13 uur. Deon Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798157452
Скачать книгу
you see anybody following her?”

      “I did. A few minutes later, they came running.”

      “How many, madam?”

      “Well, I didn’t count them, but there must have been five or six.”

      “Can you describe them?”

      “They were, well, some were white and some were black. And they were quite young … I found that very disturbing, these young men, running with such intent …”

      * * *

      Sy word met ’n ruk van haar lyf wakker as iemand vir haar skree. Sy wil in haar paniek orent kom, maar haar bene verraai haar sodat sy struikel en met haar skouer teen die muur val.

      “You’re fucking drugged.” Hy staan anderkant die struike met sy hande op sy heupe, dieselfde stem wat vroeër van die huis af geskree het.

      “Please,” smeek sy en staan op.

      “Just get off my property,” sê hy met ’n vinger wat hek toe wys. “What is it with you people? Snoring in my shrubs.”

      Sy vind haar pad deur die plante. Sy sien hy het ’n donker pak klere aan, ’n sakeman, middeljarig, woedend. “Please, I need your help …”

      “No. You need to shoot up somewhere else. I’m sick and tired of this. Get out.”

      Sy begin huil. Sy loop tot by hom. “It’s not what you think, please, I’m from the United …”

      Die man vat haar arm en ruk haar hek toe. “I don’t give a fuck where you are from.” Hy trek haar, hardhandig. “All I want, is that you people stop using my property for your filthy habits.” By die hek stamp hy haar, pad se kant toe. “Now fuck off, before I call the police,” sê hy, draai om en loop na sy huis toe.

      “Call them, please,” sê sy deur die snikke, haar skouers ruk, haar lyf bewe. Hy hou aan met loop, maak ’n traliehek oop, klap dit toe en verdwyn.

      “Oh, God.” Sy staan en huil op die sypaadjie; haar hele lyf bewe. “Oh, God.” Deur die trane kyk sy instinktief in die straat af, eers links, dan regs. Daar bo, net voor die pad oor die berg se flank krul, staan twee van hulle. Klein, wagtende figuurtjies, een met ’n selfoon teen die oor. Sy skrik en begin aanstap, in die teenoorgestelde rigting, die een waaruit sy vroeër gekom het. Sy weet nie of hulle haar gesien het nie, sy hou links, teen die mure van die huise, kyk oor haar skouer. Hulle staan nie meer nie. Hulle hardloop, na haar toe.

      Wanhoop rem aan haar. Uitkoms is om te gaan staan, sodat dit alles kan verbykom, die onvermydelike. Sy kan nie aanhou nie, sy het nie meer krag nie. Vir ’n oomblik is dit ’n byna onweerstaanbare opsie, ’n perfekte uitweg, sodat sy haar pas vertraag. Dan sien sy in haar kop vir Erin in die nag en die adrenalien vloei en sy hardloop en sy huil.

      * * *

      Die ambulansmanne tel die lyk op ’n draagbaar oor die muur as Griessel met die koffie aankom. Die omstanders bondel nader, tot teenaan die geel misdaadband wat die sypaadjie toespan. Griessel wonder lank-al nie meer oor mense se makabere belangstelling in die dood nie. Hy gee een polistireenbeker aan sy kollega.

      “Dankie, Bennie.”

      Die reuk van koffie herinner Griessel daaraan dat hy nog nie ontbyt gehad het nie. Miskien kan hy gou teruggaan woonstel toe vir ’n vinnige bord WeetBix voor die foto’s kom, dis net ’n kilometer weg. En kyk of Carla vir hom geskryf het. Want gisteraand …

      Nee, hy gaan nie nou oor gisteraand dink nie.

      Vusi sê iets in Xhosa wat hy nie verstaan nie, ’n aanduiding van verbasing. Hy volg die swart speurder se blik en sien drie van die Metro-polisiemanne wat oor die muur klim. Oerson, die een met wie Griessel vroeër ’n onderonsie gehad het, dra ’n blou rugsak in sy hand. Hulle kom vol bravade aangestap.

      “uNkulunkulu,” sê Vusi.

      “Fok,” sê Bennie Griessel.

      “Ons het hom gekry,” sê die veldmaarskalk selftevrede en hou die rugsak na Vusi uit.

      Die Xhosa skud sy kop, trek weer sy rubberhandskoene uit sy sak.

      “Wat?” sê Oerson.

      “Volgende keer,” sê Griessel in ’n redelike stem, “sal dit beter wees as julle vir ons laat weet julle het dit gekry. Dan bring ons die forensiese mense en ons kamp die area af voor iemand daaraan vat.”

      “Dit het in ’n fokken doorway gelê in Bloemstraat. ’n Duisend mense kon al daaraan gevat het. Daar’s in elk geval nie veel in nie.”

      “Jy het dit oopgemaak?” vra Vusi as hy die rugsak vat. Die twee rugbande is deurgesny, net soos die patoloog voorspel het.

      “Daar kon ’n bom in gewees het,” sê Oerson verdedigend.

      “Het jy aan dié goed gevat?” vra Vusi en haal ’n grimeersakkie uit. Hy buk af, sodat hy die inhoud op die teerpaadjie kan uitpak.

      “Nee,” sê Oerson, maar Griessel weet hy lieg.

      Vusi pak ’n Steersservet uit die rugsak, dan ’n klein houtbeeldjie van ’n seekoei in donker hout, ’n wit plastieklepel en ’n Petzl-kopflits. “Dis al?”

      “Dis al,” sê Oerson.

      “Sal julle my ’n guns doen, asseblief?”

      Hulle antwoord nie.

      “Kan julle weer soek, en kyk of daar nie ander goed is nie? Dalk iets wat iemand uitgegooi het. Enigiets. Wat ek die graagste wil hê, is enige vorm van identifikasie. ’n Paspoort, ’n rybewys, enigiets …”

      Oerson is nie geesdriftig nie. “Ons kan julle nie die hele dag help nie.”

      “Ek weet,” sê Vusi sag en geduldig. “Maar as julle nog net dit kan doen, asseblief.”

      “O.K. Ek sal nog mense kry,” sê Oerson. Hulle draai om, klim oor die muur.

      Vusi se vingers soek in die paar klein sakkies aan die kante van die rugsak. In die eerste kry hy niks nie. Diep onder uit die tweede trek hy iets – ’n groen kartonkaartjie met ’n swart-en-geel logo daarop: Hodsons Bay Company. In kleiner skrif: Bicycles, fitness, backpacking, camping, climbing gear, and technical clothing for all ages and abilities. Met ’n adres: 360 Brown Street, Levee Plaza, West Lafayette, IN 47906. Daar is twee telefoonnommers ook by. Die Xhosa bestudeer dit aandagtig en wys dan vir Griessel. “Ek dink die IN staan vir Indiana.”

      “West Lafayette,” sê Griessel, nadenkend.

      “Seker ’n klein plekkie,” sê Vusi. “Ek het nog nooit daarvan gehoor nie.”

      “Faks vir hulle ’n foto, Vusi. Miskien kan hulle haar identifiseer.”

      “Great idea.”

      Griessel se selfoon lui skerp in sy sak. Hy haal dit uit en antwoord.

      “Griessel.”

      “Bennie, dis Mavis. Hier het ’n inspekteur Fransman Dekker gebel. Hy sê ek moet vir jou laat weet hulle het ’n moord by Brownlowstraat 47 in Tamboerskloof, as jy wil kom mentor.”

      “As ek wil?”

      “Dis wat hy gesê het. Klink na ’n windgat.”

      “Dankie, Mavis. Brownlow 47?”

      “Dis reg.”

      “Ek is op pad.” Hy beëindig die oproep en sê vir Vusi. “Nog ’n moord. Hier bo in Tamboerskloof. Ek’s jammer, Vusi …”

      “No problem. Ek bel jou as ons iets kry.”

      Griessel begin aanstap. Ndabeni roep agterna: “Bennie …”

      Griessel draai om. Vusi kom nader gestap. “Ek wou jou net gevra het … Ek … e …”

      “Vra, Vusi.”

      “Die