Is weer sagie. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798163002
Скачать книгу
vuurkas skoon en gaan maak die aslaai buite leeg. Toe maak hy vuur en sit koffiewater op. Voor die stoof mooi warm is, kom Mieta in.

      “En nou, as jy so vroeg is?” vra Sagie.

      “Dis byna dagbreek, ek kon sien waar ek loop. Waar’s jou pa?”

      “Skeer seker nog. Jy’t nog nooit so vroeg kom werk nie, Mieta.”

      Sy lig die koffiekan se deksel. “As julle elektrisiteit gehad het, het die water al gekook.”

      “Is.”

      “Is jou pa nog kwaad vir Lammie?”

      Sagie kyk oor sy skouer na die binnedeur. “Ek dink hy’t vergeet. Jy het net betyds t’ruggekom van die Kaap af, Mieta – die huis is netjies en ons eet weer lekker.”

      “Sorg jy maar dat daai bok van Ansie uit die moeilikheid bly.”

      Daar is voetstappe in die gang. Sagie hou ’n wysvinger oor sy lippe.

      “Môre, meneer,” sê Mieta.

      Barend steek viervoet vas. “Is daar iets wat jou jaag, Mieta? Môre.”

      “Daar begin die water nou kook – wil meneer koffie hê? Jy ook seker, Sagrys. Ek gooi gou ’n paar lepels koffie in die sak.”

      Sagie sien sy pa frons terwyl hy na Mieta kyk, en toe merk hy op hoe sy aan die beweeg bly, en aan die praat.

      Sy pa maak keel skoon. “Mieta, wat is jy vanoggend nes ’n skaap met draaisiek?”

      “Nee, meneer, dis sommer net … ek gee meneer te raai, wie kom gisteraand skemertyd soetkys in die hand na ons toe aangewals?”

      Sagie is die ene ore. “Wie, Mieta?”

      Maar sy pa, sien hy, hou vir hom asvaal.

      Mieta skink vir hulle koffie en maak die beskuitblik oop. Sy hou dit vir Barend, maar hy sit haar net en kyk.

      “Jy, Sagrys?” vra sy.

      “Asseblief, ja.” Hy haal vir hom drie stukke beskuit uit. “Dankie, Mieta. Wie kom toe gisteraand daar aangewals, hè?”

      Sy maak Sagie se koppie weer vol. “Dan sê ek maar vir jou, Sagrys, want dit lyk my jy’s die enigste een wat wil weet.” Sy leun na hom toe oor. “Jakkelien,” fluister sy, maar hard genoeg vir Barend om te hoor.

      Sagie is stomgeslaan. “Hoor Pa wat Mieta sê, hè? Is Jakkelien wat gist’raand skemertyd …”

      “Ek is nie doof nie, Sagrys.”

      “Is Freek by gewees, Mieta?”

      Sy skud haar kop en sit die beskuitblik voor Barend neer. “Nee, dié’s nog in die Kaap in. Dit was net Jakkelien. Heel eerste na my toe, voor haar ma-goed-hulle nog, om te kom sê Freek byt stang vas in die vreemde.”

      “En hoe’t sy hier gekom?”

      “Met die trein saam: Kaap tot by Touwsrivier op die Trans-Karoo en daarvandaan met Makkadas. Freek het betaal.”

      “So ’n doring! En waar sal hy die klomp geld in die hande gekry het, Mieta?”

      “Nou vir wat sal jy vir my so iets kom staan en vra, hè?” vra Mieta vies. “Jakkelien sê hy werk hard en hy spaar elke sent wat hy kan.”

      “Behalwe die treingeld vir haar.”

      “Sagrys!” Barend se wenkbroue trek na mekaar toe en word een streep hare.

      “’Skies, Mieta.”

      Mieta sit ’n kastrol water op die stoof. “Meneer, kan ek maar die pap maak en agter op die stoof los dat julle self kan skep ná julle gemelk het? Ek moet gaan kyk hoe dit met Jakke­lien is, of sy het wat sy moet het.”

      “Dis reg so,” antwoord Barend.

      Die helfte van Sagie se beskuit breek af en val in sy koffie. Hy haal dit met sy vingers uit. “Lyk my Jakkelien het gaan staan en lui word in die Kaap. Hoekom sal sy eers skemeraand uit­gedop het as die trein vroegmiddag al op Winkelplaas ge­wees het, want hoe lank loop ’n mens van daar af, al het jy ’n tas by jou?”

      “Nee,” sê Mieta terwyl sy haar voorskoot afhaal, “jy weet mos hoe meisiekinders is.”

      Sagie wag dat sy moet sê, want hy weet nie hoe meisie­kinders is nie, maar sy praat met sy pa: “En daar is nog ’n ding, meneer, iets wat Jakkelien gesê het ek meneer moet vra.”

      “Laat ek hoor.”

      “Sy wil weet of sy maar by haar pa-goed-hulle kan bly tot sy ander plek kry.”

      Barend sit sy koffiekoppie neer. “Dis haar ouerhuis, Mieta, hoe dan anders? Sy hoef ook g’n ander blyplek te loop soek nie.”

      Toe die sifdeur agter Mieta toegaan, vra Sagie: “Hoekom sal sy t’ruggekom het, Pa – Jakkelien – en vir Freek net so in die Kaap los?”

      “Hoe sal ek nou weet?”

      Sagie kan nie wag vir middagete nie sodat hy by Mieta self kan hoor wat aangaan. Maar hy maak hom sommer reg om vir Hennerik ook te vra, Jakkelien se pa, nes hy hom op die lande sien.

      Na hulle gemelk en brekfis geëet het, stap Sagie en sy pa na waar die werkers reeds besig is.

      “Hierdie ding van Jakkelien, Sagrys, ek wil hê jy moet vir Hennerik en Charlot met rus laat daaroor. Vir Mieta-hulle ook.”

      “Deshit,” fluister Sagie.

      “Ons weet nie wat daar in die Kaap gebeur het nie – dis dalk iets waaroor hulle nie wil praat nie. As hulle uit hul eie iets sê, goed en wel – die een of ander tyd sal die hele vallei seker daarvan weet, maar tot dan los ons hulle uit. Verstaan jy?”

      “Ja, Pa,” antwoord Sagie, maar hy verstaan nie; Hennerik-hulle hoef mos nie te antwoord as hulle nie wil nie.

      Hulle praat nie weer ’n woord nie, al wil Sagie vir sy pa sê: “Mieta sê Freek verlang na my.” Maar hy doen dit nie.

      Die manne is almal vol dinge toe Sagie en sy pa daar aan­kom. Hennerik moet net bontstaan onder die tergery.

      “Môre, meneer. Môre, Sagrys.” Byna uit een mond.

      Toe sê Hennerik: “Het Mieta vir meneer-hulle gesê Jakke­lien is terug?”

      Barend knik.

      “Sy’t so gesê, ja,” antwoord Sagie. “Glo skemeraand by Mieta en September aangewals gekom.” Hy wil byvoeg dat sy nie gesê het hoekom nie, maar hy voel sy pa se oë op hom.

      “Ha!” laat Hubert hoor, “wals se stêre, man, sy’t omtrent die riel gedans met die aankomslag.”

      En een na die ander, asof hulle die woorde geoefen het: “Stóf uit die aarde getrap.”

      “In die rondte gedraai dat daar’ie soetkysie van haar dóér swaai.”

      “Dan práát ons nog nie eerste van haar rok nie – nóg hoër!”

      “En nou nie sommer die soort lapgoed wat Dwarsrivier se kle’meide dra nie, hoor. Of hoe sê ek, manne?”

      “Dis hoe sy aangekom het, ja, maar Hennerik hou die hóékom styf onder daar’ie laphoed van hom.”

      Barend klap hard op sy hande. “Toe, toe, dis nou genoeg, kom aan die werk!”

      “Ditsit, meneer, vertél die klomp ’n slag solat hulle ’n man kan uitlos.”

      “En jy ook, Sagrys.” Barend kyk na Sagie.

      Terug by die huis haak Barend sy hoed oor die kapstok en gaan badkamer toe. Sagie wag tot hy die deur agter hom toe­maak voor hy by die kombuis inglip. “Mieta?” fluister hy, maar daar is nie antwoord nie. Hy loer deur die sifdeur en sien haar van die wasgoeddraad af aankom, vadoeke teen haar bors aan die opvou. Hy hou die sifdeur vir haar oop.

      “Daar’s