Maar Dirk spring hom voor. “Wie is hulle, Pa, en hoekom lag hulle?” vra hy in klinkklare Engels, en Sean se hoop kwyn so skielik soos die Boere se gelag toe hulle die gehate taal hoor.
“O, so,” grom die man met die pluiskeil en beduie met sy Mauser. “Hensop, ou maat.”
“Kan ek darem net eers my broek aantrek?” vra Sean beleefd.
“Waarheen vat hulle ons?” Vir eens in sy lewe is Dirk gedemp en sy stem bewe so dat Pluiskeil, wat langs hom ry, namens Sean antwoord.
“Moenie bekommerd wees nie, ons gaan die generaal sien – ’n regte, egte generaal.” Pluiskeil se Engels is verstaanbaar en Dirk kyk hom belangstellend aan.
“Het hy medaljes en so aan?”
“Nee, boet, ons bodder nie met sulke nonsens nie.”
Net daar verloor Dirk belangstelling. Hy wend hom tot Sean. “Pa, ek is honger.”
Weer kom Pluiskeil tussenbeide. Hy haal ’n lang stuk biltong uit sy sak en bied dit vir Dirk aan. “Maak jou tande hierop skerp, boet.”
Met sy mond vol is Dirk tevrede en Sean kan aan die Boere aandag gee. Hulle dink hulle het ’n spioen gevang, en is besig om sy komende teregstelling te bespreek. Heel gemoedelik laat hulle hom toe om saam te praat, en luister beleefd na sy kant van die saak. Die gesprek word onderbreek toe hulle die Tugela oorsteek en die rand anderkant uitklim, maar toe hulle weer in ’n bondel bokant die rand langs ry, praat Sean verder.
Uiteindelik oortuig hy hulle van sy onskuld, wat hulle verlig aanvaar, want nie een van hulle het regtig kans gesien om hom te skiet nie.
Daarna praat hulle van aangenamer dinge. Dis ’n pragtige dag, die vallei bak in die son – groen en goud. Onder hulle kronkel en sprankel die rivier, vind sy slingerpad af van die Drakensberg se rookblou hoogtes op die verre horison. ’n Klompie dik wolke dryf in die lug, en ’n ligte briesie breek die ergste hitte.
Die jongelinge luister gretig toe Sean vertel van olifante anderkant die Limpopo, en van die wye oop land wat wag dat iemand dit vir hulle toe-eien.
“Ná die oorlog …” sê hulle, en lag in die son. Dan draai die wind en die heuwels se ligging herlei ’n dowwe maar aaklige geluid na hulle toe, en die gelag verstar.
“Die kanonne,” sê een van hulle.
“Ladysmith.”
Nou is dit Sean se beurt om vrae te vra. Hulle vertel hom hoe die Boerekommando’s hul teenstanders vinnig oorrompel het en al die pad tot by Ladysmith gevorder het. Met bitterheid onthou hulle hoe ou generaal Joubert sy ruiters teruggehou het en die verslane Engelse soldate kans gegee het om terug in die dorp in te vlug.
“Bliksem! As hy ons net op hulle losgelaat het! Ons sou hulle tot in die see gejaag het.”
“As oom Paul in bevel was pleks van ou Joubert, was die oorlog al oor en verby, maar nou sit ons en wag.”
Mettertyd bou Sean ’n prentjie op van die oorlog in Natal. Ladysmith is beleër. Generaal George White se magte is in die dorp vasgekeer. Die helfte van die Boeremag het met die spoorlyn langs opgeruk en ’n verdedigingslinie op die platorand gevorm wat oor die rivier en die dorpie Colenso afkyk. Onder hulle op die groot Tugelavlakte is generaal Buller besig om sy magte bymekaar te maak sodat hulle na Ladysmith toe kan deurbreek.
“Laat hom maar probeer, oom Paul wag vir hom.”
“Wie is hierdie oom Paul, tog seker nie Kruger nie?” Sean is verwonderd. Oom Paul is hoe die Suid-Afrikaanse Republiek se president bekend staan.
“Nee man, dis ’n ander oom Paul dié. Hierdie een is veggeneraal Jan Paulus le Roux van die Wennerstroom-kommando.”
Sean snak na sy asem. “Is hy ’n groot man met rooi hare, kort van draad?”
Daar is ’n gelag, en dan: “Ditsem! Ken jy hom?”
“Ja-nee, ek ken hom.”
My swaer is nou ’n generaal, dink Sean in sy enigheid, en dan vra hy: “Is dit die generaal na wie toe ons op pad is?”
“As ons hom in die hande kan kry.”
Dus sal klein Dirk uiteindelik sy oom ontmoet, en Sean betrap homself dat hy uitsien na die weersiens.
8
Die tent se seil demp nie die bulderstem van binne nie. Dit dra duidelik tot waar Sean en sy wagte staan.
“Moet ek nou so wragtig bladskud en koffie drink saam met elke Rooinek wat ons vang? Ek het al genoeg werk vir tien man en dan kom dra julle vir my nóg aan. Vat hom na een van die veldkornette toe. Stuur hom Pretoria toe dat hulle hom daar opsluit! Doen met hom net wat julle wil as hy ’n spioen is, maar moet hom in hemelsnaam nie na my toe bring nie.”
Sean glimlag ingenome. Jan Paulus is sweerlik nie op sy bek geval nie. Daar is ’n stiller tussenpose terwyl Pluiskeil se stem in die tent mompel.
Dan weer die gebrul. “Se moer! Dit doen ek nie! Vat hom weg!”
Sean trek sy longe vol lug, maak sy hande bak om sy mond en roep tent toe: “Haai, jou bliksemse ou Boertjie! Is jy bang om my weer te sien of wat? Jy dink seker ek sal jou weer ’n bloedbek gee soos laas keer.”
Daar is ’n paar oomblikke van onheilspellende stilte, dan die geklater van ’n stoel wat omgeskop word, en die tentflap word oopgegooi. In die sonlig verskyn Jan Paulus, oë knipperend, diep fronsend, met die rooi hare soos ’n veldbrand om sy kop en skouers strydlustig vorentoe gekrom. Hy kyk heen en weer om te sien wie hom so beledig het.
“Hierso,” roep Sean, en Jan Paulus steek in sy spore vas. Onseker kyk hy na Sean.
“Jý!” Hy gee ’n tree nader en sê dan: “Dit is mos jy, of hoe? Sean!” En hy begin lag. Hy maak sy regtervuis oop en reik na Sean toe uit. “Sean! Allamagtig, kêrel. Sean!”
Hulle skud blad en grinnik vir mekaar.
“Kom in die tent in. Komaan, ou maat!”
Sodra hulle binne is, vra Jan Paulus: “Waar’s Katrina? Waar’s my kleinsus?”
En eensklaps verdwyn die glimlag van Sean se gelaat af. Hy gaan sit swaar op die riempiestoel en haal sy hoed af voordat hy antwoord. “Sy is dood, Paulus. Al vier jaar gelede.”
Stadig verander die uitdrukking op Jan Paulus se gesig; dit word strak en hard.
“Hoe?” vra hy.
Wat kan ek vir hom sê? wonder Sean. Durf ek hom vertel sy het selfmoord gepleeg, maar dat niemand ooit sal weet om watter rede nie?
“Koors,” sê hy. “Swartwaterkoors.”
“Jy’t ons nie laat weet nie.”
“Ek het nie geweet waar om julle te kry nie. Jou ouers …”
“Hulle is ook dood,” onderbreek Jan Paulus hom bruusk, en draai weg na die tent se wit seilwand toe. Stilte sak oor hulle neer terwyl hulle die gestorwenes onthou, die dinge waaraan hulle niks meer kan doen nie. Uiteindelik staan Sean op en gaan na die tent se opening toe.
“Dirk, kom hiernatoe.”
Mbejane stoot die seun vorentoe en Dirk kom vat Sean se hand. Sean lei hom by die tent in.
“Katrina se seun,” sê hy, en Jan Paulus kyk na die kind.
“Kom hier, boetman.” Huiwerig staan Dirk nader. Jan Paulus hurk sodat sy oë gelyk met die seun s’n is. Hy vat Dirk se gesig tussen sy hande en bestudeer hom deeglik.
“Ja,”