“Dit is nie net dat jy jou blootstel aan siektes nie. Dit is die manier waarop jy doodgaan, kaptein. Het jy al iemand met emfiseem gesien? Jy moet saam met my kom, kaptein, na die hospitaal toe. Hulle lê daar, in suurstoftente, besig om te versmoor in hul eie slym, soos visse op droë grond wat nie asem kan kry nie.”
Op die lessenaar is ’n penhouer in die vorm van ’n pil. Dit adverteer ’n ander soort medisyne. Joubert vou sy arms voor hom en staar daarna. “En dié met longkanker?” gaan die dokter voort. “Het jy al gesien wat chemoterapie aan ’n mens doen, kaptein? Die kanker maak jou maer en moeg, die chemoterapie laat jou hare uitval. Lewende lyke. Hulle wil nie in die spieël kyk nie. Hulle is emosioneel, groot manne wat huil as hul kindertjies langs die hospitaalbed sit.”
“Ek het nie kinders nie,” sê Joubert sag.
Die dokter haal sy leesbril af. Hy klink verslae. “Nee, kaptein, jy het nie kinders nie. Maar gesond leef doen ’n mens in die eerste plek vir jouself. Vir jou gees, vir jou genoegdoening. En vir jou werkgewer. Jy is dit aan jou werkgewer verskuldig om fiks en gesond te wees. Want dan is jy helder en produktief …”
Die leesbril word weer op die neus geplaas.
“Ek gaan nie iets voorskryf voor ons die bloedtoets terug het nie. Maar ek wil tog vra dat jy sal kyk na die rook. En jy sal moet oefening kry. En jou eet- en drinkgewoontes …”
Joubert sug.
“Kaptein, ek weet dit is moeilik. Maar gewig is ’n ding wat neuk. Hoe later jy begin om daarna te kyk, hoe moeiliker word dit.”
Joubert knik, maar hy kyk die dokter nie in die oë nie.
“Ek is onder kontrak om ’n verslag oor dié ondersoek aan jou werkgewer te stuur.” En dan voeg die geneesheer onverklaarbaar by: “Ek is jammer.”
Die Polisiekollege in Pretoria neem elke groep studentekonstabels na die Mag se museum in Pretoriusstraat, in die ou Kompol-gebou. Dié besoek is gewoonlik nie ’n groot sukses nie. Die studente bederf dit deur, kenmerkend van hul ouderdom, mekaar te probeer oortref in baldadigheid en ongekunstelde humor.
Daarom het Mat Joubert eers op die plek verlief geraak toe hy jare ná sy kollegedae in Pretoria in ’n moordsaak moes gaan getuig – en in die vyf dae dat hy moes wag om as getuie geroep te word, uit verveeldheid na die museum gedryf is.
Hy het van uitstalling na uitstalling beweeg, sy verbeelding aangegryp. Want toe het hy reeds die ervaring en insig gehad om te weet dat elke verroeste moordwapen, elke vergeelde bewysstuk vir ’n lank vergete speurder ure se swoeg en sweet beteken het. En uiteindelike sukses.
Die volgende dag was hy weer daar. En adjudant Blackie Swart het hom raakgesien. Blackie Swart, diep beplooid, ’n kettingroker met ’n stem wat klink soos stewels op gruis, was die faktotum van die museum – ’n pos wat hy blykbaar bekom het omdat die generaal moeg geraak het vir sy eindelose pleidooie.
Hy was vyftien toe hy hom by die Mag aangesluit het, het hy aan Joubert vertel in sy besemkas-kantoortjie in die kelderverdieping. “Perdepatrollie tussen Parys en Potchefstroom gedoen.” Joubert is ure lank vergas op staaltjies en polisiekoffie, die brousel wat met ’n proppie brandewyn getemper word.
Blackie Swart se lewe is in die museum uitgestal, veral in die glaskaste onder die opskrif DIE GESKIEDENIS VAN MISDAADONDERSOEK.
“Ek het dit alles meegemaak, Mattie, gesien gebeur. Ek het die museum eers gesien toe ek my vyf-en-twintig-jaar by die generaal kom haal het hier by hoofkwartier. En ek het geweet ek wil terugkom, eendag. Toe vat ek pensioen op sestig, met vyf en veertig jaar diens, en gaan sit by Margate en kyk drie maande lank hoe my kar oproes. Toe bel ek die generaal. En nou is ek elke dag hier.”
Joubert en die ou man het die dae omgepraat en omgerook. Dit was nie ’n paternalistiese verhouding nie, eerder vriendskap, moontlik juis omdat Blackie Swart so anders as Joubert se pa was.
Ná die week in Pretoria het hulle mekaar sporadies gesien. Albei was swak telefoonkommunikeerders, maar Joubert het nou en dan gebel, veral wanneer hy raad nodig gehad het met ’n saak. Soos nou.
“Dokter sê ek moet die rook los, oom Blackie,” sê hy in die gehoorbuis.
Hy hoor die aamborstige kekkellaggie aan die ander kant. “Hulle sê my dit al vyftig jaar lank, Mattie. En ek hou nog. Word nou agt en sestig in Desember.”
“Ek het ’n snaakse moord hier, oom Blackie. My BO sê dis Chinese mafia.”
“Is dit jou saak? Beeld haal vanoggend vir De Wit aan. Ek kon dit nie verstaan nie, maar nou ja …” Dan word sy stem sameswerend: “Ek hoor sy swart kollegas in die ANC het hom Mpumlombini genoem. Vir De Wit. In die ou dae, in Londen.”
“Wat beteken dit, oom Blackie?”
“Xhosa vir Tweeneus. Die man het glo ’n moesie … Swart mense het ’n goeie sin vir humor, Mattie …”
Joubert hoor hoe ’n sigaret aan die ander punt aangesteek word. Dan hoes Blackie Swart lank en aanhoudend.
“Miskien moet ék ook maar die goed los, Mattie.”
Joubert vertel hom van James Wallace.
“De Wit is reg oor die modus operandi, Mattie. Chinese het só gemaak in Londen verlede jaar. Maar hulle het ander maniere ook. Lief vir die kruisboog. Dramatiese goed. Baie meer finesse as die Amerikaanse Mafia. Maar die Chinese is nie net by dwelms nie, Mattie. Kyk na kredietkaartbedrog. Hulle is sterk daar. Vervalsing van en handel in dokumente. Paspoorte, rybewyse. Wallace het ’n posbesigheid. Het hulle banke se kredietkaarte weggestuur? Hy kon maklik aan die Chinese die nommers verskaf.”
“Sy werksmense sê hy het met geen Oosterse groepe sake gedoen nie.”
“Vra sy vrou. Miskien het hulle hom by die huis kom sien.”
“Hy het rondgeslaap, oom Blackie.”
“Kan wees, Mattie. Jy weet wat ek sê. Daar is twee soorte moorde. Die soort waar iemand hom skielik vererg en met die eerste die beste ding skiet of slaan of gooi. En die ander is waar hy eers planne maak. Kopskoot in ’n parkeerterrein klink vir my na ’n plan. En ’n man wat rondslaap … Kan wees …”
Joubert sug.
“Voetwerk, Mattie. Dis al wat help. Voetwerk.”
Hy ry na Margaret Wallace. Hy wonder hoe ver sy op die pad van rou gevorder het. Dan, op die N1 tussen Bellville en die Suidelike Voorstede, onthou hy vir die eerste keer sy droom van die vorige nag.
Hy weet skielik hy was ’n drenkeling die afgelope twee jaar. Hy het gedobber op die oppervlak van sy bewussyn, te bang om te duik in die donker water. Hy kan onthou van drome wat na hom teruggekom het in die veiligheid van die dag. Maar hy het hulle diep gehou, terwyl hy bo gedryf het. En nou kan hy sy kop onder die waterlyn dompel en sy oë oophou, kyk na die droom, want Lara was nie deel daarvan nie. Yvonne Stoffberg was daar. Hoe duidelik het hy nie haar liggaam gesien nie.
Sal hy kan?
As drome werklikheid word en sy staan daar voor hom, ’n ope uitnodiging. Sal hy kan? Sal die gereedskap van die liefde só ongeslyp hul werk kan verrig? Of is sy lemme te stomp om die verlede af te snoei, sodat iets nuuts kan uitloop?
Die onsekerheid gaan lê hier laag in sy buik, ’n vrees. Sy buurman se agttienjarige dogter. Of is dit sewentien? Hy dwing sy gedagtes na die ander karakters van sy droom. Wat het Bart de Wit daar gedoen? Gat in die kop. En Margaret Wallace? Hy verwonder hom aan die misterie van sy onderbewussyn. Wonder waarom hy nie van Lara gedroom het nie. Wonder of sy vannag sal terugkeer. Die ou monsters dring sy denkpoel binne. Hy sug. En skiet op na die veilige oppervlak.
Die vrou wat die deur oopmaak, moet Margaret Wallace se suster wees. Haar hare is kort en rooier, haar vel liggies besprinkel met sproete, haar oë effekleurig ligblou, maar die ooreenkoms is onmiskenbaar.
Joubert vra om haar suster te sien.
“This