Sy knik.
“Wat is sy volle name?”
“Adam Johannes.”
“Ouderdom?”
“Twee-en-vyftig.”
Dekker skryf. “En sy beroep?”
Sy rig haar moeë oë op Dekker. “AfriSound.”
“Verskoon my?”
“AfriSound. Dis syne.”
“AfriSound?”
“Dis ’n platemaatskappy.”
“En hy besit die maatskappy?”
Sy knik.
“U volle name?”
“Alexandra.”
“Ouderdom?”
“Honderd-en-vyftig.”
Dekker kyk net vir haar, pen reg.
“Ses-en-veertig.”
“U beroep?”
Sy maak ’n kort, ironiese geluid en vee weer hare terug van haar gesig af. Griessel sien bevestiging van die huishulp se stelling dat sy ’n drinker is – die bewende hande, die oë, die kenmerkende verkleuring en erosie op haar gesig. Maar daar is iets anders waaraan sy hom herinner. Hy weet hy het haar al iewers ontmoet.
“Verskoon my?” sê Dekker.
Van waar ken hy haar, wonder Griessel. Van waar?
“Ek werk nie.”
“Tuisteskepper,” sê Dekker en skryf dit neer.
Sy maak dieselfde gelade geluid.
“Mevrou Barnard, kan u vir ons vertel van laasnag se gebeure?”
Sy sak stadig terug in haar groot stoel, plaas ’n elmboog op die leuning en stut haar kop met die hand. “Nee.”
“Verskoon my?”
“Ek weet nie hoe lank ek nog die versoeking sal kan weerstaan om ‘jy is verskoon’ te sê nie.”
Dekker se kakebeenspiere beweeg, asof hy op sy tande kners. Alexandra trek haar asem stadig en doelbewus in, asof sy haar staal vir ’n groot taak. “Ek is ’n alkoholis. Ek drink. Van elfuur in die oggend. Teen sesuur is ek gewoonlik genadiglik dronk. En van halfnege af onthou ek nie veel nie.” Op daardie oomblik, miskien omdat die diep, ryk stem iewers in sy geheue resonansie vind, onthou Bennie Griessel wie sy is. Die woord kom sit op sy tong, hy sê dit amper hardop, bedwing homself net betyds: Soetwater.
Sy was ’n sangeres. Xandra. Here, sy het oud geword.
Soetwater. Die woord roep ’n visioen by hom op, ’n TV-beeld van ’n vrou in ’n noupassende swart rok, net sy en ’n mikrofoon in die helder kollig van ’n rookgehulde verhoog.
’n Glasie vol sonlig, ’n soet kelkie klein.
Skink Soetwater.
’n Mondjie vol liefde, ’n slukkie vol pyn.
Drink Soetwater.
Middel tagtigerjare, daar rond, en Griessel onthou haar soos sy was, die onmoontlik sensuele blonde sangeres met die Dietrich-agtige stem en genoeg selfvertroue om haarself nie ernstig op te neem nie. Hy het haar net op ’n televisieskerm ontmoet, en op die voorblaaie van tydskrifte, in die dae voor hý gedrink het. Sy het vier, vyf treffers gehad, hy onthou “ ’n Donkiekar net vir Twee”, “Tafelbaai se Wye Draai” en die heel grote, “Soetwater”. Fok, sy was hierdie moerse ster en kyk hoe lyk sy nou. Bennie Griessel voel ’n jammerte vir haar, ’n verlies, ’n aanklank.
“So u kan nie onthou wat gisteraand gebeur het nie?”
“Nie veel nie.”
“Mevrou Barnard,” sê Dekker, styf en formeel. “Ek kry nie die indruk dat jou man se dood jou geweldig ontstel nie.”
Hy maak ’n fout, dink Griessel. Hy lees haar verkeerd; hy’s te gespanne, te haastig.
“Nee, inspekteur, ek is nie in rou nie. Maar as jy my gin en dry lemon bring, sal ek my bes doen.”
Vir net ’n oomblik is Dekker onseker, maar dan trek hy sy skouers terug en hy sê: “Kan jy enigiets onthou van gisteraand?”
“Genoeg om te weet dit was nie ek nie.”
“O.”
“Kom vanmiddag terug. Drie-uur is ’n goeie tyd. My beste van die dag.”
“Dit is nie ’n opsie nie.”
Sy maak ’n gebaar wat sê dit is nie haar probleem nie.
“Ek sal jou bloed moet laat toets vir alkoholvlakke.”
“Gaan aan.”
Dekker staan op. “Ek kry net die tegnikus.”
Griessel loop agter hom aan. In die sitkamer is Dik en Dun besig om op te pak. “Kan jy net haar bloed trek voor julle gaan?”
“Sure, Chief,” sê Jimmy.
“Fransman,” sê Griessel, daarvan bewus dat hy baie versigtig sal moet wees. “Jy weet ek is ’n alkoholis?”
“A,” sê Arnold, die dikke, “speurders wat bond. Wat kan mooier wees?”
“Fokkof,” sê Griessel.
“Ek was in elk geval op pad,” sê Arnold.
“Julle moet nog die Mercedes in die straat doen,” sê Dekker.
“Dis volgende op die lys,” en Arnold loop by die vertrek uit, sy hande vol van bewysstukke en apparaat.
“So?” vra Dekker as hulle alleen is.
“Ek weet hoe sy voel, Fransman …”
“Sy voel niks. Haar man lê daar en sy voel niks. Sy’t hom geblaas, ek sê jou. Die gewone storie.”
Hoe verduidelik jy aan ’n nie-suiper hoe sy nou voel? Alexandra Barnard se hele wese sit daar en smag na alkohol. Sy is soos ’n drenkeling in die verskriklike vloed van dié oggend; drank is die enigste reddingsboei. Griessel weet.
“Jy’s ’n goeie speurder, Fransman. Jou toneel is perfek bestuur, jy doen alles volgens die boek en jy’s tien teen een reg. Maar as jy ’n bekentenis wil kry … Gee my ’n kans. Een-tot-een is nie so intimiderend nie …”
Griessel se selfoon lui. Hy kyk na Dekker terwyl hy dit uithaal. Die bruin man lyk nie positief oor sy voorstel nie.
“Griessel.”
“Bennie, dis Vusi. Ek’s by Metro se CCTV-kamer. Daar’s twee van hulle, Bennie.”
“Twee wat?”
“Twee meisies, Bennie. I’m standing here, watching five guys chasing two girls up Long Street.”
7
“Fok,” sê Bennie Griessel. “Hulle jáág die meisies? In Langstraat?”
“Die time code sê dit was vanoggend, kwart voor twee. Vyf ouens, van Waalstraat se kant af, na die kerk toe.”
“Dis wat, vier straatblokke?”
“Ses blokke tussen Waal en die kerk. ’n Halwe kilometer.”
“Jissis, Vusi, jy doen dit nie om ’n rugsaktoeris se beursie te steel nie.”
“Ek weet. Die ander ding is: Die footage is nie great nie, maar ’n mens kan sien – die ouens wat hulle jaag, is swart én wit, Bennie.”
“Maak nie sin nie.” Want in hierdie land werk misdadigers nie saam oor kleurgrense heen nie.
“Ek