Nadat hulle klaar geëet het, word die advertensie vir Boer soek ’n vrou wraggies weer gewys, dié keer op kykNET se musiekkanaal.
“Dink jy nie jy moet inskryf vir die program nie? Dit kan dalk perspektief in jou lewe bring, Juan,” sê Marissa ernstig. “Yvonne stem saam. Sy sê sy het jou al aangemoedig om dit te doen.” Sy kyk hom met ’n frons aan. “Jy is ’n baie aantreklike man en alles wat ’n vrou begeer, maar jou reputasie het jou naam in die gemeenskap skade gedoen en jy weet dit. Jy moet onthou die vroue en meisies praat onder mekaar. Ek is verlief op jou … weet jy? Maar my ouers sal nooit hul goedkeuring gee vir ’n verhouding met jou nie. Almal sê jy sal nooit aan een vrou getrou bly nie. Naomi het jou naam lekker swartgesmeer in die dorp omdat jy haar begin vermy het. Daar is stories dat jy verhoudings met getroude vroue het. Is dit so?”
Juan kyk lank en dringend na haar. “Kom ons skink ’n glasie wyn, dan gaan gesels ons verder in die jacuzzi,” stel hy voor om die onderwerp te vermy, want as sy moet weet watter getroude vroue almal ter sprake is, kanselleer dominee Van Graan sy verlof en kom terug om die volgende drie maande oor die verbode vrug te preek.
“Ek het vergeet om ’n swembroek saam te bring,” sê Marissa, en dan hou sy ’n mooi vingertjie streng in die lug. “As jy beloof om jou te gedra, kan ek in my onderklere inklim.”
Juan val amper op sy rug toe sy haar bloes en denim-sjoebroekie begin uittrek. Hoe de etter se wetter gaan hy hom kan inhou? Dis nou ’n bewys dat ’n vrou geen idee het hoe ’n man se brein werk nie. Sy penis raak stokstyf. Die lyne van haar lyf is volmaak, en hy kry ’n pyn in sy hart en knaters en besef as hy nie so ’n reputasie gehad het nie, kon Marissa syne gewees het. En hy weet nou ook sonder twyfel sy lewe is eintlik ’n groot geneuk en ’n gejaag na wind. Hy het alles behalwe die liefde, en sonder liefde sal hy altyd soekend bly en niks hê nie.
Marissa het ’n rooi bra en deurtrekkertjie aan. Dit voel of sy hom tart en net toets of hy hom sal kan beheers. Besef sy nie sy speel met vuur nie?
Terwyl sy in die jacuzzi inklim, skink hy die glasies wyn. Hy is skielik baie ongemaklik, want sy meneer bly styf. Hy trek net sy T-hemp uit en klim in.
Marissa kyk openlik na sy ereksie wanneer hy gaan sit. “Sal jy ooit aan een vrou getrou kan bly, Juan?” vra sy.
“Kom ek vertel jou my geheim, Marissa. Nie eens Yvonne of enige van my familie weet daarvan nie.”
Sy kyk hom grootoog aan.
“Ek het op varsity op ’n meisie verlief geraak,” sê hy. “Nie net verlief nie, maar smoorverlief. Haar naam was Lisa. Glo my, ek was ’n maagd toe ek varsity toe is. Ek het altyd geglo soos Ma en Pa my grootgemaak het, en in die hoërskoolkoshuis was daar nie geleenthede nie en ek het gedink ek sal so bly tot ek iemand eendag liefhet. Lisa was my droomnooi. Dit het goed gegaan vir so agt maande en ek het geweet sy is die een vir my, vir altyd. Ons was een aand op ’n partytjie by die Elgro-hotel in Potch. Daar het ’n ouer man, ek het hom so 25 geskat, opgedaag en ek het gesien sy was in ’n ernstige gesprek met hom gewikkel. Hulle het ongesiens weggeloop, en een van die meisies het my gesê sy het gesien hulle is ’n kamer in. Ek het die ontvangsdame gecharm, net soos ’n student dit kan doen, die kamernommer gekry en die meisie omgepraat om my die spaarsleutel van die kamer te gee. Ek het hulle in die bed betrap terwyl hulle seks het. Dit het vir my gevoel of my wêreld om my vergaan. Sy wou nog verduidelik, maar my hart het toegeslaan en ek het myself beloof dat ek nóóit weer sal liefhê nie. Die seer was net te groot, en ek het besluit ek sal meisies gebruik soos wat ék gebruik is. Ek het toe begin om al wat ’n meisie is te verlei. Dit het vir my ’n speletjie geraak. Ek het klaar geswot en besluit om eerder plaas toe te kom waar ek myself kan wees en my kan onttrek as die lewe vir my te veel word.”
Ná soveel jare waarin hy nooit met niemand daaroor gepraat het nie, oorweldig die hartseer hom. Hy kan sy trane nie keer nie. Marissa kom sit op sy skoot en hou hom vas. Sy sê niks en druk net ’n soentjie op sy lippe.
Dit voel so lekker in haar arms, maar hy besef dat sy nie daar is om gebruik te word nie. Daarvoor het hy te veel respek vir haar. As hy maar net weer kan liefhê …
Hulle sit ’n hele ruk stil sonder om ’n woord te sê, maar dis nie lank voor haar kaal boudjies op sy skoot hom weer na die werklikheid terugruk nie.
“Hoekom skryf jy nie in vir Boer soek ’n vrou nie?” vra sy. “Dit gaan jou rêrig weer perspektief in die lewe gee. Die dinge waaraan dit jou gaan blootstel, kan jou van die verlede vrymaak en jou ’n nuwe lewe laat begin.” Haar oë rus besorg op hom. “Dit is net ’n voorstel. Ek en Yvonne sal jou help met jou keuses en jou bystaan. Dit kan groot pret wees en dalk vind jy die meisie van jou drome, iemand wat niks van jou reputasie weet nie. Maar dan moet jy die vroue uitlos wat jou lewe nou so deurmekaarkrap en hulle op die agtergrond skuif.”
“Wow, wag so ’n bietjie,” keer hy. “Jy kan nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie. Hulle kies my dalk nie, en ek weet nie eers hoe die proses werk nie.”
Marissa sit ’n voorvinger teen sy lippe en skud haar kop. “Net môre gaan ons die inskryfvorm op die internet soek. Jy móét net gekies word. Vertrou ons, ons sal jou daar inkry.” Sy raak nou heel opgewonde. “Ons het ’n maand tyd om in te skryf.”
Hy staan op uit die water en hou sy hand na haar uit. Hulle klim uit die jacuzzi en droog hulle af.
“Het jy ’n T-shirt waarin ek kan slaap?” vra sy.
Hulle ruim gou ’n bietjie op en loop na sy kamer toe. Hy gee haar ’n T-hemp en sy trek haar nat onderklere uit. Hy laat waai ook, en daar staan hulle albei kaal. Hy het al baie meisies kaal gesien, maar Marissa is wragtig net anders … kort, mooi en perfek gebou. Hy druk haar teen hom vas en weet sy is besig om hom te toets. Sy drang na haar is nou intens. Sy ereksie druk teen haar magie vas.
Sy stoot hom ’n entjie weg. “Ek gaan by jou slaap, maar géén seks nie. Eerstens is ek nog ’n maagd en boonop is dit daardie tyd van die maand. Jy kan my vashou en soen, maar dit is dit. Pelle mag mekaar seker ’n bietjie vry. Dit is nogal lekker en ek het nog nooit so gevry nie. Daai aand in die parkeerterrein was my eerste keer, glo my.” Sy praat sag en kyk diep in sy oë. “Jy het baie ondervinding en ek niks. Hanteer my met respek en leer my so ’n bietjie sodat ek darem weet waaroor dit gaan wanneer ek die man van my drome ontmoet.”
My magtig, wat verstaan sy nie?
“Ai, Marissa … dit kan net lekker wees. En ek belowe ek sal jou nie penetreer nie.” Sy stem klink ernstig, maar hy het tog ’n bietjie twyfel in sy gemoed.
“Nou kom ons slaap kaal,” nooi sy hom en spring in die bed.
Juan klim saggies langs haar in en neem haar in sy arms. As hy haar stywe tepels teen sy bors voel en haar sagte lippe op syne, weet hy vanaand is hy die leermeester.
Seks en liefde is maar net deel van die feite van die lewe. Ongelukkig vir party en gelukkig vir ander, maar dit is wat die aarde laat draai. En toe Juan dit besef, neem hy ’n finale besluit: Boer soek ’n vrou, hier kom ek!
3
Dis net voëltjies wat te kere gaan en duiwe wat koer toe Juan stadig uit droomland terugkeer. Marissa lê nog kaal in sy arms. Sy selfbeheersing het ’n regmerkie gekry, maar sy ego is moer toe, want geen normale man sal hom met so ’n godin in sy arms kan inhou soos wat hy dit die vorige nag reggekry het nie. Respek was die resep, net respek. Hy weet nou hy is mal oor haar, maar met haar agtergrond, haar sterk persoonlikheid en vaste beginsels … en dan is daar boonop haar ou pa! Nee wat, dis heeltemal buite die kwessie.
Juan probeer uitwerk hoekom hy anders oor Marissa voel as oor enige van die ander meisies wat hy al in die bed gehad het. Is dit omdat sy buite sy bereik is? Is dit omdat sy nog ’n maagd is? Is dit nie maar hoe ’n man se verstand werk nie, dat die vroue wat buite jou bereik is ’n groter uitdaging is en jou in ’n