Is weer sagie. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798163002
Скачать книгу
al daai plekke. Ek het Tafelberg en die see ge­sien en met my voete in die koue water geloop, maar die wind het so gewaai dat die sand byna die velle van my kuite afgestroop het.”

      “Ek het ook al die see gesien, onthou jy, Mieta, toe my ma-hulle my kleintyd partykeers Stilbaai toe gevat het?”

      “Ek onthou.”

      Sagie brand om nog uit te vra, maar hy kan sien Mieta het nie lus om verder oor die Kaap te praat nie. In die verbyry wys hy haar toe maar die dam wat oom Beesbek Badenhorst aan die bou is, en die kragpale wat na die Lategans se nuwe huis lei. “Ek het vir Pa gevra of ons ook elektriek kan kry, maar hy wil niks weet nie.”

      “Dit kon ek geraai het.”

      Toe hulle oor die nek ry en Dwarsrivier voor hulle lê, sê Sagie: “Kyk net hoe mooi.”

      Mieta glimlag net.

      “En daar by die kleidammetjie, jy sal dit nou nie juis van hier af kan sê nie, Mieta, maar ek het nog ’n klompie lae ge­vorder met Ansie se huis.”

      Hulle daal in die vallei af en uiteindelik, sonder dat Sagie vra, sê Mieta: “Freek verlang na jou, Sagrys. Hy het nie maters waar hy en Jakkelien bly nie, en hy werk van die môre tot die aand. Naweke ook. Julle is voëls van eenderste vere, julle twee.”

      “Hoekom kom hy dan nie huis toe nie?”

      “Kyk voor jou, Sagrys, netnou foeter jy van die pad af. Nee, ek het hom daardie einste vraag gevra, nes jy nou vir my. Hy’t net geantwoord: ‘Huis toe kom om te wát, Mame?’ En ek had nie vir hom ’n antwoord nie. Dis wat my laat ophou probeer het om sy kop Dwarsrivier se kant toe te laat draai.”

      Wat daar in die Kaap kan wees wat ’n mens uit Dwarsrivier sal weghou, is vir Sagie ’n raaisel, maar hy sê dit nie vir Mieta nie. Hy praat eers weer toe hulle op die werf stilhou.

      “Pa gaan bly wees om jou te sien.”

      Sy glimlag. “Die vrieskas is seker leeg, nè?”

      “Daar’s nie ’n krieseltjie oor nie, Mieta.” Sagie haal haar tas van die bakkie af en sit dit op die voorstoep neer.

      “Nee, Sagrys, vat hom in, uit die son uit – ek wil eers gaan kyk of alles reg is in die kombuis.”

      Die middagskottelgoed staan nog in die wasbak. Mieta druk die prop in en begin water tap. Sy hou haar hand onder die kraan. “Darem nog louwarm, maar loop kry die vuur in die donkie aan die gang, hierdie kombuis het seker laas ’n nat lap gesien toe ek die dag hier uitgestap het.”

      Toe Sagie die vuur klaar gestook het, stap sy pa ook by die kombuis in.

      “Welkom terug, Mieta,” sê hy.

      “Middag, meneer, dis lekker om terug te wees.”

      “Wat woel jy dan nou al, jy kan mos maar môreoggend eers inval. Sofiatjie sit seker al op hete kole.”

      Voor Mieta kan antwoord, klop Hubert aan die onderdeur. “Dag, antie,” sê hy, en skrik toe hy sien Barend is ook in die kombuis. Hy wink vir Sagie en staan weg van die deur af. Toe Sagie buite kom, beduie Hubert met die kop in die stal se rig­ting.

      “Wat is dit?”

      “Nee, kom kyk maar self.”

      Die twee loop haastig oor die werf.

      In die stal lê die hele streepsak mielies wat vir die koeie ge­maal is op die vloer. Die werfhoenders pik ywerig daarvan op. Om hulle lê ’n paar leë lampolieblikke wat saam met die sak van die werksbank afgeval het.

      “Was dit Lammie?”

      “Ek het ’n lawaai gehoor en kom kyk, en daar staan die bok en vreet soos ’n ratel wat op ’n heuningnes afgekom het. Natuurlik weer uitkomplek uit sy kamp gekry en hier op die werksbank gespring, en bo-op die mielies. Hy’t seker met sak en al daar afgefoeter. Ek wou die bokker vang en in sy kamp terugsit, maar hy vlie tussen my bene deur, die kop uit, met Oubaas op sy hakke.”

      “Hubert, ons moet skoonmaak hier voor Pa …”

      ’n Skadu val oor hulle en Sagie weet sommer dit is sy pa wat in die deur staan.

      “Ek hoef seker nie te vra wat hier gebeur het nie?” sê Barend. “Waar is die bok?”

      “Hubert het nie eintlik gesien hoe die mielies op die grond beland het nie, Pa. Nè, Hubert, is mos so.”

      “Dis waar, meneer.”

      “Julle probeer verniet,” sê Barend. “Terugkom sal hulle moet terug­kom – ek sal wag.” Hy steek sy hand in sy sak, haal sy knip­mes uit en loop na die slypsteen toe.

      Sagie is benoud. Aan die een kant is hy bly Oubaas het saam­gehol, want g’n jakkals sal dit nou naby Lammie waag nie, maar hoe ge­maak met sy pa wat lyk soos hy nou daar staan en lyk met die knipmes se lem wat hy oor die slypsteen trek? Hy hoop maar dat dié afgekoel sal wees wanneer Lammie en Ou­baas terugkom werf toe.

      “Ja die hoenders uit en skep op wat daar te redde is, Sagrys. Hubert, bring die plat kruiwa nader en hou jou maar besig hier rond tot die verdomde bok terugkom – Sagrys sal meer in die pad wees as wat hy sal help vang.”

      “Wat gaan Pa met Lammie maak?”

      Barend voel met sy duim oor sy knipmeslem. “Hoe lyk dit vir jou?”

      Uiteindelik kom Lammie en Oubaas teruggedrentel huis toe. Oubaas met sy tong wat uithang en Lammie aan ’t kop­speel en stert swaai. Hy weet dis byna melktyd en dat Sagie vir hom ’n bottelvol na sy kampie sal bring – hy wil hom nie van die bederfie laat speen nie.

      “Kom, Hubert,” sê Barend.

      Hubert staan nader. Maar sy houding is nie luiters genoeg nie, want Oubaas grom en trek sy lippe terug. Sy hare rys. Sagie sien dat Lammie ná aan Oubaas bly staan.

      “Kom help hier, Sagrys,” sê Hubert.

      Sagie gaan nader. “Toe maar, Oubaas.” Hy praat sag met die hond. Toe steek hy sy arms onder Lammie se lyf deur en tel hom op. Hy dra hom verby sy pa na die kampie toe. “Pa kan nie vir Lammie wil slag nie, hy is Ansie sinne.”

      Barend antwoord nie. “Toe, toe, Hubert, wat staan jy daar en kyk?” sê hy. “Loop haal die koeie dat ons kan melk.”

      Sagie is stil. Hy weet sy pa is baie kwaad. Uit die hoek van sy oog hou hy hom dop. As dié ding gebeur het terwyl hy op die dorp was om Mieta te gaan haal, was Lammie nou dood.

      Toe hulle klaar gemelk het en huis se kant toe stap, praat Barend vir die eerste keer weer met Sagie. “Daardie bok se lewe het gespaar gebly, Sagrys, nie vir jou of vir Ansie nie, maar oor ek Oubaas jammer gekry het.”

      By die agterdeur keer Mieta hulle voor en wys na hul voete. “A nee a, só kom julle nie oor hierdie drumpel nie – wat het van julle maniere geword?”

      Barend brom: “Skaars terug by die huis en sy speel al weer baas.” Maar hy trek tog sy waterstewels uit voor hy deur die kombuis huisin stap.

      “Jy ook, Sagrys, voor daai katte van jou in die melkemmer inspring.”

      Sagie sit die emmer op die kombuistafel neer. Die katte miaau buite. Een klim teen die sifdeur op. Mieta sien hom, die kor­date geel mannetjie, en sy skiet ’n koppie koue water deur die sif. Die kat spring vies grond toe, skud sy lyf en begin hom­self droog lek.

      “Jy kyk my verniet so,” sê sy vir die kat, “jy kan bly wees Barend van Greunen het jou nie daar gesien nie.”

      “Wie’t ek nie waar gesien nie?” vra Barend agter haar.

      “Haai, hoe laat meneer my nou skrik. Nee wat, ek maak sommer praatjies met die kat.”

      “Slaat my dood; Sagrys hou beraad met die koeie en jy met die katte.” Barend verjaag ’n vlieg van die melkdoek af. “Hang maar ’n nuwe strook vlieëpapier op en gooi die oue weg – kyk hoe lyk dié al van die lyke. En sorg dat die sifdeur al­toos toe is, al