Feniks. Deon Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798157421
Скачать книгу
ek verwys omdat ek niks makeer nie?”

      “Nee.”

      “Wie het besluit ek moet kom?”

      “Ek.”

      Hy kyk na haar. Haar arms is ontspanne, haar hande maak net nou en dan klein beweginkies om haar woorde te punktueer. En haar stem. Hy kyk vinnig na haar gesig. Hy sien die lyn van haar kakebeen, reguit en fyn, asof dit breekbaar is. Hy kyk weer weg. Sy lyk nie skuldig nie. Net kalm en geduldig.

      “En my BO?”

      “BO?”

      “My bevelvoerende offisier.”

      “Ek kry elke dag ’n hele klomp lêers van offisiere wat dink hul mense moet met my gesels. Ek kyk daarna. En net ék beveel aan wie moet kom.”

      Maar De Wit het steeds die aanvoorwerk gedoen. Die vorms ingevul. Die motivering geskryf.

      Hy raak bewus van die intensiteit van haar blik. Hy druk die sigaret dood. Hy vou sy arms en kyk na haar. Haar gesig is ernstig.

      Nog sagter as voorheen sê sy: “Dit is nie onnatuurlik om ongelukkig daaroor te wees nie.”

      “Hoekom het jy mý gekies?”

      “Hoekom dink jy?”

      Sy is slim, dink hy. Te slim vir hom.

      Hy weet hy is nie mal nie. Of is dit juis wat die malles sê? Hy is hier omdat hy ’n bietjie mal is. Die Groot Roofdier het sy spoor gevat. En dit maak hom soms …

      “Oor my rekord,” sê hy gelate.

      Sy kyk na hom, ’n simpatieke halfglimlag op haar mond. Haar mond is klein. Hy sien sy dra nie grimering nie. Die onderlip is ’n sappige brokkie, ’n natuurlike ligpers.

      Wanneer sy niks sê nie, voeg hy by: “Dit is seker nodig.”

      “Hoekom dink jy is dit nodig?” Amper ’n fluistering. Net die musikaliteit van haar stem maak dit hoorbaar.

      Is dít hoe dit werk? Jy kom in en jy sit en jy steek jou eie sweer oop en laat die etter voor die slim doktor uitloop en sy ontsmet die wond en draai ’n verband daarom. Waar moet hy begin? Wil sy weet van sy kinderdae? Dink sy hy het nog nie van Freud gehoor nie? Of moet hy by Lara begin? Of by Lara eindig? Of by die dood? Wat van Yvonne Stoffberg? Wil jy die een hoor van die speurder en die buurman se dogter, doktor? Skreeusnaakse storie … Want die speurder wil, maar hy weet nie of hy kan nie.

      “Want my werk ly daaronder.” ’n Lafhartige antwoord. Hy weet dit. Hy weet sy weet dit ook.

      Sy bly lank stil. “Jou aksent. Ek kom van Transvaal af. Dit klink nog vreemd. Het jy hier grootgeword?”

      Hy kyk af na sy bruin skoene wat politoer nodig het. Hy skud sy kop op en af. “Goodwood.”

      “Broers en susters?”

      Staan dit nie in sy lêer nie? “’n Suster, ouer as ek.”

      “Is sy ook nog in die Kaap?”

      “Nee. In Secunda.”

      Hy kyk nou vir haar wanneer hy praat. Hy sien die breë voorkop, die groot bruin oë, wyd uitmekaar, die wenkbroue ruig.

      “Lyk julle na mekaar?”

      “Nee …” Hy weet hy moet nog iets sê. Hy weet sy antwoorde is te kort. “Sy … lyk na my pa.”

      “En jý?”

      “Na my ma.” Hy is skaam, ongemaklik. Wat hy wil sê, klink so alledaags. Maar hy sê dit: “Eintlik my ma se mense. Haar pa, my oupa, was blykbaar ook groot.”

      Hy haal diep asem: “En lomp.” Hy is vies omdat hy die laaste woorde bygevoeg het. Soos ’n misdadiger wat opsetlik leidrade laat.

      “Beskou jy jouself as lomp?” Sy sê dit outomaties, ’n refleks, en dit laat hom op ’n eienaardige manier beter voel. Sy is minstens nie volkome in beheer nie.

      “Ek is.”

      “Hoekom sê jy so?” Stadiger, nou deurdag.

      “Ek was nog altyd.” Sy oë dwaal oor die boekrak, maar hy sien niks. “Vandat ek kan onthou.” Die herinneringe dam op teen die dyk. Hy haal ’n vinger uit om ’n paar druppels deur te laat. “Op laer skool ... Ek het altyd laaste gekom in die atletiek …” Hy is onbewus van sy skewe glimlag. “Dit het my gepla. Op hoër skool het dit nie meer nie.”

      “Hoekom het dit jou gepla?”

      “My pa … Ek wou soos hy wees.” Hy druk die vinger terug. Die lekplek is weer verseël.

      Sy huiwer vir ’n oomblik. “Leef jou ouers nog?”

      “Nee.”

      Sy wag.

      “My pa is drie jaar gelede oorlede. Aan ’n hartaanval. My ma ’n jaar daarna. Hy was een en sestig. Sy, nege en vyftig.” Hy wil nie onthou nie.

      “Watter werk het hy gedoen?”

      “Polisieman. Hy was vir sewentien jaar bevelvoerder van die Goodwood-stasie.” Joubert kan die ratte in haar kop hoor draai. Sy pa was ’n polisieman. Hý is ’n polisieman. Dit beteken wat dit ook al beteken. Maar sy sal ’n fout maak.

      “Ek het nie ’n polisieman geword omdat my pa een was nie.”

      “O?”

      Sy is so slim. Sy het hom uitgevang. Maar sy gaan nie weer nie. Hy bly stil. Hy druk sy hand in sy baadjiesak en soek sy sigarette. Nee, dit is te gou. Hy haal sy hand uit en vou weer sy arms voor sy bors.

      “Was hy ’n goeie polisieman?”

      Hoekom karring sy so met sy pa?

      “Ek weet nie. Ja. Hy was van ’n ander era. Sy mense – die uniforms, wit en bruin – was lief vir hom.”

      Hy het nie eens met Lara oor sy pa gepraat nie.

      “Maar ek dink hulle was bang vir hom.”

      Hy het nooit met Blackie Swart oor sy pa gepraat nie. Of met sy ma of sy suster nie. Wil hy met iemand oor sy pa praat?

      “Die bruines beslis. Hy het hulle hotnots genoem. Voor hulle. ‘Kom, my hotnot.’ En kaffers. Nooit ‘my kaffers’ nie – ‘verdomde kaffers’. Daar was nie in sý tyd swart konstabels by die stasie nie. Net swart misdadigers. Al hoe meer, soos wat hulle uit die Oos-Kaap hier kom werk soek het. Hy het hulle gehaat.”

      Hy sien homself in die swart leunstoel, die groot man met die gevoude arms, geboë kop en effens deurmekaar hare, die bruin baadjie en broek, die ongepoetste bruin skoene, die das. Hy hoor homself praat. Asof hy buite homself tree. Praat, Mat Joubert, praat. Dit is wat sy wil hê. Gee vir haar die geraamtes. Laat sy met haar geleerdheid die oorskot van jou lewe ontleed. Bloei die vullis uit.

      “Ék ook, eers, omdat hý het. Voor ek begin lees het en maats gehad het wie se ouers anders gedink het. En toe het ek net … neergesien op my pa, op sy eng en eenvoudige standpunt, op sy nuttelose haat. Dit was deel van … ’n proses.”

      In die kelders van sy kop is dit ’n oomblik lank stil.

      Die pyn kom druk op sy skouers. Hy by sy pa se graf, en hy weet hy het die man gehaat. En niemand het geweet nie. Maar sy pa het dit vermoed.

      “Ek het hom gehaat … doktor.” Hy las haar titel met opset aan, ’n afstand tussen hulle. Sy wil weet. Sy wil hoor watter skimme sy kop bewandel. Hy sal sê. Hy sal haar fokken sê. Voor sy met haar tegnieke en haar stem en haar grote kennis dit uit hom kan ryg … “Ek het hom gehaat omdat hy was wat ek nie kon wees nie. En my daarvoor kwalik geneem het en dit in my gesig teruggegooi het. Hy was so sterk en … vlugvoetig. Hy het die bruin konstabels op ’n Vrydagaand agter die stasie in die straat laat staan. ‘Kom, my hotnots, die een wat voor my by die lamppaal is, kan die naweek gaan naai.’ Hy was al in die vyftig en hy het vir hulle almal weggehardloop. En ek was stadig. Hy het gesê