Amraal
Marinda van Zyl
Tafelberg
Lambertstamboom
1
Die vuur wat hom sy lewe lank al jaag, het hom ingehaal. Dit brand om hom, in hom, deur hom. Amraal Lambert wag dat dit hom moet verteer. Hy kry nie meer sy arms opgelig om die vlamme af te weer nie. Deur die newels sien hy die vae omlyning van ’n mens.
“Aalwyn?” Toe die skaduwee stemloos bly, mompel Amraal: “Was my verraad dan soveel groter as joune?”
“Jy yl al weer,” hoor hy ’n vrou se stem.
Hy probeer regop beur. “Klara, is dit jy?”
“Dis ek. Jou vrou.”
Amraal se oë vlieg oop. Hy is in sy matjieshuis, nie in die kloof nie.
Sy troon bo-oor hom waar hy op die katel lê. “Wie’s Klara?”
Amraal kry nie ’n geluid uit nie. Sy oë is op die slagtersmes in haar hand. Hy het met sy eie oë gesien waartoe sy met daardie einste mes in staat is. Hoe gevoelloos sy dit op ’n mens kan gebruik as sy dink die kwaad moet uitgeslag word. Hy probeer weer sy arms lig.
“Jy kan netsowel ophou, Amraal. Ek het jou arms aan die katel vasgemaak, want jy’t nie ore nie.”
Amraal se hart skop teen sy ribbes. Hy maak sy oë toe en vlug Holkrans toe, waar hy weet Aalwyn op hom wag.
“Daar is Holkrans,” sê Hans Basson vir sy bruid, Elsie, toe hulle op Nuwejaarsdag 1773 die Olifantsriviervallei bereik. Hy stuur sy perd tot teen die wa om te wys waar die opstal vasgedruk teen die Sederbergreeks lê. “Op hierdie voetheuwel, so ’n entjie laer af, het my oupagrootjie in 1728 die eerste baken vir sy leenplaas geplant. Sien jy die klomp sederbome doer anderkant? Dis waar Jan Dissel se rivier in die Olifants loop. Hy was die eerste man om in hierdie deel van die vallei te kom bly. Hy’s lankal weg, maar almal praat nog van Jandisselsvallei. My grootjie …”
Rut, wat saam met Elsie op die wakis sit, luister nie verder na die Bassons se familiegeskiedenis nie. Sy maak haar kappie se bande los, want benoudheid druk haar keel toe. Die bergreeks wat noord en suid strek so ver as sy kan sien, is ontstellend hoog. Op Tierfontein, in die sandveld naby Verlorenvlei, waar sy en Elsie vandaan kom, is berge ’n blou wasigheid in die verte.
Sy kyk na Elsie wat met haar kop skuins gedraai lag vir iets wat Hans gesê het. Hans se rooi baard en snor laat sy gesig te groot vir sy skraal lyf lyk, dink Rut. Sy begryp nie waarom Elsie dié jong man gekies het bo die ander wat by haar kom opsit het nie.
Hans se gesig word stroef toe hy opkyk en sien Rut hou hom dop. “Opskud, Voorslag,” jaag hy die wadrywer aan. Voorslag laat nie op hom wag nie en laat klief sy sweep windmakerig deur die lug. “Aanstap, aanstap,” sing-praat hy met die osse.
“Is jou man kwaad oor ek saamgekom het?” vra Rut toe Hans wegry.
“Hoekom sal hy wees? Ek het hom van die begin af gesê ek gaan nêrens sonder jou nie,” antwoord Elsie, maar kyk nie na Rut nie.
“Lag hy ooit?” wonder Rut hardop.
“As ek hom kielie,” giggel Elsie. Die blos op haar wange en die vonkel in die blou oë laat Rut besef dat Elsie nou ’n lewe het waarvan sy nie deel is nie.
“Wat pla jou tog so?” Elsie druk Rut se arm vertroostend.
Rut kyk na die wit hand op haar geelbruin arm. “Dit,” beduie sy met haar oë. “Holkrans se mense is nie Tierfontein s’n nie.”
“Hoe kan jy so sê?”
Rut antwoord nie. Dink Elsie sy het hulle nie op Tierfontein se werf gehoor nie? “Moet die klimmeid nou boonop saam met jou op die voorkis ry?” het Hans gevra en Elsie se antwoord: “Hou op om haar ’n klimmeid te noem. Sy’s nie ’n meidjie nie. Haar naam is Rut en jy’t van die begin af geweet sy’t in ons huis grootgeword.”
Gisteraand het sy by die vuur bly sit toe Hans vir Voorslag beveel het om die vuur deurnag aan die gang te hou voor hy en Elsie in die wakap verdwyn het. Die nag was vol vreemde, onheilspellende geluide. Sy het gesien hoe Voorslag onderlangs na haar loer, maar hy het nie met haar gepraat nie. Toe die nanaglugbyt haar laat ril, het hy sy bondel onder die wa losgemaak en ’n velkombers gebring wat sy dankbaar om haar gevou het.
Elsie was ses jaar oud voor Rut die verskil tussen hulle agtergekom het. Sy wou ook sysagte vlegsels met pienk strikke soos Elsie hê. Ma Lammie het gesug, haar lank vasgehou en toe haar droom soos ’n porseleinkoppie op die vloer aan skerwe laat spat. “Jou kroesies sal nooit vir vlegsels deug nie. Ons bind sommer ’n lint om jou kappie en maak ’n groot strik voor.”
Mettertyd het sy uit verduidelikings aan kuiermense agtergekom Bert Venter, die man wat sy as pa geken het, het haar iewers in die veld opgetel tydens ’n jagtog. Ma Lammie, wat toe so pas ’n baba begrawe het, het dit as die Here se teken gesien dat sy die kleintjie soos haar eie moes grootmaak. Tien maande later is sy vir die weldaad beloon met die geboorte van Elsie.
Saam met die kennis van haar herkoms het Rut daarvan bewus geword dat sy en Elsie nie altyd eners behandel is nie. As by bure of familie gaan kuier is, of die tog Kaap toe aangepak moes word, was daar ’n verskoning hoekom sy tuis moes bly. Rut, ons kan nie nou die ou kuikentjies, of die hanslam, of wat ook al, sonder sorg laat nie. En meer onlangs pa Bert se bekommerde stem: “Die seuns word groot, my Lam. Wat as …?” En ma Lammie wat stilmaak: “Sjuut, moenie gedagtes in hulle koppe plant nie.” Daarom het sy uit haar eie aangebied om tuis te bly toe almal Kaap toe is vir die troue. Elsie het belowe om haar ná die troue saam te vat na haar nuwe tuiste. Nou twyfel Rut of dit die regte ding was om saam te kom.
Dit is hoogsomer en die Olifantsrivier net ’n stroompie waar die wa deurgaan sonder dat Rut en Elsie hoef af te klim. Die wa kruie verby die vrugteboord en tuin na die huis toe. Dis ’n langhuis met vyf vertrekke, elkeen met ’n deur wat op die noordelike stoep oopmaak. Die verskil in klipwerk wys die vertrek naaste aan die rivier is onlangs aangebou. Rook borrel uit die kombuis se skoorsteen aan die onderpunt van die stoep.
Voorslag bring die wa met ’n harde “Hoi daar!” tussen die akkerboom en stoep tot stilstand.
’n Lang, maer vrou in swart kom by een van die deure uit. Diep kepe sny langs haar mondhoeke af en laat haar haakneus groter lyk. “Julle tyd gevat om hier te kom, nè?” beskuldig sy in ’n rasperstem. Sy lyk en klink vir Rut soos ’n kraai wat op ’n stomp sit en raas.
By die kombuis loer twee vriendelike gesigte uit. “Dagsê, kleinbaas Hans. Is dit nou die mooie bruidjie?” vra die oudste een.
“Basta ginnegaap, Trui,” krys die skoonma. “Help aflaai en sit die kleinnôi se goed in hulle kamer.”
Rut por vir Elsie met die elmboog. “Klim af en loop groet voor jy ook raas kry.”
Die vrou glimlag toe Elsie haar omhels. “Welkom hier. Hans het vir julle ’n lekker groot kamer aangebou.”
Haar glimlag verdwyn toe Elsie vra: “Waar’s Rut se kamer?”
“Rut?” frons sy.
Rut klim haastig van die wa af om ook te groet, maar vorder net tot by die stoeptrappe voor die skril stem haar stuit.
“’n Hotnotsmeid bly nie in my huis nie.” Verbluf staar Rut na Hans se ma. Nie soseer oor die woord nie. Dié is immers ook op Tierfontein gebruik. Dis die venyn waarmee dit na haar gespoeg word; dat dit teen háár gemik is.
Elsie kyk na Hans. “Jy’t dan gesê Rut kan …”
“Jy’t my ma gehoor. Nie in die huis nie. Die volk het hulle eie werf.” Hans kap sy hakke in die perd se lieste en die dier spring met ’n gespat van klippers weg, net om weer by die waenhuis in die bek geruk te word, waar Hans afspring en die teuels vir ’n opgeskote seun gee.
Die