En toe besluit Saartjie sy wil nie meer verder lees nie. Sy wil iets te ete in die spens gaan soek.
Lizzie, hul huishulp, is winkel toe, so dit behoort veilig te wees. Haar ma is in die stad en haar pa is by sy spreekkamer. Kris is seker by sy meisie en Apie by Bennie. Sy is alleen in die huis en sy is honger.
Saartjie hardloop vinnig by die trap af kombuis toe. Sy soek nou dringend kos.
Daar staan ’n fles ingemaakte perskes op die kombuistafel. Saartjie se mond water toe sy dit sien. Sy weet mos hoe heerlik haar ma vrugte inmaak.
Maar hoekom staan dié een enkele fles hier op die tafel? Saartjie wonder fronsend. Haar ma het ’n paar maande gelede vrugte ingelê en die flesse is op die hoogste rak in die spens weggepak. Wie het hierdie een daar afgehaal, en hoekom?
Saartjie tel die fles op en kyk na die pragtige perskes. Sê nou sy maak die fles oop en haal net die twee boonste perskes uit … Sal iemand dit agterkom? Sy weet haar ma is baie heilig op haar ingemaakte vrugte. ’n Mens mag nie eens sonder haar toestemming daarna kyk nie. Sy het selfs al pryse by die skou daarvoor gewen.
Saartjie is seker niemand sal agterkom as sy net die twee boonste perskes uithaal nie.
Sy staan ’n oomblik doodstil en luister of sy nie iemand hoor aankom nie. Dit sal vreeslik wees as Lizzie – wat so gesteld daarop is dat die kinders nooit in háár kombuis mag kom nie – hier moet inloop net wanneer sy die fles oopmaak. Of sê nou haar ma betrap haar! Nee, daaraan wil sy liewer nie eens dink nie.
Sy hoor niemand nie. Sy sit ’n bordjie en ’n vurk reg. Die vurk is om die twee boonste perskes mee uit te haal en die ander perskes dan so ’n bietjie op te druk sodat die fles nie te leeg lyk nie.
Alles is gereed. Saartjie neem ’n vadoek en begin die fles se groot prop losdraai.
Sy kreun en steun, maar die prop roer nie. Sy bekyk die fles en vee onwillekeurig met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. Dan verskyn twee kuiltjies in haar wange soos sy glimlag. Sy het ’n plan!
Sy neem die fles kraan toe en laat warm water oor die prop loop. Na ’n rukkie takel sy dit weer.
Haar gesig straal en haar oë vonkel. Sy voel hoe die prop begin draai.
Die fles is oop! Saartjie lek haar lippe af. Hmmmm … dit lyk heerlik!
Sy steek die vurk in die boonste perske en haal dit versigtig uit. Sy wil dit net op die bordjie neersit toe sy verstar. Die kombuisdeur het oopgegaan.
“Haai!” kom Apie se stem. “Wat doen jy?”
Saartjie swaai vinnig om. Haar boetie se oë is op skrefies en hy loer agterdogtig na haar. Sy tong speel deur die opening waar sy twee voortande eers was. Sy hele houding sê: Ek hét jou! Jy’s op heter daad betrap!
Saartjie grinnik kastig ongeërg. “Ek vat sommer vir my ’n persketjie …”
“Weet Ma daarvan?” Apie gluur haar aan.
Saartjie sluk. Dit help nie om doekies om te draai nie. Sy moet Apie aandadig aan hierdie misdaad maak. Dan kan hy haar mos nie verklik nie!
“Wil jy nie ook ’n perske hê nie?” vra sy vriendelik.
Apie staan nader.
“Jy’t my nog nie geantwoord nie,” sis hy. “Weet Ma hiervan?”
“Nee,” sê Saartjie en kyk reguit na Apie. “En sy sal ook nooit hiervan weet nie. Ek gaan net twee perskes vat. Niemand sal hulle mis nie!” Dan vra sy vriendelik: “Wil jy een hê?”
Apie sal nogal glad nie omgee nie, maar wat gaan gebeur as Ma uitvind? Dis wat hy eers wil weet.
“Jy weet mos hoe erg is Ma oor haar ingelegde vrugte. Hoe het jy die fles van daai hoë rak af gekry?” vra Apie.
Saartjie verduidelik dat die fles op die kombuistafel gestaan het.
“Hoekom?” wil haar boetie weet, maar Saartjie het nie vir hom ’n antwoord nie.
Apie dink ’n oomblik hieroor na, maar besluit dan dit is nie nou die tyd om hom oor iets so onbelangriks te verknies nie. Die perskes lyk te lekker. Hy kan nie nee sê nie.
Saartjie en Apie eet heerlik. Hulle lek selfs die lekker stroop van hulle vingers af.
Wanneer hulle klaar geëet het, kyk hulle aandagtig na die fles.
Saartjie het al probeer om die ander perskes met die vurk hoër op te lig, maar die goed val weer terug. Die fles is duidelik nie meer vol nie.
“Ek het jou gesê.” Apie skud sy kop. “Ma gaan dadelik sien daar’s van hulle weg.”
Saartjie wil hom invlieg, maar sy bedink haar. Hulle twee moenie nou baklei nie. Hulle moet saamstaan.
“Weet jy wat dink ek?” vra Apie peinsend.
Nee, sy weet nie wat hy dink nie, maar sy sal nogal graag wil weet.
“Ons is tog nou klaar in die moeilikheid. Ons kan maar net sowel elkeen nóg ’n perske vat.”
Saartjie is baie lus vir nog ’n perske. Sy kan ook nie sien hoe hulle die fles weer vol kan kry nie. As dit nog ’n bietjie leër is, sal dit tog nie eintlik ’n verskil maak nie. Sy besluit om te maak soos haar boetie voorgestel het.
“Onthou net,” waarsku sy terwyl sy uitskep, “as Mamma hiervan uitvind, is ons in die moeilikheid.”
Apie antwoord nie. Hy kyk net stip na die perskes wat sy uithaal om seker te maak sy vat nie die grootste een nie. Maar albei lyk ewe groot en hy is tevrede.
Elkeen se tweede perske word ook smaaklik verorber.
Die vier groot perskes wat uitgehaal is, veroorsaak dat die fles nou net halfvol is.
En toe, terwyl Saartjie nog ’n bietjie stroop tussen hulle twee deel, dink sy skielik aan die sirkus!
“Weet jy wat?” vra sy beangs vir haar boetie.
Nee, hy weet nie. Apie slurp die laaste druppel stroop van sy bordjie af op.
“Mamma het gesê as ons iets verkeerd doen, gaan ons nie sirkus toe nie.”
Apie se oë is nou ook groot.
“Jy bedoel,” sê hy, “ek sal nie die dingese – die leeus – sien nie?”
Ja-nee, dis wat Saartjie bedoel. Maar sy glo darem nie hul ma sal só kwaad oor haar ingelegte perskes wees dat sy hulle gaan belet om sirkus toe te gaan nie. Nogtans, dit sal beter wees as hulle alle tekens van hul oortreding kan verwyder.
Apie protesteer vir die vale. Hy sou nooit eens een happie perske gevat het as hy gedink het dit kan veroorsaak dat hy nie gaan sien hoe die briesende leeus die leeutemmer se gal vir hom werk nie.
“Wag,” sê Saartjie en hou haar hand op vir stilte. “Ek probeer aan ’n plan dink!”
Apie wag. Hy loer na die perskes wat nog in die fles oorbly.
Saartjie byt op haar onderlip en dan verhelder haar hele gesig soos wat sy glimlag. Sy hét ’n plan.
“Luister mooi,” fluister sy en Apie is die ene ore.
“Ons moet hierdie perskes in die fles óók opeet.”
Apie glimlag en vryf sy hande ingenome. Tot sover stem hy honderd persent met Saartjie se voorstel saam.
“Dan steek ons die leë fles iewers weg,” sê sy, “en jy help my opklim na daai rak in die spens en dan haal ek ’n ander fles perskes af en ons sit dit hier neer. As Mamma dan ooit uitvind