Ma en dogter se oë ontmoet verskrik. Hulle het seker verkeerd gehoor.
“Jy sê sy is Albert Meissner se . . . se kleindogter? Sy eie bloedkleindogter?” vra Elke ongelowig.
Die kelnerin kyk haar effens verbaas aan. “Ja. Sy is glo sy enigste kleinkind. Hy het mos net een seun gehad, en dié het glo ’n danser geword of so iets. Maar toe kom sy dogter darem terug om by haar oupa oor te neem.” Sy kyk vlugtig na die oorkantste tafel en laat haar stem sak. “Sy is nie baie gewild nie. Vreeslik bewus daarvan dat sy Godfather se kleinkind is en natuurlik ook sy enigste erfgenaam. Sy maak al klaar asof die plek aan haar behoort. Net twee koppies tee? Niks te ete nie? Ons het lekker . . .”
“Nee. Nee, dankie.” Ma en dogter se oë haak in ongeloof vas.
“Ma . . .?” Marlene antwoord nie en Elke vra amper fluisterend: “Het Ma gehoor wat die meisie sê? Dat . . . dat daardie vrou . . .”
“Ek het gehoor, my kind. Ek het gehoor, ja . . . maar my brein wil dit nie registreer nie.”
2
Stilte.
Toe Marlene weer verslae na haar dogter kyk, sien sy die blou oë strak op die ander meisie gerig en sê waarskuwend: “Moenie so openlik staar nie, Elke! Die vrou sal iets agterkom!”
“Wat daarvan? Sy is ’n indringer, ’n bedriegster van die eerste water! Ek is lus en stap sommer nou na haar en stel haar voor al hierdie mense summier aan die kaak! Ek . . .”
“Beheer jou, kind!” Marlene voel haar ingewande bewe van ontsteltenis. Sy ken haar dogter goed genoeg om te weet sy is kapabel en doen presies wat sy dreig. Sy gryp haar dogter se hand oor die tafel met bewende vingers. “Wag eers, Elke! Hier is ’n misverstand. Wie sê die kelnerin het die storie ooit reg? Wat sal sy in elk geval weet van die lewensgeskiedenis van enige van die dokters hier? Sy werk net in die restaurant . . .”
“Ma, daar is kwalik ’n plek waar meer geskinder word as in ’n hospitaal. Vra vir my, ek weet. Die bostelegraaf sal in hierdie kliniek ook oortyd werk. Van die kombuis en waskamer tot in die restaurant; in die sale en kamers en operasieteaters weet almal alles van almal af. Sy werk in die restaurant, ja, maar sy kon ons met groot oortuiging vertel dat Julene Meissner nie baie gewild is nie en dat sy maak asof sy reeds die baas van die kliniek is. Hier is nie ’n misverstand nie, Mamma. Hier is ’n yslike bedrogspul aan die gang!”
“Nietemin, my kind, ons moet eers meer uitvind voordat . . . voordat jy sommer optree,” keer Marlene desperaat. Haar brein sing.
“Wat wil Mamma meer uitvind?” wil Elke opstandig weet. Marlene kyk desperaat om haar rond asof sy êrens vandaan hulp verwag. Maar in plaas van teen moontlike hulp vas te kyk, kyk sy in ’n paar koel blou oë vas voordat die dokter en haar gesel opstaan en die restaurant verlaat. Twee paar oë volg hulle magteloos.
Die man betaal die rekening en sy sien die ouerige man agter die geldlaai praat glimlaggend ’n paar woorde met hom, maar gee net ’n stywerige kopknik in die blonde dokter se rigting voordat hulle uitstap.
“Daardie man agter die toonbank . . . Hy lyk al ouerig. Miskien is hy al lank hier. Hy sal ons dalk meer kan vertel,” sê Marlene en kyk vraend na haar dogter.
“En hoe gaan Ma die saak aanvoor? ‘Meneer, hier staan Albert Meissner se enigste en ware kleindogter voor jou. Ek behoort te weet, want ek is haar ma. Kan jy my sê hoe dit gebeur het dat die vrou wat nou net hier uit is, daarop aanspraak maak dat sy Albert Meissner se kleinkind is?’”
Skok en senuwees laat Marlene se humeur ook vlamvat. “Moenie verspot wees nie!”
“Ek is nie . . .”
“Ja, jy is, én kinderagtig daarby! Ek verbied jou om . . .”
“Ma, ek wás al mondig!”
“Moet jou dan nie gedra soos ’n kind van sewentien nie!” Dis selde dat Marlene haar humeur verloor. Maar Elke onthou die enkele kere wat dit wel gebeur het, en sy kapituleer.
“Wat gaan ons doen? Ons kan nie die saak sommer net so laat nie, Mamma! Behalwe dat dit ’n skreiende skande en wederregtelik is, is dit ook onvergeeflike bedrog teenoor ’n ou man. Laat hom wees wat hy wil, en laat hy ook hoe verkeerd teenoor Pappa opgetree het, maar hy bly my oupa en daardie vroumens is besig om hom gruwelik te bedrieg!”
“Ja, ek weet, my kind, en ek besef ons kan die saak nie daar laat nie. Maar ons moet eers meer uitvind. En ons moet veral eers kalm word. Ons moet seker wees van al ons feite voordat . . .”
“Ons ís seker van al ons feite, Ma!” wys Elke haar tereg. “Ek het alles wat nodig is, swart op wit, om te bewys ek is oupa Meissner se ware en enigste kleindogter en nie daardie . . . daardie bedriegster nie.”
“Ons ken óns kant, Elke, maar nie die ander kant nie. Ons moet meer van die ander kant uitvind.” Sy kyk weer in die rigting van die toonbank. Die man het nou met ’n koppie koffie of tee by die hoektafel gaan sit terwyl een van die kelners agter die geldlaai oorgeneem het. “Ek het ’n gevoel daardie man sal ons iets meer kan vertel.”
“Wel, ons moet êrens begin; hoekom nie by hom nie? Ons knoop sommer in die verbygaan ’n praatjie met hom aan oor . . . oor die oulike restaurant wat hy hier het, die flinke diens . . . so iets.”
Op hierdie vae voorstel moet Marlene maar reageer en toe sy by die tafel verbykom, knik sy vriendelik en glimlag. “Dankie, meneer. Ek wil u gelukwens met u restaurant.”
Hy glimlag breed terug, lig hom effens. “Dankie, mevrou. Vriendelik van u.”
“Ek moet sê, ek het nie so iets hier verwag nie. Ek het gedink dis maar ’n ou klein kafeetjie wat net die allernodigste aanhou.”
Sy gesig straal. “O nee, mevrou. Ook die restaurant moet by die Meissner-tradisie hou. Net die beste! Daar kom selfs saans mense uit die stad om hier te kom eet,” vertel hy trots.
“Werklik? Dan moet u kos puik wees,” laat Marlene bewonderend hoor.
“En ek hou net die beste Bolandse wyne hier aan,” voeg hy by. “Ons is gelisensieerd ook!”
“Nou werklik! Ek en my dogter moet ’n slag hier kom eet. Dié ou Meissner darem. Hy glo net aan die beste, sê u? Interessante man, nè?”
“Dít kan u weer sê! Ek het al jare lank met hom te doen. Jy kan maar sê ek het saam met die kliniek gegroei en saam met Godfather oud geword!” lag hy.
“Dis werklik interessant!” Marlene kyk haar dogter vlugtig aan. “Ek sou graag meer wou hoor. Die kliniek gryp ’n mens se verbeelding aan. Kan ons ’n oomblik sit, of het u nie tyd nie?”
“Sekerlik! Sekerlik! Dis nie nou so besig nie. Sal u iets saam met my geniet?” vra hy galant toe hulle teenoor hom inskuif.
“Nee, baie dankie. Ons het pas tee gehad. U sê u ken dokter Meissner goed?”
“O ja! Van my kinderdae af. Ek ken die hele geskiedenis van die plek. Albert Meissner het hierdie plek opgebou tot wat dit vandag is. ’n Ou korrelkop en so beduiweld soos die dag lank is, maar as hy nie so was nie, sou die Meissner-kliniek nie vandag so beroemd gewees het nie. Lê hier ook van u mense, mevrou . . .?”
“O, ag ekskuus. Ons het ons nog nie voorgestel nie. Ek is Marlene du Plessis en dis my dogter, Elke.”
“Peet Louw.”
“En jy sê, Peet – ek kan seker maar so sê, nè? – dokter Meissner is ’n kwaai oubaas?”
“Ja. Hy regeer hierdie plek met ’n ysterhand, hoewel die ou nou heelwat minder aktief is, ná sy onlangse hartaanval.”
“Was dit ernstig?” wil Elke vinnig weet.
“Nee. Maar dit was die eerste waarskuwing dat hy nou moet stadig. Hy is ook nie meer ’n kind nie. Die kliniek is sedertdien grootliks onder beheer van dokter Horst Buchner en sy kleindogter.”