“En toe eet julle dit?” vra haar ma met ’n stem wat nou so koud soos die koudste windjie van die Suidpool af is.
“Ja, Mamma,” sê Saartjie skor. “Toe eet ons dit maar.”
Apie knik om te wys hy stem saam met sy suster. Hy probeer ook wys dat hy baie spyt daaroor is. Hy maak klikgeluidjies met sy tong en staar droewig voor hom uit.
Saartjie vertel nou presies wat gebeur het: hoe sy honger was en toe die fles ingemaakte perskes daar op die kombuistafel gesien en gedink het sy sal net so enetjie, of miskien tweetjies, vir haar vat. Maar net toe sy die fles oopmaak, het Apie daar aangekom en toe het sy vir hom ook ’n perske gegee …
“Ek was nie eintlik lus daarvoor nie, Ma weet,” sê Apie met ’n onskuldige gesig. “Ek het maar net enetjie gevat omdat ek nie ondankbaar wou wees nie, Ma weet …”
Saartjie vertel nou vinnig hoe hulle daarna besef het enigeen sal kan sien daar is van die perskes uitgehaal en toe besluit het hulle moet dit maar alles moet opeet en ’n ander fles daar neersit. Hulle het mos nie geweet waarvoor die fles bedoel was nie.
Hul ma lyk diep teleurgesteld. Sy kyk na haar man. Hy sê niks nie, maar kyk kwaai na Saartjie en Apie. Hy laat die strafwerk aan sy vrou oor.
“Sover ek onthou,” sê die ma, “het ek gesê julle kan vanmiddag sirkus toe gaan, maar net as julle nie enige kattekwaad aangevang het nie.”
Met kloppende harte sit Saartjie en Apie en luister. Hulle het so vreeslik na die sirkus uitgesien en nou lyk dit sowaar of hul ma hulle wil belet om te gaan!
“Julle bly vanmiddag by die huis,” sê mevrou Baumann streng. “Julle gaan nié sirkus toe nie.” Sy gooi haar kop effens agteroor en begin verder brei.
Saartjie staar mismoedig voor haar uit. As haar ma haar kop so teruggooi wanneer sy iets sê, dan bedoel sy dit. Haar hart sal nie maklik versag nie.
Apie is verslae. Hy het só lank gewag, gedink en gedroom oor die leeus en die leeutemmer, en nou gaan hy nie die sirkus sien nie! Hoekom het hy vir Saartjie daar in die kombuis raakgeloop? As sy nie daar was nie, sou hy nooit daaraan gedink het om die fles perskes oop te maak nie. Dis alles haar skuld!
Hy gluur sy suster aan en maak sisgeluide deur die opening waar sy voortande was.
Mevrou Baumann sit en brei. Kris kyk na die twee op die rusbank. Hy kry hulle nogal jammer. Hy weet mos hoe graag hulle sirkus toe wil gaan.
Dokter Jan lees sy koerant, maar hy kan glad nie daarop konsentreer nie. Hy kry Saartjie en Apie ook jammer. Miskien was sy vrou ’n bietjie te kwaai met die straf wat sy uitgedeel het, maar hy kan niks daaraan doen nie. Hy en sy vrou weerspreek mekaar nooit voor die kinders nie.
Saartjie is hewig ontsteld. Sy gaan nie daardie liefling van die wêreld – die pragtige Marzyna – op haar wit perd sien nie. Dit is verskriklik. Sy kan dit nie glo nie.
Sy probeer so pateties moontlik lyk. Sy wil hê haar ma moet hulle jammer kry en tog maar sirkus toe laat gaan. Sy gee elke nou en dan ’n swaar sug en loer dan vinnig om te sien of dit enige indruk op haar ma maak.
Dit lyk nie so nie.
Saartjie besluit dit sal nie help om die hele tyd net so te sit en sug nie. Sy moet iets doen. Sy moet baie mooi om verskoning vra. Miskien sal haar ma hulle dan genadig wees.
“Mamma,” sê Saartjie en glimlag weemoedig soos iemand wat die hele wêreld se probleme op haar skouers dra. Langs haar probeer Apie ook sy bes om soos ’n martelaar te lyk.
“Ja?” Hul ma kyk nie eens op nie. Sy hou net aan met brei.
“Mamma, ons is vreeslik jammer. Ons sal nooit weer so iets doen nie,” sê Saartjie sedig.
“Nooit, ooit weer nie, Ma,” beaam Apie. Hy kyk hoopvol na sy ma.
Maar sy antwoord hom nie.
“Sê Ma dan niks nie?” wil Apie ná ’n rukkie weet.
“Daar is nie veel om te sê nie,” kom sy ma se stem sag. “Ek aanvaar julle verskoning. Kom ons vergeet nou van die hele affêre.”
“En die sirkus, Mamma?” vra Saartjie versigtig. “Kan ons nou maar gaan?”
“Natuurlik nie,” sê haar ma beslis. “Julle straf is dat julle nie sirkus toe mag gaan nie!”
Dokter Baumann kyk oor die koerant na sy vrou. Kris sê: “Dink Ma nie die twee kan maar gaan en …”
“Ek wil niks verder hoor nie,” sê sy ma en Kris is ook tjoepstil.
Saartjie gee egter nie moed op nie. Sy glo daar is nog ’n moontlikheid dat hul ma op die nippertjie sal besluit hulle kan maar sirkus toe gaan en draai die res van die oggend gedurig om haar rond om te sien of haar bui nog nie beter is nie.
Apie sit in sy kamer en lees strokiesprente, maar hy kan nie vandag op Superman se avonture konsentreer nie.
Hy gaan sowaar nie die sirkus sien nie! En hy het eintlik niks verkeerd gedoen nie. Saartjie het alles begin en hom toe daarby ingesleep. Dis onregverdig. Hy moet iets doen. Hy stap by die trap af. Hy gaan sy ma nog een kans gee!
Apie tref die gesin in die eetlamer aan. Sy ma is besig om tafel te dek en Saartjie help haar ewe fluks. Sy pa lees ’n boek en Kris staar sommer by die venster uit.
“Ma,” sê die seun.
“Ja, Apie?” Sy ma gaan sit in ’n leunstoel en tel weer haar breiwerk op.
“Ek sal Ma nog een kans gee,” sê hy vinnig voor sy moed hom begewe. “Gaan Ma ons sirkus toe laat gaan, of nie?”
“Ek het gesê julle gaan nié, Abraham! Dit help nie om weer met my daaroor te praat nie!”
“Goed!” sê hy hardop en brom dan onderlangs dat dit net hier is waar hy gaan wegloop. Hy gaan die wye wêreld in. Apie storm by die vertrek uit en hardloop met die trap op na sy kamer toe. Hy gaan inpak!
Daar speel ’n glimlag om dokter Baumann se mondhoeke. Sy vrou sukkel ook om haar lag te bedwing, maar sy gaan beslis nie toegee nie.
Saartjie sit nog ’n paar dingetjies op die tafel reg. Dan sê sy: “Ek’s klaar, Mamma. Is daar nog iets wat ek kan doen?”
“Nee, dankie, Saartjie,” sê haar ma.
“Wat het oor jou lewer geloop dat jy Ma vandag so fluks help?” vra Kris glimlaggend. Hy weet natuurlik goed dit is omdat Saartjie hoop hul ma sal swig en instem dat hulle maar sirkus toe kan gaan.
“Ek is altyd fluks,” sê Saartjie kil en vee ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy het nog nie vergeet dat Kris die eerste een was wat daaraan gedink het dat hul ma dalk die verkeerde fles perskes kerksaal toe gevat het nie.
Hulle hoor Apie by die trap afgestrompel kom.
“Hy het gou ingepak,” sê dokter Baumann geamuseerd.
Apie kom by die sitkamer in. ’n Vuil kussingsloop wat hy uit die wasgoedmandjie gehaal het, hang oor sy skouers. Al sy besittings is daarin.
Sy pa en ma, Kris en Saartjie kyk almal na die koddige agtjarige knapie. Nie een sê ’n woord nie, Apie ook nie. Hy wag dat hulle moet vra waarheen hy gaan. Dis mos niks minder as ordentlik nie.
“Gaan julle my niks vra nie?” por hy aan toe die stilte ondraaglik word.
“Wat moet ons jou vra?” Saartjie kry Apie jammer. Hy het nie soveel skuld soos sy aan hierdie storie nie.
“Julle moet my vra waarheen ek gaan!”
Sy ma sien die seun is baie gekrenk dat hulle hom nie eens so ’n eenvoudige vragie vra nie.
“Waarheen