“En nou?” vra Jan Paulus.
“Ek wil ’n vrypas hê deur die linies.”
“Gaan jy oorloop na die Engelse toe?”
“Ek is Engels,” sê Sean.
Jan Paulus frons ligweg terwyl hy hieroor dink. Dan vra hy: “Sal jy vir my jou woord gee dat jy nie die wapen vir hulle sal opneem nie?”
“Nee,” antwoord Sean en Jan Paulus knik – dis die antwoord wat hy verwag het.
“Ek is baie aan jou verskuldig,” besluit hy. “Ek het nie daardie keer met die olifant vergeet nie. Dis volle betaling van daardie skuld dié.” Hy gaan na sy opslaantafel toe en steek ’n pen in die ink. Hy staan gebukkend en skryf, waai die papier droog en gee dit vir Sean.
“Loop nou,” sê hy. “En ek hoop ons sien mekaar nie weer nie, want volgende keer skiet ek jou.”
“Of ek vir jou,” antwoord Sean.
9
Daardie middag lei Sean sy groepie oor die staal-spoorbrug oor die Tugela, deur die verlate dorpie Colenso en dan verder aan oor die vlakte. In die verte, by Chieveley-stasie, staan die Britse kamp se tente soos ’n plaat gousblomme op die grasvlakte gesaai. Nog lank voordat hy daar kom, loop Sean hom in ’n wagpos vas, beman deur ’n sersant en vier manskappe van ’n roemryke Yorkshire regiment.
“Hallo, Koos. En waar de duiwel dink jy gaan jy heen?”
“Ek is ’n Britse onderdaan,” lig Sean hulle in. Die sersant kyk na Sean se baard en gelapte baadjie. Hy kyk na die verfoeste perd wat hy ry, en die rigting waarvandaan Sean kom.
“Sê weer?” vra hy.
“Ek is ’n Britse onderdaan,” herhaal Sean in ’n aksent wat die Yorkshireman vreemd moet opval.
“En ek’s natuurlik ’n jollie Japannees,” stem die sersant opgewek saam. “Gee maar daar jou geweer, ou bul.”
Twee dae lank sit Sean gevange in ’n doringdraad-kampong terwyl die inligtingsdiens ’n kabelgram na die registrateur van geboortes op Ladyburg stuur, en op ’n antwoord wag. Twee lang dae waarin Sean deurentyd broei – nie oor hoe hy behandel word nie, maar oor die vrou wat hy gevind en liefgekry en so gou weer verloor het. Hierdie twee dae van gedwonge niksdoen kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Deur elke woord wat hulle gewissel het in sy verbeelding te herhaal, deur elke aanraking van hul hande en lywe weer te voel, deur haar gesig voor sy geestesoog op te roep en elke besonderheid in te drink, brand Sean die herinnering aan haar so diep in sy wese in dat dit vir altyd daar sal bly. Al weet hy nie eens wat haar van is nie, sal hy haar nooit vergeet nie.
Teen die tyd dat hulle hom vol verskonings vrylaat en sy perde, geweer, geldsak en bagasie teruggee, het Sean hom al klaar in so ’n donker bui in gedink dat net drank of geweld dit sal kan verlig. Die dorpie Frere, die volgende stasie op die spoorlyn kus toe, kan albei hierdie dinge bied.
“Vat vir Dirk saam met jou,” beveel hy vir Mbejane. “Maak ’n kamp anderkant die dorp langs die pad, en maak ’n groot vuur sodat ek julle in die donker kan kry.”
“Wat gaan jy dan maak, nkosi?”
Sean maak aanstaltes na die smerige klein kantien toe wat Frere se dorstiges bedien. “Ek gaan soontoe,” antwoord hy.
“Kom, nkosana.” Terwyl hy en Dirk verder met die straat langs ry, besluit Mbejane hoe lank hy vir Sean gaan kans gee voordat hy hom kom haal. Dis baie jare vandat die nkosi laas so doelgerig afgesit het kroeg toe, maar daar was die afgelope paar dae baie om hom te ontstel. Hy sal tot middernag nodig hê, besluit Mbejane, dan sal hy gereed wees om te slaap.
Van die deur af kyk Sean die kantien deur. Dis ’n enkele groot kamer met ’n kroegtoonbank teen die agterste muur, en die vertrek is gemaklik vol warm lywe en die reuk van drank en sigare. Terwyl hy nog in die deur staan, steek Sean sy hand in sy broeksak en tel stilletjies sy geld – tien goue ponde is wat hy homself toelaat, meer as genoeg vir die drank wat hy beoog om te drink.
Namate hy sy weg tussen die mense deur na die kroegtoonbank toe baan, kyk hy die mans om hom deur. Meestal soldate, van ’n dosyn verskillende regimente. Kolonialers en soldate vanoor die Britse Ryk, meestal manskappe, en ’n groepie junior offisiere by ’n tafel teen die muur. Daar is ’n paar burgerlikes – seker transportryers, kontrakteurs en sakemanne – twee vroue oor wie se beroep daar geen twyfel kan wees nie by die offisiere, en ’n dosyn swart kelners.
“Wat sal dit vir jou wees, my skat?” vra die groot vrou agter die toonbank toe hy daar aankom. Sean voel geaffronteer oor hoe sy hom aanspreek, en oor haar snor.
“Brandewyn.” Hy is nie lus vir kletspraatjies nie.
“Wil jy die bottel hê, my skat?” Sy sien sy behoefte raak.
“Dit sal werk, vir eers,” stem hy saam.
Hy drink drie stywe doppe, en besef teleurgesteld dat hulle nie die gewenste uitwerking het nie. Die drank maak net sy verbeelding nog skerper, tot op die punt dat hy Ruth se gesig duidelik voor hom kan sien, in die fynste besonderhede, selfs die klein swart moesie hoog op haar wang en hoe haar ooghoeke trek as sy glimlag. Hy sal ’n beter plan moet maak om te vergeet.
Met albei elmboë nog op die toonbank en die glas in sy regterhand, leun hy agteroor en kyk weer die mans om hom deur. Hy beoordeel elkeen van hulle as moontlike bron vir afleiding, en gaan dan aan na die volgende een toe. Uiteindelik is daar net die ouens by die dobbeltafel oor.
Sewe spelers, die spel is poker, en sover hy kan agterkom, is die wedgeld maar min. Hy vat sy bottel, loop soontoe en neem stelling in tussen die kring toeskouers, agter ’n kavallerie-sersant met ’n hand vol vrot kaarte. ’n Paar hande later kort die sersant net een kaart om almal van dieselfde kleur te hê, maar hy tref dit ongelukkig met die laaste kaart. Nogtans bluf hy, stoot die wedgeld twee keer op, en verloor dit als teen twee pare oorkant die tafel. Dan gooi hy sy kaarte neer en blaas vies deur sy lippe.
“Daar gaan my laaste geld.” Hy skraap sy oorblywende paar munte bymekaar en staan op.
“Jammer, Jack … Wil iemand sy plek oorvat?” Die wenner kyk na die kring toeskouers. “’n Lekker gawe spel, vir kontant.”
“Deel daar vir my.” Sean gaan sit, plaas die bottel strategies aan sy regterkant en stapel vyf goue munte voor hom.
“Die ou het goud! Welkom.”
Sean gooi die eerste hand in, verloor in die volgende hand twee pond teen drie koninginne, wen op die derde hand vyf pond. Daarvandaan volg sy geluk min of meer dieselfde patroon. Hy speel met ’n kil doelgerigtheid, en elke keer as hy sekere kaarte wil hê, kry hy hulle.
Hoe sê die spreekwoord? Is die liefde weg, dan val die kaarte reg. Sean glimlag sonder vreugde en trek die vyf van harte om sy reeks te voltooi – genoeg om ’n ander speler se drie sewes te klop – en hark die wedgeld nader. Dit bring sy wins vir die aand op dertig of veertig pond te staan, en hy begin dit geniet.
Drie spelers het in die laaste uur onttrek, en daar is nou net vier van hulle by die tafel. “Hoe lyk dit, gaan ons die verloorders kans gee om hulle geld terug te wen?”
“Wil jy die wedgeld opstoot?” vra Sean vir die man wat die voorstel gemaak het. Hy is die enigste ander wenner, ’n groot man met ’n rooi gesig, wat na perdesweet ruik. Seker ’n transportryer.
“As almal saamstem. Minimum weddenskap vyf pond.”
“Dit pas my,” sê Sean, en die ander twee brom instemmend. Met soveel geld op die spel, is almal aanvanklik versigtig, maar mettertyd kry die spel weer sy loop. Sean se geluk neem effe af, maar tog sit hy ’n uur later met vyf-en-sewentig pond wat hy bietjie vir bietjie gewen het. Dan deel Sean ’n vreemde hand.
Die speler links van hom sit dadelik nog geld op, die ou met die perdereuk doen dieselfde,