Hy kyk na Mat en glimlag vriendelik. “Dankie vir die vertroue, kaptein. Kan jy vir ons sê hoe verloop sake?”
Joubert is ietwat oorbluf. Hy het De Wit na die toneel laat kom omdat dit prosedure is by moorde met groot publisiteitswaarde. Nou interpreteer die man dit anders.
“E … Dié ding is maar yl, kolonel. Die oorledene het ongetwyfeld buite-egtelike verhoudings gehad. Ons wil vandag kyk of daar nie iewers ’n baie jaloerse man in die prentjie is nie. Dalk iemand by die werk …”
“Jy kan maar los,” val De Wit hom in die rede. “Soos ek gisteraand aan die media gesê het, dit is ’n Chinese dwelmnet wat só maak … Oulike stuk vanoggend in Die Burger. As jy diep genoeg in die oorledene se agtergrond rondkrap, sal jy wel die konneksie opspoor. Ek dink die ondersoek sal net baat vind daarby as jy die Narkotikaburo ook betrek, kaptein. Los maar daardie jaloerse-vriend-teorie van jou. Interessant, verlede jaar by die Yard het ons twee sulke moorde gehad …”
De Wit verbreek oogkontak met Joubert. Joubert hou op om te luister. In sy buik is daar ’n ongemaklikheid, soos ’n insek wat deur sy ingewande skarrel.
Teen sy sin bel hy die bevelvoerder van Sanab ná oggendparade.
“Wat het julle nou daar aangestel, Joubert?” vra die stem aan die ander kant. “’n Nar? Cloete van Openbare Betrekkinge bel my nou, vra of De Wit met my gepraat het. Cloete is de moer in omdat jou nuwe baas sommer self met die koerante gesels. Cloete wil weet of hy nou maar kan aftree en heeltyds visvang. En watter twak is dit van die Chinese mafia?”
“Dit is gebaseer op vorige ervaring van my bevelvoerder, kolonel. In dié stadium moet ons alle moontlikhede ondersoek.”
“Moenie my daai amptelike smokescreen gee nie, Joubert. Jy skerm net vir De Wit.”
“Kolonel, ek sal dit hoog op prys stel as u en u personeel inligting wat dié moontlikheid verder kan ophelder, aan Moord en Roof sal verskaf.”
“Aaaa, nou verstaan ek. Jy is onder opdrag. Orraait, jy’t my simpatie, Joubert. As ons in die volgende tweehonderd jaar ’n Chinese dwelmnet oopvlek, sal jy die eerste wees om daarvan te hoor.”
Die ondersoekbeampte moet by wees tydens die lykskouing. Dit is die reël, die tradisie – ongeag die toestand van die oorskot.
Joubert het dit nog nooit geniet nie, selfs nie eens in die goeie ou dae nie. Maar hy kon skanse oprig tussen hom en die ontstellende proses wat hom keer op keer op ’n marmerblad in ’n witgeteëlde vertrek in Soutrivier afspeel, waar die dooies hul laaste waardigheid verloor.
Nie dat professor Pagel sy skalpel en klampe en sagie en tangetjies sonder respek deur vel en weefsel en been dwing nie. Inteendeel, die staatspatoloog en sy personeel benader hul werk met die erns en professionaliteit wat dit verdien.
Dit was Lara se dood wat sy skanse afgebreek het. Want hy weet sy het ook hier gelê. Beelde, uit sy ervaring opgediep, het gehelp om die toneel te rekonstrueer. Kaal, op haar rug, skoon en steriel, haar lenigheid aan die wêreld ontbloot, maar sonder effek. Die bloed van haar voorkop afgewas, net die klein, stervormige koeëlwond sigbaar tussen die haarlyn en die wenkbroue. En ’n patoloog wat aan ’n speurder verduidelik dat dit eie is aan die kontakskoot, die trompopskoot. Want die saamgeperste gasse van die vuurwapenloop beland onder die vel en sit skielik uit, soos ’n ballon wat bars, en ken die Ster van die Dood toe, só dikwels die geval by selfmoordslagoffers … Maar nie Lara nie. Sy het die ster by iemand anders gekry.
Elke keer dat hy in die koue, geteëlde gange van die lykshuis in Soutrivier stap, wys sy verstand aan hom dié toneel, ’n makabere kykweer wat hy nie kan afskakel nie.
Pagel wag in die kantoortjie, saam met Walter Schutte, besturende direkteur van Wallace Quickmail. Joubert stel homself voor. Schutte is van gemiddelde lengte, met ’n diep stem en hare wat by elke moontlike opening uitpeul – by sy boordjie, sy hempsmoue, sy ore. Hulle stap na die teater waar James J. Wallace onder ’n groen kleed lê.
Pagel stroop die kleed af.
“Jeez,” sê Walter Schutte en draai sy gesig weg.
“Is dit James J. Wallace?” vra Joubert.
“Ja,” sê Schutte. Hy is bleek en sy geskeerde baardlyn staan duidelik uit op sy gesig. Joubert verwonder hom aan die behaardheid van die man. Hy vat hom aan die skouer en lei hom terug na Pagel se kantoor, waar Schutte ’n vorm onderteken.
“Ons sal graag later ’n paar vrae by u kantoor wil kom vra.”
“Watter vrae?” Schutte se selfvertroue keer geleidelik terug.
“Roetine. ’n Mens wil nie die weduwee te veel pla nie. U kan verstaan.”
“Natuurlik,” sê Schutte. “Enige tyd.”
Wanneer Joubert terugstap, skakel Pagel die skerp ligte aan, steek sy kort, sterk vingers in die deursigte plastiekhandskoene, trek die kleed van wyle James J. af, buig die groot vergrootglas se arm nader en neem ’n klein skalpel in sy hand.
Die patoloog begin met sy stelselmatige taak. Joubert ken al die mmm-geluide van die man, die onverstaanbare geprewel wanneer hy iets vind wat van belang is. Maar Pagel deel eers sy ontdekkings wanneer hy seker is. Daarom wag Joubert. Daarom staar hy na die steriele wasbak teen die muur, waar ’n waterdruppel elke veertien tellings teen die metaalbalie dloep!
“Kopskoot sou die dood kon veroorsaak. Deur die linker-nasiofrontale sinus. Agter, twee sentimeter bo die lambda uit. Uitskietwond is baie groot. Sagte loodpunt? Kan wees … kan wees. Sal moet kyk na die traktus.”
Hy kyk na Joubert. “Moeilik om kaliber te skat. Inskietwond op die verkeerde plek.” Joubert knik asof hy verstaan.
“Relatief nabyskoot, die kopskoot. Twee, drie meter. Toraksskoot dalk ook. Kon ook die dood veroorsaak het. Wond is tipies. Bykomstige eienskappe minder uitgesproke. Die klere, natuurlik. Hitte geabsorbeer. Kruitdeeltjies. Rook. Deur die sternum. Bloeding afwesig.”
Hy kyk weer op. “Jou man wás al dood, kaptein. Met die eerste skoot. Maak nie saak watter een dit was nie. Dood voor hy die grond getref het. Die tweede een onnodig.”
Water op De Wit se mafia-meul, dink Joubert. Maar hy sê niks. “Kom ons gaan in,” sê Pagel en neem ’n groter skalpel.
Walter Schutte staan nie op toe Joubert en Griessel deur die sekretaresse ingelei word nie.
“Sit, menere, sit.” Hy swaai sy arm joviaal na die moderne stoele van leer en chroom voor die groot lessenaar met die glasblad. “Tee of koffie? Ék gaan iets drink. Moet dus nie huiwer nie.” Die bleek onsekerheid van die lykshuis bestaan nie meer nie.
Hulle kies albei tee en gaan sit. Die sekretaresse maak die deur agter haar toe.
Dit is nog voormiddag, maar Schutte se baard is reeds ’n skaduwee oor sy wange. Sy tande flits wit en blink wanneer hy vinnig glimlag. “Nou ja, waarmee kan ek help?” Dan is die glimlag weer weg, soos ’n lig wat afgeskakel is.
“Ons sou graag meer wou weet oor James Wallace, meneer Schutte. U het hom seker goed geken?” vra Joubert.
“Ek het James twee jaar gelede vir die eerste keer ontmoet toe ek hier aangestel is deur Promail. Hy was ’n wonderlike mens.” Schutte se diep stem is gelaai met piëteit.
“Is dit wat julle hom genoem het? James?”
“Die meeste van ons het hom Jimmy genoem. Maar dit klink nou so …” Schutte flits ’n handgebaar en wit tande.
“Hoe was sy verhouding met die ander mense by die werk?”
“Ons was almal erg oor hom. O, wag so bietjie, ek weet wat jy bedoel. Nee, kaptein, jy gaan nie sy moordenaar hier kry nie.” Schutte waai albei sy hande voor hom, asof hy ’n bose gees wil afweer. “Ons is soos een groot gesin, sê ek altyd. En James was deel van dié gesin. ’n Baie geliefde deel. Nee, kaptein, gaan soek jou moordenaar op