. Dit sal lekker wees om skaapwagter te speel saam met sy neef. Bennie vertel lekker stories oor die vreeslike groot tiers in Bengale waar sy pa vandaan kom. En hy het ’n geweer, want die rooikatte maai onder die skaaplammers, daarom slaap Bennie by die skaap in die veld. Miskien sal Bennie hom toelaat om ’n tarentaal te skiet.

      Ná twee dae is Lammert uitgekuier met die stories en Bennie weier dat hy aan die geweer raak. Toe Aalwyn daar aankom, laat hy hom ompraat om weg te glip kloof toe. Bennie beloof al kouende aan ’n koesister om sy mond te hou.

      In die kloof daag Aalwyn vir Lammert uit om tot op die rotslys waar die jakkalsvoël se nes is te klim. Terwyl Lammert nog die krans bekyk om die veiligste pad boontoe te soek, klim Aalwyn dit soos ’n bobbejaan uit. “Bangbroek,” terg hy vir Lammert toe hy bo kom, “hier’s twee eiers.”

      Aalwyn se rooikop lyk soos ’n perdekopblom waar hy op die rotslys teen die bruin krans sit en Lammert waarsku: “Pêrekop, pasop, die jakkalsvoël gaan dink jy’s ’n stuk vleis.” Hy koes toe Aalwyn hom met een van die eiers gooi.

      Aalwyn se benoude kreet laat Lammert opkyk. Die jakkalsvoël probeer vir Aalwyn met vlerkgeklap van die nes verdryf. Hy skuif op sy boude tussen die takke van ’n kaiingbos in en die voël vlieg weg.

      Die aand kry Rut vir Lammert aan die oor beet. “Is dit hoe jy skaap oppas? Môre help jy vir Ouma met die kleintjies. Onder die boom, waar ek jou kan sien.”

      “Bennie lieg,” probeer Lammert hom lospraat.

      “Aalwyn se stukkende broek was die klikbek,” sê sy ma en gee sy oor nog ’n draai.

      “Ek sal sy gal vir hom werk,” sê sy pa en knipoog vir hom. “Hy moet toulei, want ons gaan hout haal op die berg.”

      Die sederbome in die vallei is almal uitgekap, daarom moet hulle al hoër teen die berg op. Hulle vorder ’n ent met die wa, waarna die boomstamme wat hoër op gekap word, met osse tot by die wa gesleep word. Lammert spits sy ore om te leer hoe mens ’n wa bergop kry as daar nie ou spore is nie. Eendag wil hy net so ’n goeie wadrywer soos sy pa wees.

      Dis winter voor Lammert en Aalwyn weer kans kry om kloof toe te gaan. Dis ’n droë winter en die spruit loop skaars. By die ingang van die kloof spring ’n kolhaas uit. Aalwyn laat woer ’n klip uit sy slingervel en die haas slaan bollemakiesie. Hy pluk sy mes uit en sny hom keelaf. Toe Aalwyn die haas op ’n klip neersit om die bloed van sy hande en mes af te was, kom ’n gedaante agter ’n bos uit en gryp die haas.

      Lammert skree en Aalwyn laat val sy mes.

      “Verdomp, hoekom …?” Hy skrik hom stil toe hy die swart man sien.

      “Ai, my basie, groot samblief my basie, gee die hasie vir my. Ek’s baie honger.” Die man het net ’n kuitbroek aan. Op sy voorkop is ’n rooierige letsel en sy ore is stompies teen sy kop.

      “Wie’s jy?” Aan Aalwyn se stem kan Lammert hoor hy het net so groot geskrik, maar hy hou hom grootman. “Wat soek jy op ons plaas?”

      “Masbieker is my naam. Ekke soek my baas se wegloop–” Sy oë rek toe hy die geblaf van honde hoor. Hy gooi die haas neer en hardloop spruitlangs die kloof in. Oor sy rug lê letsels kruis en dwars.

      Lammert skree agter hom aan: “Daar’s ’n grot by die doodloop, agter die kaiingbos!”

      Minute later is die veldwagmeester en twee pandoere by hulle. “Ons soek ’n wegloopslaaf, boet. Het jy iets gewaar?” praat die veldwagmeester met Aalwyn. “Die honde neuk al hier na die vlei toe.”

      Voor Aalwyn kan antwoord, bestorm die honde die dooie haas en skeur dit uitmekaar.

      Aalwyn se lip bewe toe hy na die plek wys waar net klossies hare van die haas oor is. “Die honde het seker maar die haas geruik. Oom moet by my pa gaan hoor of hulle iets gesien het.”

      Lammert kan die swart slaaf nie uit sy kop kry nie. “Oompie Ben, het swart slawe dan nie ore nie?” vra hy toe hy hom eendag alleen kry.

      “Waar kom jy aan sulke stories?” Oompie Ben klink kwaad. “Uit daarmee, mannetjie, of ek vertel jou ma jy loop al weer weg by die skaap.”

      “Hy was nou die dag in die kloof.”

      “Dan’s dit ’n man wat nog nie sy les geleer het dat wegloop nie help nie. Eerste keer neuk die base hom halfdood. Tweede keer brand die fiskaal se mense hom met ’n yster op die voorkop sodat almal kan sien hy’s ’n wegloopslaaf. Derde keer sny hulle sy ore af oor hy nie wil luister nie.”

      “Hou op,” hyg Lammert toe sy maag begin ruk. Die aand bring hy weer sy kos op.

      “Hy’t vroegdag al so gekots,” sê oompie Ben, “seker maar gifgoed in die veld geëet. Skaap oppas is mos ’n vervelige werk wat kattekwaad aanstook.”

      Lammert sluk gedienstig die bitter mengsel wat sy ma hom ingee, al weet hy dit sal nooit die oorsaak van die naarheid uit sy kop kry nie.

      Die prys vir Lammert en Aalwyn se saamspeel word al hoër, want Bennie is nie meer tevrede met net een koesister of twee soetkoekies nie. Hy maak goed gebruik van Rut se dreigement dat Lammert kinderoppasser gaan word. Vandat Sussie nie meer aan die bors is nie, pas Ouma die kinders by die matjieshuise op. Voorslag sal nie weer vir Lammert intree om hom van Hans se werf weg te hou nie.

      Lammert voel sommer weer naar toe sy ma hom een aand in Desember beveel om die volgende dag vir Ouma met die kleintjies te help, want die ou mens