Die lansiers steur hulle nie aan die entoesiastiese verwelkoming nie, sit hom net strak en dophou. Toe hy naby kom, groet die offisier hom agterdogtig.
“Wie is jy, meneer?” Maar hy lyk minder geïnteresseerd in Sean se antwoord as in Ruth se rybroek en wat daarin is. Tydens die verduidelikings wat volg, begin Sean al hoe minder van die man hou. Hoewel die gladde, rooigebrande vel en donsige geel moestas nie help nie, is dit sy ylblou oë wat Sean die minste aanstaan. Miskien staar hulle altyd so, maar Sean betwyfel dit. Hy kyk net kortliks na Sean terwyl hy rapporteer dat hy geen kontak met Boere gemaak het nie, dan draai sy oë terug na Ruth toe.
“Ons sal jou nie langer ophou nie, luitenant,” brom Sean en vat sy teuels vas om te ry.
“Jy is nog tien myl van die Tugelarivier af, meneer Courtney. Teoreties beset die Boere hierdie gebied, en hoewel ons ver van hulle hoofmag se flanke is, sal dit baie veiliger wees as jy onder ons beskerming na die Britse linies toe kom.”
“Dankie, nee. Ek wil albei gevegsmagte vermy en so gou as moontlik in Pietermaritzburg kom.”
Die offisier haal sy skouers op. “Nes jy wil. Maar as dit my vrou en kind was …” Hy maak nie sy sin klaar nie, draai net in die saal en wink die kolonne vorentoe.
“Komaan, Ruth.” Sean vang haar oog, maar sy roer nie.
“Ek gaan nie saam met jou nie.” Daar is ’n dooie klank in haar stem en sy kyk weg van hom af.
“Moenie simpel wees nie.” Haar stelling skok hom en gee sy antwoord ’n barsheid wat vonke van woede in haar oë ontlok.
“Mag ek saam met julle ry?” vra sy vir die offisier.
“Wel, mevrou.” Hy huiwer, kyk vlugtig na Sean voordat hy voortgaan. “As jou man …”
“Hy is nie my man nie. Ek ken hom skaars.” Sy onderbreek en verontagsaam Sean se protes. “My man is een van julle soldate. Ek sal bly wees as julle my saamvat, asseblief.”
“Nou ja! Dis dan ’n perd van ’n ander kleur,” sê die offisier, maar die lui arrogansie in sy stemtoon verberg skaars sy opgewondenheid oor die vooruitsig om Ruth se geselskap te hê. “Ek sal jou graag vergesel.”
Met haar knieë stuur Ruth haar perd en val langs die offisier in. Hierdie maneuver bring haar regoor Sean te staan, asof sy anderkant ’n heining is.
“Ruth, asseblief. Laat ons net eers hieroor praat, net ’n paar minute.”
“Nee.” Haar stem verklap geen gevoel nie, en haar gesig ook nie.
“Net om tot siens te sê.”
“Ons het klaar afskeid geneem.” Sy kyk van Sean na Dirk en dan weg.
Die offisier lig sy geklemde vuis omhoog en verhef sy stem. “Kolonne! Kolonne, voorwaarts!” Toe sy groot, glansende ros wegspring, grynslag hy vir Sean en salueer ironies met sy vingers op sy helm se rand.
“Ruth!”
Maar sy kyk nie meer na Sean nie. Haar oë is stip vorentoe gerig. Sy ry weg aan die kolonne se voorpunt, haar ken vorentoe gestoot, daardie gul mond in ’n stywe streep, en die dik vlegsel bons teen haar rug op maat van die perd se gang.
“Dis ’n gatslag vir jou, ou maat!” skree een van die agterste soldate, en dan is hulle verby.
Kromgetrek in die saal kyk Sean hulle agterna.
“Gaan sy terugkom, Pa?” vra Dirk.
“Nee, sy kom nie terug nie.”
“Hoekom nie?”
Sean hoor nie die vraag nie. Hy kyk, wag vir Ruth om terug te kyk na hom toe. Maar hy wag vergeefs, want meteens is sy weg, oor die rant en in die volgende vallei in. ’n Paar sekondes later is die hele kolonne buite sig. Daarna is daar net die wye leegheid van die land en die lug daarbo – so groot soos die leegheid in sy binneste.
7
Sean ry vooruit. Die ander kom tien treë agterna – Mbejane hou vir Dirk terug, want hy verstaan dat Sean nou uitgelos moet word. In die jare wat hulle al saam rondswerf, het Mbejane en Sean al dikwels in hierdie formasie gery – Sean vooruit met sy hartseer of skaamte, en Mbejane wat geduldig volg totdat Sean sy skouers reguit trek en sy ken van sy bors af lig.
Sean se gedagtes het geen samehang nie, daar is net die golwe van woede en wanhoop, die een na die ander.
Woede teenoor die vrou, woede wat amper haat word, voor die insinking van wanhoop as hy daaraan dink dat sy weg is. Dan woede wat na waansin toe neig, dié keer teenoor homself omdat hy haar laat gaan het. Dan die nare ineenstorting wanneer hy besef daar is geen manier waarop hy haar sou kon terughou nie. Wat kan hy haar bied? Homself? Tweehonderd pond van spier en been en littekens, met ’n gesig soos ’n klipkrans? Wat beteken dít nou! Sy aardse goed? ’n Klein sakkie goue ponde en ’n ander vrou se kind. Goeie hemel, dis al wat hy het. Ná sewe-en-dertig jaar is dit al wat hy het om te wys.
Weer eens vlam sy woede op. ’n Week gelede was hy ryk – en sy woede vind ’n nuwe teiken. Daar is ten minste een plek waar hy wraak kan soek, daar is ’n tasbare vyand om aan te val, om dood te maak. Die Boere. Die Boere het hom van sy waens en sy goud beroof, het hom soos ’n rot na veiligheid laat skarrel. Dis oor hulle dat die vrou in sy lewe gekom het, en ook hulle skuld dat sy van hom af weggeskeur is.
Dan is dit hoe sake staan, dink hy siedend, dan is dit hoe dinge van nou af gaan wees. Oorlog!
Hy ruk homself reg in die saal; dis asof sy skouers breër raak, wyd en hoekig. Hy lig sy kop op en sien die rivier blink kronkel in die vallei onder hom. Hulle het die Tugela bereik. Sonder huiwering stuur Sean sy perd oor die platorand. Laag op sy agterpote, met los klippe wat onder sy hoewe rol en gly, gaan die perd af ondertoe.
Ongeduldig volg Sean die rivier stroomaf, op soek na ’n drif. Maar die rivier loop vinnig, glad en diep tussen die steil walle, twintig jaarts wyd en nog moddergeel van die storm.
By die eerste plek waar die oorkantste wal plat genoeg is dat ’n mens maklik daar sal kan uitkom, trek Sean sy perd in en praat bars: “Ons gaan swem.”
In antwoord wys Mbejane met sy oë na Dirk toe.
“Hy het dit al vantevore gedoen,” antwoord Sean terwyl hy afklim en sy klere begin uittrek. Dan sê hy vir sy seun: “Komaan, Dirk. Trek uit.”
Hulle jaag die pakperde eerste in, dwing die diere om van die steil wal af te spring en kyk angstig totdat hulle koppe weer bo die water verskyn en hulle na die oorkant toe begin swem. Dan klim hulle terug in die saal, al drie van hulle poedelkaal, met hul klere in oliejasse toegedraai en aan die saals vasgemaak.
“Eers jy, Mbejane.”
Die water plas tot op die wal.
“Jou beurt, Dirk. Onthou om aan die saal vas te hou.”
Nog ’n groot geplas, en Sean raps sy perd toe die dier vassteek en sywaarts met die wal langs trippel. Dan ’n skielike sprong vorentoe en die lang val voordat die water oor hulle toevou.
Hulle proes toe hulle weer bo die oppervlak uitkom. Sean sien verlig hoedat Dirk se kop langs sy perd s’n dobber en hoor hoe sy seun opgewonde jil. ’n Rukkie later staan hulle op die verste wal met water wat van hulle kaal lywe af stroom, en lag saam van pure lekkerte.
Skielik wurg die lag in Sean se keel. Op die wal bokant hulle staan ’n dosyn mans, aan die grynslag oor die joligheid wat hulle gadeslaan, maar met hulle Mausergewere gereed. Groot mans, bebaard, belaai met bandeliere vol ammunisie, in ruwe klere geklee en met ’n mengelmoes hoede, van ’n bruin rondebol tot ’n hoë pluiskeil.
Mbejane en Dirk hou saam met Sean op met lag, Hulle staar na die ry gewapende mans op die wal. Algehele stilte heers.
Dit word uiteindelik verbreek toe die man met die bruin rondebolhoed met sy geweerloop na Sean beduie. “Allamintig, jy sal ’n groot byl