“Goeie werk, Vusi.”
“I don’t know if it will help much,” sê Ndabeni en beëindig die oproep. Griessel sien Dekker wag ongeduldig op hom.
“Ek is jammer, Fransman. Dis Vusi se ondersoek …”
“En hierdie is my ondersoek,” met lyftaal wat wys hy is reg vir ’n argument.
Griessel het nie dié aggressie verwag nie, maar hy weet hy is op dun ys. Speurders se territoriale drange is sterk, en hy is net hier om te mentor.
“Jy’s reg,” sê hy en loop deur se kant toe. “Dog net dit kan help.”
Dekker staan, fronsend.
En dan, net voor Bennie uitgaan: “Wag …”
Griessel steek vas.
“O.K.,” sê Dekker eindelik. “Praat met haar.”
* * *
Sy hoor hulle nie meer nie. Net die voëlgesang en die sonbesies en die gedruis van die stad hier onder. Sy lê in die koelte van die rotshang, maar sy sweet, die temperatuur van die bergkom wat vinnig styg. Sy weet sy kan nie opstaan nie, want hulle sal iewers gaan staan en hulle oë sal na haar soek.
Sy oorweeg dit om hier te bly lê, die hele dag lank, totdat die donker kom en sy nie so sigbaar sal wees nie. Sy kan dit doen, al is sy dors, al het sy gisteraand laas geëet. As sy rus, as sy nog ’n bietjie kan slaap, sal sy vanaand met nuwe krag kan gaan hulp soek.
Maar hulle weet sy is hier, iewers.
Hulle sal die ander laat kom en hulle sal soek, hulle sal terugloop op die paadjie en elke moontlikheid oorweeg en as iemand naby kom, sal hulle haar kan sien, die holte is nie diep genoeg nie. Sy ken die meeste van hulle, sy ken die lenigheid van hul lywe, die energie, die fokus, die behendigheid en selfvertroue. En sy weet hulle kan nie bekostig om op te hou soek nie.
Sy sal moet beweeg.
Sy kyk in die rivierlopie af, die klipperige, smal gang wat tussen fynbos en rotse na onder slinger. Sy sal daar moet af, kruipend, versigtig om nie ’n geluid te maak nie. Die berg was die verkeerde keuse, te verlate, te oop. Sy moet kom waar daar mense is, sy moet hulp kry, iewers moet iemand bereid wees om te luister en te help.
Sy lig haar kop traag van die rugsak af, druk dit voor haar uit en gly versigtig agterna. Sy sal dit nie kan sleep nie; dit sal hoorbaar wees. Sy kom gebukkend orent, swaai die rugsak stadig op en knip die gespes saggies vas. Dan kruip sy, op haar hande en voete, oor die ronde klippe. Stadig, sodat sy niks versteur wat ’n geluid kan maak nie.
* * *
Griessel loop in die sitkamer in en gaan fluister in Tinkie Kellerman se oor. Alexandra Barnard trek aan nog ’n sigaret; haar oë volg vir Tinkie wat opstaan en by die deur uitloop. Griessel gaan maak die deur agter haar toe en stap woordeloos na ’n Victoriaanse meubelstuk, ’n groot kas met loodglasdeure bo en donker houtdeure onder. Hy trek bo en onder deure oop, haal ’n glas en ’n bottel jenewer uit en loop na die stoel naaste aan Alexandra Barnard.
“My naam is Bennie Griessel en ek is ’n alkoholis. Ek het honderd-ses-en-vyftig dae laas gedrink,” sê hy en breek die seël op die bottel. Haar oë is op die deurskynende vloeistof wat hy versigtig in die glas gooi, drie stewige vingers. Hy hou dit na haar uit. Sy neem dit met hande wat verskriklik bewe. Sy drink, ’n intense, dorstige sluk, en sy maak haar oë toe.
Griessel loop terug drankkabinet toe en bêre die bottel. As hy weer gaan sit, sê hy: “Ek sal jou nie meer as dit kan laat drink nie.”
Sy knik net.
Hy weet hoe sy op dié oomblik voel. Hy weet die drank sal deur haar hele wese vloei, ’n sagte gety van heling wat seerplekke genees en stemme stilmaak, wat ’n silwer, gladde strand van vrede nalaat. Hy gee haar kans; dit verg vier slukke, soms meer; jy moet jou liggaam kans gee om die goddelike gloed deur te laat. En dan besef hy hy staar met ’n sekere intensiteit na die glas teen haar lippe, hy ruik die drank, hy voel hoe sy eie lyf daarna uitreik en hy sit terug in die stoel, hy haal asem, hy kyk vir die tydskrifte op die koffietafel, Visi en House & Garden, twee jaar oud, maar ongelees en uitgestal, tot sy sê: “Dankie,” en hy kan hoor haar stem het sy skerp kant verloor.
Sy sit die glas stadig neer, die bewing byna weg, en sy hou die pakkie sigarette na hom uit.
“Nee dankie,” sê hy.
“ ’n Alkoholis wat nie rook nie?”
“Ek rook nou en dan.”
Sy steek vir haarself een aan. Die asbakkie langs haar is al vol.
“My AA-borg is ’n dokter,” sê hy ter verduideliking.
“Kry ’n ander borg,” sê sy, ’n poging tot humor, maar dit wil nie werk nie; haar mond trek in ’n ander rigting en dan begin Alexandra Barnard te huil, geluidloos, net ’n pynlike grynslag op haar mond en trane uit haar oë en sy sit die sigaret neer en hou haar palms voor haar gesig. Griessel druk ’n hand in sy broeksak en haal ’n sakdoek uit. Hy hou dit, maar sy sien nie. Haar skouers ruk, haar kop sak, die lang hare val weer oor haar gesig soos ’n gordyn. Griessel sien dit is blond en silwer, ’n rare verskynsel; die meeste vroue kleur hulle hare. Hy wonder hoekom sy nie meer omgee nie. Sy, wat ’n ster was, ’n grote. Wat het haar afgetakel tot hier?
Hy wag dat die snikke bedaar. “Sy naam is dr. Barkhuizen. Hy’s sewentig jaar oud en hy’s ’n alkoholis met lang hare en ’n vlegsel. Hy sê sy kinders het vir hom gevra hoekom hy rook, toe het hy allerhande redes – dit help hom met stres, dis lekker …” Hy hou sy stemtoon rustig, hy weet die storie is onbenullig, maar dit maak nie saak nie, hy wil net ’n dialoog aan die gang kry. “Toe sê sy dogter dan sal hy seker nie omgee as sy ook rook nie. Toe weet hy hy lieg vir homself oor die sigarette. Toe hou hy op. Vir my was dit anders. Toe ek ophou drink … Ek het net belangstelling in rook verloor. Dit was nooit my nommer een nie. Nou’s ek op drie of vier ’n dag …”
Sy kyk eindelik op en sien die sakdoek. Sy vat dit by hom. “Was dit moeilik?” Haar stem nog dieper. Sy vee haar gesig af, snuit haar neus.
“Die drank was. Is. Nog steeds.”
“Ek sal nie kan nie.” Sy frommel die sakdoek en vat weer die glas, drink daaruit.
Hy antwoord nie. Hy moet haar nou ruimte gee om te praat. Hy weet sy sal.
“Nou’s jou sakdoek …”
“Jy kan dit hou.”
“Ek sal dit laat was.” Sy sit die glas neer. “Dit was nie ek nie.”
Griessel knik.
“Ons het nie meer gepraat nie,” sê sy en kyk iewers in die vertrek.
Griessel sit stil.
“Hy kom halfsewe van die kantoor af. Dan kom hy op biblioteek toe en hy staan en kyk vir my. Om te sien hoe dronk ek is. As ek niks sê nie, dan gaan eet hy alleen in die kombuis of hy gaan sit in sy studeerkamer. Of hy gaan weer uit. Hy het my elke aand in die bed gesit. Elke aand. Ek het al gewonder, in die middag, as ek nog kan dink, of dit is hoekom ek drink. Sodat hy nog hierdie een ding vir my kan doen. Is dit nie tragies nie? Breek dit nie jou hart nie?” Die trane begin weer loop. Dit versteur die ritme van haar spraak, maar sy hou aan. “Partykeer, as hy inkom, sal ek hom probeer uitlok. Ek was goed daarmee …Gisteraand het ek … ek het vir hom gevra wie se beurt dit nou is … Jy moet verstaan … Ons het … dis ’n lang storie …” en vir die eerste keer is haar snikke hoorbaar, asof die volle gewig van haar geskiedenis op haar kom lê en die jammerte wel op in Bennie Griessel, want hy sien weer die skim van die sangeres in haar.
Eindelik druk sy die sigaret dood. “Toe sê hy net ‘fok jou’, dis al wat hy ooit gesê het en toe ry hy weer. Ek het vir hom geskree