Is weer sagie. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798163002
Скачать книгу
kere maak hy of Ansie met hom wegkruipertjie speel en hy soek van ver­trek tot vertrek en maak haar skrik as hy haar kry. Dis vir hom lekker om so te speel, maar dit maak hom hartseer ook, want dit hou nie. Soos nou, met ’n swerm raserige muis­voëls wat aangevlieg kom en in ’n taaibos gaan sit, en ’n alleen­loper­bobbejaan wat teen ’n krans blaf.

      “Ek het ’n swartstoof gesien, Ansie,” sê hy. “By ’ant Jopie in die winkel. Een wat jy van sal hou. Sommer net daar gestaan en wag vir my. Sy wil hom nie verkoop het nie, maar ek sal haar weer loop vra, lat ek en jy winters lekker warm in die kombuis kan sit – dit word sommer blerrie koud hierbo, hoor. ’Skies vir die woord. Maar baie kere skyn die son, dan sal dit beter wees op die stoep. Dis hoekom ek die huis lat noord kyk – vir die winterson en vir Towerkop.”

      Langs die dammetjie lê weer ’n hopie vars klei, soos iedere Saterdagoggend die afgelope paar maande. Hy trap die klei maar by sy eie mengsel in, want elke bietjie help. Ansie sal nie om­gee nie. Hoe gouer hy klaarkry, hoe gouer sal sy kan terug­kom Dwarsrivier toe. Terug na hom toe.

      Wie dit is wat die klei uithaal, weet hy nie. Iemand wat hom wil help, seker. Een wat wag tot dit melktyd is en dan klei­dammetjie toe kom en weer veldin verdwyn – hy kan dit aan die ry geel klei-voetspore sien. Kleinerige spore. Soos ’n kind s’n. Hy kyk om hom rond, maar sien niemand nie. ’n Ent van die huis af staan ’n digte spekbos. Iemand kan maklik daar­in wegkruip en hom sit en dophou sonder dat hy dit sal agter­kom, dink hy. Hy stap soontoe. Dis dig genoeg, ja, maar daar is niemand in nie.

      Hy trek sy stewels staan-staan uit, vat die graaf en stap die vlakwater van die kleidam binne. Dit voel vir hom of die klei nie lus het om uit die dam gelig te word nie, want die graaf sit vas. Hy buig sy knieë en maak sy rug styf. Die klei gee stadig skiet – hy voel hoe dit begin lig – en toe kom die graaf skielik met ’n vreeslike geslurp los. Dit kos hoogtrap soos ’n vol­struis­mannetjie met rooi hakskene om nie neer te slaan nie, en Sagie is bly daar is niemand wat hom kan sien nie. Hy gaan skud die klei by die trapplek af, graaf na graaf, tot daar ’n groot genoeg hoop is. Hy gooi handevol strooi daarop. Dié trap hy in die klei in, werk die spulletjie weer op ’n hoop, trap weer, werk op ’n hoop, trap weer. Toe die klei en strooi goed deurgewerk is, ry hy dit met ’n kruiwa na die huis toe aan.

      Hy spat eers die deel van die muur waaraan hy gaan werk goed nat en pak ’n laag klei op die klam klippe. Bo-op dié pak hy van die klippe wat hy aangedra het. Dit kos meet en pas, en nou en dan dress hy ’n klip met ’n vyfpondhamer en keil sodat kleiner stukke op die draad afsplyt om in te pas waar hy dit wil hê.

      Die swaarste deel van die bouery was om met pik en graaf wye slote vir die fondasie te grawe, want dié moet ’n muur van ’n halwe meter dik kan dra. Dit was rugbreekwerk in die klipperige grond, maar vir Ansie sal hy enigiets doen. Hy sal werk tot hy dood neerslaan, het hy eers gedink, maar toe vir homself gesê: “Wat sal dit haar tog help as jy dood is, Sagrys?” En gelukkig het hy nog gelewe toe die grouwerk agter die rug was.

      By die groot hoop klippe soek hy die mooistes uit, dra dit nader en druk dit op die laag klei vas, met die kant wat al die jare aan son en wind en reën blootgestel was na buite. Binne-in die huis maak dit nie saak nie, want daardie mure sal hy met klei pleister en afwit.

      Hy het die klippe self uit die koppe aangedra, tot hy gesien het dit gaan te stadig, en toe het hy Hubert se donkies gehuur vir ’n boerbok elke drie maande. Dis duur, maar Hubert het gesê dis óf die bok, óf g’n donkies nie. Sagie had g’n keuse nie, want hy het geweet Ansie sal terugkom wanneer hy haar huis klaargemaak het. “As die eerste rokie by die koorsteen uitkom, kan julle maar die pad begin dophou,” het hy gesê vir wie ook al gevra het.

      Sagie gun homself nie rus nie. Wanneer dit tyd is vir mid­dag­ete, slaan sy pa met ’n stuk yster teen ’n ploegskaar wat aan die bloekom langs hulle huis hang, asof dit ’n weeksdag is, en dan draf hy ondertoe, was sy hande en gesig en sit aan. Ter­wyl hy en sy pa eet, gee hy verslag oor sy vordering. Daarna is dit weer bultuit om verder te gaan bou. Klei uithaal, trap en klippe vasmessel. Elke Saterdag dieselfde ding. Teen melktyd stap hy traag van Ansie se huis af weg.

      Sagie leun met sy kop teen Caroline se sy. “Moet nou nie dink ek kla oor die ekstra werk op Sondae nie, Kerrieland,” sê hy vir die koei. “As Pa die werksmense wil ruskans gee, is dit reg, maar ek wil hê jy moet dit weet: ek sal liewerster ver­der aan Ansie se huis wil gebou het as om jou spene te sit en trek. Jy weet ek het net een dag vir bou: Saterdag. In die week is dit net die uur of twee voor donker. As dit verkeerd was om op Sondae te werk, het jy niks meer as ses dae melk gegee nie. Dis die Here se eie skuld dat ek en jy nou dié werk moet doen. Hy kon ander plan gemaak het – ses dae se melk is genoeg. As Ansie se huis nou daar gestaan het, kant en klaar gebou, net vir intrek, was dit ’n ander saak.”

      Hy hoor nie sy pa aankom nie.

      “Praat jy al weer met jouself, Sagrys?”

      “Nee, Pa.”

      “Met wie dan – Caroline?”

      “Ek praat altyd met die koeie, dan sak hulle beter.”

      Barend skud sy kop. “Maar nou’s ek hier.”

      Sagie knik. “Is hoekom ek nou met Pa praat.” Hy kyk hoe sy pa ’n skoon emmer vat, lou water daarin gooi, Liesbet se uier was en melksalf aan haar spene smeer.

      Die twee sit in stilte en melk, totdat Barend sê: “Ek dag jy’t iets op die hart.”

      “Nie eintlik nie, Pa.”

      “Maar met Cároline sit jy land en sand en gesels.”

      “Sy luister na als wat ek sê, sonder om kwaad te word.”

      Barend kyk onderlangs na Sagie. “Jy kan maar vir my ook oor Sondagwerk gevra het.”

      Sagie staan op en giet sy emmer melk deur ’n doek in ’n groot kan. Hy haal die spantou van Caroline se agterbene af en gaan was Blom se spene. “Wanner kom Mieta huis toe?”

      “Praat jy met my of met die koei?”

      G’n antwoord nie.

      “Dis sommer ’n grappie, Sagrys! Verlang jy na Mieta of na haar kos?”

      Sagie mompel iets.

      “Hoe sê jy?”

      “Net lat die goed wat sy vir ons gevries het op is, dae al, en sy kom nie t’rug nie.”

      “En ek kook nie so lekker soos sy nie, of hoe?”

      “Issie wat ek gesê het nie.”

      Barend gooi sy emmer melk af. “Sy’t gister gebel om te sê …”

      Sagie se kop ruk op. “Lat sy op pad is?”

      “… om te sê sy kry Freek en Jakkelien nie omgepraat om terug te kom nie. Moet my nie so in die rede val nie. Jy kan haar Woensdagmiddag op die stasie loop haal. Met die bakkie, gehoor?”

      “Winkelplaas?”

      “Nee, ek het gesê sy moet bly sit tot op die dorp, dan kan jy sommer vir ons ’n klompie goed saambring – een keer se ry is goedkoper.”

      Sagie het gewens en gebid Freek moet huis toe kom. Sy maat van kleins af – tot die dag van Jannetjie se dood. Niks was daar­na dieselfde nie. Freek het ’n opgeskorte vonnis gekry en is Kaap toe, en het nog nooit kom kuier nie. Nou dié nuus: Freek en Jakkelien kom nie terug nie.

      Twee

      “Die Kaap is groot, Sagrys – groot, groot, groot,” sê Mieta ter­wyl sy by die bakkie se venster uitkyk.

      “Is wat Ansie ook gesê het – miljoene kere groter as Ladi­smith.”

      Mieta se oë is op Elandsberg en die vrugteboorde en wingerde wat verbygevlieg kom. “Dis ’n plek waar mens mak­lik verdwaal kan raak, en verstrik, as jy nie mooi oplet op welke pad jy jou voete neersit nie. Die mense daar is ander­ster as in die Klein-Karoo.”

      “Is hy darem mooi ook?” Sagie sit