Wanneer hulle klaar geëet het, tik Apie met sy vingers op sy maag en sê behaaglik: “Ek voel of ek kan bars.”
Saartjie kyk vies na hom. Sy wil vra of hy nie maniere het nie, maar besluit dan om dit liewer nie te doen nie. Hulle twee moenie nou stry kry nie. Hulle moet saamstaan.
“Gaan steek jy die fles gou iewers in die tuin weg,” sê Saartjie.
Apie beweeg daarmee by die agterdeur uit. Saartjie gaan spens toe en kyk na die boonste rak. Daar is ’n hele klomp flesse met ingemaakte perskes.
Sy gaan haal ’n stoel in die kombuis en klim daarop. Sy staan op haar tone en rek tot haar volle lengte uit. Haar vingerppunte raak net-net aan die rak, so sy kan nie die flesse agterop bykom nie.
Apie kom terug en sê hy het die fles só diep begrawe dat niemand dit ooit weer sal kry nie.
“Hou gou vir my die stoel vas,” sê Saartjie.
Hy maak so en sy klouter op die stoel se rugkant. Sy staan op die smal dwarsplankie en haal ’n fles af.
“Hou vas, Apie.”
Saartjie klim versigtig af met die fles in haar hand.
Sy onthou die fles wat op die kombuistafel gestaan het, het nie stof op gehad het nie. Sy vee hierdie een se stof vinnig af en sit dit op presies dieselfde plek waar die ander een gestaan het.
Apie bring die stoel terug kombuis toe en Saartjie was gou die taai stroop van die bordjies en lepels af. Alles word netjies weggepak.
“So ja,” sê sy. “Nou sal hulle niks agterkom nie. Onthou, Apie, jy sê vir niemand ’n woord hiervan nie!”
“Dink jy ek’s mal?” sê hy. “Ek wil die leeus gaan sien!”
Die twee hoor Lizzie die huishulp langs die huis en glip vinnig by die kombuis uit. Hulle het heerlik geëet, maar gans te veel. Saartjie voel glad nie lekker nie.
Dié aand aan tafel eet sy en Apie feitlik niks nie.
“Wat is dit met julle twee?” vra hul pa.
“Ek weet nie, Pappa,” sê Saartjie. “Ek is net nie eintlik honger nie.”
Apie sê hy weet ook nie wat dit is nie, maar hy is ook nie eintlik honger nie.
Ná ete sit Saartjie en Apie by die tafel en huiswerk doen. Hul ma het gesê hulle kan net sirkus toe gaan as hulle dit vanaand al klaarmaak.
Apie het geprotesteer dat hy nie huiswerk het nie, toe sê sy ma hy moet dan leer. Nou probeer hy dit met ’n suur gesig doen.
Hul ma sit en brei. Hul pa rook sy pyp en lees koerant.
“Môre gaan ek hulle wys,” sê mevrou Baumann skielik met ’n glimlag.
“Wie gaan jy wát wys, Martha?” vra haar man. Saartjie en Apie luister ook.
“Ons hou môreoggend ’n huisvlytkompetisie in die kerksaal. Ek wen altyd die eerste prys met my ingemaakte vrugte, maar nou sê hulle daar is ’n tannie van die Vrystaat wat hier in Lynnekom kuier wat ook ingeskryf het – en sy het kwansuis al meer eerste pryse as ek ingepalm!”
“Kompetisie hou ’n mens op jou tone,” sê haar man glimlaggend.
Die twee kinders luister nou aandagtig.
“Presies,” sê hul ma. “So ek het my flesse ingemaakte perskes vanoggend deeglik ondersoek. Daar is met elkeen so ’n ietsie verkeerd. Behalwe een! Dié een is perfek! En met dié fles perskes gaan ek daardie tannie uitstof.”
Saartjie en Apie kyk na mekaar. Hul oë is groot. Die ingemaakte perskes waarmee hul ma môre die eerste prys wil gaan losslaan, is in hul mae!
Verslae kyk Apie na Saartjie. Sy moet die leiding gee. Maar wat op aarde moet sy doen? Sê nou haar ma kom op pad kerksaal toe agter dit is nie meer die “perfekte” fles perskes nie, maar een waarmee daar “so ’n ietsie” verkeerd is? En sê nou sy kom dit nié agter nie? Dan het sy mos nie ’n kans om daardie Vrystaatse tannie te wen nie!
Kophou, sê Saartjie vir haarself en vee onwillekeurig ’n krul van haar voorkop af weg. Sy moet dink – baie mooi en baie diep dink!
4
Die straf
Apie speel met sy tong deur die opening waar sy voortande eens op ’n tyd was. Sy kop is op ’n plooi. Hy is ook besig om ernstig te dink.
“Abraham!” sê sy ma kwaai toe sy van haar breiwerk af opkyk.
“Skuus, Ma,” sug Apie. Sy ma hou niks van hierdie gewoonte nie en berispe hom gereeld as hy dit doen.
Hul ouers besluit om ’n bietjie in die tuin te gaan stap. Saartjie en Apie is nou alleen in die sitkamer.
“Sien jy,” sis die seun, “ek het jou gesê Ma gaan uitvind!”
“Jy’t nooit niks gesê nie!” snou Saartjie hom toe. “Jy’t net weggelê aan die perskes.”
“Ek was nie rêrig lus vir die goed nie,” sê Apie nou. “Jy’t my gevra om saam te eet en toe doen ek dit maar …”
“Dit help nie ons stry nou nie,” sê Saartjie ferm. “Ons is saam in die moeilikheid, so ons moet saamstaan.”
Apie besef sy is reg. Dit sal vreeslik wees as hy gestraf moet word en nie die leeutemmer en sy leeus in aksie kan sien nie. As dit moet gebeur, sal hy sommer wegloop, of iets!
“Die groot vraag is,” sê Saartjie peinsend, “moet ons vir Mamma sê die fles wat nou daar op die kombuistafel staan, is nie meer die perfekte een nie, of moet ons stilbly?”
“Ons bly stil!” sê Apie vinnig. “Ek is nie ’n ou wat sommer loop en moeilikheid soek nie. Miskien kom Ma niks agter nie, dan is ons koppe deur en ons kan sirkus toe gaan!”
“Ja, maar as Mamma die fles waarmee ‘so ’n ietsie’ verkeerd is vat, gaan daai tannie van die Vrystaat haar wen, en dit sal vreeslik wees!” sê Saartjie lojaal.
Apie voel ook nie te lekker as hy hieraan dink nie, maar hy is seker hul ma maak só goed perskes in dat al ís daar ook “so ’n ietsie” fout daarmee sal sy nog steeds die eerste prys wen!
Saartjie hoop maar dit gaan die geval wees. Die twee besluit om liewer nie ’n woord te rep nie, want soos Apie sê: “Dis net moeilikheid soek.”
Dié aand voel Saartjie glad nie lekker oor die hele affêre nie. Sy weet mos hoe bitter teleurgesteld haar ma sal wees as sy nie soos gewoonlik wen nie.
Sy begin selfs hoop haar ma moet maar eerder uitvind dit is nie meer dieselfde fles ingemaakte perskes nie. Dan sal hulle met die waarheid uitkom. Dit sal miskien die beste wees.
Saartjie slaap onrustig. Apie het ook nie ’n wonderlike nag nie. Hy het aanhoudend pyn op sy maag.
Uiteindelik breek die dag waarna Lynnekom se kinders so uitgesien het aan. Hulle gaan vanmiddag na Karzo se wêreldberoemde sirkus toe!
Toe Saartjie in die kombuis kom, sien sy haar ma het die bottel perskes in ’n sak gesit. Sy weet nie of sy moet bly of jammer voel dat haar ma nie agtergekom het dit is nie meer die bottel wat sy spesiaal uitgesoek het nie.
Aan die ontbyttafel praat Apie onophoudelik van die sirkus wat hulle die middag gaan sien. Sy maag voel beter en hy is nou honger.
“Wat het jy dan gister geëet dat jy verlede nag so sleg gevoel het, seun?” vra sy ma.